DIE PIONIER – JUNIE 2016

Inhoud/Contents

  1. Redakteursbrief 1
  2. Kaleidoscope Launches ‘World First’ Apple Training Centre for the Blind. 5
  3. Nuusbrief – Mei 2016. 11
  4. Kursus in joernalistiek vir siggestremdes. 29
  5. Tussen hemel, aarde en heelal 31
  6. Sy léwe! 35
  7. Aan die beurt 40
  8. Bomplanter pak Comrades vir slagoffers. 44
  9. Laat staan die vliegtuigkos, bring padkos. 47
  10. Die meesterskilder van Delft 49
  11. ‘Ou’ wyn beproef 53
  12. ‘n Ware lewensdrama. 54
  13. Uitoorlê die OUDERDOM.. 61
  14. Italië: Reuse-pizza in wording. 62
  15. Klein-Brak-foto gebruik in soektog na MH370. 62
  16. Atleet skenk halfmiljoen vir vroeggeborenes. 65
  17. Tsoenami’s tref Mars 3,4 mjd. jaar gelede. 66
  18. Skoolpunte is nie ALLES nie. 68
  19. Rusland, moeder van omoel en wodka. 72
  20. Seldsame kat gevind in Kompanjiestuin. 76
  21. Op die pad. 78
  22. Plante het ál die vriende nodig wat hulle kan kry. 79
  23. Tuks spog met nuwe ‘Rio’-baan. 82
  24. UK ‘is beste in Afrika’ 85
  25. Inflasie hang af van wat in jou mandjie is, sê Pick n Pay. 87
  26. KWV is die naam ‘ikoon’ wel waardig. 91
  27. Dié dag was die kerk stampvol 93
  28. Sonaangedrewe vliegtuig hervat reis. 97
  29. Dit is tyd dat Afrikaners onplesierig raak. 99
  30. Jumat vorder van bode tot direkteur 102
  31. Hoe gaan dit met jou are?. 105
  32. ‘Pasiënte vind’ baat by werk met perde’ 107
  33. Stof van buite sonnestelsel gekry. 110
  34. WINTERSHANDE Die laaste winter van sukkel 112
  35. SAUK wil vier nuwe TV-kanale vir tale vestig. 116
  36. Basta met selfkritiek. 119
  37. Heenkome vir ‘flatse’ se kinders. 122
  38. Establishment was dwaas. 125
  39. Einstein se teorie eeu later bewys. 129
  40. Meisie (12) swem in die rekordboeke in. 135
  41. Hoogste gebou mik na 1 km.. 137
  42. Adresprobleem getakel 141
  43. Afrika? Hier maak ons net ‘n plan. 143
  44. Treinbus op stelte in Beijing getoets. 147
  45. Japanners wys Nammawan hoe. 151
  46. ‘Die Elvis van boks’ het gegroet 155
  47. Lesers se olyfgeheime: Van warm slaai tot bredie. 164
  48. Malva Pudding. 166
  49. Cape Brandy Pudding / Tipsy Tart / Brandewyntert 168
  50. Sago Pudding. 171
  51. Bread and Butter Pudding. 174
  52. Melkkos. 176

 

DIE PIONIER

Jaargang 83, No 03

Volume 83, Nr 03

 

Datum 30/06/2016 Date

 

REDAKSIE

Rig asseblief alle korrespondensie aan:

Please direct all correspondence to:

 

Die Redakteur The Editor
Die Pionier Die Pionier
Posbus 994 P.O. Box 994
WORCESTER WORCESTER
6849 6849

 

Tel.: (023) 342 6313

Faks/Fax: (023) 342 0335

E-Pos/E-Mail: info@pioneerprinters.org.za

 

 

Die redaksie onderskryf nie noodwendig die menings wat in die artikels en briewe in Die Pionier uitgespreek word nie, en behou hom die reg voor om sodanige stof te verkort en redaksioneel te versorg.

The editorial staff does not necessarily endorse the opinions expressed in the articles and letters in Die Pionier, and reserves the right to abbreviate and edit such articles.

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim subsidie van die L W Hiemstra Trust en Marie Luttig Trust.

This publication is made possible by a generous subsidy of the L W Hiemstra Trust and Marie Luttig Trust.


1. Redakteursbrief

29 Junie 2016

Geagte lesers

Welkom weereens tot Die Pionier propvol nuus, inligting, wetenswaardighede, stories en resepte.

Hier by Kaleidoskoop SA (voorheen bekend as Instituut vir Blindes) gebeur daar in die afgelope tyd so baie dinge dat ‘n mens moet spook om by te bly!  Ons beleef opwindende en interessante tye hier by Kaleidoskoop SA.  Die grootste nuus was die opening van ons hoë tegnologie sentrum op 6 Junie waar daar opleiding in al die nuutste Apple produkte, soos iPhone, iPad en touch screen rekenaars met Apple se eie unieke programme, aan siggestremde en blinde persone aangebied gaan word.  Soos ek verstaan gaan die opleiding in 4 modules oor ‘n periode van 4 weke aangebied word.  Philip Crous sal aan die stuur van die opleiding staan en dit resorteer onder die Afdeling Loopbaan Ontwikkeling (ALO); wat op die derde vloer van die Pionierskool se administrasie gebou in Adderleystraat geleë is.  Vir enige navrae kontak asseblief vir Corné du Bois by ALO of gaan kyk by Kaleidoskoop SA se webwerf.  Hierdie opleidingsentrum is die eerste van sy soort in die wêreld!  Verder het ons ook ons eie Kaleidoscope Blindiana Blend koffie op die rakke, ons eie Vodacom Kiosk op ons voorstoep, langs Ons Winkel se ingang, waar twee van ons siggestremde inwoners werk, binnekort ons eie wyn met ‘n unieke naam wat selfs op Woolworths se rakke sal verskyn, later ons eie Kaleidoscope bier! Binnekort heropen die opgeknapte Blindiana Barista.  Dit alles maak my so trots om deel te wees van so ‘n organisasie wat dit alles vir ons inwoners bied!

Bo en behalwe al bogenoemde opleidingsgeleenthede bied die Kaapstadse Vereniging vir Blindes in samewerking met WeCan24, van Media24, ‘n opleidingsprogram in joernalistiek vir siggestremdes aan.  Wat ‘n wonderlike geleentheid vir ons visueel gestremde gemeenskap.  Dit is vir my ‘n riem onder die hart dat groot maatskappye soos ABSA, Vodacom en Media24 hierdie geleenthede vir ons siggestremde gemeenskap skep en die hand uitreik.  Verder loop KWV en Kaleidoskoop SA ook ‘n mooi pad saam met vele vennootskappe en die samewerking met Saatchi & Saatchi met die naamsverandering na Kaleidoskoop SA.

Met groot hartseer neem ons kennis van die afsterwe van groot geeste soos Prof Adam Small op 79 jarige ouderdom op Saterdag, 26 Junie.  Hy laat ‘n reuse literêre nalatenskap agter. Die bokslegende Muhammad Ali wat onlangs ook afgesterf het was wêreldwyd bekend en geliefd.  Een naam wat ten spyte van vele uitdagings bly oorleef en op 20 Mei sy 100ste verjaardag gevier het is die alombekende Huisgenoot waarmee die meeste van ons grootgeword het.

Statistieke interesseer my nog altyd – soos die aanwys van die Universiteit van Kaapstad as die beste universiteit in Afrika, opgevolg deur Universiteit van die Witwatersrand tweede, Stellenbosch derde, KwaZulu-Natal vyfde en Pretoria in die sesde plek gemeet aan akademiese reputasie en internasionale aansien.  Voedselinflasie raak ons almal en in Februarie was Pick n Pay se voedselinflasie 3,1% (teenoor SSA se 5,3%). In Maart was Shoprite se voedselinflasie 4,3% (teenoor SSA se 9,5%)!  Die reuse verskille kom deurdat SSA slegs 100 produkte vergelyk, terwyl Pick n Pay 25 000 produkreekse vergelyk.  Die belangrike boodskap is om meer aandag te gee aan promosie aankope, want die voedselinflasie word bepaal deur wat in jou mandjie is en of jy van promosies gebuik maak om jou aankope te bepaal.

Goeie en interessante inligting oor jou bloedvatstelsel, korrekte inligting oor aanvullers se voordele of nie vir jou hart en uitstekende raad vir die pynlike en lastige wintershande (Pernio).  Daar is selfs raad aan die vroulike geslag om hul lae selfbeeld te verbeter. Die beste raad vir my is selfaanvaarding.  Die grootmaak van kinders word ook aangespreek en dit was nog nooit ‘n maklike taak nie.  Omgee-mense soos Ronel Kroukamp en haar familie en vriende wat omsien na die Lavender Hill se kleuters en kinders vorm die ruggraat van ons gemeenskap.

Die artikel oor Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie wat wetenskaplik bewys is deur die bestaan van gravitasiegolwe en –kolke in die buitenste ruimte te bevestig het vir my persoonlik weer diep onder die besef van God se  Almagtige  krag en teenwoordigheid in die skepping gebring.  Verder stel God die mens in staat om toenemend groter hoogtes te bereik – letterlik.  Tydens die Egiptiese bloeitydperk, in die Bybelse tye, was die piramiedes die wonder van die wêreld. Met hedendaagse argitektoniese- en ingenieurstegnologie reik die mensdom letterlik na die wolke met wolkekrabbers soos die Carton-sentrum se skrale 223 meter, die hoogste gebou in Johannesburg en Afrika, die Burj Khalifa van 828 meter in Dubai en nou die beplande “Die Toring” van 1 kilometer hoog in Jeddah, Saoedi-Arabië!  Dit Is verstommend wat die mens kan vermag.  Vir die motorliefhebbers onder ons lesers is daar ook ‘n artikel en storie of twee.

Die komende munisipale verkiesing van 3 Augustus is om die draai en die OvK het hulle hande vol met al die stokke wat in die spreekwoordelike speke gesteek word.  Ons hoop almal op ‘n vreedsame en regverdige verkiesing vir ons land en dat elke kieser sy/haar deel sal doen en volgens hul insig en gesonde oordeel sal gaan stem sonder intimidasie of vrees.  Ek wens vir ons land en sy mense ‘n beter en voorspoedige toekoms toe met sterker en beter toegeruste munisipale bestuur landswyd – vry van korrupsie.

Mooi loop aan elkeen van ons lesers en God se rykste seën vir almal tot volgende keer.

Dr. Johan Pretorius

Redakteur – Die Pionier

Back to top

 

2. Kaleidoscope Launches ‘World First’ Apple Training Centre for the Blind

Cape Town, 6th June, 2016 – Kaleidoscope today launches a world first technology centre for the blind in Worcester in the Cape. Aimed at empowering the blind and visually impaired with employability skills for the open labour market, the Apple training centre is believed to be the first technology centre of its kind in the world.

Equipped with modern information technology equipment and software, Kaleidoscope will be the first organisation in Africa that will be able to empower blind and partially sighted persons by training them in the most recent accessible Apple touch screen and touch type technologies which will result in more successful job placements of blind persons.

“Considering the fact that currently 97% of persons who are visually impaired are unemployed, there is an enormous need amongst blind and partially sighted people in South Africa to be trained in affordable accessible modern technology to enhance their employability,” says Freddie Botha, Executive Head of Kaleidoscope (previously known as the Institute for the Blind).

“It is very important to empower our blind and partially sighted persons to enable them to enter the open labour market on the same level as sighted applicants and employees. This centre will be an extension of our rehabilitation, skills training and career development department.”

He continues: “No other organisation in Africa provides in the all-inclusive, comprehensive, specialised training needs of visually impaired persons. The establishment of a new modern technology-training centre will be the final stage where blind and partially sighted school learners, students and adults will be referred to in their rehabilitation process. After completion of their training in this technological field they are qualified for their future of independence and self-sufficiency.”

Being visually impaired is in itself is a major challenge, however, according to Hein Wagner, Kaleidoscope’s brand ambassador, motivational speaker and global adventurer, with the appropriate training, support and guidance, quite possible to overcome.

He says that the additional challenge in the South African context is the huge cost of importing adaptive technology to make computers accessible for the blind. “Up until a few months ago it would cost you more than R10 000 to convert a standard PC into an accessible text to speech computer for the blind,” he explains. “An average Braille display would put you back just short of R80 000 and with 97% of the blind in SA unemployed, it is time to find an alternative way to equip the visually impaired with affordable tools and training that will help them to enter the job market and become economically active.”

This is exactly what Kaleidoscope will aim to achieve with the opening of the Apple training centre. “Since I moved over to the Apple product range three years ago I’ve never looked back. All Apple’s equipment including the iPhone, iPad, MacBooks and even the Apple TV as well as the Apple arm watch is fully accessible to the visually impaired, straight from the box. Whether I’m tweeting, sending a whatsapp, checking in on Facebook, reading my daily news, tracking my fitness, answering my e-mails, browsing the web or working through a complicated spread sheet, I am using an Apple. I further never thought I would buy an Apple TV as a blind person, however due to Apple’s inclusive design principles, for the first time even television became accessible to me.”

Wagner says that the training will focus on both using the technology for personal and business use and the aim is to train at least 400 students in the first year of operation. “It is our duty to train the visually impaired on the most recent accessible touch screen, laptop and desktop computers, to make them more employable once they leave our facility,” he adds.

“ABSA understood our vision for technology empowerment and partnered with us to make this dream a reality with a R3-million initial investment into the facility.”

The centre will be equipped with iPhones, Ipads, Macbook airs, Mac minis as well as the latest Apple technology used to do visual/keynote presentations.

All the training modules will begin with the basics of Voiceover – the Apple accessibility tool for the blind. Students will also be trained on both iOS and the latest Apple Mac operating system.

“We’ve designed the facility to be very blind friendly with a logical layout and underfoot tactile markings in order for the blind to navigate the open-plan centre with ease and independence,” says Wagner. “Our trainer, Philip Crous, is also blind as we believe that a trainer who is blind himself will use the most ideal method to transfer his knowledge and skill to the students in such a high tech facility.”

“On the personal computing side we will focus on social media, i.e. Facebook, Twitter, whatsapp, and a number of accessible apps for the visually impaired. On the business side we will focus on e-mail, safari/web-browsing, Pages, numbers to mention a few.”

Students will also receive training on the latest ERP and CRM applications that they will most likely face in the corporate environment once employed.

Wagner says that Kaleidoscope will also engage with the corporate sector to ensure the placement of persons with visual impairments and support the employee as well as the employer to ensure effective work and training placement.

As to why Absa got involved in the initiative, Wagner says: “We shared our vision and dream with Willie Zastron head of ABSA Business Banking and his team that we aim to develop a training model where persons with visual impairments are empowered in effective career development skills so that they will be able to function on the same level as sighted persons in the corporate sector and other training and working environments.

He continues: “They immediately understood our need for work and training empowerment and advised us to present them with a business and implementation plan. Willie Zastron and his team’s commitment and trust towards Kaleidoscope is so inspiring and gives us so much strength in the fulfilment of this great need in technology empowerment of persons with visual impairments.”

Commenting on Absa’s involvement, Sazini Mojapelo, Head of Citizenship for Barclays Africa, says: “A key priority of our Citizenship strategy is to help young people gain access to the skills and opportunities they need to unlock their potential. To this end we seek to empower young people with the skills necessary to achieve financial and economic independence and security.

Mojapelo adds: “In our interactions with Kaleidoscope we identified numerous synergies between the work they were planning and our involvement in enhancing the employability prospects of young people. We are extremely proud to partner with Kaleidoscope and extend services to more people – including those visual impairments.”

Substantial initial funding for the centre was also received from Blinden Stichting voor Zuid Afrika (Blind Foundation for South Africa) – initiated by Rene and Sandra de Vries from the Netherlands after visiting Kaieidoscope and the Rotterdamse Stichting Blindenbelangen (Rotterdam Foundation for the needs of the Blind) which supports and promotes social and cultural well-being of partially sighted, blind, deaf-blind and multi-disabled persons irrespective of their circumstances.

Back to top

 

3. Nuusbrief – Mei 2016

GEDAGTE VIR DIE MAAND

“Today I choose to live with gratitude for the LOVE that fills my heart, the PEACE that rests within my spirit and the voice of HOPE that says all things are possible.”  ~ Unknown.

 

Romeine 15:13

Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul.  Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagtinge word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

 

Liefde, vrede en hoop; tesame met dankbaarheid is ‘n lewenskeuse wat elkeen van ons kan maak en besluit om deel van ons lewens te maak.

Indien ons elke dag opstaan met ‘n lied in ons hart en die besluit maak om hierdie dag liefde, vrede en hoop vir almal met ‘n oop hand uit te deel – word die mooiste drome en gebeure moontlik en sal jy elke aand met dankbaarheid God kan dank vir nog ‘n goeie dag!

 

Positiewe gedagtes lok positiewe energie.  “If you have positive energy you will always attract positive outcomes.” ~ Steve Backley

 

Uit die kantoor

As daar een ding is waarvoor mense baie lief is in die nuwe Suid-Afrika dan is dit om dinge te “launch”.  Nou ja, ons hier by Kaleidoskoop wil ook wys dat ons deel is van die nuwe Suid-Afrika en daarom “launch” ons ook nou enigiets wat ons kan “launch”! Ek weet nie wie van julle het al gehoor van Elon Musk nie. Elon Musk is ‘n gebore Suid-Afrikaner wat tans besig is om die wêreld te verstom met sy uitvindings. Hy besit 2 maatskappye in die VSA naamlik Tesla wat besig is met die massaproduksie van bekostigbare elektriese motorvoertuie en dan ook die Space X maatskappy wat al hulle eie “rockets” ge-“launch” het en binne ‘n paar jaar ‘n bemande ruimtevoertuig na Mars wil stuur om daar ‘n stad op Mars te vestig. Mense doen nou al aansoek om saam te gaan en daar te gaan bly. Ek oorweeg dit om ‘n paar van julle saam te stuur!!!

Nou ja, ons by Kaleidoskoop gaan nou nie ‘n vuurpyl loods nie, maar ons dinge wat ons “launch” is net so opwindend. So ‘n paar weke gelede het ons ons nuwe naam Kaleidoskoop ge-“launch”, daarna het ons ons eie koffie Kaleidoscope Blindiana blend ge-“launch” en toe verlede week ons unieke Kaleidoskoop Tegnologiese sentrum. Nog is dit het einde niet!!. Dinsdag kom ons eie Vodacom kiosk aan die beurt en gaan ons Vodacom produkte hier langs Ons Winkel aan ons mense en die publiek verkoop. Dan ook binnekort ons eie wyn waarvan die naam tans nog geheim is en ons eie Kaleidoskoop bier! “Watch this space!!” En dan wag daar natuurlik nog ook die “launch” van ons nuut opgeknapte Blindiana Barista vir ons wat ons saam met Feedem gaan bedryf en waarvoor ek persoonlik nie meer kan wag nie. So trek julle hardloopskoene aan want hier by Kaleidoskoop gebeur dinge so vinnig dat julle nie kan bekostig om agter te bly nie!! Dis voorwaar opwindende tye waarin ons leef!!

Freddie Botha

 

OPLEIDING

Tegnologie

“Ultra Cane” (uit China)

‘n Paar jaar gelede het ons ‘n “Ultra Cane” uit Engeland ondersoek.  Dit is ‘n elektroniese kierie wat met ultrasoniese sensors werk om die gebruiker te waarsku oor voorwerpe voor jou en bokant jou kop deurdat die kierie toenemend harder begin vibreer soos wat jy al hoe nader na die voorwerpe voor  jou beweeg.  Die betrokke kierie was egter BAIE DUUR en nie baie duursaam vir toestande in Suid-Afrika nie.  Myne het die gees gegee na net één week se gebruik!

Daar is nou ‘n nuwe  weergawe van die Ultra Cane uit China – dit lyk vir my na ‘n aangepaste en verbeterde weergawe van die vorige een uit Engeland en dit het baie meer funksies, naamlik:

 

  1. Dit kan voorwerpe en obstruksies tot op ‘n afstand van 3 meter voor jou waarneem deur middel van ultrasoniese sensors. Die waarskuwings is deur middel van vibrasie en ‘n stem. Die kierie sal vibreer en ‘n stem sal deur ‘n ingeboude luidspreker vir jou waarsku soos wat jy nader aan voorwerpe beweeg.
  2. Met behulp van ‘n stem kan dit die verskillende windrigtings van noord, suid, wes en oos vir jou aandui.
  3. ‘n Spraakhorlosie – dit dui tyd aan, alarmhorlosie en stophorlosie.
  4. Met ‘n afstandbeheer kan jy die kierie soek en vind tot op ‘n afstand van 20 meter.
  5. Dit het ‘n ingeboude waarskuwinglig om in die nag te gebruik sodat ander jou kan sien aankom.
  6. Die kierie is opvoubaar en het ‘n reflekterende oppervlakte vir sigbaarheid in die donkerte.
  7. Dit werk met ‘n herlaaibare 3.7 Volt lithium battery.

 

Hierdie kierie is blykbaar baie goedkoper as die vorige weergawe uit Engeland.  Verder het dit baie meer funksies.  Die vorige een kon slegs met vibrasie jou waarsku en het geen ander funksies gehad nie – soos die een uit China.  Verder het dit met twee AA (penflits) batterye gewerk wat nie herlaaibaar was nie en gou pap geword het.  Verder lyk die nuwe kierie baie ligter en slanker as die vorige weergawe wat redelik swaar was met ‘n baie dik handvatsel wat baie ongemaklik in die hand gepas het en jou arm baie gou moeg gemaak het weens sy gewig.

Ons beplan om ‘n demonstrasie model te kry wat ek dan persoonlik sal ondersoek en later terugvoer aan julle sal gee oor my indrukke daarvan.  “Watch this space…”

 

Hier volg dan nog van Johan Louw se stories:

Johan Louw se stories 19

Ek het baie op die plaas saam met my familie – Ma, Pa, Oupa, Ouma, drie broers en suster ‘n Oujaarsfees gehou. Ons het vriende oorgenooi om dit saam met ons te geniet.

Ons het lam op ‘n spit gebraai en my ma het slaai en poeding gemaak. Ons het gekuier tot die son opkom Nuwejaarsoggend. Ek sal nooit vergeet hoe moeg ek was as ons klaar gekuier het nie. Ons het gedans en geëet. Ons Suidwesters kan darem lekker kuier hoor. ‘n Vreemdeling voel gou tuis. Ek het die musiek gespeel, Nama- en Boeremusiek. Wanneer ek moeg word agter die klawerbord speel ek dan CD’s en kassette. Ek het baie musiek in my CD rak.  Ek het terwyl die musiek speel ook saam gedans. Ek en my mense het baie so lekker gekuier elke Ou Jaar uit, die Nuwe Jaar in. As ek stil sit dan dink ek weer baie daaraan.

Ek het baie geswem in die plaasdam, want Suidwes kan baie warm word Desembermaand!  As ek, my broers en suster swem, klim ons nie gou uit nie. Dan swem ons sommer lank. As die kos gaar is, kom roep my ma ons dat ons moet kom eet. Dan kom ons eers agter hoe honger ons is wanneer ons hoor van kos. Ek en my broers en suster het ons kos mooi opgeëet as ons klaar geswem het. My ma en pa het gesê dat dit is al wanneer ons kinders op hulle lekkerste eet as hulle geswem het. Die plaasdam waarin ons geswem het is vandag nog op die plaas.

My broer het my laasweek gebel en gesê hy het die vakansie lekker in die dam geswem. Ek vertel toe vir hom ek het ook lekker in die see geswem. Hy sê ja, maar jy het seker baie na Suidwes se plaasdam verlang. Ek sê ja, maar eendag sal ek weer daaruit kom, ek weet net nie wanneer nie. Toe my broer praat van die plaasdam besef ek dat my hart met ’n punt na Suidwes toe trek. My broer maak ‘n grap met my, hy sê jy het nou ‘n Kapenaar geword. Ek sê ja, dit lyk my jy moet ook maar Kaap toe trek as jy my wil sien. Hy sê ja, ek sal moet. Dit is al hoe ek jou kan sien, want ek verlang na jou! Ek weet my familie verlang almal na my. Ek kan nie meer wag om hulle weer te sien nie. As ek hulle bel dan gesels ons darem lekker oor my kleintyd.

Ons het baie in die veld piekniek gehou  en dit baie geniet.  My ma sê hulle het dit die vakansie weer gedoen.  Toe verlang sy na my.  Ek en my mense is baie lief vir mekaar.

 

Johan Louw se stories 20

Ek is darem bly dat ek in Suidwes grootgeword het.  Nou is ek lief om grappe te vertel.

Die storie wat ek nou gaan vertel het regtig gebeur. Almal weet mos ‘n hond en kat hou nie eintlik van mekaar nie, behalwe as hulle saam grootgeword het. Die mense sê ek lieg as ek die storie vertel, maar julle moet maar dink wat julle wil, want dit het regtig gebeur.

Toe ek klein was het my ma en pa ‘n hond en kat gehad wat mekaar se dinge aangeleer het.  Hulle was baie lief vir mekaar. Die kat was al mooi groot toe hy blaf as die hond blaf.  Die hond was ook groot en slim.  Hy het miaauw gesê as die kat miaauw. Die hond se naam was Billy en die kat se naam was Katoffels. Ek het daar gesien diere is baie slim.  Wie sal kon dink ‘n kat kan blaf en ‘n hond kan miaauw.  Ek onthou die kat was swart en die hond was wit.

Ek het ook eendag saam met my pa veld toe gery en daar het ek ook gesien ‘n skaap wat baie lief was vir my pa.  As my pa huistoe wil ry loop hy ‘n ent al langs die bakkie totdat hy moeg word en dan omdraai om te gaan lê.

Ek het ook in die veld  baie gesien hoe goed die skape die plaasbakkie ken, dat hulle al reggestaan het as ek en my pa daar aankom. My pa het al gesê ja, ‘n mens kan darem sien die skape is baie lief vir ons. Ek sê ja, dit is so. My oupa het ook baie so saam met ons veld toe gery en hy sê ja, ‘n mens kom agter diere weet ook van wie hulle hou. Ek het nie omgegee om saam met my pa en oupa in die veld heeldag te wees nie.

Wat ek veral baie geniet het is om Nabbas uit te grawe. Die Nama-mense noem dit so, die Afrikaanse naam is Woestynaartappel. Ons kry dit in Suidwes in die sandduine na die reëntyd. Dit is net soos ‘n gewone aartappel, net kleiner. Dit smaak ook baie lekker.  Ek het dit baie geniet om dit uit te grawe, maar was baie spyt as ek nie kry nie. As ons by die huis aankom vra my ouma – my kind, het jy baie Nabbas gekry?  Ek sê ja.  Dan sê sy – ek is bly my kind.  Maar sy aanvaar dit as ek niks kry nie. Dan sê sy – toemaar my kind, môre is nog ‘n dag. My ouma het my altyd moed ingepraat.  My oupa ook.  Ek het altyd geweet by wie kan ek huil as ek hartseer was.  Ek het ook met hulle my vreugdes gedeel. Ek het baie vreugde saam met my oupa en ouma gehad.

 

Ter afsluiting

Johan se stories spreek  van familie-liefde, vrede, vreugde, omgee, hoop en dankbaarheid.

Ek wens vir julle almal liefde, vrede, vreugde, hoop, en dankbaarheid toe vir die volgende maand en mooi loop tot volgende keer.

Johan Pretorius

 

HUIS BREVIS

– 17 Mei het Ass. Verpleegster Rene Fick ouma geword van ‘n dogterjie.

– 26 Mei het Ass. Verpleegster Ann Jansen ouma geword van ‘n seun.

– Baie geluk julle twee. Dit is ‘n ouma  se voorreg om kleinkinders te bederf.

– 19 Junie is Vadersdag:  Aan elke pa in Huis Brevis wil ons ‘n baie geseënde dag toewens.

– Baie dankie aan die Bestuur vir Huis Brevis se nuwe stoof. Die tannies bak en brou al te lekker.

– Baie dankie aan Emile Jordaan, oom Pieter de Bruyn, Sakkie de Witt en Melt van Sittert dat julle so hard werk om die rokers-area mooi en gemaklik te maak.  Julle is ‘n wenspan.

 

Uit die pen van ‘n versorger in Huis Brevis:

Net Dankbaar

Soms as ek wonder…wonder ek, hoekom ek juis hier geplaas is.

Dis mos nie wat ek wou hê, dit was nie my droom.

Dan stap ek in, vergeet van my probleme, my “shortcomings”.

Want hier gaan dit nie oor my, dit gaan oor soveel meer.

Hier is waar God my mos geplaas het.

Hier is waar ek moet wees.

Waar ek moet liefhê, moet omgee.

As ek dan ons bejaardes en gestremdes sien, raak ek stil.

Stil want my hart loop oor van dankbaarheid, omdat ek ook ander kan liefhê.

In die lang geel gang, in elke kamer van elke inwoner, moet ons straal, moet ons ons lig laat skyn.

Want God het my en ons hier geplaas, en uit ons eie krag sal ons dit nooit maak.

 

Ons wil graag al die betrokke mense bedank wat die Metaal Afdeling so mooi geverf het.

Groete Metaal Afdeling

 

DVO

Inligtingsentrum

Dit is altyd ‘n voorreg om in die nuusbrief die aktiwiteite van die Inligtingsentrum deur te gee.  Goeie nuus! Ons Blindiana Barista maak sy deur oop op 1 September, met ‘n splinternuwe spyskaart asook ‘n nuwe “look!”. Ons is baie opgewonde hieroor – ook oor die vooruitsig om Kaleidoskoop se naam uit te dra deur middel van ons Barista, ons koffie, ons eie stempel op die winkel af te druk en ons eie Barista, Joseph. Hy is die eerste blinde Barista in die land wat opgelei is, en dit is vir ons ‘n trotse oomblik dat hy in ons koffiewinkel kan werk!  Hou die nuusbriewe dop vir lusmakertjies van ons spyskaart!

Die Instituut is hierdie jaar 135 jaar oud. Die afgelope 100 jaar is daar heelwat navorsing en geskiedskrywing gedoen oor die Instituut en sy werksaamhede, asook die ontwikkeling van die Instituut. Daar is egter die afgelope 35 jaar ‘n gaping in inligting, alhoewel daar baie ontwikkeling plaasgevind het, watter interessante tydperk beleef ons nie die afgelope tyd nie! Ons is dus in die proses om die laaste 35 jaar neer te pen in boekvorm, die einde van die era van die Instituut vir Blindes, asook die begin van die nuwe era – Kaleidoskoop. Ons hoop om hierdie projek teen volgende jaar af te handel.

Van julle sal onthou dat Pastoor De Wet Lodewyk betrokke by FEBA radio en sy vrou, Lirette, Kaleidoskoop besoek het, saam met ‘n paar van die gemeentelede van Worcester. Dit was heerlik om hom rond te wys, en vir hom om van die lidmate te ontmoet wat ook in sy diens was die vorige Sondag. Hulle is baie opgewonde oor die pragtige werk en produkte wat ons almal hier by Kaleidoskoop vervaardig.

Ons I-Art gallery is ‘n bron van trots vir die Inligtingsentrum, en ons het 2 uitstallings gehad. ‘n Kunstenaarsgroep van Kaapstad, almal argitekte, het ‘n pragtige uitstalling hier gehad – en van die kunswerke is verkoop in die proses. Ons is baie trots om deel te vorm van so ‘n uitgesoekte groepie kunstenaars. Spiral Moon Kids Art het ook hier uitgestal – dit is ‘n kunsskool in die dorp, wat al die kunswerke deur die jaar uitgestal het.  Hier was ongeveer 250 mense by die openingsaand, nuwe ouers en persone wat nog nie vantevore hier was nie.  Dit was ongelooflike blootstelling vir die Blind Spot, ons is baie opgewonde hieroor!

 

Groepoptredes

Dit is vir ons altyd lekker om persone bewus te maak van die ongelooflike vaardighede van ons blinde en doofblinde persone hier by Kaleidoskoop, en wat ‘n lekker manier kan ons dit doen deur ‘n Groepoptrede waar ons 60 minute die geleentheid kry by verskillende ouetehuise en aftree-oorde om ‘n kort oorsig te gee oor die dienste by Kaleidoskoop, waar die orkes en mondfluitjie trio dan heerlik musiek maak en Salmon Fikster die tannies se harte steel met sy pragtige stem. Ons het op 19 Mei vir Beit-Ul-Amaan besoek in Wynberg waar ons met so baie liefde ontvang was. Ons het heerlik saam gekuier. Op 25 Mei het ons ACVV Edelweiss in Durbanville besoek en het die ou ooms en tannies die orkes se musiek so geniet hul kon nie anders as om saam te dans nie. Ons besoek hierdie maand vir Andante Aftreeoord in Kuilsrivier en Bridgewater Manor in Somerset-Wes. Dankie vir almal wat betrokke is by hierdie optredes.

 

Kerkoptredes

Ons is altyd so dankbaar vir die uitnodigings na Gemeentes reg oor die Wes-Kaap vir Kerkoptredes en het Mnr Botha, Irene en hul span al ‘n paar optredes gedoen. Op 29 Mei 2016 het Irene en die span wat bestaan uit Donnie Laubscher, Cindy Swart, Daantjie & Alta Mollentze, Nico Nel,Willie Bester, Salmon Fikster, Frikkie Botha en Sakkie Reid vroeg vertrek na NGK Hermanus.

5 Junie het Mnr Botha en die span wat bestaan het uit Donnie Laubscher, Cindy Swart, Daantjie & Alta Mollentze, Nico Nel, Willie Bester, Hansie Wessels , Wickus Botes, Salmon Fikster, Frikkie Botha, Sakkie Reid vroeg vertrek na NGK Leipodtville wat ongeveer 3 ure van Worcester af is, hierdie was ‘n lang pad na Leipoldtville maar is dit altyd vir ons ‘n groot voorreg om uit te reik en ‘n gedeelte van Kaleidoskoop met Gemeentes te deel.

Dankie vir almal betrokke by hierdie uitreike en wat altyd bereid is om saam te gaan.

 

Gholfdag

Ons jaarlikse Gholfdag saam met Pionierskool en Pionierdrukkery was ‘n reuse sukses. Ons het ‘n totaal van 33 spaninskrywings gehad waarvan Kaleidoskoop 1 was wat bestaan het uit David Geyer, Johan Henning, Johan Steyn en Gerald Visser. Sonder ons hoofborge, KWV, Petals Express, Hermitage, Breërivier Koeriers en ATKV sou hierdie dag nie moontlik gewees het nie. Graag wil ons ook elke personeellid bedank wat betrokke was by die reëlings en alles seepglad laat verloop het. Ons datum vir volgende jaar is alreeds vasgemaak vir 12 Mei 2017.

 

Special Events

Wine Show, Johannesburg

Die eerste van ‘n reeks Wine Shows vir die jaar het van 12-14 Mei in Sandton, Johannesburg plaasgevind. Ané, Rachael, Sylvia en Ledivia het Kaleidoskoop se naam doer in die verte gaan hoog hou met die heerlikste cuppaccino’s, americano’s, hot chocolates, noem maar op.  Die feesgangers was gaande oor ons heerlike Blindiana Blend koffie.  Baie dankie aan Beans for Africa en Bianca Smit wat gehelp het met die koffieverkope en die reuse borgskap om die uitstappie so suksesvol moontlik te kon maak.

Tekkie Tax

Tekkie Tax het vanjaar op Vrydag, 27 Mei plaasgevind en ons is dankbaar aan elkeen wat ‘n bydrae gelewer het.  Ons het vanjaar veral staat gemaak op plaaslike ondernemings om die plakkers onder hul personeel te versprei. ‘n GROOT dankie aan elke onderneming wat ingekoop het en plakkers by ons aangekoop het. Ons maak volgende jaar weer so.

Moderne Tegnologiese Sentrum

Maandag, die 6de van die 6de maand 2016 (dink maar aan die 6 ‘kolletjies’ wat ‘n braillesel vorm…) het ons geskiedenis by Kaleidoskoop gemaak. Die eerste moderne tegnologiese sentrum vir blindes se deure is in Worcester oopgemaak. Ministers, televisiespanne en ander hooggeplaastes was onder die gaste. Baie dankie aan Hein Wagner, die ABSA-span, Apple se manne wat so flink gehelp het, Pierre, Philip, Mitzi en AC Security, Gary en sy span asook elke liewe persoon wat ‘n rol gespeel het om hierdie droom ‘n werklikheid te maak. Mag hierdie sentrum nog vele lewens en lewenswyses verander.

Daniele Pascal

Daniele Pascal kuier vanjaar weer by ons. Bespreek jou plek vir die kabaret vertoning waar Daniele Pascal hulde bring aan Marlene Dietrich. Die vertoning vind plaas Donderdag, 21 Julie om 19h00 in die Blind Spot teater. Kaartjies is beskikbaar teen R150 per persoon (ligte aandete ingesluit) en is beskikbaar by Rachael: info@kaleidoscopesa.org  X271

Out of Office

Ons jaarlikse fondsinsamelingsfunksie beloof om vanjaar uit sy nate te bars. Op Woensdag, 7 September kan jy saam met ons kom kuier, lag en smul aan die heerlikste 3-gang maaltyd. Hein Wagner hou vanjaar sy lyf seremoniemeester saam met ons gaste, SuzelleDIY en TWEE. Daar is ook vanjaar uitstalruimtes waar jy jou besigheid of produkte kan bemark. Kaartjies beloop R240 per persoon (3-gang maal ingesluit) en kan by Rachael bespreek word info@kaleidoscopesa.org X271. Komaan, draai sommer nou al jou baas se arm om sommer die hele kantoor te stuur na ons bederf-oggend.

“It isn’t the mountains ahead to climb that wear you out; it’s the pebble in your shoe.” – Muhammad Ali

 

Infokus Nuusbrief

Kaleidoskoop se Infokus Nuusbrief word jaarliks in Maart en September uitgereik en versend na 12 000 donateurs landwyd. Die Infokus is ‘n vertoonvenster van al die mooi dinge wat hier by ons gebeur en is ons trots om Kaleidoskoop se stories met ons landwye vriende en vennote te kan deel. Kontak gerus vir Sanna op ons skakelbord vir meer inligting oor die beskikbaarheid van die formaat, soos volg, van ons infokus nuusbriewe:

 

– in ons winkel

– in magic 12 spraakprogram (Johan Pretorius lokaal per afspraak) vir inwoners

– in “ms word” formaat

– in “pdf” formaat

– in braille beskikbaar in “die pionier

 

INSTITUUT GROETE TOT VOLGENDE MAAND!

Back to top

 

4. Kursus in joernalistiek vir siggestremdes

(Die Burger, 16 April 2016)

Kaapstad. – Siggestremdes kan danksy ‘n nuwe projek makliker die wêreld van joernalistiek betree met ‘n kursus wat hulle die nodige vaardighede sal aanleer.

Die Kaapstadse Vereniging vir Blindes (CTSB) gaan dié kursus in samewerking met WeCan24, Media24 se opleidingsprogram, aanbied.

Siggestremdes sal hiermee opgelei word om onder meer onderhoude te voer, berigte te skryf, bladuitleg te doen en subredakteurs te wees.

“Dis ‘n nuutjie vir die maatskappy en ons is trots daarop om op hierdie wyse betrokke te wees by hulpverlening aan die visueel-gestremde gemeenskap,” het Adrie Jurgensen, groepsbestuurder van Media 24 se gemeenskapsdienste en projekbestuurder van WeCan24, in ‘n verklaring gesê.

Luidens die verklaring, wat Dinsdag uitgereik is, sal ‘n groep van 14 studente van die CTSB aan die kursus deelneem en ‘n diploma in gemeenskapsjoernalistiek verwerf.

Bonita Blankenberg, ‘n kommunikasiespesialis en blinde navigator wat aan motorwedrenne deelneem, en Benedict Leteane, provinsiale voorsitter van die SA organisasie vir blinde jeug, gaan die projekbestuurders wees.

Oor die volgende drie maande gaan hulle werk om die opleidingsprogram so inklusief moontlik te maak, waarna dit in volle gang sal wees, luidens die verklaring.

Siggestremde studente sal drie keer per maand bymekaarkom vir die joernalistiekkursus van ses maande.

Elkeen ontvang R2 500 per maand en sal ná die aflê van ‘n eksamen ‘n nasionale diploma in joernalistiek ontvang.

Back to top

 

5. Tussen hemel, aarde en heelal

(Rooi Rose, Junie 2016)

Haar seunskinders word groter en leer meer van die aarde, die hemel, die heelal en die liefde

Deur CARINA STANDER

Te skielik, op een herfserige dag, vat my seuns my verby die elmboog en skouer. “Oorgister het ek verjaar,” vertel Ilantjie Plantjie, ons kleuterkind met die kuiltjielag en graspolkuifie. Rakker wat jou onverwags in n wurggreep gryp en snoeselsnoei; dan weer die denkbeeldige drake met ‘n pyl en boog gaan uitwis. Seuntjieskind wat lief is vir masjiene en boomklim; wat tekeninge maak van tornado’s en trapsuutjietonge; wat in die tuin op ‘n vliegperd ry. Tjokker wie se innige komplimente ek moet verduur: “Mama, jy’s vir my so mooi soos ‘n bus!” Hartsmelter wat verklaar: “Ek’s vir jou so lief soos nege biljoen sagte wit skapies wat nou net gebore is.”

‘n Doodgewone dag kry ‘n surrealistiese skynsel wanneer ons konsert hou met maskers en handpoppies wat die seuns uit ou kouse en mooi lappies gemaak het. Terwyl ons so speel, kom die vrae. Gewone vrae, vervelige vrae en vrae oor infinity and beyond. Dit was so twee jaar gelede, Ilan was ‘n raps ouer as drie en het ‘n kaartjie vir Vadersdag gemaak.

Gerrit: “Sjoe, Ilan, dis pragtig! Wat is dit?” Ilan: “Dis blou soos die hemel. En wit soos die engele. Waar die hemel is? Waar? Daar bo? Hoekom mens nie engele kan sien nie?”

Gerrit: “Eendag in die ewigheid sal ons die engele kan sien. Die ewigheid is lekker lank.”

Ilan: “Wanneer mens hemel toe gaan?”

Ek: “As jy eendag doodgaan.”

Ilan, vies: “My nie wil doodgaan nie!”

Ek: “Ek kan dit verstaan. Almal is bang vir dit wat hulle nie kan sien nie. Toemaar, Ilantjie Plantjie, ek dink dis nog baie jare voordat jy doodgaan.”

Gerrit: “Meeste mans gaan eers dood as hulle oupas is wat meer neushare en oorhare as kophare het.”

Ilan, nog treuriger: “My nie ‘n oupatjie wil wees nie! My ‘n seuntjie is.”

Nou is ons in die knyp. Ek, diplomaties: “As die tyd kom dat ‘n mens ‘n oupa word, dan geniet jy dit glo baie. Maar ja, vir nou is jy ‘n seuntjie en dis ook baie spesiaal.”

Gerrit, iets tussen lighartig en desperaat: “Of dalk gaan jy nie dood nie! Dalk sit ons een mooi dag op die strand, dan kom daar ‘n groot wolk en roep Jesus: ‘Hi, Ilan, is jy lus om saam te ry?’”

Ilan, ietwat vroliker: “Nee, ‘n wolk nie kos het nie, net sneeu en reën. My met ‘n vuurpyl hemel toe gaan! Nee, ‘n vliegtuig my nog lekkerder is! My vliegtuig in die hemel parkeer? ‘n Vliegtuig kan rosyntjies vat! En kaas! En ‘n sak vol boeke en presente.”

Ek: “Sal jy vir Mamma ook saamvat? Ek sal die kos vir jou gaarmaak.”

Ilan het groter geword, ‘n volle vier jaar oud, en die raaisel oor die hemel, aarde en heelal het saam met hom gegroei. Een aand met slaaptyd vra hy: “Mamma, jy’s mos altyd lief vir my? Ook toe jy vandag met my geraas het, was jy lief vir my?”

“Ek sal altyd vir jou lief wees, Ilantjie.”

“Gaan jy al jou dae op aarde vir my lief wees?”

“Al my dae.”

“Gaan jy al jou dae in die hemel vir my lief wees?”

“Miskien gaan ons daar nog liewer vir mekaar kan wees.”

“Gaan jy ook in díe Nuwe Hemel vir my lief wees?”

“Baie lief.”

“Wat kom ná die Nuwe Hemel?”

“Ek weet nie, wat dink jy?”

“Ek dink ná die Nuwe Hemel, is daar die Oormôre Hemel. In die Oormôre Hemel gaan ek ‘n diep-diep gat in die grond grou, sodat ek kan afkyk tot waar ek en jy vanaand in my bedjie lê en oor liefde praat.”

Ses maande later, terwyl ons in die dikke ou honeysuckle-heining van ons tuin sit en speel ek’s ‘n meermin wat hy uit ‘n akwarium gered het, laat hoor hy uit die bloute: “Mama, eendag as dit ons tyd is om dood te gaan ry ek en jy tot waar dit sneeu. Dan begrawe ons mekaar met sneeu en fossielklei. Ek begrawe jou en jy begrawe my, dan is ons vir altyd saam. As ons in die hemel kom, smash ons die fossielklei so doesj! met ons tande oop. Dan skrik almal en vra: ‘Huh? Hoe het JULLE twee hier gekom?’”

Dood. ‘n Mens wil nie nou al daaraan dink nie. Maar oudword sál gebeur en die welpies sál die den verlaat. Eendag, as ek stokoud en verrimpeld en breekdun soos ‘n herfsblaar in die sonnetjie sit; as ek die titels vergeet van die boeke wat ek geskryf het en wat ek nog wou skryf, is dit wat ek die helderste sal wil onthou: ‘n Dag soos hierdie. ‘n Doodgewone Donderdag waarop ‘n vyfjarige seuntjie my geheel en al oorrompel het: “Mama, weet jy, daar is ‘n pypie tussen jou en my. Die pypie is so dun dat niemand dit kan sien nie. Die pypie is so sterk dat niks dit kan breek nie. Jy is die sagste ding wat ek al op aarde van geweet het. Ek is lief vir jou, omdat jy so mooi is met my. Ek is lief vir jou, omdat jy so lief is vir my. Ek is liewer vir jou as vir al my Hot Wheels en vir die katte. Ek het jou so lief soos vyfhonderdduisend heelalle.”

Back to top

 

6. Sy léwe!

(Lééf, Maart 2016)

Beatri Kotzé

NIE EENS PYN KAN DIE LEGENDARIESE SANGERES ANNELI VAN ROOYEN ONDERKRY NIE. HAAR NUWE CD IS ‘N GETUIGSKRIF VAN HAAR MOED & GELOOF TEN SPYTE VAN SWAARKRY.

Jy het die titelsnit van jou nuwe CD, Nogtans sal ek sing, self geskryf. Wat was jou inspirasie?

Dit kom direk uit my hart, lyf, emosies en denke rondom die onherstelbare pynskade wat ek ervaar weens trigeminale neuralgie en hoe my siel daarop reageer. Dis die naaste wat ek in ‘n liedjie kan kom aan wat ek beleef het en hoe ek glo.

Ná die mislukte operasie in 2007 het jy gedink jy sal nie weer op die verhoog wees nie. Was jy kwaad vir of teleurgesteld in God?

Toe ek die omvang van die skade begin besef, het dit ‘n ruk lank gevoel of die Here my verlaat het. Ek kon nie glo so iets kon met my gebeur nie… Ek het dan die prosedure in geloof aangepak juis om van die pyn óntslae te raak. Om drie keer meer pyn te kry en die normale gebruik van my mond te verloor was nêrens in enige nagmerrie eers vir my denkbaar nie. Ek was tot in my murg getraumatiseer, maar genadiglik sit die Here Jesus Christus nog dieper as murg in my! Ek het begin verstaan hoe Hy my steeds bewaar. Die verhaal van Dawid het my gelukkig geleer ons mag alles wat ons verinneweer, ook voor God bring!

En hoe het jou geloof sedertdien verander?

Geloof is nie iets wat ons self vervaardig nie. Dis ‘n lewende Gawe – ver bo begrip en verstand – wat ontstaan wanneer ons kies om te glo. Ons word deur die golwe van die lewe rondgeslinger en ons geloof kan geskuur, geskraap en beskadig word, maar ook verfyn en gesuiwer word. Al hierdie dinge laat groei my geloof in die Here wat lééf.

Jy is steeds vol hoop – watter raad kan jy vir ander gee wat voel “wat nou”?

Elkeen se swaar verskil. Bring maar net elke breukdeel daarvan na die troon van God en voor die voete van Jesus. Laat Hom inkom in die chaos en smart. Gee Hom tyd en geleentheid. Bly by Hom en hou vas aan die beloftes van Sy Woord. Hy sal Hom bewys as jou Redder en jou God. Selfs al word ons nie genees nie, nogtans sal ons sing…

 

Jy het gedink jy sal nooit weer kan sing nie… hoe het jy gevoel toe jy jou nuwe CD vashou?

Absoluut oorweldig! Ek sien dit as ‘n teken dat die Here die onmoontlike kan moontlik maak, dat Hy inderdaad ‘n pad maak waar daar nie een is nie.

Jy word alom beskou as ‘n legende in die musiekbedryf. Hoe voel jy daaroor?

Diep dankbaar en gelukkig, maar ook nederig, want ek weet ek het dit nie op my eie tot stand gebring nie en kan dit ook nie self in stand hou nie.

Waarin vind jy vreugde ondanks jou stryd met jou gesondheid?

O, ek verbly en verkneukel my in ‘n rondomtalie van dinge: my ouers, vriende, diere, die natuur, musiek, animasieflieks, kleure, kennis, boeke, huisplanne, kuns en handvlyt, sport… die lys gaan aan!

Waarmee is jy besig wanneer jy nie werk nie?

Die meeste van my tyd word maar gebruik vir pynbestuur en die harde werk om uitputting en magteloosheid te bowe te kom. Ek word omgedolwe en moet dan treetjie vir treetjie weer begin. Liefde is my groot dryfveer. Ek wil heeltyd dinge reg- of beter maak. Om planne te beraam en oplossings te soek vir alles en almal hou my brein besig. My diere, tuin en rose, spesiale tyd met my ma en al die goed hierbo kleur my lewe in.

As iemand wat self ‘n reuse-inspirasie is vir ander, na wie of wat kyk jy vir begeestering?

Dawid en die profete is vir my ‘n enorme vertroosting en bemoediging. Ek leer daar van geloof in aksie en om deur wanhoop aan te hou. Ek leer ook dat God se liefde en genade nooit, nooit einde kry nie. Wanneer ek lees van die verstarrende beproewings, ellende en terugslae waardeur hulle moes gaan, word ek dankbaar vir my eie probleme!

C.S. Lewis het gesê: “Mens is nooit te oud om nog ‘n doelwit te stel of ‘n nuwe droom te droom nie.” Wat wil jy nog bereik?

Ek het iewers gelees as mens koers- of doelloos voel, moet jy jou hand op jou hart sit en voel hoe die lewe klop. Moenie moed opgee nie. Waar daar asem is, is daar hoop. Ek is baie onseker oor my toekoms en hoe ek my pad deur die pyn moet vleg. Wat ek wel weet, is dat daar talle geleenthede sal wees om ‘n verskil te maak ten goede. Ek moet net opdaag.

Back to top

 

7. Aan die beurt

(om die tafel)

MARIËTTE CRAFFORD

Kan ‘n beurtstelsel die ewewig slaan met die verrigting van huishoudelike take? Of is daar ‘n eenvoudiger uitweg?

“Beurt” is een van die eerste woorde wat ek naas “asseblief” en “dankie” aan moedersknie geleer het. Nie “beurt” wat in verband staan met elektriese “beurtkrag” nie, want op ‘n werf in ‘n afgeleë deel van die land, het ons in elk geval nie ons nagtelike bestaan in die helderte van elektriese ligte gevoer nie. Dit was in die gloor van olielampe en kerse dat ons ná sononder huiswerk gedoen en stories gelees en ons ouers aan lou pype getrek en met hekellappies gevroetel het.

Ook nie “beurt” in die sin van krieket se “boulbeurt” nie, want in die Diep-Boesmanland het die manne rugby gespeel en tougetrek. Krieket was gans te uitlands.

Tog was “beurt” van kleins af al ‘n werklikheidsbegrip in ons huishouding.

Synde een van vier susters op ‘n wingerdwerf aan die Groot Gariep, het ons – vandat ons ons verstand gekry het – geweet dat ons voortbestaan van ons waterleibeurt afhang. Gevolglik het ons vier meisiekinders en ons Ma baie aande alleen aan die etenstafel gesit terwyl ons Pa ons wingerdlande natgelei het. Met ‘n leibeurt kon ‘n mens nie leeglê en Gods water oor Gods akker laat stroom nie.

En só – het ons van kleintyd af geleer – is dit met huishoudelike take ook. Dis wreed as die hokhoenders nie klokslag gevoer word nie, boonop lê hulle dan wisselvallig eiers. Daarby moes ons wanneer daar hanslammers in die kraal was, vir hulle gaan melk gee met die Coke-bottel wat langs ons Jewel-stoof gestaan het. Net so moes ons voor donker ons sinkemmer by ons boorgat vol water gaan pomp anders het ons nie vir die aand en vir vroegoggend drinkwater of koffiewater of tandeborsel-water gehad nie.

Buiten die werftake, moes al vier van ons ons Ma in die kombuis help. Ons het groente geskil en brood help knie. Met etenstyd het ons tafel gedek, afgedek, skottelgoed opgewas, afgedroog en weggepak.

Soos ‘n meesterstrateeg ‘n veldslag sou beplan – en met ‘n onbesproke sin vir regverdigheid daarby – het ons Ma ons take met ‘n beurtstelsel verdeel. Deur deurentyd beurte te maak, het die take nie eentonig en sielstropend geword en ‘n mens beswaar nie. Boonop het die beurtstelsel almal betrek en medepligtig aan die instandhouding van ‘n huishouding gemaak.

En toe word ek groot. En saam met baie ander ontnugterende gewaarwordinge, besef ek dat die beurtstelsel glad nie ‘n vanselfsprekendheid in verhoudings en huwelike is nie. Dis ook toe dat ek besef dat my pa nooit skottelgoed gewas het of help stryk het nie. Hy sou wel die wasbak se kraan regmaak of die strykyster se kole stook, maar dis hoe ver sy huishoudelike bedrywighede sou strek.

En so was dit toe ook in my geslag se grootmenswêreld met wonderlike uitsonderings van “huishoudelike” mans – wat so skaars soos die eenhoring is. Elke keer wanneer ek ‘n gebruikte bord of leë koffiebekers uit ‘n vertrek kombuis toe moes vat, het dit my gegrief.

Waarom is dit ‘n vrou se taak om agter die gesinslede op te ruim? het ek gewroeg. Om dié werklikheid van die regte lewe te kon begryp en hanteer, het ek tydskrifartikels oor die verdeling van huishoudelike take gelees en vrae in dié verband in troostanterubrieke nagespeur. “Tradisioneel (in die tydperk van jagtergaarders) het mans ‘manlike’ take verrig soos om diere vir die pot plat te trek en vyande af te weer. Vroue het die huishouding behartig,” het een artikelskrywer probeer paai. Maar wat van evolusie? het ek gedink. Is manlike take in die era van mede-broodwinnerskap om sport op televisie te kyk terwyl Mevrou Ma ná haar kantoordag skarrel om kolwyntjies vir die skoolkermis te bak en toe te sien dat die kinders se huiswerk gedoen is en dat hulle gepoets en gelief bed toe gaan?

“Dis hoedat dit is,” stook ‘n statistieke-opgaaf. Uit veertig huishoudelike take verrig die meeste mans net drie: hulle hanteer vullisblikke, ruil gloeilampies om en verrig die noodsaaklikste selfdoentake soos om lekkende krane te versien. Sodoende bestee die gemiddelde werkende vrou meer as dubbeld die aantal ure per week aan huishoudelike take as haar man. Vir die meer as 30% vroue wat alleen haar kinders as dubbelouer en enkelbroodwinner (teenoor 2% mans in dié rol) grootmaak, beteken dit dat sy die hele “voedselketting” van haar huishouding is: sy werk vir die geld waarmee sy die kruideniersware gaan koop waarmee sy die kos berei waarvoor sy die tafel dek, afdek, opwas en wegpak – en alles anders doen aangesien die meeste afgesloofde enkelma’s nie hulp kan bekostig nie. Van beurte en die krag wat uit ‘n beurtstelsel voortkom, is hier nie sprake nie.

Met die onbegrip van ‘n verontregte vra ek eendag vir ‘n groep mans waarom mans nie meer medepligtig in die huishouding is nie. “Dis vir my baie belangriker om op ‘n Saterdagoggend ‘n bietjie later saam met my vrou in die bed te lê as om die week se wasgoed in die wasmasjien te gaan sit,” antwoord een. “Ja,” beaam ‘n ander. “Ek wil ontspan ná ‘n werkdag. Sy moet ook. Daar’s ‘n tyd vir alles.” ‘n Man wat eenkant sit en luister het, wag sy spreekbeurt af: “Vroue moet net chill,” sê hy. “Ja,” beaam die ander manne eenstemmig. “Vroue moet net chill.”

Toe ek die woord hoor, is dit asof iets van my vurigheid afkoel. Dalk is dit ons beurt om net ‘n bietjie te chill.

En te kyk wat gebeur.

Back to top

 

8. Bomplanter pak Comrades vir slagoffers

‘EK HET MY LEWE VERANDER’

Oudkampioen help hom oefen

(Die Burger, 23 Mei 2016)

Sarel van der Walt

Johannesburg. – Die Worcester-bomplanter Stefaans Coetzee sal volgende Sondag se Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban hardloop ter nagedagtenis aan die slagoffers van sy daad.

Coetzee, ‘n oudlid van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB), was net 17 jaar oud toe hy en twee ander AWB-lede op 24 Desember 1996 vier bomme by die Shoprite-winkelsentrum op Worcester geplant het.

Vier mense is in die voorval dood en 67 beseer.

Twee ander mense is later aan hul beserings dood.

Daar was vier bomme, maar net twee het ontplof. Coetzee, Cliffie Barnard en Koper Myburg was die drie AWB-bomplanters.

Coetzee, wat in Julie 2015 ná 19 jaar in die tronk vrygelaat is, het diep berou oor sy aandeel in dié tragedie.

Hy het die slagoffers ‘n jaar gelede reeds om vergifnis gevra.

Coetzee sal die getal 67 op sy een arm skryf. Op sy hardloopskoene sal twee Bybelverse pryk, naamlik Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” en Jesaja 40:31: “Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie”.

“Woorde kan nie die beproewing beskryf waardeur ek elke dag gaan nie. Ek het mense doodgemaak en het nie die geld om my slagoffers te vergoed nie.

“Deur hardloop en met die hulp van God het ek my lewe verander. Daarom dink ek daar kan nie ‘n beter manier wees om aan my slagoffers hulde te bring as om aan die Comrades deel te neem nie,” het Coetzee luidens ‘n verklaring van die Nedbank-atletiekklub gesê.

Hy sal in dié klub se kleure hardloop.

Nick Bester, ‘n voormalige Comrades-kampioen en negemalige gouemedaljewenner en nou bestuurder van die Nedbank-klub, het ‘n groot rol gespeel om Coetzee ‘n paar jaar gelede in die Sentraal-gevangenis in Pretoria te help om te begin hardloop.

Bester lei ‘n hardloop-rehabilitasieprogram in tronke.

Coetzee het as kind gedroom om eendag aan die Comrades deel te neem. Atlete soos Bester en Bruce Fordyce, die negemalige Comrades-wenner, was sy helde.

Hy het op ‘n trapmeul in die tronk begin hardloop en met Bester se hulp selfs die City-to-City wedloop oor 50 km op die trapmeul “gehardloop”.

Coetzee, wat nou vir die welsynsorganisasie Feed a Child werk, het vroeër vanjaar met die Om die Dam-wedloop oor 50 km die eerste keer aan ‘n ultra-wedloop deelgeneem ter voorbereiding van Sondag se Comrades.

Sy groot doel is om die wedloop te voltooi, al is dit in 11 uur en 59 minute.

Die sowat 15 000 deelnemers aan die Comrades het 12 uur tyd om die wedloop oor sowat 89 km te voltooi.

Back to top

 

9. Laat staan die vliegtuigkos, bring padkos

(Die Burger, 25 Mei 2016)

Blouwillem

Snaaks hoe die geskiedenis hom altyd herhaal. Wyle Oom Hendrik Schoeman (daai jare minister van vervoer) wat in 1983 in die parlement vir sy kollegas wat gekla het oor die hemelhoë vlugpryse, gesê het hulle moet besluit of hulle wil vlieg of vreet, sou dit baie geniet het om laas Woensdag saam met my op die vliegtuig te kon wees.

Ja nee Oom Hendrik, sedert 1983 was vliegtuigkos nog nooit weer my grootste beweegrede om te vlieg nie. Jy slaan mos vol verwagting daai tafeltjie voor jou af met die kwyl wat weerskante uit jou mondhoeke drup (dis nou as jy die ou tafeltjie oor jou kniekoppe en pens kan kry). Net om gekonfronteer te word met ‘n pakkie neute wat in suiker gerol is, twee tjoklits wat jy maar vir jou kinders vat (of jou honde) en ‘n droë broodrolletjie met eergister se vertraagde vlug se slaaiblaar op. Jy skaam jou morsdood voor die buitelanders wat hulle nekke so in die paadjies af verrek om te kyk wanneer die hoofgereg dan nou eendag kom. Ek het al lus gekry om ‘n outydse piekniekmandjie (met plêstiekborde en al) te pak as ek weer vlieg.

Een met lekker gekookte eiers, frikkadelle en koue hoenderboudjies wat ek vir die volksvreemdes kan uitdeel.

A nee a, wat moet hulle dink van ons armoedigheid?

Maar terug na my en Oom se vlug laasweek. Om meer presies te wees, Veselperske vlug JE 158 van Slaapstad na O.R. Smuts wat om 17:15 sou opstyg. So 15 minute ná opstygtyd kondig die kaptein redelik moedeloos aan dat ons nie opstyg nie omdat ons wag vir die spyseniers om ons padkos te bring. Niemand weet hoe lank dit kan vat nie en die manne begin erg brom om my. Ek weet vroulief sit by die huis vir my en wag met beesstert, gebakte aartappels en pampoentert en die volgende oomblik hoor ek myself in my beste Ingels bulder: “Let’s flies, we’ll graze at homes!” Nog beneukte stemme skaar hulle by my en die volgende oomblik kondig die kaptein aan dat ons gaan stem oor die ou sakie.

En toe sien ek watter wonderlike ding demokrasie is (solank ons dit net uit die hande van die politici kan hou). Wie stem daarvoor dat ons sonder padkos in die lug moet val? ‘n See van hande. Wie daarteen? Net twee sulke maer jong ouens wat nie vrou of meisie het wat kosmaak nie.

En daar trek ons! Ek glo die kaptein se vrou het ook beesstert gekook, want toe ons op Oom Ollie Tambo se aanloopbaan land, is ons tien minute vroeg. Hy’t hom so vinnig neergesit dat ek amper soos Boerewors Nel vir die lugwaardin gevra het sy moet by die kaptein uitvind of ons geland het of neergeskiet is.

In elk geval, kaptein, baie dankie, jy’s ‘n regte ou planmaker!

O ja, sal iemand dalk net asseblief die twee jong outjies wat saam met my huis toe is vir die beesstert nou maar kom haal.

Back to top

 

10. Die meesterskilder van Delft

ENIGSTE OORBLYWENDE DELFT-POTTEBAKERY

(Die Burger, 23 Mei 2016)

Anika Marais

In ‘n wêreld waar die 21ste eeu se jong werkendes (millennials) elke paar jaar van die een beroep na die ander bokspring, het sy die teenoorgestelde gedoen.

Die advertensie in die koerant het gelees: “Kan jy teken en wil jy ‘n meesterskilder van Delft word? Dit gaan jou tien jaar neem”.

Samantha van Leeuwen (27) sit in ‘n kantoorstoel by ‘n tafel in die Royal Delft-museum en verf ‘n voëltjie op ‘n kersklokkie.

“Ek het die advertensie in die koerant raakgelees en gedink: ‘Hoekom nie? Ek kán teken en het niks anders vir die volgende tien jaar beplan nie’.”

In die enigste fabriek wat nog die oorspronklike tegnieke van die 17de eeu gebruik om die wêreldbekende blou en wit borde en teëltjies te maak, word ‘n nuwe generasie meesterskilders nou opgelei om dié tradisie voort te sit.

“Ek en 15 ander mense is getoets voor ek vir hierdie internskap van 10 jaar gekeur is,” het sy vertel. “Ons het ingekom en elkeen ‘n teëltjie gekry om te verf, om te sien hoe fyn en gedetailleerd ons kan werk. Van die ander mense se hande het baie gebewe, maar ek was heel rustig.”

Vier en ‘n half jaar later en Samantha pendel steeds elke dag van Rotterdam na die Royal Delft-fabriek in die prentjiemooi stad van Delft om blompotte, borde en teëls te verf.

Sy sit by ‘n tafel in die middel van die fabriek se museum waar toeriste heeldag kan sien hoe sy met haarfyn kwassies verf. “Ek dra nie ‘n bril nie en my hand kramp nooit nie, maar ek het al ‘n paar goed gebreek,” erken sy.

“Nie aspris nie, hoor? Maar net nou die dag het ek ‘n blompot ‘n bietjie te hard op die tafel neergesit. Toe kraak die voetstuk. Ag, die kraak was kleiner as my nael, maar toe moet ek hom weggooi, want hy is nie meer perfek nie.”

Haar hele woonstel staan nou vol van dié blou en wit floppies.

“Ons kry afslag by die winkel, maar ek het nog nooit vir my ‘n regte Royal Delft-bord gekoop nie. Ek vat maar net al my foute huis toe.”

 

Royal Delft se fabriek in syfers

4 meesterskilders werk by die fabriek

4 interns word tans opgelei

10 jaar opleidingstyd van die interns

2 mense weet hoe om die spesiale blou verf te maak

24 uur teen 1 200 °C is hoe die erdewerk gebak word.

14 000 euro (R245 600) – die duurste item (‘n blompot)

16 euro (R280) – die kleinste teëltjie

 

Waar kom dit vandaan?

Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het in die vroeë 1600’s blou-en-wit Chinese porselein na Nederland gebring, waar dit baie gou gewild geword het.

Toe die invoer van dié porselein in die 1700’s afgeneem het, het die Nederlanders hul eie weergawe hiervan begin maak.

Van die ongeveer 32 pottebakkerye in Delft in die 17de eeu is daar vandag net een fabriek oor. Die Royal Delft-fabriek maak vandag nog Delftware op dieselfde wyse as meer as 300 jaar gelede.

Vandag subsidieer die Nederlandse regering die fabriek gedeeltelik. Die koninklike familie plaas ook nog gereeld bestellings vir spesiale Delftware wat vir gaste van die koningsgesin gemaak moet word.

Back to top

 

11. ‘Ou’ wyn beproef

(Die Burger, 24 Mei 2016)

Reuters

Becov nad Teplou. – Wyn wat uit die 19de eeu dateer en onder die vloer van ‘n Tsjeggiese kasteel hier ontdek is, het die gesegde “dit was die wag werd” gestand gedoen.

Die vonds van 133 bottels is in 1985 in die Becov-kasteel gevind, 40 jaar nadat dit deur die eienaars op daardie stadium, die Beaufort-Spontin-familie, weggesteek is.

Die wyn sluit Chateau d’Yquem-oesjare van 1892 en 1896 in en die versameling is ongeveer 30 miljoen krone (R19,5 miljoen) werd.

Wynproeërs het Sondag verskeie bottels getoets deur gebruik te maak van tegnologie wat ‘n sopie met ‘n naald deur die kurk onttrek sonder om dit te beskadig.

Die versameling is nie te koop nie en bly die eiendom van die Tsjeggiese owerheid wat die bottels verlede jaar vir die eerste keer aan kenners beskikbaar gestel het om ‘n uitspraak oor die waarde en gehalte van die wyn te lewer.

Back to top

Back to top

 

12. ‘n Ware lewensdrama

(Die Burger, 20 Mei 2016)

Johannes de Villiers

Vandag is dit presies 100 jaar gelede dat De Nationale Pers ‘n Afrikaanse gesinstydskrif begin uitgee het wat tot die grootste tydskrif in die land sou groei. Johannes de Villiers kyk terug oor oomblikke in Huisgenoot se geskiedenis.

Dit is 1991. Careltjie van Aswegen, ‘n boer van Dealesville, weeg 281 kg, so oorgewig dat hy nie in die Vrystaatse hitte ‘n hemp kan dra nie.

Oor die jare volg dié vriendelike reus dapper die een dieet ná die ander. Hy krimp tot 109 kg, maar die eetlus wen telkens weer. Toe hy in 2005 sterf, weeg hy 368 kg.

Dit is 1993. Oudminister Piet Koornhof verruil sy luukse huis in Stellenbosch vir ‘n plekkie in Table View, waar hy met jong Marcelle Adams en haar baba, Maria, intrek.

Kort voor lank sien die wêreld foto’s van ‘n stralende Piet in ‘n skuimbad met die klein Maria op sy skoot. Deur die jare volg mense sy en Marcelle se ongewone liefdesverhaal.

Dit is 1994. Die sangeres Cora Marie het gevorderde kanker. Sy weeg net 36 kg, “’n brose stukkie mens”, maar vandag maak sy haar vir oulaas reg vir ‘n fotosessie. Helder lipstiffie. Blink oorbelle.

“Ek wil asseblief weer mooi lyk,” sê sy. Drie maande later sterf sy.

Onthou jy dié stories? Weet jy van Wenresepte, afstrykprente vir T-hemde en Murray Janson se lewensraad?

Dan het jy dit waarskynlik in Huisgenoot gelees.

Eeufees

Vandag 100 jaar gelede het De Nationale Pers ‘n Afrikaanse gesinstydskrif begin uitgee wat tot die grootste tydskrif in die land sou groei.

“Dit was ‘n tydskrif wat Afrikaanse mense ‘n eie identiteit moes gee in ‘n tyd toe die Afrikaner vreeslik weerloos was,” vertel prof. Lizette Rabe van die Universiteit Stellenbosch se departement joernalistiek. “Dit was ná die Anglo-Boereoorlog, ná die Rebellie, die Eerste Wêreld-oorlog het uitgebreek …”

Die tydskrif se rol het baie gou ver uitgekring. Die skrywer Elsa Joubert, vroueredakteur van 1946 tot 1948, onthou Huisgenoot in daardie jare as “apteek vir die mense, die dokter, hul huisbeplanner”.

“Dit was ‘n naïewe tyd. Korsies vir pasteie, die grappies, was die groot ding. Kampvuurgeselsies van mense. Boere het hom gelees. Fabrieksmeisies het hom gelees. Die ma en pa en die kind.”

Huisgenoot het van die 1930’s sy eerste groot bloeitydperk beleef toe Markus Viljoen, die eerste Suid-Afrikaanse joernalis met professionele opleiding danksy sy meestersgraad in die joernalistiek aan die Columbia-universiteit in New York, redakteur geword en dit sy taak gemaak het om lesers in die groot ekonomiese depressie met “moed en idealisme” te besiel. Dit het hy gedoen deur die klem te laat val op die “avontuurlike” en die “heroïese,” soos tydens die Groot Trek en die twee Vryheidsoorloë.

Maar in die tweede helfte van die vorige eeu het lesers hul smaak vir dié resep verloor.

Huisgenoot se lesers wou nie meer hierdie preekstories gehad het nie,” verduidelik Rabe. “Mense wou oor die rolprentsterre van Hollywood lees, ‘n ander soort ontvlugting as die ontvlugting van volkshelde.”

Teen die 70’s het die sirkulasie gesukkel. TV sou mense se vernaamste ontspanningsmedium word, en die aasvoëls het bokant Huisgenoot gedraai.

Ton Vosloo, gewese direksievoorsitter van Naspers, onthou: “Gelukkig het ons redakteurs gehad wat in daardie tyd gereed was om Huisgenoot aan die nek te vat en te vernuwe; eers Tobie Boshoff en toe Niel Hammann. Albei is Londen toe gestuur om breër ondervinding op te doen. Daar het hulle geleer wat massatydskrifte is.”

In die 80’s en 90’s het Hammann vir die statige ou tydskrif ‘n uitspattige nuwe rok aangetrek – lekkerleesnuus oor sterre, modes, troues – en natuurlik blokraaisels. “Ons het met groot spronge gegroei,” onthou Hammann. “Sirkulasiespronge van sommer 100 000 in ‘n jaar.”

Prinses Diana se gesinslewe en Bles Bridges se liefdesdilemmas was die tipe mensedramas wat Huisgenoot se stapelvoedsel geword het. Nuusgebeure is met ‘n kombinasie van dramatiese foto’s en ‘n aangrypende skryfstyl aangebied.

Suksesresep

Minette Ferreira, Media24 se hoof van weeklikse tydskrifte, som dié suksesresep só op: “Ek dink dis ‘n mengsel van ‘o, my liewe hemel, ek het nie dit geweet nie’, van skinderstories tot wenresepte, infografieke vir die kleinspan, en daardie onweerstaanbare brokkies nuus. Ek dink nie jy kan Huisgenoot lees sonder om te lag, ‘n kragwoord te gebruik en te huil nie.”

Koos Bekker, Naspers-voorsitter, sê: “Huisgenoot het ‘n enorme rol gespeel in die befondsing van Naspers, byvoorbeeld toe M-Net in 1985 gestig is. Die tydskrif het geld ingebring wat die maatskappy in ander ondernemings kon belê.”

In 1990 was daar ‘n tydstip toe die helfte van alle Afrikaanssprekendes Huisgenoot gelees het – ‘n markpenetrasie wat wêreldwyd vandag nog ongehoord is.

Ja, die kritici het gekla Huisgenoot raak sensasioneel. “Die woord ‘sensasioneel’ word vreeslik maklik gebruik; hy het so ‘n gure klankie aan hom,” gesels Willie Kühn, wat van 1997 redakteur was. “Mense vergeet wat sensasie is. Sensasie is ‘n geweldige nuusgebeurtenis en jy móét daar bybly.”

Izelle Venter, ‘n oudhoofredakteur, sê: “Huisgenoot is onopgesmuk; stories word eerlik vertel en weerspieël hoe mense is. En dan word dit so goed geskryf en dit word ook in konteks geplaas van ‘n atmosfeer, so jy lees nie net die storie nie, jy voel dit.”

Julia Viljoen, nog ‘n oudredakteur, se opsomming van wat lesers uit Huisgenoot kry, is: “Daar is ‘n gevoel van gemeenskap wat al ‘n hele eeu saamkom. Dis ‘n klein familietjie. Ons bly nie meer op ‘n dorpie nie, maar ons het steeds daardie behoefte om ‘n kringetjie mense te wees waar ons tuis voel en waar ons kan glo wat mense vir ons vertel.”

Esmaré Weideman, ‘n oudredakteur en huidige uitvoerende hoof van Media24, sê: “Om ‘n prentjie in jou kop te vorm van wie Huisgenoot se lesers is, is gelyktydig baie moeilik en geweldig maklik. Huisgenoot se lesers is Afrikaanse mense wat geïnteresseerd is in die wêreld om hulle, wat hou van bekendes en kos, wat lekker kan lag en ‘n traan kan pink oor ‘n hartseerstorie.”

Deur die jare was die tydskrif aan die voorpunt van vernuwings: van die eerste blokraaises tot Skouspel, handelsmerk­uitbreidings en nou ook digitale verskuiwings en interaktiewe uitstallings soos Days of the Dinosaurs in 2014 en Gateway to Space later vanjaar saam met die sustertydskrifte You en Drum.

Oorlewing

In vandag se digitale era is dit geen geheim dat drukmedia bedreig word nie. Huisgenoot is reeds die grootste Afrikaanse handelsnaam op Facebook, maar die gedrukte tydskrif is steeds die kernbesigheid.

Sal die tydskrif in sy tweede eeu soos in die 1970’s die aanpassing kan maak wat nodig is om lewenskragtig te bly?

Henriëtte Loubser, die huidige redakteur, meen haar span se groot verantwoordelikheid nou is “om die gedrukte tydskrif so lank moontlik winsgewend en gesond te hou, maar jouself ook vir die digitale toekoms te posisioneer.

“Ons probeer die gedrukte tydskrif deesdae selfs méér uniek en spesiaal as tevore te maak; inhoud wat jy nêrens anders kan kry nie. En dan skep ons ook elke dag vars nuwe inhoud vir ons aanlyn platforms.”

Bekker sê: “Die basies behoefte wat Huisgenoot vervul, is om te sê wat in die gemeenskap aangaan. Daardie behoefte gaan nie weggaan nie. Die tegnologie wat jy gebruik, is op ‘n manier onbelangrik.

“Dis interessant hoe diep Huisgenoot in sy gemeenskap verweef is. ‘n Oom in die Swartland het eenkeer vir my gesê: ‘Op ons dorp is daar net twee waardhede: Vicks en Huisgenoot.’”

Back to top

 

13. Uitoorlê die OUDERDOM

(Rooi Rose, Junie 2016)

Mariette Snyman

TYDLOSE WENKE

  • Eksperimenteer met ‘n hare- of klerestyl wat eintlik “te jonk” is, of gaan na ‘n geleentheid waar almal jonger is.
  • Verban die frase “op my ouderdom” – jou onbewuste hoor wat jy sê! Vergeetagtigheid is dikwels die gevolg van te min slaap, ‘n ontoereikende dieet of ‘n oorvol skedule.
  • Doen dié binneglimlag-oefening en jy sal onmiddellik beter voel: Maak jou oë toe. Glimlag. Gebruik die krag van jou denke en fokus die glimlag op jou brein, hart, longe, neus, ore en ander dele van jou liggaam.
  • Kyk na die lys van emosies op cnvc.org en laat gaan jou emosies makliker.
  • Doen die EFT (Emotional Freedom Techniques) voor elke maaltyd. Die oefeninge by TheTappingSolution.com help met skuldgevoelens oor jou gewig en verhouding met kos.
  • Kommer steel jou energie. Maak ‘n “God Box”. Skryf elke bekommernis op ‘n stukkie papier en gooi dit in ‘n spesiale boks. Wanneer jy daaraan dink, sê: “Dis in die boks.” Jy het dit aan God oorgelaat.
  • Staan op een voet (sonder hoë hakke). Maak jou oë toe en balanseer solank jy kan. Herhaal met die ander voet. Doen dit ‘n paar keer per dag om jou balans te verbeter.

Back to top

 

14. Italië: Reuse-pizza in wording

(Die Burger, 20 Mei 2016)

Pizzabakkers in Napels, Italië, bak ‘n 2 km lange pizza in ‘n poging om ‘n wêreldrekord op te stel. Altesaam 2 000 kg meel, 1 600 kg tamaties, 2 000 kg mozarellakaas, 200 liter olie en 30 kg basiliekruid is gebruik. Dit is nie bekend hoeveel hout in die oond gebruik is nie.

Back to top

 

15. Klein-Brak-foto gebruik in soektog na MH370

KAN WRAKSTUKKE SE DRYFPATROON ONTHUL

(Die Burger, 20 Mei 2016)

Eugene Gunning

George. – ‘n Foto wat dr. Schalk Lückhoff, ‘n afgetrede geneesheer van Knysna, geneem het van ‘n wrakstuk wat waarskynlik aan ‘n vermiste vliegtuig van Malaysia Airlines behoort, gaan beslis gebruik word in ‘n ondersoek na dié lugramp.

Lückhoff het in Desember verlede jaar op die strand by Klein-Brakrivier afgekom op ‘n wrakstuk wat vermoedelik deel is van die vermiste vlug MH370.

Die vliegtuig het op 8 Maart 2014 vermis geraak kort nadat dit in Kuala Lumpur opgestyg het onderweg na Beijing. Daar was 239 passasiers en bemanningslede aan boord.

Die wrakstuk wat Lückhoff afgeneem het, is dieselfde wrakstuk wat in Maart deur Neels Kruger, ‘n argeoloog van Pretoria, op die strand opgetel is.

Toe Lückhoff die wrakstuk afgeneem het, het hy nie besef dit behoort waarskynlik aan die vliegtuig nie.

Die wrakstuk is reeds aan die Maleisiese regering gestuur.

Joe Hattley van die Australiese Vervoerveiligheidsburo (ATSB) het in e-pos aan Die Burger gesê Lückhoff se foto is baie waardevol.

Dit wys die toestand van die wrakstuk kort nadat dit op die strand uitgespoel het. Daar is baie eendmossels op. Dit gee ook ‘n beter aanduiding van wanneer dit op die strand uitgespoel het. Dit help ook wetenskaplikes wat kyk na die verspreiding van die wrakstukke oor die Indiese Oseaan heen.

Al die inligting word nou geëvalueer sodat dit van hulp kan wees in die soektog na die vliegtuig.

Lückhoff het gesê hy het kontak met die ATSB gehad.

Mariene bioloë gaan nou kyk na die mossels en insekte wat op die foto sigbaar is.

Dit kan hulle help om vas te stel waar die wrakstuk rondgedryf het. “Dit kan ‘n deurbraak vir hulle wees. Die feit dat my foto drie maande vroeër geneem is as wat Neels dit opgetel het, skuif die hele ondersoek vroër. Daar word byvoorbeeld gekyk na die winde en seestrome wat in Desember aanwesig was.”

Die veronderstelling was aanvanklik dat dit in Maart uitgespoel het. Nou blyk dit dat dit al in Desember op die strand was.

Volgens Lückhoff is dit ‘n interessante ontwikkeling.

“Ek het in Desember terloops die foto geneem en nie weer daaraan gedink nie. Eers nadat ek van Neels se ontdekking in Die Burger gelees het, het ek die twee bymekaargebring,” het hy gesê.

Back to top

 

16. Atleet skenk halfmiljoen vir vroeggeborenes

(Die Burger, 20 Mei 2016)

Elmarine Anthony

Kaapstad. – Wayde van Niekerk het R500 000 aan die Groote Schuur-hospitaal se eenheid vir vroeggebore babas geskenk.

Van Niekerk, Suid-Afrika se wêreldkampioen in die 400 m en die wêreld se vierde vinnigste atleet oor dié afstand tot nog toe, is op 29 weke gebore en het slegs 1,1 kg by geboorte geweeg.

“As iemand wat vroeggebore is, het ek ‘n kans gekry om te oorleef. Daarom is dit vir my belangrik om ander vroeggebore babas die beste kans op lewe te gee,” het Van Niekerk luidens ‘n verklaring deur die hospitaal gesê.

Dié eenheid van die hospitaal sorg vir die kleinste en siekste babas in Kaapstad.

Party van die babas weeg slegs 500 g en moet soms langer as twee of drie maande in die eenheid bly.

Van Niekerk was nie self beskikbaar vir kommentaar nie, maar sy ma, Odessa Swarts, het gesê hy was een van die “gelukkige” vroeggebore babas.

“Hy het binne die eerste 24 uur ‘n bloedinfeksie opgedoen en moes ‘n bloedoortapping kry.

“Dokters het gesê as hy die volgende 24 uur oorleef, hy die een of ander gestremdheid sou hê.”

Volgens Swarts het ‘n besoek aan die hospitaal se eenheid vir pasgebore babas sowat twee jaar gelede Van Niekerk diep geraak.

“Ons het die ma’s en party van die babas ontmoet. Dit het hom diep geraak om te sien hoe hy gelyk het toe hy ‘n baba was.

“Hy het vir my gesê: ‘Ek dink regtig ons moet in hierdie kinders belê. Ek wens ek kan hulle meer gee’.”

Back to top

 

17. Tsoenami’s tref Mars 3,4 mjd. jaar gelede

(Die Burger, 20 Mei 2016)

Elsabé Brits

Kaapstad. – Daar was reusagtige tsoenami’s op Mars met golwe van tot 120 m hoog wat teen dié planeet se antieke kuslyn geslaan het.

Dié navorsing is eergister bekend gemaak deur die Planetêre Wetenskaplike Instituut in die akademiese vaktydskrif Nature Scientific Reports.

Die golwe het waarskynlik honderde kilometer in die binneland van Mars gerol, waar daar ook ‘n duidelike kuslyn sigbaar is.

Dr. Alexis Rodriguez en sy span het die duisende beelde van Mars bestudeer en sê dié tsoenami’s, waarvan daar minstens twee was, is veroorsaak deur meteoriete wat die planeet 3,4 miljard jaar gelede getref het. Dié kraters is steeds te sien en is sowat 30 km in deursnee.

Waar sulke reuse-tsoenami’s op aarde was, wys die neerslae wat dit agterlaat baie variasie in die topografiese detail. Maar dit is seldsaam op aarde en die sediment is nie hier maklik sigbaar nie of ander neerslae het weer bo-op dit gevorm.

Die navorsers het in ‘n verklaring gesê in die tydperk tussen die tsoenami’s het die oseaan, wat in Mars se noorde was, se seevlak teruggetrek en die klimaat het kouer geraak. Hulle hoop van die sediment kan deur toekomstige landingstuie versamel en bestudeer word.

Dr. Alberto Fairén, medenavorsers van die Sentrum vir Astrobiologie in Spanje, het gesê: “Ondanks die uiterste koue en droë klimaat, het die vroeë oseaan op Mars ‘n soutagtige samestelling gehad wat gehelp het dat dit tien-miljoene jare lank vloeibaar gebly het.

“Sulke koue, soutagtige omgewings op aarde is bekend daarvoor dat dit bewoonbaar is. Dus kan van sulke tsoenami-neerslae van die beste plekke wees om na lewe te soek.”

Back to top

 

18. Skoolpunte is nie ALLES nie

(Rooi Rose, Junie 2016)

Anys Roussouw

MY KIND RAAK AGTER…

Sekere probleme lei daartoe dat kinders ontwikkelaars word:

  • Leerprobleme Hulle sukkel met lees, skryf of sekere kognitiewe vaardighede wat nog nie goed onwikkel is nie.
  • Emosionele probleme ‘n Lae selfbeeld, selfvertroue, depressie, angstigheid of emosionele regulering kan hul ontwikkeling strem.
  • Sosiale probleme Onderontwikkelde vaardighede beperk hul aanpassing en inskakeling, of hulle word geboelie.
  • Huislike probleme en armoede Gebrekkige stimulasie of blootstelling aan trauma, verlieservarings en misbruik, beperk hul ontwikkeling.
  • Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit Uitvoerende funksies soos impulsbeheer, konsentrasie, beplanning, aktivering, organisering en prioritisering is nog onderontwikkel. Die frontale lob van die brein wat dié dinge reguleer, ontwikkel soms nog tot in die vroeë twintigerjare.
  • Ongemotiveerdheid Skoolwerk word as vervelig, oninteressant en nog nie as relevant vir hul toekoms beleef nie.
  • Onvoldoende sin vir verantwoordelikheid Hulle aanvaar nog nie verantwoordelikheid vir hul eie studie, besluite en lewe nie, of dra nie werklik die gevolge van hul optrede nie. Hul ouers neem verantwoordelikheid en beskerm hulle teen die gevolge.
  • Ander belangstellings Sport, speletjies, maats en kultuuraktiwiteite neem hul tyd en aandag in beslag – hulle het belangstelling in skoolwerk verloor. Hulle word daardeur gestimuleer en kry daar hul ervaring van aanvaarding, vordering of prestasie.
  • ‘n Skoolomgewing en kultuur wat nie vir hulle werk nie, waar die fokus op aktiwiteite val wat nie hul talente ontwikkel nie, of wat eise in terme van struktuur, tempo en ontwikkeling stel waaraan hulle nóg nie kan voldoen nie.

 

HOE OUERS LAAT ONTWIKKELAARS KAN ONDERSTEUN

  • Wees positief oor werk en die toekoms Kinders doen wat hul ouers doen, nie wat hulle sê nie. Wanneer kinders hoor dat daar in ons land geen toekoms is nie, sal hulle mos nie gemotiveerd en hard werk nie. Fokus op oplossings en maak planne. Leer hulle die wonderlike frase “nog nie”. “Ek verstaan ‘nog nie’ die werk nie” pleks van “Ek kan nie”.
  • Sien leer as ‘n ontwikkelingsproses Stel positiewe verwagtinge, maar nie prestasiedruk nie.
  • Sorg vir ‘n gesonde lewenswyse, soos reg eet en genoeg slaap. Die liggaam en brein is geïntegreerd. Omega 3 en ander kosse soos neute verbeter sekere breinfunksies. Bly weg van gemorskos, kleurstowwe en suiker. Navorsing toon dat kinders wat ‘n halfuur meer as hul eweknieë slaap, akademies gemiddeld tien persent beter vaar en kreatiewer is.
  • Skep balans en positiewe ervarings Kinders is meer as skoolpunte en prestasies – maak tyd vir pret, ontspanning en sosiale aktiwiteite.
  • Bevorder goeie verhoudings tuis en na buite Mense reageer baie positief op die verwagtinge van mense met wie hulle goeie verhoudings het en in hulle glo, of dit nou ouers, onderwysers of maats is. Dit bevorder deelname en samewerking. Vermy kritiek en bevorder positiewe selfpraat by hulle.
  • Help kinders om goeie besluite te neem, maar moenie dit vir hulie doen nie. Laat hulle kies wat hulle wanneer doen, hoe om dit te doen en besef wat die voordele en nadele van sekere besluite sal wees, op kort sowel as lang termyn. Leer hulle ook om verantwoordelikheid vir hul foute en keuses te aanvaar. Moenie hulle daarteen beskerm nie, anders leer hulle nie verantwoordelikheid aan nie.
  • Stimuleer van jongs af die waarde van leer en bevorder goeie leerpraktyke Lees vir die kind en maak seker jy lees ook baie; help haar om daarin vreugde te vind om iets nuuts te leer, te ontdek of te bemeester. Jy is slegs daar vir leiding.
  • Gee meer positiewe terugvoer oor insette en harde werk as oor resultate. Dit gaan oor leer en probeer en nie oorpresteer nie.
  • Raak georganiseerd Maak seker daar is ‘n rustige atmosfeer tuis, veral soggens voor skool. Verwag van jou kinders om hul eie sake, besittings en take te beplan en te organiseer. Help net met werk wanneer hulle nog nie oud genoeg is om dit te doen nie.
  • Kry professionele ondersteuning as jou kind ‘n probleem het. Erken dat die probleem bestaan en maak planne om dit op te los.
  • Hou hul selfbeeld heel Kinders wat in hulself en hul waarde glo, behaal iewers sukses. Probeer om die kind bloot te stel aan die goed wat sy geniet en help om haar selfvertroue te versterk.

Back to top

 

19. Rusland, moeder van omoel en wodka

(Die Burger, 18 Mei 2016)

Ilse Zietsman

Ilse Zietsman het in die hawetjie in Listwjanka, aan die oewer van die Baikal-meer in Siberië, gesien hoe jong welgeklede Russe al vroegoggend diep slukke wodka uit die bottel neem. Toe het ‘n belhamel geskerts: “Ja, jy mag maar ‘n foto neem; dís hoe ons Russe dit doen.”

Hier by ons in Suid-Afrika sien jy Stolichnaya en Smirnoff wat jou dadelik aan Moeder Rusland (en Konsalik-boeke van die 70’s) laat dink. Dáár is veral Moskovskaya- en Gzhelka-wodka baie gewild. So ook bosbessiewodka.

Peperwodka, suurlemoenwodka, wodka gegeur met appel- en peerblare en jagterswodka met ‘n dosyn bestanddele, waaronder jenewerbessies, gemmer en naeltjies, kom ook voor.

Ontbyt (zawtrak in Russies) wat meer in almal se smaak sal val, is blini (pannekoek) met soet of sout vulsels, kasja (pap) of my gunsteling, sirniki (maaskaaspoffertjies). Al drie word met vars bessies, konfyt en smetana (suurroom) voorgesit.

Die Russe – ja, hulle is ook groot teedrinkers – roer tot konfyt by hul tee! In treinwaens prut ‘n samowar (kookwaterkan) aan die einde van die gang. By gebrek aan wodka word sok (sap), kefir (jogurtmelk), mors (bessiedrankie) of kwas (‘n verfrissende, gefermenteerde rogbrooddrankie wat my aan gemmerbier laat dink) geniet.

Baltika is die topverkoper wat bier betref. Russiese brandewyn word konjak genoem – dis een van die min woorde wat herkenbaar is as dit nie in die Cyrilliese alfabet gespel word nie.

In supermarkte en deli-winkels sien ons wyne van Azerbeidjan, Armenië en Bulgarye asook Franse konjak en méthode cap classique van Simonsig. ‘n Rak met wyne van Spice Route, Amani, Flagstone, De Toren, Bouchard Finlayson en Jordan laat ons vlugtig huis toe verlang.

As jy in Rusland wil bant, sal dit maar knor. Daar is wel baie sop te kies. Borsjt (beetsop), sjtsji (koolsop) en soljanka (dik sop met vleis en groente) word egter met hompe brood – en suurroom – voorgesit.

Slaai is dun gesaai. Seker maar weens die koue, kou ek en Vanessa aan die gedagte, terwyl ons moet kies tussen pelmeni (ravioli in sop of in botter gebraai), pirozjki (pasteitjies met verskillende vulsels) en manti (kluitjies wat ook pozi – pasop nou vir die uitspraak – genoem word).

Die somers in Rusland is maar kort, en in die winters gaan draai die temperatuur ver onder vriespunt.

Op die mooi dae staan die Russe tou by die stalletjies vir sjasjlik (‘n tipe kebab); hulle eet roomys asof die doodsengel om die hoek wag (of eerder die eertydse KGB hulle gaan toesluit en die sleutel in die Wolgarivier gaan gooi); en in die afdelingswinkel Gum word plastiekglasies waatlemoen teen ‘n stewige prys verkoop. Dit word as ‘n eksotiese happie beskou.

Aangesien die Russe laataand eet en St. Petersburg sowel as Moskou hoë eise aan jou beursie kan stel, is bekostigbare driegang-biznes (-middagetes) ‘n goeie opsie.

Dit is dalk wat ek ook moes bestel het toe ek (soos ‘n idioot) ‘n TripAdvisor-aanbeveling vir The Idiot in St. Petersburg gevolg het. Alhoewel baie reisgidse The Idiot aanbeveel, sal ek dit volgende keer ongetwyfeld vermy.

Daarenteen was Jamie’s Italian Restaurant – hoewel stil tydens ons besoek – ‘n heerlike bederf. Op die spyskaart is – behalwe Italiaanse geregte soos pampoenpanserotti, lasagne as trooskos en polentaskyfies as bygereg – Russiese slaai, gebakte salm en lamtjop-stokkielekkers.

Op die Koeznetsjni-mark in ‘n stiller woonbuurt van St. Petersburg het ons gesoute tamaties, piekelknoffelstingels, kimtsji en kaviaar verslind. Plek-plek toon die kosse ‘n sterk Koreaanse invloed, ‘n aangename nuutjie vir my.

Russiese kos is oorwegend heilsame winterkos, en dit is geen wonder as jy na hul wintertemperature kyk nie. Daar is egter taamlik min ander plekke in die wêreld waar jy kaviaar én veerligte omoel kan eet en waar die borsjt elke keer anders smaak, want almal het hul eie manier van bereiding.

Back to top

 

20. Seldsame kat gevind in Kompanjiestuin

(Die Burger, 17 Mei 2016)

Elsabé Brits

Kaapstad. – Die wêreld se skaarsste kat – ‘n Lykoi of sogenaamde weerwolfkat – is onder ‘n bos in die Kompanjiestuin in die stad gered.

Dié kat is nie spesifiek geteel nie, maar so gebore. Dit maak hom een van net 35 ter wêreld en Suid-Afrika se eerste natuurlike Lykoi.

Tracy Gilpin van die dierewelsynorganisasie Tears sê baie wilde katte bly in die stad. Dié katte word gesteriliseer, soms tot 80 per dag, en gevoer, anders gaan hulle dood van die honger.

Hulle weet wie die ma is, maar nie die pa nie.

Dr. Tracy Dicks, Tears se veearts, het veltoetse vir verskeie siektes gedoen, maar die kat is gesond. Mandy Store, een van Tears se katkenners, het ander toetse gedoen om vas te stel of dit nie dalk aan die Devon Rex-ras behoort nie.

Die Lykoi het byna ‘n mitiese status omdat die lyf met die min hare aan die beskrywing van ‘n weerwolf herinner. Sy gedrag is ook meer dié van ‘n hond as van ‘n kat.

Hulle het toe dr. Johnny Gobble, ‘n Amerikaanse kenner wat in dié unieke katte spesialiseer, gekontak. “Dit is die eerste natuurlike mutasie van ‘n Lykoi in Suid-Afrika wat tot nog toe by my aangemeld is.”

Daar is so ‘n teler in Suid-Afrika, maar dié katspesie het nie natuurlik voorgekom nie.

Die mutasies in die Lykoi-katte is heeltemal nuut.

“Al die Lykoi-katte wat tot nog toe gevind is, was wilde katte wat van die strate af gered is. Hulle het wonderlike persoonlikhede en ons het nog geen genetiese siektes gevind nie,” sê Gobble.

Die betrokke kat is die 35ste een wat gevind is. Tears het hom Eyona, wat in Xhosa “Die een” beteken, gedoop. Die kat is skugter, maar dit is eie aan sy aard. Tears gaan Eyona nie laat aanneem nie.

Mense kan meer uitvind by www.tears.org.za.

Back to top

 

21. Op die pad

(Rooi Rose, Junie 2016)

Anet Schoeman

Gebruik jou sitplekgordel, want kinders volg jou voorbeeld

VEILIGHEIDSTOELTJIES VERMINDER NOODLOTTIGE BESERINGS BY KINDERS ONDER ‘N JAAR MET 71%

Kinderveiligheid

Klein lyfies se ontwerp is anders. Omdat babas en kinders se koppies proporsioneel swaarder is, reageer hul liggame anders in ‘n botsing en die kanse op nek-, rug- en breinbeserings is groter.

  • Stoeltjies wat na agter wys, is veiliger. In geval van ‘n botsing met ‘n snelheid van 50 km/h verminder die kans op beserings met 90%. Probeer om jou kind so lank moontlik – tot op vier indien moontlik – so te laat sit.
  • Booster seats verminder kinders tussen 4 en 8 se kans op ernstige beserings met 45%.

 

JOU KIND KAN ‘N SITPLEKGORDEL GEBRUIK AS:

  • Hy kan terugsit met sy rug teen die rugleuning.
  • Sy knieë by die rand van die sitplek buig.
  • Die gordel die skouer tussen die nek en arm kruis.
  • Die skootgordel laag genoeg is dat dit die bobene raak.
  • Jou kind vir die volle rit so kan sit.

Back to top

 

22. Plante het ál die vriende nodig wat hulle kan kry

(Die Burger, 17 Mei 2016)

Terloops

Ilse Bigalke

In Westcliff in Hermanus veg ‘n groep vir die behoud van fynbosspesies op hul meente. Dit is harde werk, en agterna wens jy dikwels jy kan vir ‘n rukkie in traksie gaan lê.

Die bedreigings wissel van hope bourommel tot indringers en geharde kikoejoegras wat weens ‘n subspesie skouerophalende homo sapiens uit hul tuinafval op die meente beland en die fynbos diep binnedring.

Voorheen het dit gewemel van fauna – skilpaaie, voëls en selfs grysbokkies – maar deesdae is jy gelukkig as jy Kaapse patryse raakloop.

“Hoe gaan dit met die kommenasies (met verwysing na die Engelse commonages)?” verneem my geestige moeder. Wel, ‘n bietjie meer respek is dalk aangewese nadat die Kew Royal Botanical Gardens bevind het ‘n vyfde van die wêreld se plante word bedreig. Meer as 80 wetenskaplikes het tot die verslag State of the World’s Plants bygedra. Die verslag, deur die toonaangewende botaniese navorsingsinstelling, bied die eerste keer ‘n globale assessering van plantdiversiteit, die bedreigings en die teenmaatreëls.

Ons het op skool geleer dat ons nie sonder plante kan oorleef nie. Tog sal ons veel eerder pikkewyne of renosters van uitwissing probeer red.

Prof. Kathy Willis, direkteur van wetenskap by Kew, verduidelik plante word maklik as vanselfsprekend aanvaar.

“Hulle is nie oulik nie … en ons onderrig [kinders] op ‘n baie vervelige manier oor plante … Hulle verskaf álles – kos, brandstof, medisyne, hout – en speel ‘n ontsettend belangrike rol in klimaatregulering.”

Luidens die verslag is sowat 391 000 spesies plante bekend, waarvan meer as 30 000 deur mense gebruik word (sowat 17 000 vir medisyne en 6 000 vir mensekos, en 4 000 word deur diere geëet). Die verslag waarsku dat 21% van die spesies bedreig word namate hul habitat vir onder meer landbou (31%), hout (21%) en geboue en infrastruktuur (13%) vernietig word. Dit hou ernstige gevolge vir voedsel- en medisynevoorsiening in. Volgens die Kew-verslag is 2,3 miljoen km2 woud wêreldwyd tussen 2000 en 2015 uitgewis.

Klimaatsverandering (4%) speel tans ‘n kleiner rol, maar volgens Willis sal die volle impak eers later gesien word omdat voortplanting stadig plaasvind.

Willis sê die mens moet pragmaties wees. “Die wêreldbevolking groei, mense het kos en ‘n woonplek nodig … en ons moet identifiseer watter gebiede weens hul ongelooflike plantdiversiteit bewaar moet word en watter ons moet ontwikkel.”

Volgens dr. Colin Clubbe, hoof van bewaringswetenskap by Kew, is 4 979 indringerspesies wêreldwyd geïdentifiseer en word die bestrydingskoste op sowat 5% van die wêreldekonomie geskat.

Die goeie nuus is dat gemiddeld 2 000 spesies jaarliks ontdek word. Verlede jaar is byvoorbeeld vyf nuwe soorte uie asook ‘n nabye familielid van die soetpatat ontdek. Weens die belangrikheid van genetiese variasie kan hulle die sleutel tot die toekoms van kos inhou, sê Willis.

Michael McCarthy van The Guardian skryf dat plante vriende nodig het en dat hulle dit straks uiteindelik met hierdie baanbrekersverslag het. ‘n Wêreldwye vriendekring is egter geredelik beskikbaar as meer mense die voortbestaan van die flora in hul onmiddellike omgewing op die hart begin dra.

Back to top

 

23. Tuks spog met nuwe ‘Rio’-baan

EERSTE VAN SY SOORT IN SA

Simbine sweet weer

Sarel van der Walt

Pretoria. – ‘n Atletiekbaan soortgelyk aan dié waarop die atlete in Augustus in die Olimpiese Stadion in Rio de Janeiro, Brasilië, sal hardloop, is pas by die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi.

Die Mondo-baan by Tukkies se LC de Villiers-sportterrein het sowat R10 miljoen gekos.

“Die baan is gereed en ons staan reg as die baan in Durban waarop die Afrika-kampioenskap volgende maand gehou moet word nie betyds herstel kan word nie,” het Danie Cornelius, atletiekbestuurder van Tukkies, gisteroggend op ‘n mediakonferensie op die baan gesê.

Die laaste strepe is Vrydag op die baan geverf en die Tukkies-atlete is nog nie toegelaat om daarop te oefen nie.

Volgens Cornelius hoop die Tuks-atletiekklub om op 11 Junie, twee weke voor die Afrika-kampioenskap, sy eerste byeenkoms hier aan te bied.

Die Kingspark-baan in Durban waarop die Afrika-kampioenskap gehou moet word, sal voor dié Afrika-byeenkoms dringend gerestoureer moet word.

Die eThekwini-metro in Durban het die versekering gegee die baan sal gereed wees.

Die nuwe baan by Tukkies is die eerste van sy soort in die land, hoewel daar ‘n baie ouer Mondo-baan in Rustenburg is.

Nanotegnologie is onder meer ingespan in die ontwerp van die nuwe baan om dit nog vinniger te maak.

“Die baan is blou, want hierdie is immers Blou Bul-wêreld,” het Cornelius skertsend gesê.

Die Spele-baan in Rio is ook blou.

“’n Atleet soos LJ van Zyl (400 m-hekkies) het al vir my gesê dit sal goed wees om voor die Spele op dié baan te oefen omdat die lengtes van jou treë op dié oppervlak anders is as op ander sintetiese bane,” het Cornelius gesê.

  • Akani Simbine, die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100 m, het op die media-konferensie gesê hy het weer voluit begin oefen ná die dyspierbesering wat hy in April op die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Stellenbosch opgedoen het.

Simbine sal op 3 Junie in Rome die eerste keer vanjaar aan ‘n Diamantliga-byeenkoms deelneem. Daarna sal hy en Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se 400-wêreldkampioen, in Jamaika saam met Usain Bolt en dié se oefengroep oefen.

Hulle sal ook daar aan ‘n byeenkoms deelneem.

Twee ander Tukkies-atlete, die 400-hekkiesatleet Wenda Nel en die naelloper Carina Horn, vertrek vandeesweek na Rabat, Marokko, om op 22 Mei aan die eerste Diamantliga-byeenkoms tot nog toe in Afrika deel te neem.

Op sy beurt is die nuwe 400-hekkiester Lindsay Hanekom binnekort in Dakar, Senegal, op ‘n byeenkoms van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies in aksie. Hy het 10 dae gelede in Bloemfontein op die SA Ope-kampioenskap ‘n 49.03 s gehardloop. Dis die vinnigste deur ‘n SA atleet vanjaar.

Back to top

 

24. UK ‘is beste in Afrika’

Ook 120ste op die wêreldranglys van universiteite

(Die Burger, 28 April 2016)

Romantha Botha

Kaapstad. – Die Universiteit van Kaapstad (UK) is onlangs aangewys as die voorste universiteit op die vasteland van Afrika in terme van akademiese reputasie en internasionale aansien.

Die Times Higher Education het onlangs sy jaarlikse ranglys uitgereik van 800 universiteite van 70 lande wat teen mekaar opgeweeg is.

Die UK het die beste op die vasteland gevaar en is 120ste op die wêreldranglys. Die Universiteit van die Witwatersrand is tweede en die Universiteit Stellenbosch derde. KwaZulu-Natal en Pretoria beklee onderskeidelik die vyfde en sesde plekke.

Pat Lucas, UK-woordvoerder, het gesê die ranglys, wat op akademiese reputasie en internasionale aansien gegrond is, toon en beklemtoon die UK se rekord van navorsing en akademiese uitnemendheid.

“Die universiteit is bly om as Afrika se voorste universiteit getel te word,” het Lucas gesê.

Sy het gesê hoewel 2015 ‘n “oproerige jaar vir Suid-Afrikaanse universiteite” was en die media baie aandag daaraan geskenk het, het die universiteit ook uitgeblink.

 

Dié prestasies sluit in:

  • Meer geld as ooit tevore is van stigtings en skenkers ontvang, bykans 30% meer as die vorige jare;
  • Die toename in navorsingsgeld en publikasies het die universiteit internasionale erkenning besorg;
  • Verskeie nuwe inisiatiewe, instansies en programme wat op Afrika gefokus is, is begin;
  • Vyf vroue is as voorsitters in verskeie navorsingsvelde aan gestel; en
  • Die universiteit is die eerste universiteit in Afrika wat tot die Internasionale Alliansie van Navorsingsuniversiteite verkies is. Die universiteit is die 11de lid van dié alliansie en die eerste wat verkies is sedert die ontstaan van die alliansie tien jaar gelede.

 

Lucas het gesê die UK sal voortgaan om met sy vennote dwarsoor die vasteland saam te werk om die deskundigheid en kapasiteit te onwikkel om “Afrika-spesifieke probleme op te los en die stem van Afrika in globale debatte te versterk”.

Back to top

 

25. Inflasie hang af van wat in jou mandjie is, sê Pick n Pay

(Die Burger, 28 April 2016)

Nellie Brand-Jonker

Dit is verregaande om te kenne te gee dat kleinhandelaars wins maak uit die droogte deur hul pryse met meer as wat nodig is te verhoog, sê Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay.

Ongeldige prysverhogings sal nie aan verbruikers deurgegee word nie, sê hy.

“Ons wil ons pryse so laag as moontlik hê en beslis nie so hoog as waarmee ons kan wegkom nie,” sê Brasher.

“Ons gaan ferm, maar billik wees met verskaffers, want ons wil hê hulle moet ‘n langtermyntoekoms hê en nie korttermynpyn voel nie.

“Ons wil seker maak as ons pryse verhoog, weet ons hoekom dit verhoog word. En wanneer dit verander, sal ons verwag dat dit sal daal.”

Dit kom nadat die Shoprite-groep gemaan het teen opportunistiese prysverhogings deur rolspelers in die bedryf wat verbruikers se verwagting dat pryse die hoogte gaan inskiet weens die impak van die droogte, uitbuit.

‘n Debat heers oor wie nou eintlik voordeel trek uit kosprys­stygings nadat Senzeni Zokwana, minister van landbou, verlede week gemaan het dat rolspelers in die voedselketting nie die droogte moet uitbuit nie.

Brasher het op die vraag of hy dink kleinhandelaars maak wins uit die droogte, gesê dit is “verregaande” om dit te kenne te gee.

“Mense kan nie aan die een kant ons interne voedselinflasie bevraagteken omdat dit op 3,1% laer is as die amptelike voedselinflasie nie en dan sê daar is die potensiaal dat wins gemaak word uit die droogte nie.”

Hoe bereken Pick n Pay inflasie?

Brasher het breedvoerig verduidelik hoekom winkelgroepe soos Pick n Pay se prysinflasie verskil van die voedselprysinflasie wat amptelik deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) gemeet word.

Pick n Pay se interne voedselinflasie was in die boekjaar tot einde Februarie 3,1% teenoor die voedselinflasie soos gemeet deur SSA wat 5,3% was.

Genoteerde Suid-Afrikaanse groepe se sogenaamde interne inflasie is gereeld laer as wat die amptelike voedselprysinflasie is.

Shoprite sê terwyl die land se amptelike voedselinflasie in Maart 9,5% was, was sy prysinflasie 4,3%.

Brasher erken dit laat verbruikers kopkrap.

Volgens hom meet SSA inflasie op net 100 produkreekse en die gewig van die produkte in die mandjie word net elke paar jaar aangepas wanneer ‘n verbruikerspeiling gedoen word.

Dit kan dus wees dat mense se koopgewoontes al verander het en sekere produkte nie meer so ‘n groot deel van die mandjie uitmaak nie.

Volgens hom kyk Pick n Pay na 25 000 produkreekse en word dit elke maand gemeet. Die gewig van ‘n produk in die mandjie word bepaal op grond van hoe verbruikers koop.

Dus word die mandjie se prysinflasie beïnvloed deur promosies en goedkoper produkte waarvan verbruikers in moeilik ekonomies tye meer koop.

Brasher sê vleisinflasie soos hulle dit meet, was die afgelope jaar 2%, maar dit is omdat verbruikers oorgeskakel het na varkvleis, wat goedkoper is, na ander snitte of na produkte wat Pick n Pay op promosie aangebied het omdat dit ‘n belangrike deel van die onderneming is.

Dus het die mandjie produkte waarmee verbruikers by die deur uit is, verander vergeleke met ‘n jaar gelede.

Op die vraag hoekom dit vir sekere Pick n Pay-klante voel of inflasie meer gestyg het, sê hy: “Dit hang af wat in jou mandjie is. Afhangend van wat jy koop, gaan jou inflasie verskil.

“Iemand wat net produkte op promosie koop, sal baie anders voel as iemand wat nooit produkte op promosie koop nie.”

Druk op verskaffers

Op die vraag of hulle druk van verskaffers kry om pryse met meer as wat nodig is te verhoog, sê hy geensins te kenne dat verskaffers enigiets anders doen as om hul ondernemings op die beste manier wat hulle kan te bestuur nie.

“Hulle gee wel van die koste deur, maar ons werk is om te verseker dat dit so min moontlik is eerder as soveel soos hulle wil hê.

“Dit is ‘n natuurlike en goeie spanning wat tussen ons heers.”

Brasher sê Pick n Pay het reeds van sy spesifikasies verander oor hoe landbouprodukte moet lyk en hoe groot dit moet wees om boere in dié moeilike tyd te help.

Back to top

 

26. KWV is die naam ‘ikoon’ wel waardig

(Die Burger, 17 Mei 2016)

Van alle kante

Johan van Wyk

Dis seker goeie nuus vir aandeelhouers, maar ek het nogal ‘n traantjie gepink oor die KWV wat verkoop gaan word. Hopelik sal die ikoniese naam wat oor amper ‘n eeu wêreldroem verwerf het, behou word. Ek kan my die Paarl sonder die KWV nie voorstel nie.

Anders as mense en instellings wat dit nie verdien nie, is die KWV, eens die bakermat van die wynbedryf in Suid-Afrika, dit waardig om ‘n ikoon genoem te word.

Hoewel jy lankal verniet na ‘n Afrikaanse woord soek op van sy uitstekende produkte. Die geskiedenis herhaal homself. Die KWV sou oorspronklik, slegs in Engels, as die “Co-operative Viticultural Union of South Africa” bekend gestaan het. Dit was die benaming wat tydens die aanvoorwerk tot sy ontstaan in 1918 deur sy stigter, Charles W.H. Kohler, voorgestel is.

Kohler is wel, op 14 Oktober 1862, in die Afrikaanse gemeenskap van Calvinia gebore waar sy pa, ‘n Engelse argitek, regeringsgeboue opgerig het, maar is tydens die Britse koloniale bewind, toe op Afrikaans neergesien is, in Engels opgevoed.

Nadat hy op die Witwatersrandse goudvelde ‘n fortuin gemaak het, het hy ná die Anglo-Boere-oorlog op Riverside by Simondium wynboer geword. Daar het hy hom die toe haglike lot van wynboere aangetrek en besluit dat dit reggestel moet word. Die KWV was die gevolg.

Met die Bolandse wynboere van die tyd oorwegend Nederlands of Afrikaanssprekend was die benaming vir ‘n wynkoöperasie met boere as lede vanselfsprekend: “Ko-operatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika”.

Dis op 8 Januarie 1918 met die KWV se stigting in die Paarl eenparig aanvaar, maar later in Afrikaans aangepas, met die briljante, versiende Kohler as voorsitter. Hy sou dit 33 jaar lank tot in 1951 bly toe hy op 88 uitgetree het. Die jaar daarna is hy in Vishoek oorlede. Sy oorskot is Paarl toe gebring waar dit in die KWV se katedraalkelder in staatsie gelê het.

Dit was dankbare wynboere se eerbetoon aan die man wat die wynbedryf uit versukkeling gered, gestabiliseer en florerend gemaak het. Hy word steeds as die belangrikste leiersfiguur van die wynbedryf en een van die invloedrykste Suid-Afrikaners van die twintigste eeu beskou.

Net soos in 1916, toe hulle – onderhewig aan oorskotte en uitgelewer aan prysmanipulering deur gewetenlose drankbaronne en weens vernietigende wingerdsiektes – teen die grond was, is wynboere nou sonder die beskerming van koöperatiewe beheer in ‘n vryemarkstelsel opnuut onder hewige druk. Die fooitjie vir die kelner wat die wyn in ‘n restaurant bedien, is meer as wat die boer vir die wyn kry.

Ek het hieroor nagedink toe ‘n kelner nou die dag ‘n bottel Roodeberg in ‘n restaurant in die Paarl voor my neergesit en later in tipiese “Kaapse” (Afrikaanse) Engels verseker het dat ek wel hoender en nie vis nie van ‘n Engelse spyskaart af geëet het.

Back to top

 

27. Dié dag was die kerk stampvol

(Die Burger, 28 April 2016)

Terloops  Adam Small

Joseph was ‘n eerlik-eerbare man. Voordat ek sy storie vertel, eers – in ligte trant – nog ‘n kaskenade oor dominee Koekemoer.

Dominee Koekemoer was ons sieleherder, járe gelede, in ons Nederduitse Gereformeerde gemeente in die Suid-Skiereiland. Eendag kom ‘n drie bladsye lange brief by die kerk aan, in Engels, gerig aan “Reverend K”. Dit was ‘n kerkraads­vergadering en ons eerwaarde het die brief in sy kranklike Engels vir die broeders gelees.

Een van die ouderlinge wou weet: “Meneer, van wie af kom die brief?”

Die briefskrywer was nie juis oplettend nie – een van die soort wat teen die end van ‘n bladsy uit papier raak, en alles dan oordra na die volgende blad (drie, vier woorde ofte not).

Maar dominee Koekemoer het dinge misverstaan: Wat hóm betref, het hy klaar gelees, en verwag toe dat die volgende reël die skrywer se naam sou oplewer! “O,” antwoord hy, “die skrywe kom van ene ‘I remain’ af!”

Daar was ‘n giggelende geproes en ‘n gekyk vir mekaar in die raadsbanke. “Blaai nóg ‘n keer om, meneer,” beveel een van die broers toe aan, en Koekemoer doen dit, en was skielik verslae-vies vir homself. “O,” sê hy weer, en lees verder: “‘Yours very sincerely, J.C. van Wyk.’”

Dis van tóé af dat dominee Koekemoer in die gemeente bekend geraak het (want die storie het versprei) as “Eerwaarde I Remain”, en die vérdere boodskap het die wêreld in begin loop: “Ai, onse Meneer pluk die Engels darem só groen van die bome af!”

Joseph (oor wie ek nou skryf) was heel bekend in ons omgewing. Hy het ‘n vaste maat gehad, Betty, en die twee het mekaar vergesel, vér ente ook, deur ons voorstad, en die kontrei daar rond. Hulle’t ook ‘n hond gehad, ‘n teef met die naam Oumaat, áltyd agter hulle aan.

Joseph was ‘n arm man, maar iemand van statuur, nou reeds meer as 30 jaar lank dood. Hy sou hier by ons aanklop, maar nóóit om te bedel nie. Oumaat was ook nie ‘n bedelhond nie: Jy’t dit nooit in haar oë gelees nie! Joseph se eerste woorde aan my en Rosalie, my vrou, was altyd: “Is daar miskien iets wat ek vir meneer- en mevrou-hulle kan doen?”

Joseph en Betty se liefde vir diere was nie tot Oumaat beperk nie.

‘n Plaaslike beriggewer het ons kontreikoerant vertel hoedat Joseph op ‘n keer ‘n eend gered het toe dit deur twee honde aangeval is.

Met die beseerde eend onder sy arm, het hy ‘n motor in Hoofweg gestop, en die eend na die Dierebeskermings­vereniging geneem vir behandeling.

Op hierdie manier het hy en Betty ‘n mooi verhouding met die “SPCA” opgebou, en later, trots, die embleem van die Vereniging op hul klere gedra.

Ek noem graag dat Joseph nie ‘n wyndrinker was nie. Ek het hom nóóit besope gesien nie, en hy was altyd die hoflikheid self.

Daar was ‘n hele netwerk van helpers in die omgewing wat gesorg het vir kos vir Oumaat: die vroue van die Perm Bougenootskap en van Marjorie se bakkery, byvoorbeeld.

Báie belangrik vir my is dat Joseph, toe my pa sterf, die roudiens bygewoon het. Alles was ook nie sonder humor nie! Die digter S.V. Petersen, ‘n skoolkennis van my pa, was ook teenwoordig en, onwetend dat my pa veras sou word, het hy Joseph ‘n saamrygeleentheid gebied ná die diens en die twee het van begraafplaas tot begraafplaas gery, op soek na die begrafnisplek!

Toe Joseph sterf (Betty was toe al dood) het ‘n somberte oor Hoofweg geval. Ek het nie die diens kon bywoon nie. Rosalie hét, en sy’t my agterna vertel: Die groot kerk was stampvol van almal wat Joseph langs Hoofweg geken het, die plaaslike sakelui inkluis. Die ondernemings in die omgewing het vir die diens gesluit, sodat die werknemers die plegtigheid kon bywoon…

Oumaat sou, ná Joseph se dood, g’n bekommernis hê nie: Die hele buurt sou vir haar sorg.

Joseph (sélf nie Rooms of enigiets nie) is uit die Holy Redeemer-kerk in Bergvliet begrawe. Die winkeleienaars en gemeenskaps­mense het geld bygedra vir ‘n goeie kis en lykwa vir Joseph.

En – dankbaar! – dit was nie nodig vir dominee Koekemoer om waar te neem nie: die Roomse priester het gepresideer.

Want ons dominee (o vader) sou moes Éngels praat in daardie Bergvliet-kerk!

Back to top

 

28. Sonaangedrewe vliegtuig hervat reis

(Die Burger, 26 April 2016)

Elsabé Brits

Kaapstad. – Die Solar Impulse 2 het sy vlug om die wêreld hervat en nog ‘n skof van 62 uur suksesvol voltooi.

Dié keer het Bertrand Piccard van Hawaii na die Moffett-vliegveld, sowat 60 km suid van San Francisco, in Amerika gevlieg.

Dit is gedoen nadat hy en sy vliegmaat, André Borschberg, nege maande lank op Hawaii moes wag nadat die vliegtuig, wat net op sonkrag staatmaak, se batterystelsel beskadig is.

Die weer het ook probleme veroorsaak.

Hulle het verlede jaar geskiedenis gemaak toe Borschberg 4 dae, 21 uur en 52 minute in die lug was op ‘n skof van Japan na Hawaii.

Die vliegtuig het net plek vir een mens in die kajuit van 3,8 m3 en Piccard en Borschberg maak beurte om te vlieg.

Die vliegtuig bevat ‘n monitor wat die outomatiese vliegbeheer heeltyd nagaan en ‘n alarm wat afgaan indien die tuig met net 5° kantel.

Dit is die grootste vliegtuig wat tot nog toe gebou is wat só min weeg – dit weeg soveel as ‘n motor.

Die Solar Impulse 2 weeg net 1% van die gewig van ‘n Boeing 747 en sy vlerke – 72 m – is langer.

Dit het 17 248 sonkragselle wat op die vlerke aangebring is.

Op die skof van Hawaii na Noord-Amerika was die gemiddelde spoed 65,39 km/h.

Nadat dié skof afgehandel is, sal die vliegtuig oor Amerika vlieg en terug na die beginpunt in Abu Dhabi, wat ‘n reis van altesaam 35 000 km sal wees.

Back to top

 

29. Dit is tyd dat Afrikaners onplesierig raak

(Die Burger, 26 April 2016)

Terloops Piet Matipa

Afrikaners het toi-toi-treffers nodig.

Ek praat van die sogenaamde struggle-liedjies. Die soort wat die aarde laat dreun, die hare laat rys en motorbande vanself laat vlam vat. Optogkomposisies met ‘n leeu se brul en ‘n krokodil se byt.

En pappa, wanneer dit die teikengroep se oordromme tref, moet die ritme van moeilikheid dié se blase laat opswel en hul oë bewolk maak. Bewerasies moet hul lywe as gyselaars aanhou.

As die Afrikaners hul mond oopmaak, moet die skuldiges nie ‘n gaap antisipeer nie. Hulle moet besef speeltyd is verby. Hierdie besef moet op hulle neerdaal soos ‘n swanger olifant.

Dít is die soort protesdeuntjies wat die taal nodig het. Die Afrikaanse klank is té gegeur vir subtiele melodieë wanneer genoeg genoeg is.

Hoe sê ‘n mens tot hier toe en nie verder nie met my “Sarie Marais” of “Jan Pierewiet”? Dit kán natuurlik gesing word, maar nie in ‘n optog nie. Mense gaan dink dit is ‘n serenade.

Afrikaners moet soos die Afrikaner wees: “’n geharde, inheemse beesras, rooi of geelbruin, met kort, gladde hare, weglêhorings en hoë skof”, soos oom HAT dit beskryf.

Het julle al struggle-liedjies in ander tale gehoor? Hoewel jy dalk nie verstaan wat gesing word nie, weet jy dat ontevredenheid die rede vir die singery is.

Daarom wil ek vandag my deel doen en die taal raad gee. Ek wil haar voorskoot vat en ‘n knopkierie in haar hand druk.

Identifiseer kragwoorde. Ek praat nie van vloekwoorde nie, maar van kragdadige woorde. Ek praat van kragwoorde met ‘n ouderdomsperk van twee.

“Genoeg” is ‘n heerlike een. “Moeg” is nog ene. Dit is die “g” wat die vuishou gee.

‘n Groep van 200 mense kan hierdie woorde maklik skreeu; daar is op die meeste twee lettergrepe.

Woorde soos “ontevrede” en “ongelukkig” kan die harmonie van ‘n spul beneuktes versteur.

Nadat jy jou kragwoorde identifiseer het, moet jy ‘n ritme kry wat klink soos ‘n bastrom wat herhaaldelik geslaan word. Die bewegings en die ritme moet parallel loop.

Dus, wanneer jy die kragwoord uiter, moet jy óf spring óf jou voet stamp dat die sand weghardloop.

Jou eindproduk sal só lyk:

“Dis nou genóég!”

(Lig jul plakkate of stokke soos ‘n mal een wat die wolke daarmee wil gooi.)

“Ons is móég!”

(Maak masjiengeweergeluide om die vrees in hul hart in te graveer.)

Herhaal die volgende op die maat van ‘n bastrom: “Móég! Móég! Móég! Móég!”

Terwyl een deel van die groep dit skreeu, kan ‘n ander deel laat waai met: “Hóór, julle! Ons gaan nêrens nie! Vandag gaan die poppe dans!”

Onthou net die belangrikheid van lyftaal. Jou lyftaal moet weerspieël wat jy sing. Trek daardie gesig asof jy suurmelk ruik.

Dus, Afrikaners, ek weet julle is plesierig, maar raak van tyd tot tyd ook onplesierig – en maak dan só.

Back to top

 

30. Jumat vorder van bode tot direkteur

‘HY IS ‘N INSPIRASIE’

(Die Burger, 26 April 2016)

Eugene Gunning

George. – Van bode tot direkteur by ‘n regsfirma. Dit is die lang pad wat Johannes Jumat (38) geloop het.

Hy is onlangs aangestel as ‘n direkteur van Raubenheimers, ‘n bekende regsfirma in die Suid-Kaap, waar hy as ‘n bode gewerk het.

Jumat het in George grootgeword en in 1995 aan die Sekondêre Skool Parkdene gematrikuleer. Daarna het hy siviele ingenieurswese aan die Port Elizabeth Technikon studeer.

Toe die maatskappy wat sy studie borg ná sy eerste jaar besluit om sy beursprogramme te staak, moes Jumat na George terugkeer en werk soek.

Eers het hy as veiligheidswag by Fancourt gewerk en later as veiligheidswag by Nedbank.

Hy het altyd ambisie gehad en was nie van plan om die res van sy lewe as veiligheidswag te werk nie.

In 2002 het sy lewe vir altyd verander. Hy het ‘n nasionale kompetisie gewen as die man met die hartlikste glimlag.

Gustav Pienaar, wat destyds by Raubenheimers gewerk het, het hom destyds ook gevra om as bode by die regsfirma te kom werk. Jumat het in September 2003 daar begin.

Die hunkering om verder te studeer was steeds daar.

Ná ‘n jaar as bode wou hy by Pienaar weet of hy nie iets anders kan doen nie. Pienaar wou weet of hy nie sou belang stel om verder te studeer nie.

Pienaar het die pad verduidelik wat hy sou moes loop as hy prokureur wil word, en in 2005 het Jumat by Unisa ingeskryf en in 2010 ‘n LLB-graad behaal.

Soggens vroeg het hy gestudeer, dan later op kantoor gewerk en saans weer studeer. Naweke moes hy ook studeer.

“Dit was bitter moeilik. Ek was in ‘n heeltydse huishouding. My vrou, Yolanda, was my rots.”

Daarna moes hy nog sy klerkskap voltooi, en einde 2012 is hy as prokureur toegelaat. Hy het eers as professionele assistent gewerk en op 1 Maart vanjaar is hy as direkteur aangestel.

As kind het hy nooit gedroom dat hy eendag ‘n regsgeleerde sou word nie.

Hy het baie goed uit die situasie geleer. Een daarvan is dat al het jy nie geld nie, hoef jy nie te gaan lê nie.

“As jy ‘n geleentheid kry, gryp dit met albei hande vas.”

Al is dit moeilik, werk hard, wees eerlik en gefokus. Die res sal vanself uitwerk.

Sy advies aan ander mense: “As jy bereid is om hard te werk, sal ander mense bereid wees om te help. Dit sal nie altyd finansiële hulp wees nie, maar jy sal ‘n hupstoot kry.”

Alles is ook moontlik, maar dit is nie altyd maklik nie.

Pienaar, wat intussen afgetree het, het Maandag gesê hy het van die begin af geen twyfel gehad dat Jumat sou presteer nie. Volgens Pienaar is Jumat ‘n inspirasie vir hom. Die regsfirma het destyds vir Jumat ‘n geleentheid gegee en hy het dit met albei hande aangegryp.

Back to top

 

31. Hoe gaan dit met jou are?

(Rooi Rose, Junie 2016)

FASSINERENDE FEITE

1 As jy al die are wat jou liggaam deurkruis in een lang lyn sou kon uitstrek, sou dit saam 100 000 km ver strek. Die omtrek van die aarde is 40 000 km. 2 Jy het twee skakerings bloed. Die suurstofryke bloed wat jou hart uitpomp, is helder rooi, terwyl die bloed wat terug na jou hart loop donkerder rooi is. 3 Al gewonder hoekom are blou lyk? Are self is amper wit. Gevul met rooi bloed verwag jy ‘n rooi-pienk kleur. Die verklaring? Aarwande absorbeer al die kleure van wit lig maar kan net blou lig uitkaats. Daarom lyk wit are propvol rooi bloed potblou.

 

AANVULLERS VIR JOU HART

Kan jy met ‘n vitamienpil jou are gesonder maak? Dalk. Dalk nie. Ons kyk in die Cochrane Libraries, waar al die relevante navorsing gebêre word, watter geldige gevolgtrekkings daaruit gemaak kan word.

 

WAT HELP DIT? HOE DIT WERK
Vesel Ja Dit verlaag veral slegte LDL. Interessant genoeg help aanvullers as veselbron net so goed as groente
Q10 Dalk nie Mense met hartversaking het meestal min Q10. Hoewel aanvullings jou Q10-bloedvlak opstoot, het gebruikers nie minder hartskade nie.
Vit D Waarskynlik Mense in die Kaap en Kaapse Suidkus kry in die winter min velson vir voldoende vitamien D. Ook as jy daagliks sonskerm dra.
Vit B Nee Al kan dit homosisteïen afbreek, wys navorsing dat dit in die praktyk nie hartkwale, beroerte of sterftes daaraan verminder nie
Groen tee/swart tee Dalk Dit lyk asof aanvullers – of die ware Jakob – kan help om inflammasie teë te werk maar daar is nog te min navorsing
Selenium Nee Al is dit ‘n sterk anti-oksidant wat jou teen oksidasieskade kan beskerm, wys metaontledings dit het geen voordeel nie.
Omega 3 Ja Dit verlaag beslis jou trigliseriede. Dit werk ook inflammasie teë.

Back to top

 

32. ‘Pasiënte vind’ baat by werk met perde’

VALKENBERG-PROGRAM

(Die Burger, 16 April 2016)

Elsabé Brits

Kaapstad. – Die Valkenberg-hospitaal het pas begin met sy tweede groep pasiënte wat aan ‘n perdgesteunde terapieprogram deelneem.

Die sessies, wat sowat anderhalf uur duur, een dag per week vir agt weke, word deur The Equinox Trust aangebied.

Dr. Marc Roffey, psigiater by Valkenberg, het vertel dat ses pasiënte wat langtermyn-behandeling by die hospitaal se forensiese eenheid ontvang verlede jaar dié program suksesvol voltooi het en nog ses neem nou weer daaraan deel.

Die doel van die program is om pasiënte te help om beter in groepe saam te werk, om aggressie en irritasie in gedrag te verbeter en om interpersoonlike en sosiale vaardighede op te skerp.

Verlede jaar se groep het oor die algemeen byna 30% verbeter na afloop van die program, het hy vertel. “Dit is ‘n aansienlike verbetering.”

Probleemoplossing met behulp van die perde is ‘n groot deel van die program, het Nafisa Abdulla, hoof van arbeidsterapie by die hospitaal, gesê.

Die perde, wat afkomstig is van die nabye Oude Molen, is ook betrokke by soortgelyke programme.

Perde is baie sensitief. Hulle kan iemand opsom en tel nie-verbale kommunikasie op. Hulle weerspieël die persoon se gedrag en dit word gebruik om terapie te fasiliteer. Daar ontstaan ook ‘n band tussen mense en perde, het Fiona Bromfield van die Equinox Trust verduidelik.

Sarah Garland, ook van die trust, het gesê die model waarvolgens hulle werk, is spesifiek aangepas vir sielkunde en menslike ontwikkeling. Metafore word veral gebruik om gevoelens uit te druk en te verstaan.

Die pasiënte ry nie op die perde nie, maar verrig take met die perde, soos om hulle tussen strukture deur te laat loop. Daar is egter ‘n uitkoms aan die take gekoppel, of een of ander probleem wat opgelos moet word deur middel van sosiale interaksie. Die perd sal nie saamwerk as die mense nie saamwerk nie en óf ongeduldig óf aggressief raak.

Volgens Abdulla lyk dit of min gebeur wanneer ‘n mens so ‘n sessie dophou, maar die teenoorgestelde is waar.

Groot vordering word gemaak omdat nóg die perde nóg die pasiënte gedwing word.

“Uiteindelik oordink die pasiënte alles wat hulle doen en wat hulle tydens die sessie bereik het.”

Die hospitaal hoop om nog geld te kry om die program voort te sit. ‘n Program van agt weke vir ses pasiënte kos sowat R60 000.

Back to top

 

33. Stof van buite sonnestelsel gekry

(Die Burger, 16 April 2016)

Elsabé Brits

Kaapstad. – Die ruimtetuig Cassini het stofdeeltjies opgespoor wat van buite die sonnestelsel afkomstig is.

Dié tuig, wat al sedert 2004 om Saturnus wentel om sy ringe en mane te bestudeer, het ook instrumente aan boord om stofdeeltjies te analiseer. Hiervan is miljoene al versamel om hul herkoms na te gaan, en die meeste is afkomstig van Saturnus se geologies aktiewe maan Enceladus.

Tussen die magdom stofdeeltjies is egter ‘n besonderse klompie – net 36 gram – gevind wat uitstaan bo die res.

‘n Span internasionale wetenskaplikes wat aan dié projek werk, het die resultate vandeesweek bekend gemaak en gesê die stof is afkomstig van die interstellêre ruimte, die ruimte tussen sterre.

Dié deeltjies beweeg vinniger en is op ‘n ander weg as daardie wat om Saturnus gevind is.

Dit het teen 72 000 km/h deur Saturnus se stelsel beweeg en was vinnig genoeg om nie deur die gravitasie van die son en planete vasgevang te word nie.

Dit bestaan uit ‘n mengsel van minerale (magnesium, silikoon, yster en kalsium), eerder as die ys wat om Saturnus gevind word.

Kosmiese stofdeeltjies word geproduseer wanneer sterre sterf.

Hulle is oud en divers in hul samestelling.

  • In 2014 is daar gevind dat ‘n oseaan van 10 km diep onder die oppervlak van Enceladus lê. Die waarneming is ook deur Cassini gedoen.

Die see bestaan tussen 30 km en 40 km onder die oppervlak. Dit begin by Enceladus se suidpool en strek verby sy ewenaar.

Dit is groter as die Victoriameer in Afrika en min of meer so groot soos die naasgrootste meer op aarde, Superior in Noord-Amerika.

Die waarneming is gemaak deur presiese metings van Cassini wat met groot antennas op aarde geskakel het.

Dit het ‘n gesofistikeerde tegniese weergawe van die Doppler-effek gebruik, naamlik dat die gefluit van ‘n trein harder raak namate dit naderkom en vervaag namate dit wegbeweeg.

Back to top

 

34. WINTERSHANDE Die laaste winter van sukkel

JY VRA

Die beste raad van ‘n dokter, fisio, apteker én ‘n boereraat

Deur SALOMÉ DELPORT

Ek kry my pa so jammer. Elke jaar hierdie tyd kry hy wintershande – regtig seer, rooi vingers wat erg opswel en jeuk en brand. Soms swel ‘n toon of twee ook nog. Ons het al alles probeer. Is daar nog iets wat ons kan doen?

– Annamari, Welkom

Dr. Corlene Odendaal, AIiwal-Noord

  • Wie kry dit? Dit kom algemeen hier by ons in die hart van die Karoo en Vrystaat voor, veral onder bejaardes en mense wat buite werk. Maar pernio, soos dit medies genoem word, kan enigeen tref, selfs skoolkinders. Ek het al iemand behandel wat heeldag rekenaarwerk sit en doen. Dit is regtig pynlik. Sommige mense sukkel elke winter daarmee, sommige sommer maande aaneen.

BESTE RÁAD?

  • Inspuiting ‘n Veilige, langwerkende kortisooninspuiting wat die inflammasie teëwerk, kan die ongemak baie verlig. Maar jy moet vroeg in die winter kom, voor die vingers klaar rooi en teer is. Soms herhaal ons die inspuiting later in die winter.
  • Bly warm Pernio ontwikkel wanneer jou yskoue hande en tone te vinnig warm word. Die beste voorkoming is om jou hande en voete altyd egalig warm te hou sodat jy daardie opwarming minimaliseer.
  • Maak so Trek warm handskoene aan voor jy uitgaan, dra goeie wolkouse en slaap snags met dik kouse. Kom jy van buite af in en jou hande en/of voete is baie koud, moet jy hulle baie geleidelik klimatiseer. Week die ledemate in water wat na jou gevoel net-net louwarm is. Voeg geleidelik nog warm water by om te verseker dat jou vingers en tone baie stadig warm word.

 

Clicks-apteker, DurbanviIIe, Kaapstad

BESTE RAAD?

  • Anti-inflammatoriese salf Kry vir jou Thrombophob en wend dié anti-infammatoriese salf aan sodra jou vingers en/of tone rooi begin raak.
  • Aspirien Drink die hele winter ‘n halwe dosis aspirien per dag. Dit verdun jou bloed sodat dit makliker na die kleinste aartjies in jou vingers en tone kan vloei. Maar – baie belangrik – gesels met jou apteker voor jy aspirien vir jouself voorskryf, veral as jy diabetes, ‘n harttoestand of allergie het. Dit kan die werking van ander medisyne beïnvloed.
  • Die boereraat ‘n Bietjie brandewyn. Maar jy drink dit nie. Jy smeer dit aan die vingers en tone. ‘n Doppie – brandewyn of andersins – is nié doepa vir wintershande nie. Dit kan pernio vererger.

WIKKEL DAAI … TONE

Anneret Wolfaardt, fisioterapeut

BESTE RAAD?

  • Uitstekende sentrale bloedsomloop Dit beteken dat jy elke dag twintig minute hard genoeg oefen om jou bloedsomloop goed aan die gang te kry. Hoe beter die bloedsirkuasie in jou romp, hoe beter reguleer jou liggaam bloedvloei na jou tone, vingers en ore.

Maar jy moet hárd oefen, selfs al is jy bejaard. Oefen hard genoeg dat jou hartklop genoeg opgejaag word vir die liggaam om daarby baat te vind maar nie so hard dat jou hart skade ly nie.

Die geheime formule is “80% van 220 minus jou ouderdom”. Vir iemand van 68 werk dit uit op 220-68=152; 80% daarvan is 121. Sy moet dus so hard oefen dat haar hart 121 slae per minuut haal, of dertig slae in 15 sekondes. As jy regtig baie onfiks is, begin stadiger en verhoog jou telling geleidelik tot jy jou teiken bereik.

  • Warm onderklere ‘n Tweede manier om te sorg dat die bloedvloei na jou hande en voete optimaal bly is om te sorg dat jou lyf gemaklik warm is. Frokkies en langjannies van wol en katoen wat hitte teen jou lyf skep en hou, is uitstekend, of kyk na die lieflike nuwe materiaal wat vir bergklimmers ontwikkel is. Hulle is dun sodat jy gemaklik voel, en haal asem sodat jy jou nie nat sweet nie, selfs al oefen jy.

 

HOE WINTERSHANDE GEBEUR

Al is dit hoe koud, hou jou liggaam met ‘n baie vernuftige taktiek jou temperatuur rondom 37°C.

Wanneer dit warm is, of as jy warm is, ontspan die spiertjies in jou aarwande. Jou are raak wyer en so kom jou bloed na jou veloppervlak waar dié, en jy ook, afkoel.

Is dit koud, gebeur die teenoorgestelde: dieselfde spiertjies trek saam en vernou jou bloedvate sodat jou bloed diep en na binne gekeer word en jy gevolglik warm bly. Namate jy deur die dag beweeg van warm (jou bed) na koud (buite, jou motor voor dit warm geword het) na warm (die kaggel), ontspan en trek jou are saam. Dit werk wonderlik doeltreffend … tensy dinge skeefloop.

By vatbare mense ontspan die klein aartjies te veel en/of te vinnig. Te veel bloed stort in die aartjies en sypel uit na die omliggende weefsel. Dit lei tot inflammasie wat daardie rooi, vuurwarm en jeukende vingers en tone veroorsaak.

Back to top

 

35. SAUK wil vier nuwe TV-kanale vir tale vestig

(Die Burger, 26 April 2016)

Charlea Sieberhagen

Johannesburg. – Vier nuwe taalgebaseerde SAUK-TV-kanale wink op die horison.

Die SAUK het in ‘n verklaring aangekondig dat hy met die oorskakeling van analoog na digitale aardgebonde televisie (DTT) nuwe kanale gaan skep wat spesifiek op sekere tale sal fokus.

Sotho, Tswana en Pedi sal saam gegroepeer word in ‘n Sotho-kanaal. Zulu, Xhosa, Swati en Ndebele sal saam op die Nguni-kanaal wees, terwyl ‘n derde kanaal Tsonga en Venda sal huisves. Die vierde kanaal sal Afrikaanssprekendes bedien, insluitend die Khoisan-gemeenskap, het die SAUK se verklaring gelui.

Volgens die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, is die kanale veronderstel om ‘n “smeltpot van kulture en tradisies” te wees.

Luidens die verklaring sal die SAUK se eie vervaardigers baie van die nuwe televisie-inhoud vervaardig en dié span vervaardigers sal ook later help om “opkomende vervaardigingsmaatskappye” te help ontwikkel.

Intussen beoog die huidige SAUK-kanale om hul aanbod van plaaslike inhoud te vergroot.

Die nuusbulletins sal nou elk ook ‘n insetsel insluit wat gefokus is op nuus uit die provinsies.

Die openbare uitsaaier het ook aangekondig dat hy geen advertensies vir poste of tenders in die gedrukte media sal publiseer nie. Slegs die SAUK se eie digitale en uitsaaikanale sal gebruik word vir SAUK-advertensies. Geen eksterne bemarkingsagentskappe sal gebruik word vir die SAUK se veldtogte nie. Volgens die verklaring het die SAUK “genoeg interne kreatiewe kapasiteit” om veldtogte te hanteer.

William Bird, direkteur van die SOS: Support Public Broadcasting Coalition, sê dit is uiteindelik duidelik wat die SAUK se planne met die DTT is.

“Plaaslike inhoud is altyd baie gewild en dit is iets wat aangemoedig moet word omdat dit help met die vorming van identiteit.”

Volgens Bird is dit belangrik dat elke taalgroep nie net aan sy eie kultuur blootgestel moet word nie, maar ook aan ander tale en kulture.

Bird meen daar is ‘n behoefte aan ‘n kinder- en jeugkanaal deur die SAUK en hy hoop daar sal ook aan dié behoefte aandag gegee word.

“Die ander vraag is natuurlik waar die geld vir die kanale vandaan gaan kom.”

Die SAUK is om verdere kommentaar genader, maar daar is teen druktyd nog niks ontvang nie.

Back to top

 

36. Basta met selfkritiek

(Rooi Rose, Junie 2016)

Ilze Salzwedel

DIE 20 DINGE WAAROOR ‘N VROU HAARSELF DIE MEESTE KRITISEER

1 Jy is vet/oorgewig 2 Jou hare lyk sleg 3 Jou maag lyk groot Jy oefen nie genoeg nie Jy lyk sleg langs ander vroue 6 Jy verdien nie genoeg geld nie 7 Jy het ‘n “vet dag” 8 Jy wil nie sekere klere dra nie, want jy dink nie jy lyk goed daarin nie 9 Jy wens jy was so fotogenies soos ander vroue op sosiale media 10 Jy kan nie net ‘n kompliment aanvaar sonder om iets negatiefs oor jouself te sê nie 11 Jy is bang ander mense skinder oor jou 12 Jy voel jy is nie goed genoeg geklee nie 13 Jy voel jy is nie stylvol genoeg nie 14 Jy en jou maat het nie genoeg seks nie 15 Jy is nie so kreatief soos ander vroue nie 16 Jou boude lyk groot 17 Jy is nie so georganiseerd soos ander vroue nie 18 Jy bestee nie genoeg tyd saam met jou vriendinne nie 19 Jy dra nie genoeg grimering nie 20 Jy is nie aantreklik genoeg vir jou maat nie

 

SEWE MANIERE OM JOU INNERLIKE KRITIKUS STIL TE MAAK

Amy Morin, sielkundige en skrywer van 13 Things Mentally Strong People Don’t Do skryf op www.forbes.com dat ‘n mens se innerlike dialoog ‘n belangrike rol speel in jou sukses, maar dit kan jou ook keer om jou volle potensiaal te bereik.

As jou innerlike dialoog wemel van negatiewe stellings soos “ek gaan myself net verneder” of “niemand by die partytjie gaan met my praat nie”, sal jy nie ontspanne of toeganklik voorkom vir ander mense nie.

Hierdie negatiewe voorspellings sal dikwels in ‘n selfvervullende professie ontaard, waarsku sy. “Jou gedagtes het ‘n groot invloed op hoe jy voel en optree, en kan tot negatiewe en afbrekende selfgesprekke lei.”

Maar gelukkig hoef jy nie ‘n slagoffer te bly van wat sy noem jou “eie verbale mishandeling” nie. Hier is sewe maniere om die innerlike kritikus se mond te snoer:

1 Raak bewus van jou gedagtes. Sy waarsku dat ons nie eens meer agterkom watter boodskappe ons vir onsself stuur nie. “Net omdat jy iets dink, beteken dit nie dis waar nie. Ons gedagtes is dikwels oordrewe, bevooroordeeld en buite verhouding tot die werklikheid.”

2 Hou op tob. As jy ‘n fout gemaak het of ‘n slegte dag gehad het, moenie die gebeure oor en oor in jou kop laat afspeel nie. “Dit sal jou net nog slegter laat voel en nie die probleem oplos nie.” Moenie meer daaraan dink nie. Trek jou aandag af met ‘n aktiwiteit, of praat oor heeltemal ‘n ander onderwerp.

3 Vra jouself af watter raad jy ‘n vriendin sou gee wat so oor haarself voel. Jy sal nie vir haar sê sy kan niks reg doen nie, of dat niemand van haar hou nie. Maar ons sê dit maklik vir onsself. Behandel jouself met dieselfde deernis waarmee jy ‘n vriendin sal behandel, en praat jouself moed in.

4 Ondersoek die getuienis. Morin sê ‘n mens moet leer om te herken (en te erken!) wanneer jou gedagtes erg negatief is. Ondersoek dan die “getuienes” wat daardie gedagte bevestig of weerlê. Skryf alles wat jou selfkritiek staaf aan die een kant, en dit wat dit weerlê aan die ander kant. “Dit help dat jy meer rasioneel en minder emosioneel na ‘n situasie kyk.”

5 Vervang oordrewe kritiese gedagtes deur meer akkurate, rasionele en realistiese stellings. Vervang “ek doen altyd alles verkeerd” deur “soms doen ek dinge regtig goed, en soms nie”. Doen dit elke keer wanneer jy jouself betrap dat jy superkrities op jouseif is.

6 Dink hoe erg dit nou eintlik sou wees as jou selfkritiek waar was. Morin sê selfs as die ergste gebeur, is dit dikwels nie so erg soos dit wat ons onsself wysgemaak het nie. Sal ‘n fout tydens ‘n aanbieding maak dat jy jou werk verloor, of is dit iets waarvan jy kan herstel? Deur jouself daaraan te herinner dat jy probleme, foute en taai tye kán hanteer, gee jy jou selfvertroue ‘n hupstoot en help om die konstante stroom selfkritiek te stuit.

7 Aanvaar jouself terwyl jy aan jou (werklike) probleemgebiede werk. “Om jou swak punte te aanvaar beteken nie dit hoef vir altyd so te bly nie.” Aanvaar jou foute, maar erken ook dat daar dalk dinge is waaraan jy kan werk.

Back to top

 

37. Heenkome vir ‘flatse’ se kinders

(Die Burger, 16 April 2016)

Anika Marais

Kaapstad. – Vyf-en-twintig woelige kleuters staan in ‘n ry voor ‘n grasgroen emmer.

“Kom nader! Staan nader!” roep Ronel Kroukamp (33), wat met ‘n pienk waslap gebuk agter die emmer staan.

Een vir een word die kinders se hande voor middagete gewas – deeglik tussen elke vingertjie en tot by die elmboog.

“As die kinders nie deur die dag hier by ons is nie, sal ek hulle op die pad kry … so tussen die gangsters se crossfire,” vertel Kroukamp.

Die gratis dagsorg van die Kroukamp-gesin in Stone Court is vir die meeste ouers in Lavender Hill die enigste opsie vir kindersorg.

“Die ander crêches in die omgewing kos R80 of R120 per maand. Niemand hier kan dit bekostig nie,” vertel Veronica (61), Kroukamp se ma. Veronica het die dag- en nasorgsentrum vanjaar begin om die “kinders van die flatse” ‘n heenkome te bied.

Haar hele gesin het ingespring: Haar dogter Ronel bedryf die nasorgsentrum, haar dogter Sonja August (39) is die sekretaresse en haar skoonsuster Magdalene Abrahams (66) doen handwerk met die kleuters.

En ouers wat hul kinders bedags voor Veronica se deur kom aflaai, betaal nie ‘n sent nie. “Hulle moet net vir ons elke nou en dan ‘n rol toiletpapier en juice saambring,” vertel sy.

Ten spyte hiervan gee sy elke dag ‘n bord warm kos aan dié kleuters.

“Hoe kry ons dit reg? My ma bid baie vir hulp,” verduidelik Kroukamp. “Dan kry ons soms donasies, of winkels hou vir ons kos waarvan die verval-datum reeds verstryk het.

“Dis moeilik, maar ons kan net nie die kinders op straat los nie. Hulle dwaal van die oggend tot die aand in die pad rond. Baie van die ouers hier rond werk nie eens nie, maar hulle is steeds nalatig met die kinders.”

Agter die Kroukamp-gesin se woonstel het hulle die tuin met sinkplate toegebou waar die kleuters soggens skoolgaan. Die kinders sit om klein tafeltjies en teen die mure is plakkate met prente.

“Hier leer hulle darem ‘n bietjie dissipline, hoe om met grootmense te praat, hoe om te tel en hoe om hul name te skryf.

“Ons gaan parkie toe, ons sing en ons verf,” vertel Vanessa Adams (49), ‘n familievriendin wat help om die dagsorgsentrum te bedryf.

Smiddae wanneer die kleuters huiswaarts keer, kom laerskoolleerlinge om hul huiswerk in die nasorgsentrum te doen. “Ek doen die Here se werk. Hy het my hierdie visie gegee en gevra: ‘Nou wat gaan jy hiermee doen? Wat gaan jy vir jou medemens doen?’” verduidelik Veronica.

“Twee maande gelede is vier mense en twee kinders hier in die Lavender Hill doodgeskiet. Dit was ‘n bloedbad op daardie hoek. Ek het in my kar gespring, om die hoek gery, geskree: ‘Laai in!’ en die mense aangery na die daghospitaal.”

Haar oë skiet vol trane.

“My kinders weet al – as die skietery begin, mag hulle nie beweeg nie. Hulle mag nie uit die klas gaan nie, want volgende keer is dit dalk een van hulle.”

Back to top

 

38. Establishment was dwaas

(Die Burger, 16 April 2016)

Skuinskyk Max du Preez

Die Afrikaner-establishment was dwaas en onverantwoordelik om die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK), wat gister presies 20 jaar gelede begin het, verdag te maak en te boikot. Ons betaal vandag nog die prys daarvoor.

Die WVK was ‘n kompromis wat uit die post-1990-onderhandelings gespruit het.

Die vergrype van apartheid kon nie ná die geboorte van ons demokrasie bloot geïgnoreer word nie, maar Neurenberg-tipe verhore van “politieke misdadigers” was vir die destyds regerende Nasionale Party onaanvaarbaar.

Die WVK-proses het voorsiening gemaak daarvoor dat mense met persoonlike ervaring van polities gemotiveerde skendings van menseregte (moord, marteling, ontvoering, ernstige aanranding) hul verhale in openbare sittings kon vertel.

Plegers van sulke wandade kon om kwytskelding van strafregtelike vervolging aansoek doen deur die volle waarheid te vertel en te bewys dat hulle ‘n politieke motief gehad het.

Ek het meer as twee jaar elke weekdag van dié WVK-sittings bygewoon. Ek was die leier van ‘n span wat die WVK-proses vir die nasionale televisie moes dokumenteer. (Dit kan steeds op YouTube gekyk word.)

Ek onthou asof dit gister gebeur het hoe ‘n waardige, ouer man, Singqokwana Malgas, presies 20 jaar gelede in die eerste WVK-sitting in Oos-Londen in sy rolstoel sy lewensverhaal vertel het.

Dit was ‘n roerende verhaal van drie dekades se erge mishandeling en herhaalde marteling deur die veiligheidspolisie, van gevangenisstraf en van herhaalde aanhouding sonder verhoor, van hoe sy huis afgebrand en sy kind vermoor is.

Malgas het ineengestort en begin snik toe hy die martelmetodes beskryf het. Dit het Desmond Tutu, die WVK-voorsitter, só geraak dat hy sy kop op die tafel voor hom laat rus en ook begin snik het.

Die WVK-sittings is in die weke en maande daarna deur Afrikaanse koerante en deur NP-leiers en -ondersteuners as die “snesie-kommissie” afgemaak.

Die suggestie was dat die getuies lieg. Dit is die ANC wat die geskiedenis na sy smaak wil herskryf, het Afrikaanse politici, kommentators en joernaliste geskryf. Die WVK is anti-Afrikaans en pro-ANC, het hulle gesê en Tutu en sy kommissarisse se goeie trou in twyfel getrek.

Ek en my span joernaliste het nie ‘n enkele keer gevind dat getuies gelieg of stertjies aangelas het nie – behalwe aansoekers om amnestie, wat soms hul aandeel in wandade probeer versag het.

Die WVK se fokus, in ooreenstemming met die wetgewing wat dit daargestel het, was op individuele skendings van mensregte eerder as op die breë prentjie van wat apartheid werklik was en watter skade dit oor 50 jaar aan miljoene mense aangerig het. Maar daar was spesiale sittings waar Afrikanerleiers soos F.W. de Klerk en Constand Viljoen die breër konteks van die apartheidsbeleid en die motiverings daaragter probeer skets het.

Die WVK was ‘n eenmalige gebeurtenis; iets wat nie herhaal kan word nie. Dit was die één geleentheid waar wit en swart mekaar in die oë kon kyk en hul hart vir mekaar kon oopmaak. Dit was die ideale geleentheid om die era van onreg met begrip vir mekaar te beëindig.

De Klerk en sy party en die res van die Afrikaner-establishment het dié geleentheid versmaai en verkies om die proses verdag te maak.

Ek was intiem by die WVK betrokke en kan met alle eerlikheid sê die proses was so regverdig en eerbaar soos dit kon wees. Dit het die angel uit die ergste swart woede oor die geweld van apartheid getrek.

Ek glo steeds as De Klerk en ander Afrikanerleiers die WVK-proses omhels, ten volle deelgeneem en hul volgelinge aangemoedig het om dit ook te doen, sou ons vandag veel verder op die pad van versoening gewees het.

Ek glo ons sou ook nie vandag soveel ontkenning in wit geledere van die ware aard, omvang en impak van apartheid gehad het nie as wit Suid-Afrikaners die WVK-proses met minder agterdog en vyandigheid benader het.

Ek lees vanoggend Julius Malema sê swart mense moet baie kinders hê, anders gaan die wittes hulle weer onderdruk. Ek sien ook ‘n wit man is in die hof omdat hy op Facebook gesê het Zuma behoort vermoor te word en gevra het wit mense moet townships met gewere invaar.

Dit is waar ons vandag is, 20 jaar nadat die WVK begin het. Dit kon só anders gewees het.

Back to top

 

39. Einstein se teorie eeu later bewys

“GROOTSTE DEURBRAAK OOIT”

(Die Burger, 16 April 2016)

Elsabé Brits

Nadat twee gravitasiekolke 1,3 miljard jaar gelede teen mekaar gebots het, is die kabbelings in ruimte-tyd wat dit veroorsaak het verlede jaar vir die eerste keer op aarde opgespoor. Hoekom is dié gravitasiegolwe, wat Albert Einstein 100 jaar gelede voorspel het, so uniek?

Dit moes ‘n fenomenale botsing gewees het: Een gravitasiekolk met ‘n massa 36 keer dié van die son (en as die son ‘n blouwalvis is, is die aarde ‘n haas) bots teen ‘n ander gravitasiekolk, met ‘n massa 29 keer dié van die son.

Dié onsigbare monsters van die ruimte het om mekaar gewentel totdat hulle uiteindelik dodelik inwaarts na mekaar aangetrek is. Alles was so vinnig dat ruimte-tyd verwring is.

Die resultaat was ‘n ondenkbaar kragtige botsing wat meer energie uitgestuur het as wat al die sterre in die waarneembare heelal op daardie oomblik saam kon uitstraal.

Die oorblyfsels was gravitasiegolwe wat in die ruimte-tyd van 1,3 miljard jaar kabbel, al verder weg, soos ‘n klippie wat in ‘n hipotetiese ruimtepoel gegooi is.

Deur Einstein voorspel

Gravitasiegolwe het nog altyd bestaan, maar nie die tegnologie om dit op te spoor nie. Dit is rimpelings in ruimte-tyd wat veroorsaak word deur die mees kragtige prosesse in die heelal, soos gravitasiekolke wat bots, sterre wat ontplof en selfs die heelal se geboorte.

Namate dié golwe deur die heelal rimpel, trek hulle saam in een rigting en strek weer uit in ‘n ander rigting. Indien ‘n mens na só ‘n gravitasiegolf sou kon kyk as dit op jou afpyl, sou jy afwisselend sien hoe dit uitrek en saamtrek, op en af, links en regs.

Albert Einstein het in sy teorie van algemene relatiwiteit wiskundig bewys dat massiewe voorwerpe ruimte-tyd tot so ‘n mate sal verwring dat golwe daaruit sal beweeg teen die spoed van lig, en daarmee saam sal hulle inligting oor hul oorsprong saamdra.

Die historiese waarneming hiervan is op 14 September 2015 gedoen en die navorsing is in Februarie vanjaar gepubliseer en aangekondig.

Die werk is gedoen deur meer as ‘n duisend wetenskaplikes van Caltech, MIT, die Amerikaanse Navorsingstigting en die Laser-Interferometer Gravitasiegolf-observatorium (Ligo) se wetenskapspan.

Ligo (waarvan daar twee identiese opspoorders is) bestaan uit twee lynregte arms wat elk 4 km lank is. ‘n Laserstraal word geskyn en aan albei kante deur spieëls gereflekteer. Wanneer ‘n gravitasiegolf verbykom, veroorsaak die verwringing van die ruimte dat die arms van die interferometer beurtelings langer en korter word. Indien die arms se lengtes verander, is die laserstrale nie meer in pas nie en ‘n steuringspatroon word geskep. Dié effek is baie klein: 1/10 000ste die wydte van ‘n proton, maar die fyn instrumente kan dit meet.

En ‘n proton is so klein dat 500 miljard van hulle op ‘n kopspeld se kop kan pas.

Die klank van die heelal

In die betrokke eksperiment het hulle daarin geslaag om die sein in klank om te skakel. Wanneer dit gespeel word, maak dit ‘n onmiskenbare “tjirp” – ‘n vinnig stygende toon – gevolg deur ‘n dieper, dalende ploep-klank. Dit is die stralingspatroon van die nou gekombineerde gravitasiekolk. Die luidheid van die sein was ook ‘n tydsaanduiding van die botsing.

Dit het 100 jaar ná Einstein se voorspelling geneem om dit op te spoor omdat die tegnologie nie bestaan het nie. Teen die tyd dat die gravitasiegolwe die aarde bereik, is die rimpelings so ondenkbaar klein dit kan vergelyk word met ‘n haarbreedte se verskil tussen die son en die ander naaste ster, Alpha Centauri.

Grootste deurbraak nóg

Al is die botsing van twee gravitasiekolke nie iets besonders nie – daar word gereken dit gebeur elke 15 minute iewers in die heelal – is die opsporing een van die grootste wetenskaplike deurbrake nóg. Want Ligo het dit op presies die regte tyd en plek opgespoor.

Buiten die gravitasiegolwe wat opgespoor is, was dit ook die beste bewyse ooit vir die bestaan van gravitasiekolke. Hulle kan nie fisiek raakgesien word nie, maar die swaartekrag wat hulle op mekaar of ander voorwerpe het, kan waargeneem word.

Die ontdekking is verstommend, want dit wat nie sigbaar is nie – die bestaan van gravitasiekolke én gravitasiegolwe – is regstreeks waargeneem.

Dit is dus ‘n heel nuwe veld van sterrekunde. Die onsigbare, onaantasbare, en dalk die poorte tot die onbekende. Want van die grootste vrae oor die heelal moet nog beantwoord word: Wat is daar wat ons nie kan sien nie?

Daar is honderdmiljarde sterrestelsels in die heelal, maar dit is net ‘n skrale 5% van ál die materie. Die res is donker energie (68%) en donker materie (27%) en ons het nie ‘n idee wat dit werklik is nie, maar dit bestaan, want die swaartekraginvloed kan waargeneem word. Daar is “iets”.

Die hoop is op eksperimente soos Ligo en radio-sterrekunde, soos MeerKAT en sy broer wat tien keer groter sal wees, die Square Kilometre Array, om meer hieroor uit te vind.

Omdat daar beperkings is op die opsporing van gravitasiegolwe op aarde, is daar reeds sprake om dit in die ruimte te gaan doen. Die Europese Ruimteagentskap en Japan het reeds planne om drie ruimtetuie op te stuur wat tot 965 000 km van mekaar in ‘n driehoek in die ruimte geplaas word. Dié konstellasie sal dan hoëfrekwensie-gravitasiegolwe kan opspoor – hoe verder die opspoorders van mekaar, hoe beter, en indien dit in die ruimte is, is dit vry van fluktuasies in die aarde se gravitasieveld.

‘Groot uitdagings’

Prof. Neil Turok, ‘n Suid-Afrikaans gebore fisikus en direkteur van die Perimeter-instituut vir Teoretiese Fisika in Kanada, het op ‘n webvideo gesê “die goue era vir fisika het aangebreek om struktuur van die heelal te karteer”.

“Sodra data versamel is van vele sulke pare gravitasiekolke, sal hulle soos ligtorings versprei wees deur die heelal. Ons sal die snelheid waarteen die heelal besig is om uit te dy kan bepaal, asook met meer akkuraatheid hoeveel donker energie en materie daar is.”

Turok het voorts gesê Einstein het sy modelle geskoei op dit wat hy in die natuur waargeneem het en met logika. “Ons uitdagings is ewe groot, maar kan ons dit bereik?”.

Back to top

 

40. Meisie (12) swem in die rekordboeke in

(Die Burger, 13 April 2016)

Romantha Botha

Kaapstad. – Min jongmense kan daarmee spog dat hulle al van Robbeneiland af geswem het, maar ‘n 12-jarige meisie van Milnerton het geweet dit is wat sy wil en kan doen.

“Die eerste duik in die ysige water, van sowat 14 °C, was nogal koud, maar toe ek eers begin swem, was dit glad nie so sleg nie,” het Enya van Niekerk gister gesê.

Sy het verlede Donderdag die jongste vroulike langafstand­swemmer geword wat al van Robbeneiland na Bloubergstrand geswem het.

“Dit was baie lekker. Ek was ‘n bietjie bang vir robbe en haaie, maar toe ek eers klaar was, was ek so bly.”

Sy en haar pa swem elke naweek langs Bloubergstrand, waar sy ook as vrywillige menseredder werk.

Volgens Enya was die water Donderdag warmer as die sowat 13 °C waaraan sy gewoond is en het sy die swemtog as een van hul oefensessies aangepak.

“Ek hou van watersport en het eers by my skool geswem. Ek het dit later gelos en net naweke saam met my pa gaan swem,” het sy vertel.

Haar pa, Leon van Niekerk (49), het gesê hulle oefen al die afgelope vyf maande vir die uitdaging.

“Suidoostelike winde het die swemtog baie moeilik gemaak, maar sy het deurgedruk en gewys hoe verstandelik sterk sy op haar jong ouderdom is,” het hy gesê.

Sy het die 7,3 km van Robben-eiland na Bloubergstrand in net drie uur en 13 minute afgelê.

Volgens Derrick Frazer van die Kaapse Langafstand-swemvereniging, wat deel uitgemaak het van die veiligheidspan en op die uitkyk was vir moontlike gevaar, was die seetoestande nie so gunstig soos wat hulle gehoop het nie.

“Hulle het teen ‘n sterk suidoostelike wind geswem wat hulle ‘n bietjie van koers af gestoot het. Enya is egter ‘n sterk swemmer en ‘n mens kon dit sien aan haar slae,” het Frazer gesê.

Die swemspan, Team Mocean, het bestaan uit Enya en haar pa, Leon van Niekerk, Brendon Hiscock (wat langs Enya geswem het) en George Halloway, terwyl Derrick Frazer en Djebbe Hiscock vir enige gevaar uitgekyk het.

Back to top

 

41. Hoogste gebou mik na 1 km

(Die Burger, 13 April 2016)

Elvira Wood

Johannesburg. – In 2022 gaan die wêreld die eerste wolkekrabber sien wat 1 km hoog die lug in troon.

Die toring, wat na raming $1,23 miljard gaan kos, rys reeds uit die sand in Jeddah, Saoedi-Arabië.

Die gebou sou oorspronklik al in 2018 voltooi gewees het en sou 1,6 km hoog wees, maar is aansienlik aangepas weens geologiese redes.

Die huidige wêreldrekordhouer, die Burj Khalifa wat 828 m hoog is en in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate staan, se dae as kampioen is ook daar getel met Emaar Eiendomme wat teen 2020 Die Toring daar wil voltooi wat net ‘n “raps” hoër as sy voorganger gaan wees.

Bouwerk gaan glo in Junie vanjaar begin en sal betyds klaar wees om die Wêreldskou in 2020 daar te hou, berig Bloomberg. “Ons wou ‘n nuwe landmerk bou vir Dubai,” sê Mohamed Alabbar, voorsitter van Emaar.

Volgens Alabbar gaan Die Toring ‘n uitkykdek hê, tuine en 18 tot 20 verdiepings vir winkels, restaurante en ander toeristegeriewe. Dit gaan sowat $1 miljard kos.

Afrika se hoogste gebou, die Carlton-sentrum in Johannesburg, is slegs 223 m hoog.

Elisha Graves Otis se eerste hyser in 1852 was die deurbraak vir al hoër geboue in moderne stede, vertel prof. Kourosh Kayvani, internasionale gebou-ontwerpleier van die raadgewende ingenieursfirma Aurecon.

Daarna het staalraamkonstruksies gehelp om toenemend nuwe rekords te haal, met die voorafvervaardigde komponente vir die Eiffel-toring in 1889 wat argitekte nuwe vertroue gegee het in die lewensvatbaarheid van hoë metaalstrukture. Teen 1903 was die 16-verdieping Ingalls-gebou in Chicago die eerste wolkekrabber van versterkte beton, wat destyds as ‘n gewaagde ingenieurs-prestasie beskou is.

Sedert die 50’s het tegnologiese vordering met hoëkrag-boute, glasmetaal-fasades, elektriese sweiswerk en vordering in versterket beton vir argitekte en ingenieurs gehelp om al hoe hoër geboue op te rig. Dit sluit die super-hoë geboue in Chicago van die 60’s en 70’s in wat buis-ontwerp gebruik het om sterk winde te kan trotseer. Die afgelope dekades het die bou van megahoë geboue in ‘n internasionale kompetisie ontaard. Tot 97 geboue hoër as 200 m is in 2014 voltooi, die meeste nog in ‘n jaar, en 60% van hulle was in China.

Argitektoniese en struktuurfaktore soos die konteks, posisie en slankheid van ‘n gebou vereis buigsamer definisies van megahoë geboue. “Dun” geboue soos dié in New York waar die hele oppervlak van elke verdieping uit ‘n enkele luukse woonstel bestaan, is nie oral moontlik nie.

Kayvani sê Asië en die Midde-Ooste bou al hoe meer hoë geboue. Tot 20 jaar gelede was 75 van die 100 hoogste geboue in Noord-Amerika, maar in 2014 was dit minder as 25.

Die boumateriaal verander ook. In 1970 is 90 van die 100 hoogste geboue slegs uit staal vervaardig. Vandag is minder as 15 van die 100 hoogste geboue slegs van staal, en beton of saamgestelde strukture kry voorkeur.

Namate geboue al hoe hoër en “slanker” word, word hul ontwerp toenemend bepaal deur spesifieke faktore soos wind, hoe “glad” die gebou is en hoe hy op sy as wieg.

Hoe die wind om so ‘n hoë gebou waai, kan ‘n regstreekse impak op die benutbaarheid van die gebou hê, asook die gerief van die inwoners. Ontwerp moet dus windgeraas en gebou-vibrasies tot die minimum beperk.

Back to top

 

42. Adresprobleem getakel

DIÉ KIESERS KRY UNIEKE NOMMERS

(Die Burger, 13 April 2016)

Philda Essop

Kaapstad. – Die staat het met slegs 102 dae voor die plaaslike regeringsverkiesing en toenemende kommer oor adresse wat nie op die kieserslys is nie, begin om “identifiseerders”, oftewel unieke nommers, aan mense te verskaf wat nie konvensionele adresse het nie.

Dié nommers is geografies identifiseerbaar en kan deur middel van ‘n elektroniese rigtingwyser (GPS) of die internet opgespoor word, het Vusi Madonsela, direkteur-generaal van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, gisteroggend aan LP’s gesê.

‘n Subkomitee onder leiding van Statistieke Suid-Afrika (SSA) en die Poskantoor is vroeër aangestel om opsies en voorstelle te ondersoek om adresse aan kiesers toe te ken.

Adresse vir sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners wat voor 30 November verlede jaar geregistreer is, kort of is onvoldoende op die kieserslys.

Daar is kommer hieroor nadat die kieshof in Februarie gelas het dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) waar moontlik adresse op die kieserslys moet aandui.

Die OVK se aansoek om verlof tot appèl daarteen word op 9 Mei in die konstitusionele hof aangehoor.

Die OVK vra in sy appèlaansoek alternatiewelik vir grasie tot 2020. Hy erken in hofstukke dit gaan onmoontlik wees om teen Junie, wanneer die kieserslys afgehandel moet wees, adresse vir al die kiesers op die lys te kry.

Die departement het ‘n voorlegging oor sy gereedheid vir die verkiesings op 3 Augustus aan die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake gelewer. Madonsela het op die vrae van komiteelede gesê konvensionele adresse is beskikbaar in vier van die sewe wyke in Tlokwe in Noordwes.

Die departement, die SSA en die Poskantoor het begin om identifiseerders aan inwoners van drie ander wyke in Tlokwe toe te ken waar daar baie informele nedersettings is. Hy het daarop gewys dat dit nie geproklameerde gebiede is nie, wat beteken dat die aktekantoor nie bewus is van die bestaan daarvan nie.

Daar word nie na die nommers as addresse verwys nie, het Madonsela gesê.

“Ons noem dit identifiseerders en dit sal gebruik word vir die doeleindes van die verkiesing en sekere regeringsdienste. Dit sal die OVK help om te bepaal of mense wat in ‘n spesifieke gebied wil stem inderdaad inwoners daar is,” het hy gesê.

Die plan is om dit landwyd beskikbaar te stel.

Hy het gesê die risiko dat mense wat lankal geregistreer het se adresse nie op die kieserslys is nie, is groot aangesien dit nie vroeër ‘n vereiste was nie.

Back to top

 

43. Afrika? Hier maak ons net ‘n plan

(Die Burger, 26 Mei 2016)

Marnus Hattingh PADLANGS

Op Heathrow-lughawe, ‘n jaar of vyf gelede, keer ‘n ouerige egpaar my voor waar ons vir ‘n bus wag. Hulle herken my aksent.

Dit blyk toe die egpaar is Zimbabwiërs wat vir hul kinders in Engeland kom kuier. En soos dit maar gaan, drentel die gesprek na die geliefde kontinent en sy uitdagings.

Die laaste woorde van die twee onthou ek nog goed: “Ons leuse in Zimbabwe is: M.A.P.”

M.A.P? Ja, verduidelik hulle: Make a plan.

Vroeg die week is ek weer aan hierdie gesprek herinner. Ons staan met ‘n glas wyn op die vertoonvloer van spoggerige rygoed. ‘n Groep Europeërs en ‘n Suid-Afrikaner het pas in een van dié peperduur 4×4’s in ‘n rekordtyd van die noordelikste punt in Europa tot Afrika se suidpunt gereis.

Dit is ‘n lekker avontuur en die einste wiele staan hier tussen ‘n rits ander sportmotors geparkeer. Ethiopiese stof en al nog op sy buffers en deure.

In eg Europese styl het hulle maande aan die aanslag beplan. Om iets soos 17 000 km te ry deur 20 lande, waarvan ‘n klomp in administratief gestremde Afrika sit, verg deeglike dinkwerk.

Dis nie net vir vinnig ry nie. Jy moet slim ry.

Sê die Suid-Afrikaner wat dit meegemaak het: In Europa kon een lid ‘n sesuurskof bestuur terwyl die ander twee gedut het. Maar in Afrika het hulle gou gevind dat vier oë op die pad nodig is. En toe kom die teëspoed.

Om die rekord van nege dae enige ure te verbeter, moes hulle noodgedwonge ook deur die nag ry – wat in Denemarke en Duitsland soos melktert ná koffie is.

Maar in Egipte was die polisie strykdeur aan hul sy om ‘n sambreel van AK-47’s te verskaf. Gerusstellend, in ‘n mate. Maar ook bisar as jy met ‘n masjiengeweer op jou rug in die badkamer moet gaan peins.

Hy vertel dat ‘n vreeslike reënbui in Ethiopië uitgebars het. Die grondpad was net modder en water. Maar die slegste was dat al die slaggate gelykvol water was en hulle dus nie meer die diepte daarvan kon skat nie.

En so, laat een nag, tref hulle “teen ‘n stewige spoed” ‘n slaggat. Altwee linkerwiele is beskadig, en die vering links voor skoon losgeruk. Dis donker, nat en modderig. Wat nou?

Toe maak hulle ‘n plan, soos ons kennelik kon sien, want hier staan die wa in die Kaap met ‘n lastige systap na links en ‘n nuwe rekord agter sy naam.

Sulke verhale is inspirerend. Midde-in ‘n gemors is dit diep donker. Jy weet nie hoe jy daar gaan uitkom nie. Maar volgende week is als weer reg en het jy ‘n ongelooflike storie om by die vleisbraai te vertel.

My gasheer, deesdae hoog op in die Duitse sportmotorgroep, was desjare ‘n segsman van ‘n Chinese invoerder. Hy vertel Beijing wil ‘n nuwe bakkie na die land bring. Hoe gaan hy dit bemark? Waarop hy ‘n blink plan voorlê: Kom ons ry met die bakkies van Beijing na Johannesburg.

Nou, daar in sy Sandtonse kantoor het dit na ‘n goeie plan geklink. Ses maande later, iewers in Jemen se woestyn met ‘n stamhoof op ‘n kameel en ‘n vies lyfwag te voet langs hom, het die glans verdof.

Die stamhoof wou weet watter voordeel hierdie grootste rit van China na Suid-Afrika vir hom inhou. En terloops na sy maer kameel gekyk.

Die lyfwag het sy skurwe tone in sy sandale gewikkel vir dramatiese effek.

Die konvooi van twee Chinese halftonlorries en twee sportnutse in die gedaante van ‘n KFC-brood op wiele, het Sandton gehaal.

Iewers in die Arabiese skiereiland is daar vandag ‘n kameel met ‘n nuwe waterbak en ‘n knorrige lyfwag met ‘n Makro-geskenkbewys.

Maar iets is gedoen en die rit het voortgegaan.

Ek skop die agterwiel met die uitstap. Ons maak maar net nog ‘n plan, dink ek en vryf Ethiopië se poeiersand voor my neus.

Back to top

 

44. Treinbus op stelte in Beijing getoets

Chinese oorweeg nuwe vervoerstelsel

Motorredaksie

(Die Burger, 2 Junie 2016)

‘n Chinese maatskappy wat ‘n vertikale bergingstelsel vir fietse op sy kerfstok het, mik nou ‘n raps hoër: ‘n Bielie van ‘n bus wat soos ‘n trein wydsbeen oor twee motorbane ry.

Maar dis nie al nie. As die Shenzhen Hashi Future Parking-groep se ambisieuse plan op dreef is, sal gewone motors die snelweg met die fris bus kan deel – want hulle sal onderdeur die bewegende bus kan ry.

Dit klink straks na ‘n lugkasteel, ‘n trein van vier busse aan mekaar geheg met ‘n konsertina-strook tussen die eenhede wat teen 60 km/h op ‘n snelweg ry. En dit boonop op stelte van 2 meter bo die grond. Maar die groep is volstoom besig met voorbereiding vir ‘n toetslopie later in Augustus.

Youzhou Song, grootbaas van Future Parking en skepper van die treinbus, het reeds in 2009 begin om die planne te skets. Destyds was China midde-in ‘n groeifase en het al meer jong Chinese van die platteland na die stede gestroom.

Dié verstedeliking het tot grootskaalse verkeersknope gelei. Youzhou se aanvanklike projekte was om ekstra parkeerplek vir beknopte, oorvol stadskerns te vind. Vandaar sy stelsel waar fietse met ‘n hysbak vertikaal opmekaargestapel kon word.

Maar toe, verduidelik hy, wonder hy of dié vertikale stelsel nie ook na massavervoer uitgebrei kan word nie.

Sy oplossing is radikaal, maar Beijing se stadsvaders is glo reeds besig om ‘n toetsbaan oor 10 km op te rig om sy stelsel te toets.

Sy treinbus bestaan uit vier waens wat elk op stelte staan. Onderaan elke stelt is ‘n stel treinwiele. Dié wiele ry op treinspore wat aan weerskante van ‘n pad neergelê is. Al verskil tussen sy treinbus- en gewone treinspore is dat Youzhou se spore weerskante van twee verkeersbane is.

Die treinbus is 6 meter breed en het ‘n vertikale opening van net meer as 2 meter tussen sy pens en die teerpad. Die treinbus kan teen 60 km/h ry en 1 400 passasiers vervoer.

Soos die bus op sy spore om ‘n skerp draai ry, moet die konsertina-gedeelte tussen die waens merkbaar nader en verder trek om die knak-effek te skep.

Youzhou sê sy plan het baie voordele. In een van hierdie treinbusse kan net soveel mense vervoer word as waarvoor jy 40 gewone busse nodig sou hê. Dit verminder dus die verkeersdrukte.

Die tweede voordeel is dat die bus geen plek op die pad inneem nie. Dit kan dus nie ‘n opeenhoping veroorsaak nie. Dit is omdat die gewone verkeer onderdeur hom kan ry – wanneer hy ry, asook wanneer hy by ‘n halte stilhou.

‘n Derde en vierde voordeel is besoedeling en brandstofbesparing. Deurdat slegs een voertuig gebruik word, word minder brandstof benodig en word minder uitlaatgasse vrygestel.

En dan laastens is die inwerkingstellingskoste heelwat laer as vir ‘n trem- of moltreinstelsel, verduidelik Youzhou.

Volgens sy beramings kos die oprigting van ‘n moltreinstelsel maklik tien keer meer as vir die treinbus oor dieselfde afstand.

Slegs die treinspore moet weerskante van die snelweg neergelê word. Dus is daar geen grootskeepse tonnelwerk betrokke soos wat ‘n moltrein benodig nie.

Beijing se stadsvaders het gesê as die toetse in Augustus goed afloop, kan hulle ‘n sirkelroete van 150 km in die middestad oprig.

Die treinbus word aangedryf deur elektrisiteit, waarvan ‘n gedeelte deur sonpanele op die dak opgewek word.

 

Kan dit werk?

Die Chinese se jongste plan klink voortreflik in sy eenvoud. Tog is daar ‘n paar voorbehoude wat ons kan voorsien:

 

  • Straatlampe en brûe (voetgangerbrûe ingesluit) moet óf afwesig wees óf hoog genoeg wees sodat die hoë voertuig onderdeur kan beweeg.
  • Twee meter is nie so hoog om onderdeur die bus te kan ry nie. Vragmotors en busse, sowel as paneelwaens, sal dus op hierdie roetes verbode moet wees.
  • Gaan verkeer werklik onderdeur so ‘n lang bewegende “tonnel” wil ry? Stadsverkeer ry grootliks teen 60 km/h – dieselfde snelheid as die treinbus. Om dus onderdeur te kom, sal jou spoeddifferensiaal veel groter moet wees. ‘n Voertuigbestuurder sal eerder terughou, veral as hy vorentoe van baan wil verander.
  • Nuwe, hoë bushaltes sal gebou moet word, teen ‘n groter koste as ‘n gewone bushalte (soos deur die Kaapstadse MyCiTi-diens).
  • Is so ‘n stelsel werklik beter as ‘n trem? Wanneer ‘n trem verbygery het, is die pad weer oop vir verkeer om bo-oor die spore te ry.
  • Om 1 400 mense op ‘n slag op- of af te laai, gaan lang wagtye by ‘n halte teweegbring.

Back to top

 

45. Japanners wys Nammawan hoe

Knormoer

(Die Burger, 26 Mei 2016)

Knormoer sien die Yanks het hul messe in vir die Duitse vervaardigers.

Die jongste relletjie kom in die vorm van ‘n prokureursgroep in Los Angeles wat BMW met ‘n klasaksie hof toe gesleep het.

Dit beteken die groep dagvaar BMW vir skadevergoeding namens ‘n rits eienaars.

Die motor in die gedrang is BMW se i3, sy kompakte elektriese motor. Spesifiek het die prokureurs die i3 REx in die visier – dit is die i3 wat met ‘n klein petrolenjin toegerus is.

Waar die gewone i3 slegs ‘n battery en ‘n elektriese motor het, het die REx ‘n GS-motorfiets se 650 cc-enjintjie (twee silinders) ook onder die neus.

Dié motorfietsenjin moet as ‘n kragopwekker vir die battery dien. Dus, terwyl jy op batterykrag ry, is die enjintjie aan om die battery drupsgewys te herlaai.

Soos jy ry, gebruik jy steeds meer batterykrag as wat hy kan herlaai, vandaar die REx-naam (range extender).

Wanneer die battery heeltemal pap is, sal jy vir oulaas nog ‘n paar kilometer met die petrolenjin as kragbron kan ry.

Nou, om die motor as ‘n suiwer batterygedrewe voertuig vir die Kaliforniese wetgewers te kon laat kwalifiseer (met gepaardgaande voordele), moes BMW die sagteware so programmeer dat die enjintjie eers aan die gang skop wanneer die battery omtrent heeltemal pap is.

Maar hier is die gelol: Die battery bied veel meer krag as die motorfietsenjin. Dus, sê die prokureurs, as jy met vier mense in die i3 ry, of teen ‘n lang, steil bult uit en die battery loop leeg sodat die petrolenjin inskop, kan jy ‘n skerp afname in spoed ondervind. En dit, sê hulle, is lewensgevaarlik.

BMW moet elke i3 se sagteware aanpas dat die enjin vroeër aan die gang kom, en ook die i3-eienaars vergoed.

Dis ‘n belangrike saak. BMW, soos ander Duitse vervaardigers, vaar goed in Amerika, terwyl Ford en General Motors in 2009 deur staatshulp uit die knyp gered moes word. Chrysler het heeltemal gevou.

Die skielike regsaksies teen die suksesvolle Duitse groepe is dus opmerklik.

  • Knormoer is self nie ‘n aanhanger van die i3 REx nie. Maar daar is tog ‘n klankie van opportunisme in die saak te bespeur. Wil ons “groen” motors bevorder of bloot nydig wees met ‘n sterk winsmotief bygelas?

 

DINSDAG

Intussen, in Japan

Die vlak van korporatiewe verantwoordelikheid vir ‘n saak is oorsee net soveel hoër as in die Suid-Afrikaanse parlement.

Dit het Knormoer weer eens besef toe hy die harakiri by Mitsubishi se direksie vandeesweek waargeneem het.

Die Japanse groep se grootbaas, sowel as sy tweede in bevel, het pas aangekondig hulle sal op 24 Junie bedank.

Dit kom nadat Mitsubishi pas erken het dat hy gekul het met sommige van sy voertuie se brandstofverbruiksyfers.

Aanvanklik is gedink dit is net ‘n handvol van sy Kei-motors (klein voertuie wat net in Japan verkoop word) wat geraak is. Maar toe blyk dit die groep het ook oor die verbruik van sy hibridiese Outlander gejok.

Die groep het glo die syfers 15% laer gemaak sodat die voertuie aan Europese wetgewing kon voldoen.

Die president en vise-president gaan nou bedank “omdat hulle ‘n kultuur toegelaat het waar mense oor sulke dinge kon jok”.

Dus, hoewel hulle nie self oortree het nie, bedank hulle steeds.

  • Knormoer is lus en gaan spring in ‘n vuurpoel.

 

SATERDAG

‘n Dodge-Chinees

Knormoer sien die Chinese groep Guangzhou Automotive stel glo belang om ‘n beherende aandeel in Fiat Chrysler te bekom.

Die Chinese ontken dit natuurlik, maar in Turyn loop die gerugte dik dat Fiat sy Amerikaanse belange (Dodge, Jeep en Chrysler) aan die Chinese wil verkoop.

  • Gaan ons nou ‘n Jeep Lenegade en ‘n Jeep Langler sien?

Back to top

 

46. ‘Die Elvis van boks’ het gegroet

MUHAMMAD ALI 1942-2016

(Die Burger, 6 Junie 2016)

Die bokslegende Muhammad Ali het die naweek gesterf. Só onthou Bun Booyens hom.

Iewers in die laat jare sestig het my pa my na die dorp se stadsaal geneem om ‘n paar ou boksflieks te gaan kyk. Ek was nege jaar oud. Daar in die donkerte het die projektor begin kr-r-r-r-r en skielik het die groot swaargewigte van die 20ste eeu in swart-en-wit voor my begin beweeg: Jack Johnson (een van die bestes nóg), Jack Dempsey (kliphard), Joe Louis (ekonomies, dodelik), Rocky Marciano (slordig, rateltaai)…

En toe wys die projektor-oom die geveg wat my ‘n lewenslange boksliefhebber sou maak: 1966, Muhammad Ali teen Cleveland Williams.

Ek het reeds geweet van Ali. My ouer broer het vertel dat hy “baie vinnig en in die tronk” is. Ek het al foto’s van hom gesien in Die Burger en Die Huisgenoot, maar hy was “staties” – nes Frik du Preez en Mannetjies Roux voor die koms van televisie.

En toe, hier voor my oë in Stellenbosch se stadsaal, kom Ali uit sy hoek, klap sy handskoene teen mekaar en begin sirkel om Williams met ‘n grasie wat ek sedertdien nog nie weer gesien het nie, selfs nie op ‘n verhoog nie.

Linksom, regsom dans hy, hande op sy heupe. Nou die linkervoet voor, dan die regtervoet. Williams jaag hom. Ali buk, wieg, mik-mik, koes, systap. Williams slaan. Mis. Mis. Weer mis…

Die geveg duur net drie rondes. Ali slaan vir Williams vier keer plat, in moontlik die mees kliniese boksgeveg in swaargewiggeskiedenis. Gaan kyk self, al hou jy nie van boks nie. Tik net “Ali vs Williams” in op Google.

Ek stap uit die stadsaal met ‘n nuwe held.

‘n Jaar of drie later kuier ek tydens die skoolvakansie by ‘n maat, Marius Loots, op hul plaas, Muiskraal, buite Prieska. Een aand sit ons op die stoep en gesels oor boks, en uit die bloute sê sy ma, tannie Marie: “Ek het Ali ontmoet,” en vertel hoe sy hom oorsee teëgekom het.

Sy stap huis-in en kom terug met ‘n poskaart in die hand. Agterop is ‘n vloeiende handtekening: Muhammad Ali. Net dit. Geskryf met dieselfde regterhand waarmee hy vir Cleveland Williams platgeslaan het. On-ge-loof-lik.

En daarso het die aard van Ali se roem tot my deurgedring: Hy was só bekend dat selfs mense in die diep-Karoo – tot hier op Muiskraal se stoep – van hom geweet het en sy handtekening wou vra. Niemand in Amerika sou byvoorbeeld Frik of Mannetjies s’n vra nie. Maar meer as dit: Ali was bereid om sy handtekening te gee as iemand van Prieska daarvoor sou vra.

Daar is basies drie hoofstukke in Ali se krytloopbaan. Sy twee gevegte teen die gevreesde Sonny Liston, die drie teen Joe Frazier, en dan die “Rumble in the Jungle” in 1974 teen George Foreman.

Die belangrikste hoofstuk is waarskynlik die drie jaar tussen 1967 en 1970 toe Ali, in sy fleur as atleet, nié geboks het nie. In 1966 is hy vir militêre diens opgeroep, maar het geweier, met ‘n stelling wat ‘n politieke wekroep sou word: “I ain’t got no quarrel with them Viet Cong. No Viet Cong ever called me nigger.”

Sy bokslisensie is opgeskort en sy titel van hom afgevat, maar ten spyte hiervan raak Ali in dié tyd moontlik die bekendste gesig ter wêreld – nou as aktivis, eerder as sportman met ‘n gladde mond. Hy rys internasionaal, spreek hom uit teen die VSA se oorlog in Viëtnam, praat op kampusse.

“I am America,” sê hy. “I am the part you won’t recognise. But get used to me. Black, conficent, cocky. My name, not yours. My religion, not yours. Get used to me.”

Toe hy in 1970 weer toegelaat is om te boks, was Ali verby sy beste. Joe Frazier klop hom oor 15 rondes. Ali se eerste nederlaag. Ken Norton slaan sy kakebeen af en klop hom ook oor 15. En daar is ‘n skrikwekkende nuwe swaargewig op die toneel, George Foreman.

Hy slaan vir Joe Frazier met minagting ses keer plat binne twee rondes. Norton word ook binne twee rondes verpletter. Dan, in Oktober 1974, kom Ali aan die beurt in Kinshasa…

Ek was destyds in st.7 en het die aanloop tot die geveg in Die Burger dopgehou. Niemand het vir Ali die geringste kans gegun nie. Foreman was eenvoudig te groot en sterk – onoorwonne in 40 gevegte, 37 van hulle met ‘n uitklophou, gemiddeld binne 3 rondes. Die wedsyfer is 8 teen 1, en 40 teen 1 dat Ali die laaste klok sal haal.

Die skrywer Norman Mailer beskryf in sy boek The Fight hoe Foreman se afrigtingspan voor die geveg in die kleedkamer gebid het – nie vir Foreman nie, maar dat die Hemelse Vader sal keer dat Ali ernstig beseer word.

Die geveg het 04:00 plaasgevind sodat dit in spitstyd in Amerika uitgesaai kon word. My pa het my die oggend in sy bruin kamerjas kom wakker maak. “Hy’t gewen!” het hy gesê en sy kop geskud.

“Ali het hom so waar as wragtag uitgeslaan.”

Mailer beskryf Ali se laaste regter in die agtste ronde as “the blow Ali saved for a career”. En Foreman se val: “He went over like a six-foot sixty-year-old butler who has just heard tragic news.”

Sewe jaar nadat sy titel van hom afgevat is, was Muhammad Ali weer die wêreldkampioen.

Daarna het Ali nog 22 gevegte gehad, elkeen onnodig. In dié tyd het hy waarskynlik die skade opgedoen wat bygedra het tot die Parkinson-simptome wat in 1984 by hom gediagnoseer is. In 1996 was die wêreld geskok om te sien hoe Ali kwalik in staat was om die Olimpiese vlam by die Spele in Atlanta aan te steek.

Was Ali werklik “The Greatest”?

Hy is steeds die enigste swaargewig wat die wêreldtitel drie keer kon verower, en in ‘n era van formidabele vegters. Maar doen tog moeite om daardie geveg teen Cleveland Williams te gaan kyk.

“That night he was the most devastating fighter who ever lived,” het die kommentator Howard Cossell ná die tyd gesê. Ali se bokslisensie is enkele maande hierna ingetrek. Tussen die ouderdom 25 en 29 is hy nie toegelaat om te veg nie. Ons het Ali dalk nooit op sy beste gesien nie.

Elk van sy teenstanders se loopbaan is gedefinieer bloot deur die feit dat hulle teen hom deur die toue geklim het. George Chuvalo staan vandag nog bekend as “die taaiste man in Kanada” omdat Ali hom nie in 1966 kon uitslaan nie.

Joe Bugner is aangewys as Australiër van die Jaar nadat hy in 1973 ver met punte teen Ali verloor het. Chuck “the Bayonne Bleeder” Wepner, wat in 1975 14 rondes teen Ali staande gebly het, was die inspirasie vir Sylvester Stallone se Rocky.

Ali het die bloudruk geskep van wat ‘n sportheld kan vermag, op die veld en in die openbare lewe. En hy het dit reggekry sonder beeldbouers en borge.

Hy was sy eie handelsmerk. The Greatest.

Ek het onlangs vir tannie Marie Loots gebel om te hoor of ek die storie oor die handtekening reg onthou. Ja, sy was saam met Ali op ‘n vlug tussen Londen en Dallas. Hy was vriendelik en geduldig. Sy mense was gaaf.

‘n Week later is ek terug op kantoor. Daar wag ‘n klein, bruin koevert vir my. Ek maak dit oop. Binne is ‘n poskaart met ‘n prentjie van ‘n kabbelkarretjie iewers. Ek draai dit om. Dit is al effens geel. Agterop is ‘n netjiese handtekening. Muhammad Ali.

 

Ali in ‘n neutedop

1960 Wen die goue medalje (ligswaargewig) by die Olimpiese Spele in Rome.

1964 Met die wedsyfer 1:8 teen hom, klop hy Sonny Liston en word swaargewigkampioen van die wêreld.

1967 Weier om militêre diens te doen. Sy titel word afgeneem en sy bokslisensie opgeskort.

1971 Sy vonnis word tersyde gestel.

1974 Die “Rumble in the Jungle”. Ali slaan George Foreman in die agtste ronde uit en herwin sy titel 7 jaar nadat dit by hom afgeneem is.

1975 “The Thrilla in Manila” Ali klop Joe Frazier in wat bestempel word as een van die strafste gevegte in die geskiedenis.

1978 Verloor sy titel teen Leon Spinks.

1979 Klop Spinks en word die eerste en enigste swaargewig om die wêreldkroon drie keer te wen.

1980 Tree uit.

1984 Parkinson se siekte word by hom gediagnoseer.

1999 Word deur verskeie organisasies en tydskrifte aangewys as Sportpersoonlikheid van die Eeu.

 

ALI IN SY EIE WOORDE

Aan Floyd Patterson

  • Hey Floyd, I seen you! Someday I’m gonna whup you! Don’t you forget, I’m the greatest!” – as 19-jarige amateur by die Olimpiese Spele aan Patterson, swaargewigkampioen van die wêreld (hy het Patterson later twee keer geklop)

 

Oor gholf

  • “I’m the best, I just haven’t played yet.”

 

Oor Sonny Liston

  • Joernalis: “I saw Sonny Liston a few days ago and…”

Ali: “Ain’t he ugly? He’s too ugly to be a world champion!”

 

Oor Joe Frazier

  • “Frazier is so ugly that he should donate his face to the US Bureau of Wildlife.”
  • “Joe Frazier is so ugly that when he cries, the tears turn around and go down the back of his head.”
  • “I’m gonna hit him so hard, he’ll need a shoehorn to put his hat on.”

 

Oor sy eie talente

  • “I’m the greatest. Not only do I knock ‘em out, I pick the round.
  • “It’s hard to be humble when you’re as great as I am. It’s not bragging if you can back it up.”
  • “If you even dream of beating me you’d better wake up and apologize.”

Back to top

 

47. Lesers se olyfgeheime: Van warm slaai tot bredie

(Die Burger, 27 April 2016)

Daphné van der Merwe glo ‘n warm mengelslaai met olywe sal dié winter in die kollig wees.

 

Jy benodig:

  • 125g gemengde sampioene, gekap
  • 1 middelslag ui, gekap
  • 4 tot 5 mooi murgpampoentjies, in wieletjies gesny
  • ‘n koppie olywe van jou keuse (of meer!)
  • koppie blomkool in blommetjies gebreek
  • koppie brokkoli in blommetjies gebreek
  • ‘n blikkie tamaties
  • ‘n lekker handvol kruie en feta-kaas
  • ‘n skeut paprika
  • 1 tot 2 teelepels gedroogde Italiaanse kruie
  • 1 teelepel fyn knoffel
  • sout en swart peper na smaak
  • olyfolie

Opsioneel:  blikkie soetmielies vir kleur

 

Maak dan só:

Braai die uie in olyfolie tot deurskynend en voeg die knoffel by. Braai vir 2 minute. Gooi die murgpampoentjies, sampioene en kruie by. Dan volg die tamaties, olywe, brokkoli en blomkool. Die tamatie se vog moet wegkook, maar die brokkoli en blomkool moet nog krakerig wees. Wanneer alles nét-nét gaar is, skep dit in ‘n slaaibak en laat afkoel. Meng feta, ‘n bietjie olyfolie en vars kruie voor opdiening by.

Annaleze Sieberhagen van die Strand hou dit eenvoudig:

Ek hou daarvan om ‘n bredie te maak met baie olywe en songedroogde tamaties. Gebruik die groente in seisoen, maar wortels en aartappels is ‘n moet.

Stefaans Olivier van Swellendam is afgetree en staan graag vir sy vrou, Suzanne, agter die potte in wanneer sy wil rus.

“Om te besluit wat om te kook óf te verbrou, kos beplanning en inspirasie. Om dít te kry, loop ek reguit yskas toe, maak die potjie olywe oop (wat ek self inlê), haal sewe olywe uit en druk die eerste een in my mond.

“As ek by olyf nommer 5 kom, het ek al ‘n goeie idee, en wanneer ek by olyf 7 se pit kom, is ek gereed om met die aandete te begin. Maar ek gebruik nooit olywe in my kos nie. Dis te kosbaar om tussen minderwaardige bestanddele in te gooi.

“Miskien in ‘n groen slaai, maar dan raak ‘n mens reeds onverskillig.”

Back to top

 

WINTER PUDDINGS

With the winter in full swing, there are few things as comforting

as a baked pudding after a meal. Warming up for the rugby!

48. Malva Pudding

There are many theories about where the name came from. I prefer to believe that it came, quite simply, from the spongy texture of the pudding after it’s been baked. It’s the ultimate winter dessert (if not the most popular in S.A.) … rich, syrupy and spongy … served with custard or vanilla ice cream … divine! Serves 8

Malva Pudding

cup (125ml) sugar

1 extra-large egg

1 Tbsp (15ml) vinegar

1 Tbsp (15ml) apricot jam

1 cup (250ml) flour

1 tsp baking powder

pinch of salt

1 tsp (7ml) bicarbonate of soda

1 cup (250ml) milk

 

Syrup

1 cup (250ml) sugar

cup (125ml) boiling water

1 cup (250ml) cream

2 Tbsp (30g) butter

1 tsp (5ml) vanilla essence

 

  1. Preheat the oven to 160°C and butter an oven-proof dish (with a volume of 2.75 litre)
  2. Beat sugar and egg together until creamy
  3. Add vinegar and apricot jam and beat well
  4. Sift flour, baking powder and salt together, then mix into sugar/egg mixture
  5. Mix the bicarbonate of soda with milk, then stir this into the mixture
  6. Pour into the prepared baking dish and bake for 45-60 minutes until cooked through
  7. Prepare the syrup shortly before removing the pudding from the oven
  8. Heat sugar, water, cream and butter, while stirring, until the sugar has dissolved
  9. Boil together for 5 minutes, add vanilla and pour the boiling syrup over the pudding as soon as you remove it from the oven
  10. You can return the pudding to the oven for about 5-10 minutes
  11. Serve with cream, custard or ice cream

Back to top

 

49. Cape Brandy Pudding / Tipsy Tart / Brandewyntert

This favourite Cape classic, which goes under at least 3 names, is one of South Africa’s best known traditional recipes. With good reason too … it is simply divine. I suppose the name Tipsy Tart was derived from the brandy which is one of the main ingredients in the pudding.

Ingredients are for a small pudding – 6-8 portions.

 

Pudding

125g dates, stoned and chopped

1/2 cup (125ml) boiling water

1/2 tsp (2ml) bicarbonate of soda

1/4 cup (60g) butter

1/2 cup (100g / 125ml) soft brown sugar

1 large egg, beaten

1 cup (250ml) flour

1/2 tsp (2ml) baking powder

1/4 tsp (1ml) salt

1/2 tsp (2ml) cinnamon

1/4 tsp (1ml) ginger

pinch nutmeg

zest of 1 orange

1/2 cup (50g) chopped walnuts or pecan nuts

 

Syrup

2/3 cup (150ml) soft brown sugar

1 tsp vanilla essence

2 tsp (10ml) butter

pinch of salt

1/3 cup (90ml) water

1/4 cup (60ml) brandy

1 cinnamon quill

 

Double the ingredients for a large pudding (12-16 portions. Great to take along to a pot luck dessert table)

  1. Pour the boiling water over the chopped dates in a saucepan or microwave dish
  2. Heat to boiling point
  3. Remove from heat and mix bicarbonate of soda into the mixture – mix well and leave to cool
  4. Cream the butter and sugar – beat egg in to make a smooth mixture
  5. Sift flour, baking powder and salt over the creamed mixture and fold in
  6. Mix in the remaining dates and the nuts – stir in the bicarbonate of soda and date mixture and mix well
  7. Ladle into a baking dish … for a small pudding use a 1.5 litre baking dish such as a 23 cm pie plate. For a larger pudding use a 3 litre baking dish with a base that measures approximately 280mm 280mm
  8. Bake at 180°C for 30-40 minutes (small puddings) or 40 minutes (large pudding), or until puddings spring back when pressed at the centre
  9. Prepare the syrup while the pudding is baking
  10. Heat the butter, sugar and water for about 5 minutes
  11. Remove the mixture from the heat and stir in the brandy, vanilla and salt
  12. Pour the warm syrup over the pudding as soon as it is removed from the oven
  13. Serve the pudding hot or cold with cream or ice-cream

Back to top

 

50. Sago Pudding

Sago pudding is a sweet pudding, made by boiling sago with either water or milk and adding sugar and sometime additional flavourings. It is made in many cultures with varying styles, and may be produced in a variety of ways.

In Malaysia, sago gula melaka is a sago pudding made by boiling pearl sago in water and serving it with syrup of palm sugar (gula melaka) and coconut milk.

In the UK, ‘sago pudding’ is generally made by boiling pearl sago and sugar in milk until the sago pearls become clear, and thickening it with eggs or cornflour. Depending on the proportions used it can range from a runny consistency to fairly thick, and can be similar to tapioca or rice pudding. Serves 6

 

1 litre milk

60g butter

1 cinnamon quill

1/4 tsp (1ml) salt

cardamom pod (optional)

4 eggs

90g (1/2 cup) sago

1 tsp vanilla

70g (1/4 cup) sugar

1/4 tsp (1ml) grated nutmeg

 

  1. Bring the milk and cinnamon quill (and cardamom pod if you are using one) to boiling point in a 2 litre container
  2. Add sago and cover the dish – leave to soak for at least 90 minutes (or overnight)
  3. Whisk
  4. Pre-heat oven to 160°C
  5. Bring the milk mixture to the boil and thoroughly whisk the mixture again for at least 2 minutes – ensure that the sago is completely translucent
  6. Remove the cinnamon quill and cardamom pod and beat the sugar and butter into the warm mixture
  7. Allow to cool slightly – whisk eggs, vanilla and grated nutmeg together and whisk it quickly into the cooled-down mixture

 

Optional

For a lighter, fluffy texture, separate the egg whites and yolks. Whisk the egg yolks, vanilla and grated nutmeg together and then into the cool-down milk mixture. Beat the egg whites separately and lightly fold into the mixture

 

  1. Pour into a buttered 2 litre dish
  2. HaIf-fïll a larger shallow dish with water, and place your sago dish in it to create a bain marie
  3. Bake for 90 minutes until firm and golden brown
  4. After baking, spread approximately 1/4 cup apricot jam gently over the pudding. You can heat the jam somewhat to make it easier to spread, or simply dot the jam over the top

This can also be baked in individual ramekins. As a variation, you can place a teaspoon of apricot jam in the bottom of each ramekin before pouring the sago mixture on top.

Back to top

 

51. Bread and Butter Pudding

Bread and butter pudding (not to be confused with bread pudding), seems to have a long and honourable history. In 1845, Eliza Acton, in her book “Modern Cookery for Private Families”, provides one of the earliest recipes. The curious thing is that whilst the basic mix and cooking method have remained consistent, there are now so many variants the Bread and Butter Pudding could be seen as a range of desserts, rather than a single dish. The following provides the basic pudding (which is ideal as a first venture at cooking for junior chefs in the making) and some more experimental versions for the adventurous cook! Most recipes agree that the important thing is to let the assembled pudding sit for about an hour before cooking it in order to let the bread swell and soak up all the lovely custard liquid

 

4 slices stale, white bread, 2 cm thick

2 large eggs

butter

125ml white sugar

190ml currants or 150ml seedless raisins (optional – I leave them out)

1ml salt

750ml milk

 

  1. Remove the crusts from the bread and butter the slices thickly
  2. Place them, buttered side down, in a greased ovenproof dish
  3. Sprinkle the currants or raisins over the bread
  4. Beat the eggs well and stir in the sugar, salt and milk
  5. Pour the milk and egg mixture over the bread and set the dish aside for 30 minutes to allow the liquid to soak right through the bread
  6. Bake the pudding, covered, at 160°C for 30 minutes
  7. Uncover the pudding and bake for a further 10-15 minutes or until the top is golden
  8. Serve the pudding hot with golden syrup, honey or jam

 

Note

I prefer to spread the bread slices with apricot jam and sprinkle some cinnamon sugar over the pudding before I bake it, to give a nice caramelised crust when it comes out of the oven … the sky’s the limit with Bread and Butter Pudding, so add any flavouring to the milk custard the you feel like …

Back to top

 

52. Melkkos

Melkkos is made by cutting thinly rolled dough into thin strips and boiling it in milk until cooked and thickened … sprinkled with cinnamon sugar and served warm. It’s one of the most comforting dishes for me and always takes me back to my childhood and my Gran’s kitchen…

 

500ml bread flour

1.5 litres milk

cinnamon sugar (mixture of ground cinnamon and sugar)

5ml salt

30ml butter

2 eggs

 

  1. Sift the flour and salt together
  2. Beat the eggs well and add 250ml of the milk and mix well
  3. Stir the sifted flour mixture and add just enough milk to form a stiff dough
  4. Knead until elastic, then roll the dough out thinly on a floured board
  5. Sprinkle the dough with additional flour and cut into 3mm wide strips to make noodles
  6. Heat the remaining milk to boiling point
  7. Add the noodles and butter and simmer for about 30 minutes or until the noodles are cooked
  8. Ladle the melkkos into soup bowls and serve hot, sprinkled with cinnamon sugar

Back to top