DIE PIONIER – FEBRUARIE 2018

DIE PIONIER

Download PDF

Inhoud
1. Redakteursbrief 2
2. MY ROOS SE NAAM … 6
3. SA Note te koop 14
4. Laat ons eerder verantwoordelik bid vir reënval 14
5. Williston se skape swem ná reën 17
6. Dit gáán weer reën, maar die aarde kry swaar 18
7. Bepaal oorsprong voor jy water koop 21
8. Gebruik dié apps en bespaar water 25
9. Mooi met minder water 29
10. Pikkies wys hoe jy water spaar 33
11. En in die naam van droogte doop ek jou… 35
12. ‘Ek het vir Wiese gesê hy maak ‘n fout’ 37
13. ‘Ek soek ‘n enkelkajuit-viertrek. Limited Edition. Met radio, de lot’ 42
14. SA sangeres maak geskiedenis op Unisa-kompetisie 47
15. 50 leerlinge in taxi met sitplek vir 15 vervoer 50
16. Pigcasso: Vark se skildery vir R30 000 verkoop 52
17. Antibiotika en jou kind 54
18. ‘Revolting Rhymes’ wen ‘n Annieprys in VSA 61
19. Faf, Kagiso en plaaspelle wys die ware SA 63
20. Die onmoontlik droom? 66
21. Onnies se resep vir sukses 69
22. Foon in die klas: Ja of nee? 74
23. Lig gewerp op SA kunswerke 79
24. Lewenstadia van Homo naledi bekyk 82
25. Seldsame artefakte gevind nadat gletsers in Noorweë smelt 84
26. Groot vonds van nuwe dinosourus in Egipte 86
27. 10 000 jaar oue stuk kryt, gemaak van oker gevind 87
28. !Xun-vertaling van Bybel begin 88
29. Die ligtheid van SYN 90
30. Facebook sê spoedig wat hy alles met jou inligting doen 94
31. Ma met koliekbaba gevra om bank te verlaat 96
32. In die huwelik kan humor die toorn verlig 97
33. Kamele by ‘skoonheidskompetisie verbied oor botoks 100
34. Dié piesang jaag lekkerbekke R72,25 elk uit sak 102
35. Die eerste slagoffers 103
36. Rapper het vergeet van sy 700 bitcoin 108
37. Listeriose: Jy móét weet van waar hoender kom 109
38. Dronk vlieënier vasgetrek 113
39. Drink jonk … en betaal later die prys daarvoor 114
40. Meer as net TWEE MENSE 117
41. Oefen sáám, Woef hou daarvan… 121
42. Witversnitte is die nuwe goud 124
43. Oud-Greys skitter in Franse rugby 126
44. Pak ‘n gesonde kosblik 128
45. Ode aan ‘n tamatie 130
46. ROOI FLUWEEL EN SJOKOLADE KLEIN KOEKE 131
47. ROOMYS IN ‘n KITS! 133
48. 5 koel kosse vir gewigsverlies 134
49. ‘Die beste dieet’: Volg ons uitgewerkte eetplan 139

DIE PIONIER
Jaargang 85, No 01
Volume 85, Nr 01

Datum 28/02/2018 Date

REDAKSIE
Rig asseblief alle korrespondensie aan:
Please direct all correspondence to:

Die Redakteur The Editor

Die Pionier Die Pionier

Posbus 994 P.O. Box 994
WORCESTER WORCESTER
6849 6849

Tel.: (023) 342 6313
Faks/Fax: (023) 342 0335
E-Pos/E-Mail: info@pioneerprinters.org.za

Die redaksie onderskryf nie noodwendig die menings wat in die artikels en briewe in Die Pionier uitgespreek word nie, en behou hom die reg voor om sodanige stof te verkort en redaksioneel te versorg.
The editorial staff does not necessarily endorse the opinions expressed in the articles and letters in Die Pionier, and reserves the right to abbreviate and edit such articles.

Die publikasie van hierdie boek/tydskrif/bundel is moontlik gemaak deur ‘n ruim subsidie van:

Die LW Hiemstra Trust – Opgerig deur Riekie Hiemstra ter herinnering aan Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra

EN

Die Marie Luttig Trust
1. Redakteursbrief
Die Pionier – Finale Redakteursbrief
27 Februarie 2018
Geagte lesers
In Januarie 2015 (of was dit nou einde 2014?) het Schalk Hugo, van die Pionierdrukkery, my genader en gevra of ek kans sien om die Redakteurstoel van Die Pionier oor te neem by Marié-Louise du Preez sodat die redakteur dan ‘n siggestremde verteenwoordiger van die Instituut vir Blindes sal wees. Na baie wik en weeg saam met Mnr Freddie Botha het ek toe ingestem; alhoewel sonder enige redaksionele ervaring of wat die taak behels. Die res is sedertdien geskiedenis. En dit is een van die eienskappe van Schalk Hugo en wyle Freddie Botha wat ek geweldig hoog op prys stel – die vermoë om talente in ‘n persoon raak te sien en daardie persoon ‘n kans te gee om hom- of haarself te kan bewys. Dit is vir my hartseer dat siggestremde, blinde en veral doofblinde persone so baie onderskat word oor waartoe hulle instaat is! Deur ‘n gestremde persoon ‘n kans te gee om hom- of haarself te bewys is grensverskuiwend vir die potensiële werkgewer, maar so ongelooflik bevredigend en lonend omdat so ‘n persoon dan te alle tye die ekstra myl sal loop omdat jy gewaag het en die geloof getoon het om daardie persoon net ‘n kans te gee…
Kaleidoskoop (voorheen Instituut vir Blindes) gaan tans deur die mees vernietigende finansiële krisis in sy bestaan van 136 jaar. Die begin van 2018 is ingelui met die gevreesde aankondiging dat die Bestuur genoodsaak word om personeel af te lê weens ernstige finansiële tekorte. Die onderhandelings-proses is einde Januarie 2018 begin en 31 personeellede, op salarispakket, is geïdentifiseer om afleggingspakkette te kry. Die valbyl het my ook getref en die gevolg is dat Freddie Botha se droom om Interne Opleiding beskikbaar te stel vir die siggestremde, blinde, doofblinde, meervoudiggestreme inwoners en personeel – wat in 2005 deur Anlo van Heerden begin is en daarna deur Floris Brown en myself voortgesit is – kom einde Maart 2018 finaal tot ‘n einde. Dit is ‘n onberekenbare verlies vir Kaleidoskoop se inwoners en personeel se opleiding, opvoeding en bemagtiging. Ek was bevoorreg om sedert Januarie 2014 hierdie grootste afdeling van Kaleidoskoop te bestuur en te koördineer. Dit het vir my nuwe doel in my lewe gegee en elke dag was vir my persoonlik ‘n enorme plesier en vreugde gewees om vir elkeen van ons mense iets te leer. Aan die einde van elke jaar is almal beloon met die toekennings van trofees en sertifikate – wat ‘n groot trots en vreugde het uit elke ontvanger uitgestraal! Dit was my grootste beloning vir my en al my 27 medewerkers se harde werk deur die jare!
Ek wil hiermee aan al die lesers van Die Pionier en die hele Suid-Afrika versoek om alle moontlike hulp te verleen aan hierdie wonderlike organisasie wat vir 136 jaar ten doel het om ons siggestremde, blinde, doofblinde en meervoudiggestremde inwoners ‘n veilige hawe en heenkome te bied. Verder moet ons ook bid vir Kaleidoskoop se Bestuur om Kaleidoskoop veilig deur hierdie stormagtige tye te lei na ‘n geseënde toekoms vir almal.
My vrywillige werk as redakteur van hierdie Die Pionier was ook vir my ‘n bron van trots en ‘n plesier wanneer ons redaksiespan deurlopend positiewe terugvoer van ons lesers ontvang het en daar met groot afwagting uitgesien word na die volgende uitgawe. Wanneer die uitgawe van Die Pionier weens omstandighede buite ons beheer effens laat was is ek baie gou daarop gewys en gevra waar hul tydskrif dan nou is! Met nostalgiese heimwee lees ek nou weer my eerste redaksiebrief van 19 Februarie 2015 en dink terug aan al die uitgawes wat ons suksesvol uitgegee het sedert Die Pionier se nuwe formaat in Februarie 2015.
Dit is alles herinneringe wat my gaan by bly en dit is nou met groot hartseer dat ek hiermee al die getroue lesers van Die Pionier en ook al my leerders van Kaleidoskoop moet groet. Ek wens Marié-Louise du Preez – wat die grootste werk gedoen het met die gereelde samestelling van Die Pionier – Schalk Hugo en die nuwe toekomstige redakteur alles van die beste en sterkte toe met die voortsetting van hierdie belangrike werk en diens aan ons siggestremde, blinde en doofblinde gemeenskap. My opregte dank ook aan die Hiemstra en Luttig trusts vir hulle voortgesette ondersteuning aan en vertroue in Die Pionier.
Wees gegroet.
Dr Johan Pretorius
Redakteur – Die Pionier
Terug na Inhoud

2. MY ROOS SE NAAM …
Fiona van die kwekery noem vir Ockert ‘Sweetie’ en dit maak hom bly én bang. Watter gevoel weeg die swaarste?
Die Rooi Rose Februarie 2018
Deur MARIETJIE KOTZÉ
Ockert wag tot die horlosie op die kaggelrak begin slaan. Nou! Ritmies swaai hy sy arms om en om nes twee windlaaiers, tien keer. So ja! Hy maak die glasdeurtjie oop, wen die horlosie op – agt draaie, presies.”
Onthou, Ockie, dis ‘n Eight Day Clock, made by Ansonia – all the way from the USA. Só het sy pa gesê wanneer hy die sleutel vir Ockert aangee om die Ou Dame op te wen.
Vandag doen hy die opwenwerk vir die eerste keer op sy eentjie, ekstra versigtig.
“’n Man moet wéét wat hy doen, en hou by die reëls, ‘n mens weet nooit…” Sy pa het nie altyd sy sinne klaargemaak nie, hy’t woorde in die lug laat hang soos die rookkringetjies wat hy boontoe uitblaas. Ockert het hom oor die rokery aangepraat – almal wéét tabakrook is sleg vir jou! Dan het sy pa gepaai: “Toe maar Ockie, ek sal die rokery los as ek eendag by die hemel-poort kom, dáár is alles wat sleg is skoonveld.” Nou ís dit eendag en Ockert wonder of sy pa regkom sonder sy sigarette.
Maar vandag is daar nie tyd vir wonder nie. Hy vat sy rugsak en waterbottel, spesiaal gekoop vir sy daaglikse uitstappie, ook ‘n energiestafie vir padkos, en sy klein, ronde vashouklip, ingeval hy angstig raak. Die klippie bêre hy in sy broeksak, net hý weet daarvan … en sy pa – maar sy pa is laas week begrawe, nou moet hy op eie bene staan soos sy pa gesê het: “Jy sal niks kortkom nie, Ockie, want jy werk slim met jou geld en jy’t ‘n goeie dak oor jou kop – op veertig jaar ken jy alles wat ek jou kon leer, hou daarby en wees nie bevrees nie.”
Hy is nie bevrees nie. Nogtans vermy hy sypaadjies met plaveistene – hy trap nie op strepe tussen stene nie en hy raak moeg van tel – stene, lamppale, straatnommers, alles wat voorkom, móét hy tel tot duisend of meer, dan weer aftrek tot nul, heen en weer, op en af, vermenigvuldig en verdeel sonder ophou. “Dis omdat jy uniek is, soos ‘n savant, Ockert!” hoor hy sy pa. Sy vashouklip lê veilig in sybroeksak. Hy sal nie bevrees wees nie. Maar hy sal wel die plaveistene vermy. Beter so.
Die nabygeleë klein kwekery van Fiona O’Reilly is bo-aan sy uitstappielys. Dis waar hy soggens sy moue graag oprol, help leivoortjies oopskoffel, swaar potplánte versit en los werkies verrig sonder dat Fiona hoef te vra. Wanneer dit tyd is vir middagete, maak sy vir hulle tee en dan deel hy sy energiestafie met haar en sê: “Vandag het ek berge versit! Môre kom ek weer. Nou gaan ek vir my pa kos maak.” Dan vat Fiona hom liggies aan die arm – sy weet hy skram weg van aanraking – en sê: “Oh, Sweetie, you’re one in a million! See you tomorrow!” en blaas vir hom ‘n soentjie op haar hand. Fjuutt…! Net so, met ‘n knipogie agterna, wat hom vinnig laat wegkyk en op ‘n stywe drafstap huis toe vat.
Eers vertel hy sy pa niks van Fiona-se-dinge nie, maar een dag kan hy dit nie langer uithou nie. Sy pa luister en vra: “Hierdie dinge-van-Fiona, Ockie, maak dit jou bang, of maak dit jou bly?”
Ockie gee ‘n diep sug, dis ‘n swaar vraag. “Bang én bly,” antwoord hy na ‘n ruk.
“H’m …” sê sy pa. “Nou ja, Ockie, bêre dan maar eers die bang én die bly by jou vashouklip, tot jy op ‘n dag vanself weet watter een die sterkste is…” Soos gewoonlik los sy pa sy woorde in die lug – en dit bly daar hang saam met Fiona se soentjies en knipogies. Fjuut…!
Sy pa het hom sowat ‘n jaar terug die eerste keer na die kwekery geneem sodat hy van plante kan leer. “Jy moet die versorging van ons tuin op jou skouers neem, Ockie, die werk raak te swaar vir my. Jou ma was ‘n ware tuinier, haar roostuin was ‘n lushof en sy’t presies geweet wat elke roos nodig het –dalk aard jy na haar, en wie weet, miskien eendag…”
Sy pa se woorde het nog in die lug gehang toe die eienaar van die kwekery hulle kom groet. Fiona O’Reilly: geel plastiekhand-skoene, waterstewels, strooihoed en rooierige hare met goue sonspikkels daarin. Die sproete op haar gesig het soos roeskolletjies gelyk en sy’t nie haar lippe rooi gesmeer nie – daaroor was Ockert bly.
Sy pa het Fiona geken. Hy’t gereeld by haar plantjies vir die tuin kom koop. Hy’t ook voorheen vir Ockert van haar vertel: “Ek kan sien sy’s ‘n goeie tuinier, sy’t kundige hande en weet hoe om plante wat wild groei te tem, en om versigtig met die pieperige soort te werk. ‘n Mens kan baie by haar leer.”
Dit was ook so. Sy’t dadelik geweet wat Ockert nodig het: kompos, beenmeel, snoeiskêr. Toe neem sy hom na die roosbeddings en wys al die rose, veral die outydse soort met die deftige name wat soos ‘n sopbakkie in die holte van sy hand pas. “Dis nou die beste tyd om jou tuingrond reg te kry. Ek gee vir jou my nuwe catalogue – askies vir my taal – dan kies jy die mooistes vir jou.” Sy’t geglimlag en haar geel handskoenhand op sy arm gesit. “Stap saam kantoor toe, dan skryf ek jou naam in my boek, Sweetie.”
Sweetie! Presies op dáárdie oomblik het die plek op sy arm waar Fiona met haar geel handskoen aan hom geraak het, skielik soos vuur begin brand. Teen slaaptyd kon hy steeds haar handskoen op hom voel en voordat hy aan die slaap raak, het hy klaar besluit: die kleur van die eerste roos op sy inkopielys sal géél wees – goudgeel soos… goue sonspikkels.
Met die aanbreek van die plantseisoen koop hy sy eerste roos. Fiona beveel La Perla aan. “Kyk Sweetie, ek weet sy’s nie so goudgeel soos jy vra nie máár…”
Fiona sukkel met die moeilike woorde in die tuinboek en hy moet verder help lees: “maar die roosknop het ‘n pragtige groen tint en ontvou in ‘n ryk roomkleur.” Hulle staan so naby aan mekaar dat hy die warmte van haar lyf teen hom voel.
Sy hande raak sweterig.
Toe Fiona sien dat hy met ‘n diep frons in die verte wegkyk, lees sy hortend verder: “La Perla is ‘n edelroos met stewige, reguit lote wat tot diep in die winter nog sal dra” en sy voeg by: “Jy sal nóóit spyt wees oor haar nie, Sweetie.”
“Dit mag so wees,” brom hy terwyl hy sy arms beslis oor sy borskas vou, “maar ék wil nie die naam La Perla hê nie, Fiona, ek sal op die régte tyd my eie naam vir my roos gee.”
Nou is dit maande later en baie het intussen gebeur – die groeiseisoen het gekom en gegaan en die rose by die kwekery het klaar geblom, hulle moet binnekort gesnoei word. Net Ockert se roos kom nog nie tot rus nie – La Perla lewer ‘n laaste paar roosknoppe. Op die dag van sy pa se begrafnis pluk hy hulle af en sit hulle in ‘n glaspot, presies in die middel van die dubbelgraf waar sy pa netjies langs sy ma lê. Hy kyk lank na die stewige, sterk rose op hul reguit stele. Fiona was reg, dit was ‘n goeie keuse. Nou lê daar nog net één keuse voor.
Op ‘n Maandagmôre is dit altyd stil by die kwekery. Ockert stap met lang treë tot by die ingang van die kwekery waar twee toiingrige bIoekoms spikkel-skaduwees weerskante van die hekkie gooi. Hy voel op ‘n vreemde manier anders as ooit tevore – heeltemal alleen, en tog dapper/moedig/onverskrokke – sy treë is afgemete, sy skouers vierkantig. Met nuwe oë kyk hy na die verroeste uithangbordjie wat windskeef teen die hekpaal vasgespyker is: “Paradys Kweekery”. Hy sien die ekstra e-letter is intussen met wit verf deurgehaal, en knik sy kop tevrede. Kwe-ke-ry! Regso! Dis goed hy’t Fiona op die spelfout gewys. Al is sy ‘n bietjie ouer as hy én baas van die kwekery, kan hý beter lees en spel, daarom móés hy haar op die fout wys. Jy kan nie foute laat deurglip nie, dit skep ‘n swak indruk, het hy vir haar gesê.
Hy lig die knip van die hekkie op. Binnekant is dit doodstil, plasse water lê opgedam, maak modderpaadjies tussen die beddings. Fiona het alweer vergeet om die waterpype betyds te versit! En waar’s Sipho vanmôre? Ai tog! Hy loop kopskuddend verder, pylreguit na die buitegeboutjie wat as kantoor dien. Toe hy naby kom, hoor hy musiek opklink. Hy herken dit: “The Flower of Magherally”, Fiona se gunsteling van die CD, Celtic Reverie, wat op die tafel lê, langs die boek waarin sy navrae van klante skryf.
Kort voor sy pa se dood, het Fiona daardie CD vir hom gewys en dit styf teen haar bors gedruk. “Oh Sweetie, this is my absolute favourite, those Irish pipes and flute!” het sy uitgeroep en ondeund ‘n paar danspassies voor hom gemaak: “Maybe het ek ná al die jare nog ‘n bietjie warm Ierse bloed in my are! Wat van ‘n Irish dance met my…” en haar hand na hom uitgehou.
Hy’t haar nie geantwoord nie. Genoeg is genoeg! Eers was dit La Perla wat hy onder die knie moes kry, en nou is dit “The Flower of Magherally!” Wat moet hy hiervan dink? Hy’t botstil in sy spore vasgesteek, sy vashouklip vasgevat, sy kop in sy skouers in getrek en pad gevat, reguit huis toe.
Toe hy uitasem by die huis kom, vertel hy sy pa alles. Sy pa het geluister en sy woorde geweeg: “Ai, Ockie…” Hy’t moeisaam orent teen die kussings geskuif. “Kom sit hier by my,” sê hy toe, “ek dink dit het tyd geword dat jy jou vashouklip uithaal en besluit wat weeg die swaarste – die bang wees, of die bly wees? Ek kan jou nie daarmee help nie, dis vir jóú om te kies. Net één ding moet ek vir jou sê: my tyd word kort, en jy sal iemand nodig hê, Ockie.”
Dié keer het sy pa nie sy woorde soos rookringetjies in die lug gelos nie, hy’t kant en klaar gepraat: “Fiona het ook iemand nodig, iemand soos jý, Ockie – standvastig, sterk en getrou. Dink daaroor na.”
Hy hét daaroor gedink. Dééglik, soos sy pa vir hom gesê het. Dis waarom hy vanoggend, voordat die horlosie tien keer geslaan het, sy oorlede ma se trouring saam met sy vashouklippie in sy broeksak gesit het.
Nou loop hy met lang, vaste treë en soek na Fiona. Hy sien haar van ver af by die roosbeddings. Haar geel handskoene flits in die son. Sy’t vandag ‘n rok aan en skoene wat haar voete klein laat lyk.
Haar hare is los en die son gooi goue spikkels oor haar gesig.
Toe Ockert by haar kom, kyk sy op. “Sweetie! Jy’t gekom!”
Hy kom staan voor haar en die heel eerste keer kyk hy stip in haar oë. “Ek het ‘n naam gekry vir my roos, Fiona,” kondig hy aan. “Dis nie La Perla nie, en ook nie The Flower of Magherally nie.” Hy steek sy hand in sy broeksak, haal eerste sy vashouklippie uit, sit dit eenkant, uit die pad uit. Toe haal hy die goue troupand van sy ma uit. “Mý roos se naam is Sweetness,” sê hy ferm, “en ek wil graag met jou trou … as jy ook miskien so wil.” “Oh, Sweetie!” Fiona stroop haar geel handskoene van haar hande af. Sy hou albei hande na hom toe uit. En versigtig sit hy die troupand in die holte van haar oop hande.
Terug na Inhoud

3. SA Note te koop
Ek het ‘n SA Note wat ek wil verkoop. Dit is feitlik nog glad nie gebruik nie. Ek sal ook ‘n braille handleiding daarmee saam voorsien.
Prys: R7000.00 onderhandelbaar.
Kontak besonderhede Tel. 076 637 1232
Mev. Christine Eloff
Terug na Inhoud

4. Laat ons eerder verantwoordelik bid vir reënval
(Die Burger, 7 Februarie 2018)
Braam Hanekom
Teen dié tyd is dit duidelik dat Kaapstad ‘n krisis in die gesig staar. Almal lewer kommentaar, kritiseer en gaar op. Dít terwyl die angstigheid onder inwoners groei.
Intussen het ‘n klompie kerke hande gevat en gevra dat ons op As-Woensdag (14 Februarie) ‘n dag van verootmoediging uitroep.
Die klokke sal van twaalfuur af lui en gemeentes sal na goeddunke vir gebedsbyeenkomste bymekaarkom. Ek ondersteun die inisiatief ten volle. Ons kan, mag en moet bid.
Tog moet hier ‘n versigtige woord van vermaning gerig word.
Jakobus 4 sê dat ons nie het nie omdat ons nie bid nie en as ons bid, ons “verkeerd” bid. Die verantwoordelike uitleg van die teks vra veel meer as wat hierdie rubriek se ruimte toelaat, maar kom ons maak dit so prakties moontlik. Mense wat bloot vir reën alleen bid, verstaan nie die omvang van die probleem nie.
Ons word gekonfronteer met laer as gewone reënval oor ‘n tydperk van drie jaar, maar voeg hierby die meer as verdubbeling van die bevolking in die Kaap in die afgelope twee dekades, die gebrek aan beplanning en bestuur, onvanpaste verbruikerspatrone, die gebrek aan hergebruik van water, die wegvloei van storm- en fonteinwater, klimaatsverandering en die verandering in die mikroklimaat as gevolg van menslike faktore, en jy besef die probleem is veel groter.
Vir die liewe Heer om die krisis met blote reënwater op te los, sal vra dat Kaapstad min of meer in ‘n subtropiese streek verander moet word. Ek glo nie dit is ‘n “regte” of verantwoordelike gebed nie
Veel eerder sal daar gebid moet word vir beter beplanning en bestuur. Nie net op owerheidsvlak nie, maar ook by onsself. Ons sal moet bid vir kreatiwiteit en innovasie, die afsterf van ego’s wat gemaak het dat mense nie wou luister nie. Ons sal moet bid dat politici veel moediger besluite neem en, les bes, sal ons onsself moet verootmoedig.
Regdeur die Bybel word klimaat en natuur met ons geestelike reis met God verbind. Die kollega wat gesê het die “droogte” is dalk ‘n gawe uit die hand van God, is dalk reg.
Intussen moet ‘n ander mite nek omgedraai word. Natuurlik kan ons nie meer lowergroen uitheemse tuine in stand hou nie, maar die ontbossing en ontgroening van die streek moet stop. Veel eerder sal ons juis nou duisende droogtebestande bome moet aanplant.
Ek eer elkeen wat tog met afvalwater ‘n paar plantjies aan die lewe hou. Dis juis onder meer die mens se disrespek vir die natuur wat ons gebring het waar ons is.
Ek bid en glo dat die Here vir ons en sy Skepping nie sal los nie. Ons gaan deur die drif kom, maar laat ons ons op die regte manier verootmoedig.
• Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Terug na Inhoud

5. Williston se skape swem ná reën
(Die Burger, 30 Januarie 2018)
Charné Kemp
Boere in droogtegeteisterde dele van die Noord-Kaap het die afgelope week langs gronddamme gehuil toe skape ná ‘n week se reën in die water geswem en dorstig gedrink het.
Izak van der Colff van die plaas Gannabos by Williston sê dit was ‘n onbeskryflike gevoel toe mildelike reënbuie vir die eerste keer in jare vanaf 17 Januarie by hom neergesak het.
“Ons ly die afgelope vier jaar onder ‘n knellende droogte. Daar is so ‘n streep plase in die omgewing wat net nie reën kry nie. Dit is daardie streep plase wat nou reën gekry het.
“Sommige van my jong skape het in hul lewe nog nooit reën gesien of reënwater gedrink nie. Toe ek en my vrou, Gretha, op 19 Januarie by die kamp aankom, het ek ‘n dam water in die ou gruisgroef gesien. Die plaaswerkers het die dorpers nader gebring. Die skape het onmiddellik en vir ‘n slag ordentlike soet water gesuip, en ander het spontaan begin swem. Ons het nog nooit so iets beleef nie. Ons het gehuil; en ek huil steeds as ek daaraan dink. Ná ‘n ruk het almal veilig uitgeklim en tevrede veld toe gedrentel.”
Terug na Inhoud

6. Dit gáán weer reën, maar die aarde kry swaar
(Die Burger, 1 Februarie 2018)
Johan van Wyk
Toe ou Henry Ford gesê het “geskiedenis is twak” (en dat ‘n Ford-kar enige kleur kan wees solank dit swart is), het hy eintlik twak gepraat. Die herinneringe wat nou rondom die feitlik landwye waterkrisis opgediep word oor hoe in die verre verlede met kosbare water omgegaan is, bevestig dit.
Ek hoor elke dag nuwe stories oor hoe dit was. Hoe dat voor pype en krane ook wit mense emmers water uit ‘n put of modderige gorras in riviere na ‘n houtwaterbalie met geelkoper¬hoepels in ‘n kombuis met misvloere aangedra het.
Hoe voete saans by ‘n windpomp afgespoel is. Hoe stofpaaie met ‘n seilwatersak aan ‘n kar se buffer aangepak is.
Dis welkome afwisseling van die onheilspellende doemvoorspellings van verwoestyning, rampspoed, ellende, politiekery en onbeholpenheid, nou ‘n tiekie ‘n bos. Asof dit nooit weer gaan reën nie. Kleingelowiges! Natuurlik gaan dit weer reën!
Het julle vergeet wat die profeet Elia tydens ‘n vernietigende, drie jaar lange droogte in Israel op die berg Karmel gedoen het?
Die bespotting wat hy van die valse Baäl-aanbidders gemaak het?
Hoe, nadat hy God aangeroep het, ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand oor die see opgekom het? Hoe hy, terwyl die hemel swart geword het van wind en wolke, swanger met stortreën, vir die goddelose koning Agab laat weet het: “Span in en trek af dat die reën jou nie terughou nie!” (1 Konings 18:44).
Dis min of meer wat oom Koos Naald vir sy bure kon gesê het toe die weer opsteek ná ‘n biduur op Perdekop, waar met die oog op vloedskade nie vir stortbuie nie maar hartstogtelik vir ‘n sagte, deurdringende landsreën gepleit is.
Dieselfde nag nog het ‘n siedende wal bruin, slikbelaaide stormwater stof in die Renosterrivier se droë loop opgeskop. Dalk uit goddelike woede oor voortdurende ontrouheid, ten spyte van die verootmoediging? Vloede volg mos op ‘n langdurige droogte. Dít leer die geskiedenis.
Sorg dus dat jou geute skoon is en leer jou kindertjies om, wanneer die dag aanbreek, jubelend Eugéne Marais se “Dans van die reën” te kan opsê: “Ons suster! Ons suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En hou op om die goeie aarde met ongebreidelde aanwas te misbruik en te vertrap. ‘n Sekerder aanwysing as ‘n naderende moontlike Dag Zero vir Kaapstad dat ‘n natuurlik droë Suid-Afrika, boonop wanbestuur, nie ‘n groeiende bevolking van 60 miljoen mense kan onderhou nie, staan nou soos ‘n paal bo water.
Met reeds 4 miljoen mense, van wie waarskynlik meer as 2 miljoen in die Kaapse Skiereiland in die afgelope 30 jaar uit ander provinsies bygekom het (terwyl die instroming onbeheers voortduur), wil ek nie weet hoe dit 20, 30 of 40 jaar van nou af hier gaan lyk nie.
Gelukkig sal ek nie daar wees om dit te aanskou nie, maar ek voel nogal jammer vir my kleinkinders en hul kinders.
Terug na Inhoud

7. Bepaal oorsprong voor jy water koop
GOEDKOOP KOOP IS DUUR KOOP
Kyk uit vir dié logo
(Die Burger, 1 Februarie 2018)
Malherbe Nienaber
Verbruikers moet seker maak van die oorsprong van gebottelde water voordat hulle dit koop. Hulle moet seker maak dat dit nie net gefiltreerde kraanwater is nie.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gebottelde Water (Sanbwa) waarsku dat mense nie deur goedkoop produkte geflous moet word nie, veral as daar nie aangedui word wat die oorsprong van die water is nie.
Produkte wat nie die Sanbwa-logo het nie, kan moontlik van onvolhoubare bronne af kom en die gehalte en veiligheid daarvan kan nie gewaarborg word nie, sê die vereniging.
Charlotte Metcalf, uitvoerende hoof van Sanbwa, sê die water wat in Franschhoek, die Paarl en Ceres gebottel word, vererger nie die droogte in die Wes-Kaap nie.
“Dit is belangrik om kennis te neem dat die gesamentlike grootte van die bedryf vir gebottelde water 502 miljoen liter in die hele 2016 was en dat dit nie eens naby kom aan die 500 miljoen liter per dag wat Kaapstad se mikpunt vir verbruik is nie.”
Sanbwa-lede se volhoubaarheid op lang termyn word ge-oudit en 90% van hul water word uit ondergrondse bronne ontgin.
Volgens Metcalf is grondwater beter verskans teen die uitwerking van die droogte omdat dit gedurig hervul word en nie so afhanklik van reënval is nie.
Dié water behoort ook nie op natuurlike wyse in die munisipale stelsel van riviere en damme te beland nie.
Sanbwa sê sy lede verskaf net meer as 80% van die gebottelde water wat in winkels en deur die gasvryheidsbedryf verkoop word.
Metcalf sê goedkoop produkte moet met omsigtigheid bejeën word, want dit kan beteken dat die koste vir omgewingstudies en die inrig van higiëniese botteleringsaanlegte nie in die prys ingereken is nie.
Water wat by winkels, hotelle en restaurante gefiltreer en gebottel word, is dikwels nie deur Sanbwa goedgekeur nie en kan bloot kraanwater wees.
Die verskaffers moet ‘n lisensie van die departement van water en sanitasie (DWS) hê om water vir kommersiële doeleindes te ontgin, terwyl gebottelde water deur die gesondheids-departement as ‘n voedselproduk gereguleer word.
Verskaffers wat watertenks aanry en houers met water vul, moet ook hul lisensie van die DWS aan verbruikers kan toon.
Daar word van lede van Sanbwa vereis om ‘n hidrologiese verslag en verslae oor die kwesbaarheid en volhoubaarheid van waterbronne op te stel. Dit moet verseker dat waterbronne nie ontgin word nie en dat die vervaardigers die voorwaardes van hul waterlisensies nakom.
In Suid-Afrika maak water van natuurlike bronne 70% van gebottelde water uit, met 20% wat by ‘n spesifieke oorsprong ontgin is, soos fontein en mineraalwater.
Sowat 10% van gebottelde water is “voorbereide water” wat van enige bron afkomstig kan wees en wat deur spesifieke prosesse van chemise behandeling en suiwering gaan.
Hoe lank kan jy gebottelde water stoor?
Verbruikers word aangeraai om water in groot plastiekhouers binne ‘n week te gebruik nadat dit oopgemaak is, as gevolg van die blootstelling aan lug en moontlike kieme.
Een tot twee jaar
Gebottelde water behoort ‘n rakleeftyd van tussen een tot twee jaar te hê. Dit moenie in direkte sonlig of naby skadelike walms geberg word nie.
Hervulbare bottels
Metcalf sê daar is te veel veranderlikes betrokke om riglyne oor die rakleeftyd van hervulbare waterbottels te kan verskaf.
Dit sluit in watter tipe water gebruik word, of die bottel in ontsmette toestande gevul is en of die houer gesteriliseer is.
Christine Colvin, bestuurder van die Wêreldnatuurfonds in Suid-Afrika se varswaterprogram, sê as die waterbottel steriel is en in ‘n koel, donker plek gestoor word, kan dit vir maande gehou word.
Andersins kan alge binne ‘n week of twee al in ‘n bottel begin groei.
Ontsmettingsmiddels vir bababottels kan gebruik word om houers mee te ontsmet.
Nie alle bottels ‘gelyk’ nie
Die WWF beveel aan dat plastiekbottels of -houers met die nommers 1, 2, 4 en 5 in die driehoek aan die onderkant gebruik moet word omdat dit die veiligste vir die bewaring van kos en drinkgoed is.
Mense moet ook hul hande en enige tregters of skepbakke waarmee houers gevul word gereeld was.
Terug na Inhoud

8. Gebruik dié apps en bespaar water
(Die Burger, 23 Januarie 2018)
Petrus Malherbe
Met die watertekort in die Kaapse metropool wat katastrofiese afmetings aanneem, het die stadsraad onlangs aangekondig inwoners mag binnekort net 50 liter water per dag gebruik.
Ten spyte van pogings deur die stad, ondernemings en die media, voldoen meer as 50% van Kaapstad se inwoners nie aan die streng waterbeperkings nie.
Hoewel blatante onwilligheid in sekere gevalle die rede kan wees, is dit ook so dat sommige inwoners te veel water gebruik bloot omdat hulle nie hul daaglikse verbruik akkuraat kan nagaan nie.
Tegnologieskeppers het egter al lank voor die Kaapse droogte die waarde van slimfone besef in die stryd om waterbronne te bewaar.
Dit is ook van nut vir mense wat dalk nie op die oomblik in ‘n krisissituasie is nie, maar proaktief met hul watergebruik wil wees. Suid-Afrika is immers ‘n waterskaars land, met alle streke wat van tyd tot tyd droogtetoestande ervaar.
Hier is vyf apps wat mense help om waterverbruik te verminder:
1. Water Daily
Hoewel die app eintlik ontwerp is om te bepaal of jy genoeg water drink, kan dit ook gebruik word om jou waterverbruik aan te teken.
Die gebruikersvriendelike app teken elke milliliter wat jy gebruik aan, of dit nou is dit wat jy drink of dit waarmee jy jou tande borsel.
Elke keer wanneer jy water gebruik, skud jy bloot jou foon en 250 ml word by jou daaglikse totaal gevoeg. Wanneer jy stort of skottelgoed was, moet jy net jou foon genoeg kere skud om jou verbruik aan te teken.
Die app is beskikbaar vir sowel iPhone- as Android-gebruikers en ‘n betaalopsie ontsluit meer funksies.
2. E-Water Footprint
Dit is ‘n ouerige app, maar steeds baie handig om jou daaglikse waterverbruik mee dop te hou.
Jy kan verskillende aktiwiteite wat water verbruik, aanteken en dit gee dan aan die einde van die dag ‘n opsomming van jou waterverbruik. Van die aktiwiteite wat jy op die lys kan plaas, is stort, tande borsels, skottelgoed was en die spoel van die toilet.
Jy kan ook kyk hoeveel water jy gebruik om byvoorbeeld koffie te maak of rys te kook.
Die app is net in die Google Play-winkel beskikbaar.
3. Water Wiz
As jy in ‘n droogtegeteisterde gebied woon, is Water Wiz ‘n eenvoudige app om te kyk waar jy water doeltreffender in die huis kan gebruik.
Dié app meet waterverbruik in die stort, waskamer, kombuis, tuin en swembad. Dit verskaf ‘n daaglikse gemiddelde en voorspel jou maandelikse verbruik gegrond op die gemiddelde verbruik.
Die gebruikersvriendelike opsielys stel jou in staat om elke druppel wat verbruik word, aan te teken.
Die app kan deur lede van een huis of tussen verskillende huise gedeel word.
Dit meet egter slegs in gelling, wat ‘n bietjie rekenkunde sal verg vir ons wat in liter werk.
Water Wiz is beskikbaar in die Apple iStore en Google Play Store.
4. The Waste Water Calculator
Ter viering van | die Verenigde Nasies se Internasionale Waterdag verlede jaar het Socialdom, ‘n Britse maatskappy wat slimfoonapps vervaardig, The Waste Water Calculator bekend gestel.
Dié doodeenvoudige app gee verskillende opsies van hoe ‘n mens jou daaglikse waterverbruik kan verminder en tel dan op hoeveel water jy in die proses gaan bespaar.
Hoewel dit nie jou waterverbruik as sodanig meet nie, help dit jou om water te bespaar waar jy kan met nuttige wenke.
Die app is beskikbaar vir sowel Android- as Apple-toestelle.
5. Shower Watch
Diegene met ‘n Apple Watch sal Shower Watch geniet. Dié app integreer met jou slimhorlosie en help jou om vinniger te stort.
Jy bring die nodige verstellings aan op die app op jou iPhone voordat jy in die stort spring. As jy eers onder die water is, tel die app deur middel van jou slimhorlosie jou toelaatbare tyd onder die water af. Sodra jou tyd verstreke is, begin jou slimhorlosie vibreer.
Daar kan ook spesifieke verstellings gemaak word rakende die vloei van jou stortkop en ‘n perk op hoeveel water jy bereid is om per stort te gebruik.
Jy kan dan jou regstreekse waterverbruik met jou slimhorlosie dophou terwyl jy in die stort staan.
Let wel, hierdie app is net beskikbaar vir diegene met die waterbestande Apple Watch 2 of 3.
Terug na Inhoud

9. Mooi met minder water
Water raak al hoe skaarser, maar ‘n mens wil tog steeds mooi en skoon lyk. Yolandi North het wenke oor hoe jy dit kan doen.
(Rapport Beleef, 21 Januarie 2018)
Skaars water is nie net ‘n Kaapstadse kwessie nie. Almal sal daarby baat vind om te leer bespaar. Maar dit is tog steeds nodig om jou skoonheidsroetine te volg om darem respektabel te lyk.
En daar is fynere kunsies om met min water baie te vermag.
Jy moet net weet hoe.
Kom ons aanvaar dat jy lankal nie meer water laat loop wanneer jy jou tande borsel nie, dat jy ‘n waterbesparing-stortkop geïnstalleer het, en stort (nie bad nie).
Nou kan jy ook:
1. Beplan jou oefen- en stortprogram. Het jy daaraan gedink dat dit nie regtig nodig is om elke dag te stort nie? Die bedoeling is natuurlik nie dat jy almal by die werk of in jou huis na hul asem moet laat snak nie, maar daar is maniere om ‘n dag of wat per week sonder ‘n stort klaar te kom. Stort en was byvoorbeeld hare nadat jy Saterdag geoefen het. Jy kan dan Sondag se stort oorslaan en eers weer nadat jy Maandag-oggend geoefen het onder die water inspring.
2. Waks eerder as om te skeer. Deur jou te laat waks, sal jy tyd in die stort spaar. ‘n Waks behoort jou ook langer haarloos te laat.
3. Hand- en voetbehandelings met minder water. Die salongroep Sorbet bied manikuur- en pedikuur-opsies wat minder water gebruik. Doen navraag by Sorbet en ander skoonheidsalonne oor die waterbesparingsopsies wanneer jy weer ‘n draai daar maak.
4. Was minder gereeld hare. “Hare was vat ekstra tyd in die stort, veral as ‘n mens opknapper ook gebruik,” sê die skoonheidsblogger Liezel Malherbe van 9lives.co.za, wat in Kaapstad woon.
“Ek steun nogal op droë sjampoe om olie te absorbeer, wat beteken dat ek my haarwas met ‘n dag of twee kan uitstel.”
Om vir ‘n dag of twee ‘n hoed te dra, is natuurlik ook nie die einde van die wêreld nie en dit kan jou somervoorkoms interessanter maak.
5. ‘n Stortwekker. Daar is niks so lekker soos om in die stort te staan en dagdroom nie. Net jammer dat dit so baie water mors. ‘n Nuttige wenk is om ‘n wekker te stel terwyl jy stort, sê Kate Stephani van die webwerf theodysseyonline.com.
“Of maak ‘n lekker musieklys met kort snitte en luister na een of twee liedjies terwyl jy stort. Deur musiek of ‘n eenvoudige wekker te gebruik, sal jy onthou om korter te stort.”
6. Skakel opknapper uit. “Nog ‘n opsie is om jou opknapper in die stort te vervang met ‘n aanblyproduk,” sê Liezel.
“Ek hou van Unwash Bio-Cleansing Conditioner, ‘n soort balsem wat terselfdertyd jou hare skoonmaak en versorg. Werk dit bietjies-bietjies in so na as moontlik aan jou kopvel, kam uit en spoel af. Unwash is bio-afbreekbaar, so jy kan daai water weer oor jou tuin ook gooi.”
7. Gebruik ‘n waslap. Pleks daarvan om die water te laat loop terwyl jy jou reiniger of grimering met water probeer afspoel, gebruik liefs ‘n waslap. Maak dit nat, draai die kraan toe en vee dan jou gesig af.
8. Watervrye gesigwas. Indien jy nog nie kennis gemaak het met miselwater (micellar water) nie, moet jy plan maak! Onsuiwerhede wat aan jou vel klou, word afgevee met ‘n stukkie watte. Die miselwater bevat oliemolekules genaamd miselle. Die onsuiwerhede op jou vel klou aan die miselle vas en so word jou gesig gereinig.
Liezel is ook gek na ‘n skoonmaakbalsem:
“Hierdie produkte werk wonders om grimering af te haal en dan ook jou vel sag en skoon te los. Jy wend dit aan op ‘n droë vel totdat al die grimering losgekom het, en dan spoel jy dit af. Dit spaar dus bietjie tyd onder die kraan.”
9. Vermy kaalvoet loop. Onthou dat jou hakke makliker sal bars wanneer jy baie kaalvoet loop. Jy sal ook langer moet skrop aan daardie vuil voete wanneer jy hulle weer wil skoonkry.
10. Slim met gesigmaskers. ‘n Kleigesigmasker verg dikwels moeite en baie water om af te was. Kies eerder ‘n lappies-masker (sheet mask) wat jy bloot ná gebruik kan aftrek en die oorblywende produk of serum in jou vel kan in masseer. Sommige skoonheidshuise vervaardig ook ‘n twee-in-een-masker en afskilferroom wat minder water gebruik om af te was as twee afsonderlike produkte.
11. Kies eerder ‘n lyfborsel as ‘n afskilferingsroom. ‘n Skroproom wat jy in die bad of stort gebruik, neem baie lank om af te was. Skaf ‘n lyfborsel aan en borsel daagliks sagkens jou lyf vanaf jou enkels in die rigting van jou hart en kyk hoe ‘n pragtige blos jy ontwikkel.
12. Hou jou grimeerborsels skoon. Onthou dat stof, bakterieë en grimering saampak en ‘n ideale broeiplek vir onaangenaam¬hede skep. Kenners meen jy moet minstens een maal per maand jou grimeerborsels was. As jy langer wag, sal jy baie lopende water nodig hê om die borsels ordentlik skoon te kry.
Terug na Inhoud

10. Pikkies wys hoe jy water spaar
(Die Burger, 6 Februarie 2018)
Marelize Barnard
Pikkewyne wéét wat om te doen wanneer die natuurlike hulpbronne skaars is, blyk uit die wenke op die akwarium se webblad.
Die wenke word wel prettig uitgebeeld, maar die boodskap is duidelik: Neem self verantwoordelikheid en spaar water.
Hier is van die pikkewyn-wenke:
• Maak die regte keuses. Wanneer kos skaars is, swem pikkewyne verder en harder om kos in die hande te kry. En hulle hou vol met hul pogings.
• Pikkewyne staan nie op die strand en wys na ander pikkewyne en teem dat hulle al die vis opgevreet het nie. Dié pikkewyne het geen hoop dat iemand vir hulle kos gaan aandra nie. En as hulle nie self uitspring nie, sal dit noodlottig wees.
• Soos pikkewyne, het elke Kapenaar ‘n keuse. Gaan jy ander vir die krisis blameer (waardeur jy niks sal bereik nie) of gaan jy bydra om elke druppel water spaarsamig te gebruik?
• Kry vir jou ‘n stortmaat en deel die water. ‘n Gemiddelde stort gebruik 22 liter water per minuut. Stort korter as twee minute.
Die beste manier is om vinnig jou lyf nat te kry, die krane toe te draai, seep aan te wend en dit dan vinnig af te spoel.
• Gebruik ‘n houer om die water op te vang wanneer jy stort sodat jy dié water vir jou toilet kan gebruik.
• Gebruik handdoeke en linne meermale voordat jy dit was.
• Dra ook klere soveel keer as moontlik. Selfs al lyk jy ietwat verslons, lyk jy steeds pragtig.
• Indien jy gelukkig genoeg is om ‘n boorgat op jou erf te hê, beperk steeds jou waterverbruik. Dit is ook water wat kan opdroog. Gebruik boorgatwater om jou toilet mee te spoel.
• Gebruik waterlose handwasmiddel. Hou dit by die huis, in jou motor en in jou handsak. Daardie vinnige handewas-sessies gebruik uiteindelik hope water.

11. En in die naam van droogte doop ek jou…
(Die Burger, 1 Februarie 2018)
Nolan Venter
Ek was nog ‘n laaitie toe ‘n knellende droogte ons land in 1970 getref het. Miskien nou nie een soos wat ons tans beleef nie, maar droogte bly nou eenmaal droogte. Aarde, mens, voël en dier het destyds gesteier onder die gebrek aan lafenis van Bo.
Heel gepas het die owerhede dié jaar as Waterjaar verklaar. Danksy Waterjaar was op die deure en vensters van elke onderneming en woning ‘n plakker met ‘n kraan waaruit ‘n enkele waterdruppel drup.
Maar selfs die uitmergelendste droogte gaan dikwels gepaard met ‘n bietjie humor. En dis hier waar Regop inpas.
Regop was ‘n tata wat in een van die vele buitewyke van my geboortedorpie in die voormalige Transkei gewoon het. Sy naam het hy te danke aan sy regop en fier stappie, kompleet nes ‘n kers in ‘n blaker. Hy het gewerk by ons enigste dorpsgarage (in ‘n tyd toe ‘n mens ‘n kar se tenk met minder as R5 kon volmaak).
Op pad skool toe het ek verby sy werksplek geloop. Dan sou ek Regop tussen die petrolpompe sien, netjies uitgevat in sy blou oorpak. ‘n Mens kon hom deur die spreekwoordelike ring trek. Sy vrou, Trifina, was trots op haar Regop en het oor naweke sy werksklere met haar fyn voetjies in die wasgoedbad skoongetrap. Totdat die ghries en olie waterdigte kouse om haar enkels en kuite gevorm het.
Smiddae ná skool het ek altyd by Regop ingeloer. Dan sou ek my verkyk aan hoe behendig hy sy werk doen. Van die herstel van ‘n binneband se lek tot ‘n enjin wat hy besig was om af te takel. By Regop het ek verslete motorbande gekry waarmee ek met twee besemstokke en ou kar-olie as smeermiddel in ons dorp se stofstrate rondkerjakker het.
Ook het Regop altyd vir my die grootste aainies (koeëllaers) gebêre waarmee ek my pelle se albasters fyn en flenters geskiet het.
Af en toe het Regop my ook toegelaat om op sy dikwielfiets te ry. Die soort waarvan jy die pedaal agtertoe trap om te briek.
Een middag vertel Regop my trots dat Trifina hulle tweede kind verwag. Toe loop hy éérs regop! En toe ek op ‘n dag weer ‘n draai by die garage loop, kry ek Regop waar hy peinsend op die buiteband van ‘n ou Massey Ferguson-trekker sit. Met ‘n Colgate-glimlag en ‘n Gold Dollar Plain-sigaret in een van sy mondhoeke.
Trifina het die vorige aand die lewe geskenk aan ‘n knewel van ‘n seun wat die skaal op twee pond en ‘n goeie paar onse getrek het.
“En sy naam?” wou ek weet. “Waterjaar,” het hy geantwoord. Nou wonder ek. As Regop en sy geliefde Trifina in hierdie noodlottige droogtetyd nog gelewe en hulle wéér met ‘n seun geseën sou wees, watter naam sou hulle aan die kleinding gee. Dag Zero, miskien?
Terug na Inhoud

12. ‘Ek het vir Wiese gesê hy maak ‘n fout’
‘As hy goed moet gaan uitsorteer, sal hy’
(Die Burger, 17 Januarie 2018)
Nellie Brand-Jonker
Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, het sy jare lange vriend Christo Wiese oor die Steinhoff-groep gemaan.
“Ek het vir hom gesê ek stem nie met hom saam nie en hy maak ‘n fout,” het Basson gister gesê.
Wiese het twee jaar gelede die grootste aandeelhouer in Steinhoff geword toe hy sy aandele in die Pepkor-groep vir aandele in dié maatskappy verruil het. Hy was voorheen die beherende aandeelhouer in Pepkor.
Wiese, wat ook die grootste aandeelhouer in Shoprite is, sou ook sy aandele in dié maatskappy vir aandele in Steinhoff se nuwe Suid-Afrikaanse filiaal verruil het.
Dit sou daartoe gelei het dat Steinhoff beheer oor Shoprite kry.
Die transaksie het egter deur die mat geval ná die gebeure van die afgelope maand. Markus Jooste het skielik as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank, ‘n ondersoek na boekhou-onreëlmatighede is begin en die groep se aandeelprys het ineengestort.
Steinhoff het vroeër vandeesmaand bekend gemaak twee boekjare se finansiële state moet van nuuts af opgestel word en daar kan moontlik ook onreëlmatighede in vorige boekjare se state wees.
Sedert 4 Desember het Steinhoff se aandeelprys met byna 90% getuimel.
Wiese het R2,5 miljard van sy Shoprite-aandele in Desember verkoop en dit hou waarskynlik met die gebeure verband.
Basson is gister uitgevra of sy bedanking by Shoprite einde 2016 – ná amper vier dekades aan die stuur – met die beplande Steinhoff-transaksie verband gehou het, soos wat destyds bespiegel is.
Basson het te kenne gegee hy was inderdaad nie te vinde vir so ‘n transaksie nie.
“Dit sou my nie gepas het nie.
“Ek hou nie van ‘n konglomeraat van ondernemings nie. Ek hou van een of twee of drie gefokusde ondernemings.
“Ek sou dit nie kon bestuur nie. Ek ken nie sulke slim mense wat dit sou kon bestuur nie.”
Volgens hom het hy aan Wiese gesê hy dink hy is “op die verkeerde pad” met die transaksie.
“Ek kon nooit vir Steinhoff evalueer nie.”
Dit is iets wat talle finansiële ontleders intussen oor Steinhoff kwytgeraak het.
“Ek het nie verstaan waarin belê word nie. Maar ek kon nie vir hom sê hy moenie daarin belê nie; ek het net gesê ek gaan nie my geld daarin sit nie.
“Ek het gesê ek verkoop my aandele en ek gaan dit nie ruil nie …”
Oor gerugte dat hy en Jooste nie langs dieselfde vuur gesit het nie, sê hy “almal weet dit”.
“As ek nou blatant kan wees, hoe sit jy aan ‘n direksietafel as jy nie respek het vir almal nie …”
Op die vraag of Wiese intussen dalk aan hom erken het hy was verkeerd, sê Basson hulle is al 30 jaar lank vriende en wat Wiese privaat aan hom sê, kan hy nie herhaal nie.
“Hy is nie ‘n haatdraende mens nie, maar is baie gedissiplineerd in sy optrede. Hy sal nooit in die openbaar sê dié ou was ‘n skelm of dáái ou het dit gedoen nie.
“Hy het nie ‘n los mond nie,” het Basson gesê.
Wiese het intussen as voorsitter van Steinhoff bedank.
Hy het in Augustus verlede jaar nog berigte oor probleme by Steinhoff gekritiseer.
Baie beleggers meen Wiese moes vroeër van die probleme geweet het. Op die vraag of daar waarheid daarin kan steek, sê Basson: “Ek het hom altyd as ‘n eerbare mens beskou. Ons het nog altyd eerlik en openlik met mekaar gepraat in ons onderhandelinge.
“Ek het nog nooit gesien dat hy oneerlik is nie.”
Of hy van enige moontlike bedrog sou geweet het, meen hy dit maak nie sin nie, want Wiese is die “grootste verloorder” in die gebeure.
Wiese se reputasie as een van Suid-Afrika se voorste sakeleiers het wel skade gely. “’n Voorsitter word aan sy voorsitterskap gebind …”
Oor die moontlikheid dat Wiese hom sal vra om terug te kom, sê hy: “Ek sal nooit ooit weer die CEO job vat nie. I’ve been there.
“Maar as ek goed moet gaan uitsorteer, sal ek dit met liefde gaan doen.
“’n Klomp ouens het my al gebel en gevra hoekom ruk ek nie dinge reg nie, en dan sê ek ek kan myself nie eens regruk nie,” lag hy.
Hy ontken dat hy en Wiese oor die moontlikheid praat dat hy terugkom.
Basson is vandeesweek in die nuus nadat hy ‘n direkteurskap by Clover aanvaar het.
Hy sê hoewel hy al deur baie ander maatskappye genader is vir direkteurskappe, is die voedselgroep Clover die enigste een wat hy nog aanvaar het.
“Ek wil nie niks doen nie, maar ek wil ook nie heeltyd operasioneel besig wees nie. Ek wil nie natgesweet by die huis aankom en natgesweet opstaan nie.”
Hy is self bereid om iets nuuts te begin as hy iets kan teruggee aan Suid-Afrika, sê hy.
Terug na Inhoud

13. ‘Ek soek ‘n enkelkajuit-viertrek. Limited Edition. Met radio, de lot’
(Die Burger, 15 Januarie 2018)
Charles Smith
Hy is self karloos en sukkel sonder sy eie sweismasjien, maar in ‘n kamer agter sy huis in Phahameng, Theunissen, bou Seun Diphoko (40) die mooiste karre wat seuns van alle ouderdomme laat swymel.
Seun, soos almal hom hier noem, is ‘n meester-draadkarbouer.
Hy toor met sy tang die mooiste replikas van Toyota Hilux- en Ford-bakkies op – kompleet met allooiwiele en ingeboude radio’s waarop jy musiek in die ry via Bluetooth vanaf jou selfoon kan stroom.
Elke draadkar spog met sy eie unieke eienskappe. Hy bou met materiaal wat hy op die skrootwerf versamel: tabakblikke vir allooiwiele met die buitebande gemaak van ou buitebande van fietse.
Die glas vir die ligte en spieels koop hy van handelaars.
Nadat die raamwerk met die hulp van sy seuns, Sabatha, Sello en Lebohang, gebou is, is sy vrou, Elisa Lebona, die verwer.
Dan kry die Hiluxe die etikette by, soos as hy Legend 45 of ‘n Limited Edition gebou het.
Netwerk24 se fotograaf Mlungusi Louw is saam met my waar ons by sy netjiese HOP-huis stilhou nadat ons ‘n halfuur gesoek het.
Almal in die township weet van die man wat die mooi “stootkarre” maak, ook die seuns wat in die straat makoeroekoeroe speel met ‘n blikkie en klippe.
Nadat ek sy seun Sabatha in September langs die hoofpad met so ‘n mooi draad-Hilux gesien het, het ek besluit buig of bars, ons gaan die meester opspoor.
Ons skud blad. Sy vriend Mohapi Ramohomane van Brandfort het ook daar aangekom.
“Ek is hier om vir my ‘n mooi Hilux te bestel,” sê ek. Maar Seun se fabriek het nie tans voorraad nie.
Hy het wel ‘n mooi vierwielmotorfiets, wat ek dadelik koop.
Dis in my oë suiwer kuns. Dis van die beste vakmanskap denkbaar. ‘n Eie Suid-Afrikaanse skepping, ‘n draadkar, word in sy hande ‘n afbeelding van die superrygoed wat vir hom self onbereikbaar is.
Die Hilux word vereenselwig met duursaamheid en krag.
En hierdie land.
Daar jaag Giniel de Villiers op die oomblik in so ‘n Hilux in die Dakar-wedren.
“Ek het twee van sy Hiluxe by my,” spog Mohapi.
“Ek bou nie net Hiluxe nie. Ek bou wat jy soek. Enige ding, Hilux, Ford, Kombi’s,” sê Seun.
“Wil jy ‘n Cheetah-bus hê? Ek maak hom vir jou. Gou-gou.”
Hy is besig om ‘n bus van draad en yster vir die Celtic-sokkerklub in Bloemfontein te maak.

Die bus is 1,5 m lank en sy dak pryk kniehoogte.
Sy wiele gaan van toiletpype wees wat hy afsaag en opdollie.
Celtics het al ‘n paar van sy karre gekoop.
Seun doen eers deeglik navorsing oor elke nuwe draadkar wat hy aanpak.
As hy ‘n nuwe model op die pad sien, gaan klop hy by die handelaar aan vir ‘n boekie en bestudeer elke lyn en kenmerk van die voertuig voordat hy hom aanpak.
Selfs die paneelbord is identies aan die ware Jakob.
“Jou Hilux – wil jy ‘n dubbel- of enkelkajuit hê?” vra Seun.
Ek dink aan my eie Valiant wat ek en Tamé 40 jaar gelede op Mispa gebou het.
Ek was trots op sy handrat langs die stuurwiel en sy veerstelsel van geroeste binddraad wat uit my ma se ou hoenderhok gekom het.
Dis tyd om op te gradeer. Dis ‘n groot dag: Ek koop my heel eerste nuwe bakkie.
“Ek soek ‘n enkelkajuit-viertrek. Limited Edition. Met radio, de lot.”
Seun se oë meet die nuwe klant in sy sinkhuis. Hy kry ‘n speelse trek om die mond.
“Ek gooi vir jou ‘n sleepwa met ‘n motorfiets in,” sê hy.
“Sjap!”
Bou hy vliegtuie ook?
“Ek bou vliegtuie, ja daai grotes wat in Bloemfontein land. Wat is hulle name?”
“Boeings.”
“Ek bou Boeings, ja. Wil jy een hê?”
Net daar bestel ek ook ‘n Boeing van Seun. Ek kan hom al van die dak sien hang en sweef in die wind wat deur die huis trek.
Op daai vliegtuig sal baie drome gelaai wees.
Seun was ‘n plaaswerker wat noodgedwonge van die plaas af moes trek nadat hy sy been 15 jaar gelede gebreek het in ‘n ongeluk met ‘n trekker. Met R3 500 in sy sak.
Dis toe dat hy besluit het om met sy hande te werk. Om draadkarre te bou. Mooies. Droomkarre. Vir laaities en ooms, rykes en armes.
Nou bou hy tot 15 draadkarre per maand. Dis ‘n orraait inkomste. Maar Sabatha mag weens veiligheidsredes nie meer bemarking langs die pad doen nie.
Mense van Gauteng en Kaapstad het al hier gestop en karre gekoop.
Nou moet hy Mohapi se kar leen om met geleenthede soos die Bloemskou op straat karre te verkoop. Bemarking is ‘n probleem.
Of hy moet duimgooi stad toe. Elke uur weg is gemeet in tyd en geld ‘n nekslag vir sy besigheid.
Hy bou elke dag van die week, selfs Sondae.
‘n Buurman braai ‘n skaapkop oor ‘n oop vuur. Kinders sit in ‘n kring en praat oor Seun en sy karre wat “ge-shoota” word (foto’s).
Het hy self ‘n kar?
“Niks, pappa. Maar ek soek ‘n Hilux. Nie ‘n Ford nie. My eie, regte Hilux.”
Terug na Inhoud

14. SA sangeres maak geskiedenis op Unisa-kompetisie
(Die Burger, 6 Februarie 2018)
Kunsredaksie
Die Suid-Afrikaanse sangeres Cecilia Rangwanasha is die eerste plaaslike klassieke sangeres wat aangewys is as wenner van Unisa se Internasionale Sangkompetisie.
Sy het Saterdag, 3 Februarie die afdeling vir klassieke musiek gewen.
Daar was vanjaar nóg ‘n nuutjie met die toevoeging van die kategorie vir jazzmusiek. Die eerste wenner in dié kategorie was die Franse sangeres Cynthia Abraham.
Die kompetisie het op ‘n hoë noot geëindig met drie soprane wat Saterdag in die finale ronde in die ZK Matthews-grootsaal deelgeneem het.
Die Johannesburgse Feesorkes het opgetree onder leiding van die maestro Vito Clemente van Italië.
Die finale ronde in die jazz-afdeling is Vrydagaand aangebied.
Elke wenner neem R200 000 huis toe.
In die jazzafdeling is die tweede prys van R130 000 toegeken aan Tshepo Tshabalala van Pretoria en die derde prys van R80 000 aan die Britse sangeres Ellie Bignall.
Die Suid-Afrikaanse soprane Thembinkosi Magagula en Palesa Malieloa het onderskeidelik die tweede en derde prys in die klassieke-afdeling gewen.
Spesiale pryse is toegeken aan die Amerikaanse sangeres Tahira Clayton en die sopraan Frances du Plessis vir die beste semifinaliste wat nie deurgedring het na die finale ronde nie.
Twee spesiale pryse is ook toegeken aan Abraham, ‘n Parysenaar van Frans-Gaudeloupiese afkoms. Sy het Suid-Afrika reeds as 18-jarige besoek as deel van ‘n Franse groot orkes wat by Standard Bank Joy of Jazz-fees deelgeneem het.
Die spesiale prys vir die beste optrede van ‘n Suid-Afrikaanse werk in die klassieke-afdeling is toegeken aan Magagula.
Rangwanasha is ook beloon vir haar optrede in die tweede ronde en het die spesiale prys daarvoor gewen. Sy is ‘n student van Virginia Davids en ‘n ateljeelid van Cape Town Opera.
Die kompetisie was besonder suksesvol uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt.
Die internasionale paneel van beoordelaars, almal met indrukwekkende biografieë, het vier Suid-Afrikaners na die eindronde deurgesit. Slegs Abraham en Bignall was nie van Suid-Afrika nie. Dit was weer ‘n bewys van die ongelooflike talent en toewyding van Suid-Afrikaanse sangers.
In die verlede het Suid-Afrikaanse sangers ook sukses behaal in die eindrondes. Rouel Beukes, Johan Botha, Kobie van Rensburg en André Howard is bekende sangers wat almal finaliste in ‘n Unisa Internasionale Sangkompetisie was.
Die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Sibongile Khumalo was die enigste Suid-Afrikaanse beoordelaar in die paneel.
Die klassieke-afdeling se deelnemers het die ondersteuning van die pianis Albie van Schalkwyk, Elna van der Merwe, Susan Steenkamp-Swanepoel en Laetitia Orlandi geniet. Die jazz-pianiste John Fresk, Roland Moses en Bokani Dyer was die begeleiers in die jazzafdeling.
Terug na Inhoud

15. 50 leerlinge in taxi met sitplek vir 15 vervoer
(Die Burger, 7 Februarie 2018)
Cara-Lee Dorfling
Die bestuurder wat gisteroggend 50 leerlinge in ‘n taxi met 15 sitplekke vervoer het, was deur die departement van vervoer in die Oos-Kaap gekontrakteer om leerlinge te vervoer.
Khuselwa Rantjie van die departement het gister bevestig dat die 33-jarige bestuurder wat vroeër die dag in Uitenhageweg naby KwaDwesi met 50 leerlinge in sy taxi betrap is, gekontrakteer is om leerlinge na die Spencer Mabija Combined School in KwaMagxaki te vervoer.
Sy sê die voertuig wat hy gebruik het, was egter nie deel van die kontrak nie.
“’n Afdankingsbrief word voorberei en die departement tref alternatiewe reëlings om die 85 leerlinge waarvoor die operateur verantwoordelik was te vervoer,” sê Rantjie.
Kol. Priscilla Naidu, ‘n polisiewoordvoerder, sê polisie-beamptes was op patrollie toe hulle die oorvol taxi sien.
Sy sê die leerlinge het op mekaar se skote gesit, en bo-op hulle was nóg kinders.
Die taxibestuurder is weens ‘n oortreding van die Padverkeerswet in hegtenis geneem omdat die voertuig oorlaai was. Hy sal vandag in die landdroshof in New Brighton verskyn.
Die polisie het op die Toyota Quantum-taxi beslag gelê en die leerlinge skool toe vervoer.
Rantjie het haar woede oor die voorval uitgespreek en sê al die insittendes se lewe is in gevaar gestel.
“Die bestuurder het kontrakbreuk gepleeg, want ons eerste vereiste is die veiligheid van die kinders en hulle was nie veilig nie.”
Ouers is ook gevra om seker te maak hul kinders klim nie in ‘n oorvol voertuig op pad skool toe nie.
“Die departement het die owerhede versoek om elke liewe voertuig wat skoolkinders vervoer te stop en vir veiligheid te deursoek, maar die ouers moet ons help om soortgelyke voorvalle te voorkom,” sê Rantjie.
Naidu sê dit sal eers later bekend word wanneer die bestuurder in die hof verskyn het.
“Die owerhede in die Nelson Mandelabaai-metro gaan toeslaan op bestuurders om nog voorvalle van oorlading te voorkom,” sê Naidu.

16. Pigcasso: Vark se skildery vir R30 000 verkoop
(Die Burger, 22 Januarie 2018)
Cara-Lee Dorfling
Pigcasso, die vark wat met haar snoet verf, het die eerste dier geword met haar eie kunsuitstalling.
Die kunsuitstalling, waar 20 van Pigcasso se skilderye uitgestal word, is Vrydagaand by die V&A Waterfront in Kaapstad se Clock Tower-gebou geopen.
Dié vark van Franschhoek se voorliefde vir verf is deur haar eienaar, Joanne Lefson, raakgesien en ontwikkel.
Lefson en Pigcasso se paaie het gekruis toe Lefson haar in Mei 2016 gered het van ‘n varkplaas, waar sy geslag sou word.
Die sog se kunsloopbaan het begin kort nadat Lefson die vark se voorliefde vir verfkwaste – wat deur bouers agter gelaat is – raakgesien het.
Pigcasso se kunswerk is ‘n samewerking tussen mens en vark, met Lefson wat die kleure en temas kies, terwyl Pigcasso die verfwerk doen.
Deur hul kunswerke probeer Lefson om verbruikers meer bewus te maak oor die kos wat hulle eet én die katastrofiese gevolge wat fabriekboerdery op die omgewing het, te benadruk.
“Deur verbruikers in te lig oor die ernstige nagevolge van dié bedryf op die planeet, hoop ons om verbruikers te inspireer om meer ingeligte keuses te maak om ‘n volhoubare planeet te skep vir die volgende generasies,” sê Lefson.
Pigcasso is kort ná haar eerste skildery as ‘n verfsensasie bestempel en het in 2017 weer opslae gemaak toe een van haar skilderye vir R23 500 aan ‘n paartjie in Wallis verkoop is.
Pigcasso se skildery genaamd COW is teen R30 000 verkoop.
Lefson sê dié skildery is deur ‘n plaaslike kunsversamelaar gekoop, terwyl twee Duitsers nog twee skilderye, teen R7 500 elk, gekoop het.
Pigcasso se skilderye sal kopers tussen $300 en $4 000 (sowat R3 650 en bykans R50 000), uit die sak jaag, waarvan die opbrengs aan Lefson se Farm Sanctuary South Africa, waar Pigcasso bly, geskenk sal word. Farm Sanctuary SA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat fokus op ‘n volhoubare voedsel-produksiestelsel wat die nadelige effekte daarvan op die planeet verminder.
Pigcasso se uitstalling is nog tot einde Februarie by die Water-front te sien. Daarna skuif dit na Londen, Parys, Berlyn en Amsterdam.
Terug na Inhoud

17. Antibiotika en jou kind
Dit is vir geen ouer lekker as hul kind siek is nie, maar dink twee keer voordat jy jou dokter boelie om antibiotika vir jou baba of kleuter voor te skryf. Dit kan skadelik wees, skryf Riëtte Grobler.
(Rapport Beleef, 14 Januarie 2018)
‘Onnodige’ antibiotika
Internasionale navorsing dui daarop dat een uit elke drie antibiotika-voorskrifte onnodig is, sê prof. Morgan Chetty, voorsitter van die Onafhanklike Praktisynsvereniging (IPA). Boonop toon navorsing dat die nadelige gevolge van onnodige antibiotika-gebruik om babas en kleuters te behandel veel erger is as wat vroeër vermoed is. Buiten ‘n omgekrapte magie op kort termyn, kan die gevolge op lang termyn insluit dat belangrike bakterieë in ‘n kind se spysverteringskanaal uitgewis word.
Dit het op sy beurt ‘n impak op immuniteit en metabolisme, wat ‘n mens se gesondheid lewenslank kan aftakel, sê een van die voorste navorsers op dié gebied, dr. Martin J. Blaser, ‘n mikrobioloog, direkteur van die menslike mikrobioom-program aan die New York-Universiteit en skrywer van Missing Microbes.
“Ongelukkig word antibiotika dikwels voorgeskryf omdat dit vir die ouers en dokters gemoedsrus gee, eerder as omdat dit werklik nodig is,” waarsku prof. Shabir Madhi, ‘n professor in entstofwetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand en direkteur van die Mediese Navorsingsraad se respiratoriese en meningitis-navorsingseenheid. Shabir is ‘n internasionale leier op die gebied van siektes wat deur inentings voorkom kan word.
Wat is antibiotika?
“Antibiotika word voorgeskryf om infeksies te behandel wat deur bakterieë veroorsaak word,” sê Shabir. “Dit sluit middeloorinfeksie, longontsteking en infeksie in die brein in.” Nie alle bakterieë reageer dieselfde op antibiotika nie en daarom het dokters die opsie van breë- of nouspektrum-antibiotika.
Dr. Kathy Krige, ‘n pediater by die Thriving Kids-praktyk in Kaapstad, verduidelik wat die verskil is:
“Breëspektrum beteken dit maak ‘n groot verskeidenheid bakterieë dood. Dit word voorgeskryf as daar onsekerheid is oor watter bakterie ‘n pasiënt siek maak, of as die pasiënt baie siek is. Nouspektrum beteken die antibiotika behandel meer spesifiek die klas bakterie wat die siekte veroorsaak. Dit word gebruik as die spesifieke bakterie bekend is.”
Het my kind dié keer antibiotika nodig?
Ja! Antibiotika is slegs doeltreffend om bakteriese infeksies te behandel, sê Morgan. “Babas is veral in die eerste drie maande baie vatbaar vir infeksies. As daar ‘n moontlikheid is dat hulle infeksie het en ‘n koors van 38°C of meer het, is dit die veiligste om wel met antibiotika te begin, aangesien bakteriële infeksies vinnig in klein babas versprei,” sê Kathy.
Toetse word dan gedoen om te bepaal of die siekte bakterieel of viraal is en of ‘n spesifieke soort bakterie die kind siek maak. Sy sê antibiotika word aanbeveel vir ‘n slegte oorinfeksie, mangelontsteking en urienweginfeksies by babas en kleuters.
Nee! Volgens Shabir is antibiotika nutteloos om virale infeksies, wat deur virusse veroorsaak word, te behandel. Dit kom meer algemeen as bakteriële infeksies voor. “In die meeste gevalle het kinders wat ‘n huisdokter besoek oor ‘n verkoue of oorinfeksie nie antibiotika nodig nie,” sê hy.
“Diarree word meestal deur virusse veroorsaak en antibiotika sal dus nie daarvoor help nie – antibiotika kan diarree ook vererger en moet slegs toegedien word as daar bloed in die stoelgang is.” Masels en waterpokkies asook sommige lugweginfeksies is ook viraal, sê Morgan.
Kathy sê antibiotika werk gewoonlik nie vir verkoue en griep nie.
Een van die uitdagings wat dokters in die gesig staar, is dat hulle nie oor die gereedskap beskik om vinnig in die spreekkamer tussen virale en bakteriële infeksies te onderskei nie, sê Morgan.
Virale infeksies moet simptomaties behandel word met koorswerende medikasie. Kathy sê kinders se immuniteit kan opgebou word met sink-aanvullings, echinacea en probiotika.
Mikrobes se vernietiging lei tot asma, diabetes en kosallergieë.
Die uitwerking van antibiotika
Een van die redes waarom antibiotika so geredelik voorgeskryf word, al is daar ‘n bewustheid van die moontlike gevare, is omdat dokters én pasiënte die gevare onderskat het, sê Martin. “Dokters is al lank bekommerd oor die verspreiding van antibiotika-weerstandigheid, maar ouers was meer begaan oor hul kind se gesondheid.
“Nou word dit toenemend duidelik dat antibiotika ‘n langtermyn-uitwerking op hul kind se gesondheid kan hê, veral vanweë blootstelling wanneer kinders nog baie klein is.”
Kinders is vatbaarder vir die newe-effekte van antibiotika as volwassenes, sê Martin. Navorsing hieroor is in September 2017 in die joernaal Nature Communications gepubliseer.
Neem dié risiko’s in ag
• Ouers kan veral kennis neem van die navorsing wat Martin en sy span doen oor die vernietiging van die mikrobioom – ‘n lewende netwerk onsigbare mikro-organismes of mikrobes in ons liggaam, waaronder bakterieë tel. Die mikrobioom speel ‘n kritieke rol in gesondheid.
In Missing Microbes waarsku Martin oor die “verdwyning” van groot dele van die mikrobioom vanweë antibiotika-oorgebruik. Sy navorsing wys die mikrobioom ontwikkel baie in die eerste drie lewensjare en dat oordeelkundige antibiotika-gebruik in dié fase dus nodig is.
“Antibiotika versteur die natuurlike kurwe waarvolgens mikrobes ontwikkel,” sê Martin. “Kan die mikrobioom herstel? Ons weet nie. Daar is ‘n kans, maar ook dat die abnormaliteite wat in die ontwikkelingsperiode ontstaan het, tot permanente skade kan lei.”
Martin-hulle se bevindings dui daarop dat die vernietiging van belangrike mikrobes onder meer aanleiding gee tot ‘n toename in asma, spysverteringsprobleme, diabetes en kosallergieë.
By kinders is vetsug ook een van die onvoorsiene gevolge van vroeë antibiotika-gebruik, veral in gevalle waar kinders voor tweejarige ouderdom vier of meer kursusse antibiotika gebruik het.
• Volgens Morgan is daar elke keer wanneer antibiotika voorgeskryf word ‘n risiko dat die pasiënt ‘n ernstige reaksie op die medisyne kan ontwikkel soos diarree en inflammasie in die kolon. Kathy sê daar is ‘n risiko vir candida-swaminfeksie of maagpyn. Probiotika kan dit nie voorkom nie.
• Nog ‘n probleem wat deels deur die oorgebruik van antibiotika veroorsaak word, is antibiotika-weerstandigheid. “Dit is wanneer bakterieë ‘aanpas’ en nie meer deur een of meer antibiotika doodgemaak word nie,” sê Shabir.
Hoe meer ‘n weerstandige bakterie in ‘n gemeenskap sirkuleer, hoe meer kan dié bakterie van mens tot mens oorgedra word, wat selfs by diegene sonder antibiotika-blootstelling tot weerstandigheid kan lei, sê Morgan.
Volgens Shabir is daar reeds ‘n krisissituasie by Suid-Afrikaanse hospitale omdat sommige bakterieë wat algemeen in hospitale voorkom, weerstandig geword het teen al die plaaslik gelisensieerde antibiotika.
“Gelukkig is daar steeds geskikte antibiotika beskikbaar vir die behandeling van minder ernstige siektes.”
Inenting
Voorkom in die eerste plek dat jou kind ernstig siek word, deur hom te laat inent, sê prof. Shabir Madhi en prof. Morgan Chetty.
Die pneumokokkale gekonjugeerde entstof (pneumococcal conjugate vaccine) kan die algemeenste oorsake van oorinfeksies, longontsteking en breinvliesontsteking voorkom.
Die rotavirus-entstof is doeltreffend in die voorkoming van die meeste diarree-verwante siektes in jong kinders.
Ouers se plig
“Ouers moet besef die voorkoming van antibiotika-oorgebruik is nie net hul dokter se verantwoordelikheid nie. Hulle moet die behoefte weerstaan om daarvoor te vra,” sê Morgan.
“Laat jou dokter besluit.”
Dit beteken egter nie jy moet net ‘n antibiotika-voorskrif aanvaar nie. Vra of dit régtig nodig is, veral as jou kind nie ‘n hoë koors het nie en die siekte van korte duur is, sê Shabir.
“Dokters moenie knak onder die druk wat ouers op hulle plaas om antibiotika voor te skryf nie en moet hulle eerder verduidelik wat die moontlike oorsake van ‘n siekte kan wees,” sê hy.
In Suid-Afrika beywer die National Antibiotic Stewardship Group hulle daarvoor om dokters verantwoordbaar te hou vir antibiotika gebruik, sê Morgan.
Hy meen egter groter bewusmaking oor die korrekte gebruik van antibiotika onder pasiënte is nodig, sodat pasiënte “aktiviste” eerder as “passiviste” in hul eie gesondheidsreis kan wees.
• Besoek www.martinblaser.com om ‘n uittreksel uit dr. Martin J. Blaser se boek Missing Microbes te lees. Die e-boek is op Takealot beskikbaar.
Terug na Inhoud

18. ‘Revolting Rhymes’ wen ‘n Annieprys in VSA
(Die Burger, 6 Februarie 2018)
Laetitia Pople
Die rolprent Revolting Rhymes, geskep deur die Kaapse animasie-ateljee Triggerfish, is die naweek in Amerika vereer met ‘n Annie-prys vir spesiale produksie.
Dit volg nadat dit pas ook vir ‘n Oscar benoem is.
Die Annies, wat vanjaar vir die 45ste keer toegeken is, vereer prestasie in internasionale animasiekuns en word beskou as die grootste eer in dié bedryf. Dit is Saterdagaand in die Royce-saal op die kampus van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles oorhandig.
Die aand is oorheers deur die Disney/Pixar-prent Coco wat elf van die dertien kategorieë waarin dit benoem was, gewen het. Dié verhaal, oor ‘n Mexikaanse seuntjie wat sy drome volg ondanks teenkanting van sy familie, is die beste animasieprent, en het ook vir regie gewen. Dit is nou feitlik ‘n uitgemaakte saak dat Coco ook die Oscar gaan wen as beste animasieprent.
Triggerfish, wat saam met die BerlynseMagic Light-animasie-ateljee aan Revolting Rhymes gewerk het, het die Annie vir spesiale produksie gewen.
Die regisseur was Jakob Schuh, wat ook al ‘n Oscar-benoeming vir The Gruffalo gekry het, en Jan Lachauer, wat benoem is vir ‘n Oscar vir Room on the Broom. Albei die prente is gegrond op Julia Donaldson se boeke. Bin Han To is die mederegisseur.
Revolting Rhymes is reeds bekroon met ‘n gesogte Grand Crystal-prys by die Annecy-rolprentfees in Frankryk en het die prys as beste animasieprent gewen by die Baftas vir kinder-prente. Revolting Rhymes is gegrond op die gewilde Britse skrywer Roald Dahl se tong-in-die-kies-rympies waarin hy oorbekende tradisionele feeverhale opstuur met sy kenmerkende swart humor.
Waar Dahl se “afskuwelike” rympies elkeen ‘n afsonderlike storie vertel, het die Revolting Rhymes-span van die verhale ineengevleg om ‘n eie storie met ‘n eiesoortige aanslag te vertel.
Die beste onafhanklike animasieprent is The Breadwinner oor ‘n jong meisie wat grootword in die Taliban-beheerde Afganistan. Sy vermom haarself as ‘n seun om so vir haar gesin kos te vind nadat haar pa siek word.
Die Oscars word op 4 Maart aangewys.
Terug na Inhoud

19. Faf, Kagiso en plaaspelle wys die ware SA
(Die Burger, 16 Januarie 2018)
Charles Smith
Nes jy dink Suid-Afrika sink vir altyd weg in ‘n diep put van ellende en mislikheid, gebeur dinge wat jou weer hoop gee.
In ‘n week van die Mooinooi-onthullings, ‘n pa wat skuldig bevind is aan die moord op sy baba, Cyril (met ‘n paar plase) wat jóú plaas ook wil hê en die tragiese Hennenman-treinramp het iets skielik gebeur.
Die eerste iets wat my laat regop sit het, was toe Faf du Plessis, Protea-kaptein, in die uitstekende eerste toets teen Indië op Nuweland die snelbouler Kagiso Rabada omhels en teen die voorkop soen. Sjoe, het ek gedink, in dié land waar swart en wit mekaar takel, slegsê en vermoor, is dít ‘n groot oomblik.
Dit was ‘n gebaar met ‘n boodskap wat duisend toesprake nie kan nadoen nie.
Dit het ‘n Indiër geverg om die gebaar uit te lig, wat vreemd genoeg nie juis die sosiale media plaaslik laat gons het nie. Abhishek Baxi skryf op Twitter met die foto by: “Ná jare van rasseskeiding gevolg deur twee dekades van isolasie van internasionale krieket, is die kaptein wat sy sterbouler soen, ‘n beeld waarop Suid-Afrikaanse krieket trots kan wees.”
In die Vrystaat was die storie met die matriekuitslae wat treffend was – naas Afrikaanse kinders wat soos altyd presteer – leerlinge van Qwaqwa, een van die armste streke in die land, wat die tweede en derde beste, Phole Mofokeng en Refilwe Selepe, opgelewer het. Die beste was Stehann van Jaarsveld van St Andrew’s.
My onderhoud met Refilwe het my diep laat nadink. Sy is die dogter van ‘n taxi-bestuurder in ‘n arm gebied – daar waar ‘n ma met haar drie kinders verlede naweek in die Sterkfontein-dam ingery het.
Refilwe het 100% behaal in drie vakke, wat wiskunde en fisiese wetenskap insluit. En sy wil ‘n dokter word om te help om die land te red. Om Qwaqwa se armes te help.
Die onderhoud met Segogo Molete, hoof van die Rantsane Secondary School, waar Refilwe skoolgaan, het my sprakeloos gehad. Die skool het ‘n program om leerlinge uit arm gesinne en huishoudings sonder ouers by te staan waartoe elke onderwyser 1% van hul salaris bydra.
Die matrieks slaap, eet en leer vir ‘n jaar by die skool. En hy weet van elkeen van die oudleerlinge wat studeer om dokters, ingenieurs en landboukundiges te word.
Ek en die fotograaf Mlungisi Louw is ook na Hennenman om met twee helde in die treinramp te gesels. Evert du Preez (12) en Mokoni Chaka (12) is boesemvriende. Hulle praat Afrikaans en Sotho vlot. Hulle jol, vang vis, swem, gooi kleilat, ry perd, braai ystervark en tarentaal. En hulle práát. Heeltyd. Vertel stories. Hul storie is simbolies van wat ons kán wees. Hulle is die jong Fafs en Kagiso’s.
Ons gaan tog orraait wees. Ek glo so, ja.
Terug na Inhoud

20. Die onmoontlik droom?
(Die Burger, 24 Januarie 2018)
Willemien Brümmer
My tweejarige seun praat die mooiste Afrikaans. Hy weet al stories begin met “lank, lank gelede” en dat dit eindig met “fluit-fluit my storie is uit”.
Wanneer hy snags nie wil slaap nie, vertel hy vir my die verhaal van Sneeuwitjie uit sy kop, en hy onthou die meeste van die sewe dwergies se name: Rasie, Stankie, Laggie, Kwaaitjie, Snuifie, Bossie en Vraatjie.
Hy weet dat die Bose Koningin die towerspieël in duisende stukkies breek, en hy is mal oor Liewe Heksie en haar sterretjieskombuis. Hy ken woorde soos “gevaarlik”, “moersleutel” en “gereedskap” en hy’s bang vir die grondmonster en die kabouterspook.
Hoekom vertel ek dit? Ja, dalk wíl ek spog met my slim kind (fyn brêg, het ons dit in die tyd voor Facebook genoem), maar eintlik het dit met ‘n veel meer wesenlike, veel ingewikkelder besluit te doen.
Nou bevind ek my op wankelrige terrein, want ek wou nog nooit regtig by die taaldebat betrokke raak nie omdat die meeste taalstryders my koud laat. (Noem my maar ‘n leftover lefty met ‘n oordrewe skuldgevoel. Ek is nie skaam daaroor nie; dis deel van my DNS.) Aan die ander kant het ek in ‘n huis grootgeword waar stories – in Afrikaans – deel van my geboortereg was.
Toe ek in Toledo, Ohio, skoolgegaan het in gr. 8, het ek pouses alleen my toebroodjies in die badkamer geëet omdat my skoolmaats gedink het Van der Merwe is ‘n Russiese van en Afrika is ‘n land.
Ek het besef ek kan nie in Engels vir my skoolmaats vertel van Towerkop in Ladismith nie. Hulle sou nooit kon verstaan hoe eindeloos blou die Karoo se lug is nie of dat die waterkloof by Hoekoe vir my soos kerk is nie. Wanneer ek in die sneeu huis toe geloop het, het ek besef die hol gevoel in my maag kon nie met die woordjie “loneliness” beskryf word nie.
Vandag weet ek “mamma” is die mooiste woord in Afrikaans en dat my taal – sy moedertaal – die grootste geskenk is wat ek vir my seun kan gee. Ek wil nie die wêreld vir hom verduidelik in enige ander taal nie en die woordjie “love” sal mos nou nooit dieselfde beteken as liefde nie.
Ek weet hoe skaam ek in my gr. 1-jaar in Kanada was omdat ek in ‘n taal moes leer wat soos lood op my tong gevoel het. En ek onthou die brief in sy groot koevert wat ek terug in Suid-Afrika van juffrou Newsome en my klasmaats ontvang het waarvan elke letter so groot soos een van my vingers was.
Dalk is dít wat hulle gedink het. Dat ek net sou kon verstaan as alles so groot en brutaal soos Noord-Amerika is.
Volgende jaar gaan my seun vir die eerste keer skool toe, en dié kwartaal moet ons doen wat ons eintlik al by geboorte moes gedoen het: Ons moet besluit na watter skool ons Matthias wil stuur.
Toe ek klein was, het ons huisdokter bloot gesê “all schools are bad, send your child to the nearest”, maar ek’s bevrees dis nie meer so eenvoudig nie.
Indien Matthias in Afrikaans skoolgaan, is daar net een skool waarheen ons hom kan stuur – behalwe as ons wil trek na agter die Boereworsgordyn.
Dié skool is weens die stad se demografie lelieblank en hulle volg die nasionale kurrikulum. Ek weet nie wat dié betrokke skool se benadering is nie, maar ek weet in dié kurrikulum word oorspronklike denke allermins voorop gestel en dit gaan grotendeels oor onthou eerder as dink.
As ons hom na ‘n Engelse skool stuur, kan hy na ‘n Waldorf gaan waar hy smiddae saam met sy maats kan boomhuise bou – of in sy gr. 3-jaar kan hy koring plant, oes, maal en daarvan brood bak.
Of ons kan hom na die private skool om die hoek stuur waar emosionele intelligensie as belangrikste waarde bemark word; of na Reddam naby my werk waar hy eendag sy A levels kan kry.
Vir nou gaan ons waarskynlik maar die mog’t troffe-benadering volg: Ons skryf hom oral in (selfs al kan ons dit nie bekostig nie) en kyk waar hy aanvaar word.
Maar ek wil nog steeds woon in ‘n land waar ons (en hy) die reg het om te kies en heimlik te hoop. Waar ons die vryheid het om ons eie foute te maak.
Nie waar jy outomaties ‘n “rassis” is omdat jy wil hê jou kind moet eendag Brolloks en Bittergal lees nie. Nie waar jou kind dalk deur ‘n rubberkoeël getref kan word omdat hy leer in die taal waarin hy leef nie.
Of droom ek dalk nou die onmoontlike?
Terug na Inhoud

21. Onnies se resep vir sukses
Hier is 19 goed wat jou kind se onderwyser wil hê jy moet hoor, skryf Alet Wichmann.
(Rapport Beleef, 28 Januarie 2018)
Elke ouer stuur sy kind skool toe met net die beste wense en verwagtinge. Maar wat kan jy doen om werklik ‘n bydrae te lewer om jou kind te help om sy skoolloopbaan suksesvol te maak? Ons het ‘n paar onderwysers gevra vir hul beste wenke aan ouers.
1. Moenie die skool afkraak en die onderwysers verkleineer nie, sê ‘n gr. 12-onderwyser van Pretoria. Jy kan nie verwag jou kinders moet leer by ‘n onderwyser wat hy nie respekteer nie omdat jy by die huis die onderwyser se swak eienskappe uitgewys het nie. Kinders volg ouers se voorbeeld. As ‘n ouer nie respek vir gesagsfigure het nie, sal die kind ook nie hê nie, voeg ‘n gr. 9- en 11-taalonderwyser van Randburg by.
2. Implementeer ‘n soortgelyke dissiplinestelsel by die huis as by die skool. Vergewis jou van die skoolreëls en sorg dat jou kind se voorkoms en gedrag in ooreenstemming daarmee is.
3. Dissipline en respek vir ander begin by die huis, sê ‘n gr. 9-onderwyser van Pretoria. Dis die grootste geskenk wat ‘n ouer vir sy kind se onderwyser kan gee volgens haar.
4. Moenie ‘n helikopterouer wees nie, maar moet ook nie onbetrokke wees nie, sê ‘n voormalige hoërskoolonderwyser van Bellville wat deesdae ekstra wiskundeklasse by haar huis gee. ‘n Helikopterouer trek selfs sy kind se handboeke oor en ry alles agter hom aan, sê sy. As jou kind byvoorbeeld sy oefenklere by die huis vergeet en dit vir hom bloot ongerieflik gaan wees as hy dit nie het nie, moet dit nie aanry nie. Maar as dit iets belangrik is wat hy vir ‘n toets nodig het, kan jy dit maar neem.
5. Moenie jou kind dwing om vakke te neem wat nie binne sy talente val nie. Laat hom toe om sy sterk punte te ontwikkel deur sy belangstellings te volg en vakke te kies waarin hy goed sal wees. Daar is meer as net taal- en wiskunde-intelligensie en jou kind sal nooit daardie velde ontdek as hy die verkeerde vakke neem nie. Dit kan lei tot ‘n swak selfbeeld en ‘n onwilligheid en vrees om nuwe dinge te probeer.
6. Moenie te veel klem plaas op akademiese sukses nie. Sukses behoort te wees wanneer jou kind sy potensiaal bereik. Onnodige druk kan lei tot ‘n suksesvolle, maar ongelukkige kind.
7. Vermy konflik in die oggend voor skool. Sorg die vorige aand al dat jou kind se klere reggesit en sy tas gepak is. Bring die oggend saam ‘n rustige oomblik oor ontbyt deur en vertrek betyds by die huis.
8. Maak plek vir jou kind se vriende in jou huis en lewe. So sal jou kind veiliger wees en jy sal meer oor sy wêreld leer en weet.
9. Sluit elke dag reg af en moenie kwaad gaan slaap nie. Laat jou kind gaan slaap met die gevoel dat hy goed genoeg is.
10. Help jou kind om breër te leer as net sy skoolwerk. Lees saam die koerant om die ontbyttafel of luister radionuus op pad skool toe. Algemene kennis rondom byvoorbeeld politiek en geldsake is belangrik.
11. Moenie ‘n bohaai maak oor swak uitslae of as jou kind nie ‘n span haal nie. Dis gedane sake en sal jou kind net minderwaardig laat voel.
12. Leer jou kind dis nie altyd lekker om die regte ding te doen nie, maar dit maak ‘n verskil. “My kinders het dit gehaat as ek dit vir hulle sê, want dan weet hulle dis iets wat hulle verplig sal voel om te doen,” vertel ‘n gr. 12-onderwyseres van Pretoria en ma van twee volwasse kinders, ‘n onderwyser en die ander ‘n predikant.
13. Daag jou kind uit om vrae te vra en leer hulle dat onderwysers graag help. Op dié manier raak jou kind selfstandig en jy hoef nie voortdurend die skool te bel met vrae nie.
14. Doen moeite om jou kind te leer kommunikeer, sodat hy gehelp kan word in gevalle van groepsdruk, as iemand hom boelie of as hy ‘n teleurstelling beleef of dalk verloor.
15. Moenie jou kind se take en huiswerk vir hom doen nie, waarsku die onderwysers byna almal in een stem. ‘n Mens leer eintlik dan die kind dat hy nie vertrou kan word om self take te verrig nie, waarsku die een. Jou kind moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie werk en foute, sê nog een. Help hom egter om baie werk in kleiner hanteerbare eenhede te verdeel, sodat hy dit met gemak kan takel. As die huiswerk te veel is om op een dag te doen, moet hy ‘n plan uitwerk om dit oor ‘n paar dae en betyds vir inhandiging te voltooi. Take leer ook kinders om onder druk te werk en om spertye te haal. As ‘n ouer hierdie take vir hul kind doen, leer hulle hierdie vaardigheid en nie hul kind nie.
16. Navorsing is ‘n vaardigheid wat jy jou kind moet leer. Om ‘n taak te doen, is byvoorbeeld ‘n proses waardeur jou kind leer om verskillende bronne te gebruik. Wanneer hy die navorsing self doen, leer hy hoe om deur baie inligting te sif om inligting op te som en in sy eie woorde weer te gee. Dit is ‘n proses wat moet plaasvind om jou kind gereed te maak vir die eksamen, en ook vir universiteit en die wêreld van werk. Dit verg dus beplanning om die navorsing betyds af te handel, deur die inligting te werk en die taak te doen. Hierdie vaardighede gaan ook verlore as die ouers dit vir die kinders doen.
17. Nasorg is deel van ‘n belangrike leerproses. Nasorg beteken ‘n kind kyk weer na sy klaswerk en huiswerk nadat dit nagesien is, sodat hy die foute kan regstel. Sonder nasorg maak ‘n kind dieselfde foute in die klaswerk, huiswerk, toetse en eksamen. Dit leer ‘n kind ook verantwoordelikheid en deursettingsvermoë omdat hy moet aanhou, selfs al kry hy dit nie dadelik reg nie.
18. Moedig jou kinders aan om aan sport deel te neem. Dit ontwikkel hul liggame en leer hulle van balans.
19. Moedig jou kind aan om betrokke te wees, maar wees self ook betrokke deur sy aktiwiteite én oueraande by te woon.
Terug na Inhoud

22. Foon in die klas: Ja of nee?
Daar’s ‘n neighing dat slimfone nie by laerskole toegelaat moet word nie, skryf Suzanne Venter.
(Rapport Beleef, 28 Januarie 2018)
Terwyl Franse wetgewing binnekort skoolkinders gaan verbied om enige selfoon op die skoolterrein te bring, is plaaslike skoolhoofde ook besig om stadigaan keelvol te raak vir die probleem.
“Daar is op die oomblik geen formele wetgewing in Suid-Afrika oor die gebruik van selfone – dom of slim – in skole nie,” sê Riaan van der Bergh, tegnologiebestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). “Maar daar is wel nou ‘n nuwe neiging dat slimfone nie meer by laerskole toegelaat word nie.”
Hy dien in die beheerliggaam van die Laerskool Fairland in Johannesburg, waar hulle verlede week ‘n brief aan ouers gestuur het om hulle in te lig dat geen selfone of soortgelyke toerusting soos slimhorlosies meer by die skool toegelaat word nie.
“Frankryk wil die wetgewing instel omdat die land voel dat kinders verslaaf raak aan hul selfone en dit op die ou end ‘n slegte invloed het op hul psigiese welstand. En plaaslik is dit ook die groot oorwegingsrede. By Fedsas het ons deeglike navorsing gedoen en doen gereeld aanbevelings aan skole oor dié tipe ding,” sê Riaan. “Op die ou end word sulke besluite aan die beheerliggaam van elke skool oorgelaat en daar is nie nou planne vir amptelike wetgewing in die land nie.”
Onder 13’s kort net domfoon
Een van die betrokkenes by die navorsing in Suid-Afrika is Carla de Beer van The Digital Law Co. Volgens haar het hulle gevind dat kinders onder 13 net ‘n basiese foon moet hê, aangesien hulle nog nie die volwassenheid het om ‘n slimfoon te gebruik nie.
“Dis al wat jou kind nodig het om in kontak te wees met jou sou iets gebeur, andersins kan hulle altyd van die kantoor af bel,” sê sy.
“Dis wel goeie praktyk om slimfone in hoërskole toe te laat en ons beveel aan dat kinders dit in die oggend inhandig en dit dan toegesluit word totdat hulle huis toe gaan.
“Dis ook belangrik dat skole ‘n sosiale-mediabeleid moet hê wat reëls neerlê oor die verantwoordelike gebruik van sosiale media en slimfone. Skole moet leerlinge oplei en die nodige kennis aan hulle gee oor die moets en moenies van sosiale media.”
Fedsas het laasjaar met meer as 150 skole gepraat en meer as 200 000 leerlinge oor die hele land ingelig oor die verantwoordelike gebruik van sosiale media.
Die Franse ‘is belaglik’
Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, stem saam dat opvoeding die sleutelwoord is. “Die beplande wetgewing in Frankryk is belaglik. In hierdie eeu waarin ons leef, is dit totaal argaïes. Dit verteenwoordig nie progressiewe denke nie, maar herinner aan ou denke wat my koue rillings gee. Dis so goed soos jy sê vir ‘n kind hy mag nie ‘n liniaal skool toe vat nie, want hy kan ander kinders daarmee slaan. Jy moet hom mos leer hoe om dit reg te gebruik,” sê hy.
Sy voorstel is dat ouers kinders onder toesig leer hoe om ‘n slimfoon te gebruik.
“En die ou gesegde van ‘moet my nie leer nie, wys my’ is hier van toepassing. Jy kan nie van jou kinders verwag om buite te speel as jy heeldag voor die televisie sit nie,” beveel Kobus aan.
Dis nie goed vir jou kind
Sowat 60% van skoolkinders wat slimfone besit, kommunikeer stadiger as hul klasmaats – verbaal én wanneer hulle skryf – wys navorsing deur die American Academy of Pediatrics, wat vyf jaar gelede gedoen is.
Carla sê selfone het ook ‘n nadelige invloed op veral kinders se slaappatrone. Die blou lig van selfoon- en tabletskerms is te skerp, soortgelyk aan daglig, en onderdruk die afskeiding van melatonien, die hormoon wat ons liggame “slaapgereed” maak. Daarom slaap kinders nie meer genoeg nie en dit beïnvloed konsentrasie en ontwikkeling.
Sy beveel aan dat kinders nie toegelaat moet word om met ‘n selfoon bed toe te gaan nie en dat ouers ‘n “skermvrye omgewing” in hul kamers moet skep. Sy sê ouers kan ‘n “selfoonkontrak” op hul webtuiste (thedigitallawco.com, kyk onder “blog”) aflaai, waarin ouer en kind ooreenkom op die hoeveelheid “skermtyd”.
Dis nie net sleg nie
Riaan van der Bergh, tegnologiebestuurder van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê daar is ‘n klein persentasie onderwysers wat wel selfone gebruik om lesse aan te bied.
“Dis tyd om te aanvaar dat die 21ste eeu hier is. Vanjaar se gr. R-leerlinge voltooi hul skoolloopbaan in 2030. Skole moet die wêreld waarin hulle funksioneer en die generasie van ouers en leerlinge wat hulle dien, verstaan,” sê hy en beveel aan dat ons tegnologie sinvol aanwend.
“Klaskamertegnologie is volgens my meer waardevol in die leerproses as ‘n foon in die tas wat nie gebruik word nie. Die internasionale tendense begin neig na die skep van sagteware en die gebruik van tegnologie om oplossings te vind vir probleme, eerder as om dit net te gebruik vir genot,” sê hy.
Prof. Gerhard van Huyssteen van die Noordwes-Universiteit stem saam. Hy gee klas aan tweedejaarstudente in Afrikaans en Nederlands en leer vir sy studente hoe om hul fone te gebruik tot hul voordeel.
“Ek gebruik die hele tyd my foon vir werk, so dit het sin om die studente ook te leer hoe. Ek gebruik fone vir die opsoek van woorde in VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) se woordeboek-toepassing en vir die vergelyking van verskillende internasionale woordeboeke se inskrywings oor waar woorde vandaan kom (inklusief Engels en Nederlandse webblaaie en woordeboeke).
“Ons vergelyk ook Wikipedia-inligting in Afrikaans, Engels, Nederlands, ensovoorts. En gebruik fone vir die indirekte kennismaking met beskikbare Afrikaanse taaltegnologieë (byvoorbeeld spraakherkenning in Google-stemsoektogte), en vir die aflê van Beter Afrikaans-toetsies om byvoorbeeld spelling te verbeter,” sê hy.
“Die opsies is legio. Dit gaan vir my daaroor om hulle te leer hoe om die selfoon of tablet as navorsingsinstrument te gebruik.”
Terug na Inhoud

23. Lig gewerp op SA kunswerke
(Die Burger, 25 Januarie 2018)
Elsabé Brits
Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se werk is die eerste keer met wetenskaplike metodes bekyk om die verskuilde kuns, tegnieke en verf wat hulle gebruik het bloot te lê.
Angela Zehnder en Bronwyn Leone, skilderybewaarders van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsgalery in Kaapstad, het drie jaar lank gewerk om van die bekendste kunstenaars in die versameling se werk te bestudeer.
Dit was danksy ‘n skenking dat hulle ‘n gesofistikeerder mikroskoop en ultraviolet-kamera kon aankoop, asook die geld kon hê om X-strale en ander tegnieke te gebruik.
Die uitstalling staan bekend as Painted Surfaces.
Een van die opwindendste vondste was ‘n landskap van Frederick Timpson I’Ons (1802-1887).
Hy het op ‘n tinplaat geverf wat al die tyd ‘n koekie-advertensie (Peek Frean) van ‘n Londense maatskappy was. Deur navorsing kon hulle ook die skildery dateer danksy ‘n stempel op die advertensie.
Details op ‘n skildery van Freida Lock (1902-1962) wys hoe nie al die blomme wat sy geskilder het uiteindelik op die doek wys nie. Die agtergrond se kleur verskil ook. “Dit wys haar tegniek en hoe sy dit aangepak het. Op dié manier kan ‘n mens baie van ‘n kunstenaar leer,” sê Zehnder.
Sy wys ook na die oorspronklike palette van Gerard Sekoto (1913-1993) wat in besit is van die kunsgalery. Deur die palette en verf wat hy gebruik het te ontleed, asook die manier waarop hy sy kwas en verf gebruik het, kan ‘n mens sien of dit ‘n Sekoto is of nie. Kunstenaars is lief vir spesifieke kleure en pigmente, sê sy. Indien ‘n vervalsing ooit opduik, sal die hoogs gesofistikeerde chemiese ontleding wat gedoen is van groot hulp wees.
‘n Portretstudie deur Irma Stern (1894-1996) van Lippy Lipshitz se ontleding wys die natuurlike vernis wat sy gebruik het, het die oorspronklike kleur van die verf in 1944 uiteindelik laat vergeel.
Zehnder wys na ‘n werk van Edward Wolfe (1897-1982) van ‘n vrou wat hy in 1938 gedoen het getitel Aishia. Wanneer ‘n mens dit in die donker onder net fluoressensie bekyk, is haar gesig pienk-oranje. Dit is omdat hy ‘n natuurlike pigment, genaamd “rose madder”, gebruik het wat van ‘n plant afkomstig is.

Die Uitstalling
Die uitstalling duur tot 1 April. Op Woensdag 7 Maart van 13:00 tot 14:00 sal die vriende van die galery ‘n spesiale toer aanbied onder leiding van Leone en Zehnder. Vir meer inligting en besprekings stuur e-pos na sangfriends@iziko.org.za

Die tegnieke en skilderye van Stanley Pinker (1924-2012) is ook in die soeklig en verskeie van sy persoonlike artikels, asook stensils wat hy gebruik en self gemaak het, is op die uitstalling.
George Pemba, Alexis Preller en Thomas Baines se werk is ook ontleed.
Mense wat siggestremd is, kan ook die uitstalling besoek omdat daar ‘n spesiale boek deur Sandra Eastwood gemaak is met elke werk in. Jy voel met jou vingers oor die werke en elke detail van elke skildery kan gevoel en ervaar word.
Terug na Inhoud

24. Lewenstadia van Homo naledi bekyk
190 tande vertel hul eie verhaal
15 INDIVIDUE GEïDENTIFISEER
(Die Burger, 31 Januarie 2018)
Elsabé Brits
Die lewenstadiums van 15 individue van die menslike voorsaat Homo naledi wat saam in die Rising Star-grotte gevind is, is deur kenners ontleed.
Die werk deur ‘n span plaaslike en internasionale kenners is gisteroggend in die South African Journal of Science gepubliseer.
Die duisende fossiele van Homo naledi is vroeër in die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind.
Daar is fossiele in twee grotkamers gevind: Dinaledi, wat eerste deur prof. Lee Berger, paleontoloog van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand, gevind is, en Lesedi, ‘n tweede grotkamer wat later gevind is.
Die nuwe navorsing is gedoen op die tande van 15 individue wat in Dinaledi gevind is. Dit sluit drie babas, vier kinders, ‘n “tiener”, vier jong volwassenes en ‘n ou hominied in. Die hele lewensiklus is dus verteenwoordig, luidens die navorsing. Twee kon nie spesifiek geklassifiseer word nie omdat al hul maaltande nie gevind is nie.
Altesame 190 tande is gevind. Kenners kan onder meer aan die verwering en die kake sien hoe oud iemand was. ‘n Baba word byvoorbeeld wel sonder tande gebore, maar twee rye tande lê reeds in die kaak: melktande en permanente tande. Hoeveel van die melktande al uitgekom het én waar in die kaak bepaal ouderdom. Hoe kinders hul melktande wissel vir permanente tande volg ook ‘n bepaalde patroon totdat hulle tieners is.
Eers in adolessensie kry ‘n mens jou laaste maaltande. Die destydse dieet het tande aansienlik meer afgeslyt soos die individu ouer geword het. Die ou hominied se permanente tande was aansienlik verweer, volgens die studie.
Daar is nog baie fossiele op die terrein en die vermoede bestaan dat meer volwassenes gevind sal word.
Nog drie individue is vroeër in Lesedi gevind: twee volwassenes en ‘n baba. Dié vonds sluit een van die volledigste skelette van ‘n menslike voorsaat in. Dit is die fossiel van ‘n volwasse man, wat Neo gedoop is.
Die getal individue wat dus gevind is, is 18.
Die Homo naledi-fossiele is tussen 335 000 en 236 000 jaar oud – jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mens in Suid-Afrika op die grasvlaktes gewandel het.
Berger en sy span is verlede jaar in September terug na die grotkamers vir nog opgrawings. Die resultate hiervan is nog nie bekend gemaak nie.

25. Seldsame artefakte gevind nadat gletsers in Noorweë smelt
(Die Burger, 25 Januarie 2018)
Elsabé Brits
Gletsers wat smelt weens klimaatsverandering lê nou artefakte en ander items van honderde, selfs duisende jare gelede bloot.
In die berge van Oppland in Noorweë is argeoloë besig om sistematiese opnames te doen in gebiede waar daar tot 4 000 jaar gelede net ys was, maar nou nie meer nie.
In die jongste uitgawe van die vakjoernaal Royal Society Open Science skryf kenners verbonde aan die Universiteit van Cambridge, wat deel is van die studie, hoe 2 000 artefakte al gevind is.
Dit sluit in wapens, klere, skoene, velle, pylpunte en ander organiese materiaal uit die Yster- en Bronstydperk wat andersins nooit bewaar sou gebly het nie. Die koue help om items wat van vel of materiaal gemaak is te bewaar.
Radiokoolstofdatering is al gedoen op 153 van die items, wat wissel van 4 000 jaar tot ‘n paar eeu gelede.
Die invloed van die Vikings, die pes, jagter-versamelaars en landbou kan onder meer gesien word. Daar was veral baie mense in die gebied tussen die agtste en tiende eeu, in die tyd voor die Vikings, wat begin het om te migreer en handel het toegeneem.
Ná die 11de eeu het mense saam in groepe gejag – soos om diere in groot valkuile in te jaag.
Terug na Inhoud

26. Groot vonds van nuwe dinosourus in Egipte
(Die Burger, 31 Januarie 2018)
Elsabé Brits
Die fossiel van ‘n dinosourus wat so lank soos ‘n moderne bus was, is in die Saharawoestyn in Egipte gevind.
Dit is ‘n baie rare vonds omdat daar tot nog toe relatief min fossiele uit die laat Kryt-tydperk – tussen 100 miljoen en 66 miljoen jaar gelede – in Afrika gevind is.
Dié nuwe ontdekking is luidens ‘n artikel in die vakjoernaal Nature Ecology and Evolution gedoen in die Quseir-formasie naby die Dakhla-oase in die weste van Egipte.
Die vierpotige dinosourus het 80 miljoen jaar gelede geleef en was ‘n planteter. Op sy lang nek het hy beenagtige plate gehad.
Hoewel die dinosourus van kop tot stert so lank soos ‘n bus was, het hy waarskynlik soveel soos ‘n olifantbul geweeg.
Aan die begin van die dinosourusse se bestaan, deur die grootste gedeelte van die Trias- en daaropvolgende Jura-tydperke, was al die vastelande deel van die super-vasteland Pangea. In die Kryt-tydperk het dié vasteland begin opbreek en het die kontinente geskuif na die konfigurasie wat vandag bestaan.
Tot watter mate Afrika en sy diere verbind was met die ander vastelande word nog bestudeer. En tot watter mate watter diere destyds afsonderlik ontwikkel het, of afgesny was, word ook bestudeer. Dié betrokke dinosourus (Mansourasaurus shahinae) was egter nader verwant aan dié in Europa en dié van Asië.
Volgens die studie wys dit dat sommige diere aan die einde van dié tydperke tog tussen die vastelande kon beweeg.
Terug na Inhoud

27. 10 000 jaar oue stuk kryt, gemaak van oker gevind
(Die Burger, 30 Januarie 2018)
Elsabé Brits
‘n Stuk kryt wat gebruik is om op diervelle en ander materiaal te teken is in die noorde van Yorkshire gevind.
Dié skerppuntkryt is sowat 10 000 jaar oud en van oker.
Dit is luidens ‘n verklaring van die York-Universiteit naby Scarborough gevind naby wat destyds ‘n meer was. Daar is ook ‘n ander stuk oker daarby gevind wat waarskynlik die stukkie was waarteen dit skerper gemaak is.
Dit is heel waarskynlik gebruik om mee te teken.
Die oudste stukkies oker waarop daar patrone gekrap is, is in Suid-Afrika by Blombos in die Suid-Kaap gevind. Dit is in 2001 saam met gereedskap gevind en is danksy die lae waarin dit gevind is, gedateer tot 77 000 jaar gelede.
Daarna het prof. Chris Henshilwood van die Universiteit van die Witwatersrand en sy span in 2011 ‘n kunswerkwinkel van 100 000 jaar gelede by Blombos ontdek. Die vonds bestaan uit kliphamers, maalklippe, oker, bene en perlemoenskulpe. Dit is alles gebruik in ‘n proses om okerverf te maak.
Die artefakte is in die laag gevind nes die mense dit destyds gelos het. Die perlemoenskulpe wat gebruik is om die oker in te bewaar is in kwartsneerslae gevind.
Terug na Inhoud

28. !Xun-vertaling van Bybel begin
(Die Burger, 6 Februarie 2018)
Christiaan Cloete
‘n Groep inwoners van Platfontein gaan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika help om die Bybel in !Xun te vertaal.
Dié projek, om al 32 000 verse en ongeveer 900 000 woorde in die Bybel te vertaal, kan volgens Masenyani Baloyi, hoof van vertaling by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, bykans ‘n dekade neem.
Die groep het volgens Baloyi reeds verlede Maandag met die vertaalwerk begin en die mikpunt is om dit teen 2026 te voltooi.
Volgens Baloyi sal drie vertalers uit die groep geïdentifiseer word wat heeltyds, van Maandag tot Vrydag, vertaalwerk sal doen. ‘n Hersieningskomitee van 15 mense sal vier keer ‘n jaar vergader om die vertaalwerk te hersien.
Volgens Baloyi sal die drie hoofvertalers van verskillende kerke wees. Daar is juis op drie vertalers besluit sodat wanneer ‘n meningsverskil oor ‘n spesifleke teksvers opduik, die verskil deur ‘n beslissende stem opgelos kan word.
Die vertaling word met behulp van die oorspronklike Hebreeuse skrif vertaal, asook verskeie ander vertalings.
Dit is volgens Baloyi ‘n baie ingewikkelde taak om die Bybel te vertaal, aangesien die vertalers seker moet wees dat alles op die grondteks gegrond is.
“Die 1983- en 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel verskil byvoorbeeld wesenlik van mekaar omdat dit op twee verskillende vertalingsteorieë gegrond is.
“Terwyl die 1983-vertaling meer dinamies is, is die 1953-vertaling letterlik,” sê hy.
Volgens Baloyi is 19 000 mense in totaal oor Suid-Afrika, Namibië en Botswana heen die !Xun-taal magtig.
Ongeveer 4 000 mense uit hierdie groep woon in Platfontein.
Terug na Inhoud

29. Die ligtheid van SYN
(Rooi Rose, 6 Februarie 2018)
Ligtheid is ‘n gesogte eienskap. Met “ligtheid” bedoel ek nie dat blonde vroue noodwendig baie meer sexy en gewilder as donker- of rooikoppe is nie. Die graad van ligtheid is ook nie ‘n maatstaf vir ‘n Internet-maatsoekagentskap of vir aanstellings by ‘n gesellinklub nie.
Ligtheid van aard is die mikpunt wanneer soesies en tamboesies, poffertjies en skuimpies, koeke en terte geskep word.
Word ‘n koek of tert as “lig” en “klam” beskryf, het dit uitgestyg bokant die kluitjierigheid en die neergeslane, dor aard van ‘n mislukking. En swymel die beoordelaars van ‘n vrouevereniging-, of landbouskou-, of televisie-bakkompetisie met die oortreffende “véérlig!” oor ‘n inskrywing, is die bakker verlig. Ongeag of dit ‘n vanielje-, sjokolade- of rooifluweelkoek is – ligtheid is die voorvereiste vir ‘n pronkstuk.
Buiten “veerlig” as kriterium, word “veerkragtigheid” as gids voorgeskryf om te bepaal of jy jou gebak uit die oond kan haal: “Sodra die baktyd verstryk het, druk liggies met die vingers op die koek om te bepaal of dit deurgebak is. Bons dit terug, kan jy dit uithaal. Veerkragtigheid dui daarop dat die bakproses voltrek is. Dis gaar en deurgebak. Jy kan dit nou uit die oond haal,” is losweg die gids wat aan lekemeesterbakkers voorgehou word.
En dis met die term “veerkragtig” wat die ooreenkoms met fyngebak en edele mense bekragtig word.
Net soos wat die ligtheid van tekstuur van koeke en terte en delikate soetgoed onderskei, so veredel ligtheid van syn sterflinge. En net soos wat Milan Kundera dit in sy roman The Unbearable Lightness of Being beskryf het, is die ligtheid van syn raar, ontwykend, aanskoulik en verbysterend.
Dis wat ek elke keer beleef wanneer ek saam met ons ma, Hanna Lubbe-Crafford is. Of selfs net aan haar dink.
Met ‘n skamele drie jaar tussen haar 97 jaar op die aardkors en ‘n eeu, is haar lewe van ligjare aanskoulik.
Sy is op 18 Februarie 1921 gebore. In dié tyd wat sedertdien verstryk het, het motors op dreef gekom, vliegtuie het op engelevlak hul koers ingeslaan, twee Wêreldoorloë is met die verlies van geliefdes en grondgebied gestry, gely, verloor en oorwin. Sy het rantsoenering en oorvloed deurleef – kos-koepons tydens die veldslae en vloede aan die oewers van die Groot Gariep waar sy as kind en grootmens ‘n bestaan gevoer het.
Sy het kinders in die wêreld gebring en haar geliefde Karools deurgesien toe hy die lewe voortydig verlaat het. Hoe kariger haar reserwes was, hoe ruimskootser het sy uitgedeel. Die armstes onder die armes het sy oorvloedig met haar skamele besit begunstig en terselfdertyd word sy as edele mens onder rykes en invloedrykes geag.
Al vier van ons meisiekinders, haar (oorgeblewe!) skoonseuns, en haar ses kleinkinders en hul geliefdes – wat sy almal “kêrels” noem – kan getuig dat sy nooit inmeng nie, nooit kritiseer nie, nooit vra nie. Net gee en gee en gee en hoofsaaklik in terme van liefde.
Al het sy in haar kamer in ‘n versorgingsoord met net ‘n tafel en ‘n katel en ‘n hangkas daarin nie veel meer om te gee as haar welwillendheid en ‘n toepaslike Bybelvers nie, gee sy.
Sy gee met elke weersiens haar gasvryheid wanneer sy haar hekelwerk aan die talloosste KANSA-kombers neersit en die blik sjokoladestokkies op haar “lessenaar” vir jou aanbied. Sy gee met elke krisis en sukses vir jou die versekering dat sy vir jou op jou naam bid en dat ‘n deur altyd vir jou sal oopgaan – en nie net aan ons naasbestaandes nie. Eweneens stort sy op vriend en vreemdeling en versorger in ewe ruimskootse mate haar liefde uit. En tussen deur sing sy soos wat sy sing vandat ek haar ken – voor die stoof, terwyl sy wasgoed ophang, terwyl sy by sterfbeddens waak en terwyl sy ‘n nuwe kleinkind teen haar bors sus. Net so sing sy ondanks die elkedagse.
Net soos met ‘n pronkstuk wat deur ‘n meesterbakker geskep is, het haar ligtheid-van-syn en haar helderheid van verstand en gees haar kenmerk in die menslike toestand van onvolmaaktheid geword. “Julle kan kook en bak en skryf en somme maak. My talent is geluk.” Dít sê ons ma gereeld.
Ten spyte van die geliefdes wat sy afgestaan het, ten spyte van lewenstorme wat om haar slaan, ten spyte van haar houtstoof wat lankal nie meer brand nie en haar oond waaruit sy veerligte koeke gehaal het, wat koud geword het, sing sy vandag nog soos vandat ek haar leer ken het. Nogtans sal sy jubel.
Ten spyte van haar liggaam wat deur die gang van seisoene en siekte en amper honderd jaar wat verstryk het nog net ‘n sagte sakkie vel met bene daarin is, het sy haar veerkragtigheid behou.
Wat ook al haar lot en haar omstandighede is, groei en gedy sy deur haar aanpasbaarheid en styg sy bo die kluitjierige dorheid van die mislukkings en terugslae uit en bons veerkragtig terug.
Nes ‘n pronkstuk wat met sorg keurig deur ‘n meester geskep is, en deur die ligtheid van syn onderskei word.
Terug na Inhoud

30. Facebook sê spoedig wat hy alles met jou inligting doen
(Die Burger, 30 Januarie 2018)
Reuters
Facebook het gister gesê hy gaan vir die eerste keer sy privaatheidsbeleid publiseer, saam met ‘n reeks opvoedkundige video’s, om gebruikers te help beheer wie toegang kan kry tot die inligting op hul profiele.
Dié stap kom aan die vooraand van streng nuwe wetgewing in die Europese Unie oor die beskerming van data.
Volgens Erin Egan, privaatheidshoof van Facebook, sal die video’s gebruikers wys hoe om die data te bestuur wat Facebook gebruik om advertensies aan hulle te wys, hoe om ou plasings te verwyder en wat met hul data gebeur indien hulle hul Facebook-rekening sou toemaak.
Die maatskappy, met sy meer as 2 miljard gebruikers wêreldwyd, het gesê hy het nog nooit vantevore sy privaatheidsbeleid – wat die beginsels en reëls bevat oor hoe Facebook gebruikers se persoonlike inligting hanteer – bekend gemaak nie.
Gister se aankondiging is ‘n teken van sy pogings om gereed te wees voordat die Europese Unie se algemene data-beskermingsregulasies (GDPR) op 25 Mei van krag word.
Hierdie regulasies verteenwoordig die grootste hersiening van persoonlike privaatheid sedert die ontstaan van die internet.
Ingevolge die GDPR moet maatskappye uitgelekte data binne 72 uur aanmeld en gebruikers toelaat om hul data te kan onttrek en uit te wis.
Sheryl Sandberg, Facebook se bedryfshoof, het verlede week aangekondig dat Facebook ‘n nuwe privaatheidsentrum op die sosialemediaplatform gaan skep sodat al die belangrikste privaatheidsverstellings op een plek is.
Vanaf gister gaan Facebook-gebruikers in hul nuusstroom daaraan herinner word om hul privaatheidsverstellings na te gaan, sê Egan.
Dit is om te verseker dat alle Facebook-gebruikers gemaklik is met watter data hulle deel en met wie.
Terug na Inhoud

31. Ma met koliekbaba gevra om bank te verlaat
(Die Burger, 30 Januarie 2018)
Seugnet van Zyl
‘n Vrou is gevra om ‘n FNB-tak in Rustenburg, Noordwes, te verlaat omdat die gehuil van haar drie maande oue babadogter, wat koliek het, glo ander kliënte gesteur het.
Die ma, wat nie haar naam bekend wou maak nie, sê ‘n sakebestuurder van die tak in die Waterfall-winkelsentrum het haar gevra om die baba buite “met ‘n bottel melk of iets te gaan kalmeer”.
Die ma se sakevennoot, Elsa Doubell, sê hulle het daardie Donderdag byna twee uur in die banktak gewag om gehelp te word.
Hulle was skaars voor toe die bestuurder na die ma stap en haar ten aanskoue van die ander kliënte vra om die tak te verlaat.
Die twee vroue was verstom oor die bestuurder se versoek. Hulle het eers gedink hulle hoor verkeerd.
Hulle het “wat?” gevra en die bestuurder het die versoek herhaal. Hulle het haar gevra of sy ‘n ma is, waarop sy ja geantwoord het.
“Ek was só geskok,” sê die ma.
Langs hulle het ‘n man glo gesê dat hy nog nooit iets so “walglik onbeskof” gehoor het nie. Die bestuurder was juis besig om dié man se navraag te hanteer.
Die bestuurder het die vroue later om verskoning gevra nadat hulle by die takbestuurder oor haar optrede gekla het.
FNB se hoofkantoor het die ma ook gister gebel om haar om verskoning te vra.
Lee-Ann van Zyl, uitvoerende hoof van FNB Points of Presence, het bevestig dat hulle die bewerings in ‘n baie ernstige lig beskou.
Sy sê die voorval word ondersoek.
Terug na Inhoud

32. In die huwelik kan humor die toorn verlig
(Die Burger, 6 Februarie 2018)
Annelie Botes
Sielkundiges sê al jare lank dat ons nie altyd ‘n keuse het oor die dinge wat met ons gebeur nie, maar dat ons beslis ‘n keuse het in hoe ons daarop gaan reageer.
Daardie einste keuse en gevolglike reaksie het menige van ons al duur te staan gekom.
Andersom ook. Tog, normaalweg is dit die negatiewe gevolge wat ons bybly en aan ons kou.
Van my grootste spyte is die kere dat ek my humeur vieslik verloor en my power gedra het. Dermate dat ek my steeds daaroor skaam.
Verál teenoor die gryse, want hy is ‘n besadigde man wat selde sy stem verhef, en nooit borde rondgooi nie. Maar wanneer hy die slag sy voorvinger stokstyf naby my neus punt en sis: “Vroumens …” weet ek dis tyd om my plek te ken.
Een van die wenresepte om konfliksituasies in die huwelik te ontlont, is humor. Maar as die knorrigheid ons beetpak, dink ons selde aan laggoeters. Dis makliker en meer selfgeldend om mekaar aan die strot te gryp en soos vrot velle rond te skud.
Toe ons finaal besef ons gaan vir drie maande op ‘n smal boot in mekaar se ruimte rondtrap, het ons onderneem om geduld aan die dag te lê. Ons is albei stewig van lyf: ek in die breedte; hy in die lengte en ‘n bietjie in die breedte ook.
Die boot, meubels ingeslote, is ‘n skamele ses voet twee duim breed. Geen manier hoe ons by mekaar kan verbystáp in die gangetjie nie. Iemand moet stilstaan en padgee. Die goue reël word toe dat die bewegende persoon loopvoorrang het.
Nou moet ek eers vertel van die gryse se kollega Charl en sy vrou, Judy. Hulle is buitelugmense. Kampeer, 4×4-ritte, motorfietsuitstappies, naweekstappers.
Oral waar hulle reis, gaan hulle honde saam.
Om te verhoed dat die voertuig of tent poeferig ruik, het hulle die honde mooi geleer.
As hulle sê: “boude!”, kom staan die honde reg dat hulle met ‘n weggooilappie sindelik gemaak kan word.
Wragtig, die eerste keer op die boot toe die gryse loopvoorrang het, blaf hy vir my: “boude, boude!” En skoon verskrik plak ek my bors gedweë teen die kantpaneel van die boot vas, sodat hy kan verbyskuur. Onwetend hy gaan met sy vrieskoue rugbyslothand oor my slaapwarmagterstewe vryf asof ek nie seggenskap oor my eie boude het nie.
Slegs ons onderneming tot geduld het my daarvan weerhou om na hom te byt. Dit kon in ‘n geveg ontaard het wat ons tyd op die boot sou versuur het.
Langerlaas het “boude, boude!” ‘n skertsding geword. Humorgom in sneeutye toe die hitte van die ysterstofie gedreig het om ons te versmoor. Om liewer nie te praat van die truuks wat ons op mekaar uitgehaal het in die verbyskuur nie.
Die Prediker beveel aan: Daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg …
Terug na Inhoud

33. Kamele by ‘skoonheidskompetisie verbied oor botoks
(Die Burger, 26 Januarie 2018)
Twaalf kamele is vanjaar se Kameelfees in Saoedi-Arabië belet omdat hulle glo met botoks ingespuit is om hulle mooier te laat lyk.
CNN berig duisende kamele neem jaarliks aan die Koning Abdoelaziz-kameelfees deel waar hul voorkoms beoordeel word, onder meer op grond van hul volronde lippe.
Volgens The Guardian moedig die prysgeld van meer as R60 miljoen sommige egter aan om skelmstreke uit te haal.
‘n Mooi kameel het onder meer mooi lippe, delikate ore en ‘n groot neus. Die kompetisie het streng reëls oor die gebruik van middels in die lippe of geskeerde of gesnyde liggaamsdele.
“Botoks word gebruik in die kamele se lippe, ore en soms die kaak,” sê Ali al-Mazrouei die seun van ‘n kameelteler.
“Dit laat die kop groter lyk. Die beoordelaars sê dan: ‘Kyk hoe groot is daardie kop, met groot lippe en ‘n groot neus’”
Volgens die BBC het ‘n plaaslike joernalis in die aanloop tot die fees berig ‘n veearts is betrap waar hy kamele met botoks ingespuit het en hul ore kleiner gemaak het.
Beoordelaars kyk ook uit vir ‘n perfekte boggel. Die plaaslike owerhede beskou die kameelfees in ‘n baie ernstige lig. Hoofregter Fawzan al-Madi sê die kameel is ‘n simbool van Saoedi-Arabië, berig die BBC.
NY Daily News berig Saoedi-Arabië ondergaan tans talle veranderinge. Die land kry sy eerste rolprentteater en vroue sal binnekort toegelaat word om motors te bestuur. Die land wil ook sy afhanklikheid van olie-inkomste verminder deur sy ekonomie te diversifiseer.
Te midde van dié veranderinge het kamele ‘n belangrike simboliese waarde.
Terug na Inhoud

34. Dié piesang jaag lekkerbekke R72,25 elk uit sak
(Die Burger, 31 Januarie 2018)
Die banana split het nou makliker en soeter geword.
Volgens die New York Daily News is die Mongee-piesang, wat met skil en al geëet kan word, ‘n nuwe en soeter variëteit van die bestaande vrug en is dit in Japan gekweek. Dit kos sowat $6 (sowat R72,25) elk.
Volgens die webtuiste Quartz word die meeste van die wêreld se piesangs in ‘n tropiese klimaat verbou en in temperature van meer as 27 °C, maar D&T Farms in Japan hou sy piesangs by −60 °C. Eers hierna plant die boere die piesangs in ‘n temperatuur van 27 °C. Die resultaat is dat die groei versnel en dit veroorsaak dat die skil nie heeltemal ryp word nie en dan ‘n dun, sagte en soet skil is wat maklik geëet kan word.
Dié metode word “vries-ontdooi-wakkermaak” genoem, berig Quartz.
Die Mongee-piesangs is nou in klein trosse van tien beskikbaar en word weekliks in die Tenmanya Okayamastreek in Japan verkoop.
Volgens D&T bevat dié piesangs, veral die skil, baie voeding-stowwe soos vitamien B6, magnesium en triptofaan, maar vyf keer meer suiker.
Terug na Inhoud

35. Die eerste slagoffers
KRIPTOGELD
Party het motor verpand, geld geleen om dit te koop
(Die Burger, 17 Januarie 2018)
Hanlie Stadler
Kriptogeld is die gonswoord van die dag, maar moenie die slagoffer word van skelms wat groot opbrengste belowe nie.
Verskeie bedrieglike e-pos-boodskappe doen die ronde oor nuwe kriptogeldeenhede wat glo groter opbrengste gaan lewer as wat bitcoin, die oorspronklike kriptogeldeenheid, in 2017 gedoen het.
In een van dié e-posboodskappe word gesê bitcoin sal “nooit weer so gek versterk nie. Dis waarom ons moet kyk na waar die volgende groot ding is … Kan jy op die volgende grote spring voordat dit vlieg?”
Hiervolgens is Swisscoin “die waarskynlikste kandidaat vir ‘n opbrengs van 50 000% vanjaar” en daar word aangevoer die Switserse regering steun dit.
Die e-pos word uit Iran (.ir) gestuur.
‘n Vinnige Google-soektog wys dat Swisscoin neerkom op ‘n piramideskema, waar sogenaamde beleggers kommissie betaal word om ander beleggers te werf.
Piramideskemas lewer gewoonlik enorme opbrengste vir die aanvanklike beleggers op, maar stort ineen wanneer nuwe beleggers nie meer gewerf kan word nie.
Dit is ook onwettig.
Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, waarsku dat al hoe meer verbruikers in finansiële moeilikheid beland omdat hulle deur bedenklike skemas in kriptogeld, soos bitcoin en ripple, belê.
Al hoe meer mense klop by dié skuldberadingsmaatskappy, die grootste in Suid-Afrika, aan nadat hulle in kriptogeldskemas wat kitsrykdom belowe, belê het.
“Ons het teen einde verlede jaar ons eerste onderhoude met kriptogeldslagoffers gevoer. Hulle wou skuldberading ondergaan omdat hulle nie meer hul skuld kon betaal nie.
“Tot my verbasing was baie van hulle slagoffers van bedrieglike skemas met kriptogeld wat enorme opbrengste belowe.
“Van hulle het selfs hul motor verpand, ‘n tweede verband op hul huis laat registreer en geld op hul kredietkaart geleen om kriptogeld te koop.”
Roets sê die belofte van ‘n fortuin het nie vir dié mense ‘n werklikheid geword nie. Sommige se rekeninge is gekraak deur buitelandse skelms wat “die laaste pennie” gesteel het. Van die mense het belê deur platforms wat suiwer bedrog was en nooit die kriptogeld gelewer het wat belowe is nie.
In die meeste gevalle het mense bloot verliese gely weens die uiterse wisselvalligheid van die geldeenhede.
“As iets al ooit die sêding bewys het van die groot Amerikaanse sirkuseienaar PT Barnum – ‘There’s a sucker born every minute’ – is dit dié ervaring.
“Vir die meeste van ons met selfs ‘n sweempie inligting oor hoe welvaart geskep word, is dit ooglopend dat kriptogeldeenhede waarskynlik een van die wisselvalligste kommoditeite op aarde is of bes moontlik ‘n volslae bedrogspul.
“Die feit dat twee van die wêreld se suksesvolste beleggers, Warren Buffett en sy langdurige vennoot, Charlie Munger, saamstem dat hulle nooit in kriptogeldeenhede sal belê nie, sê alles.
“Hulle het voorspel dat bitcoin en ethereum – die twee bekendste kriptogeldeenhede – vroeg in die nuwe jaar ‘n enorme duik sou vat.”
Buffett het in ‘n onlangse onderhoud met CNBC gesê: “Ek kan amper met sekerheid sê dat kriptogeld ‘n slegte einde gaan hê.”
Saterdag het kuberkrakers die bediener van BlackWallett, ‘n verhandelingsplatform vir die kriptogeldeenheid stellar lumen, gekraak en $400 000 uit gebruikers se rekeninge gesteel.
Oor die piramideskemas waarsku die webwerf Bitcoin.com dat hulle geen teken van ‘n werklike kriptogeldeenheid kan opspoor nie. Daar is dus geen blokkettingtegnologie agter Swisscoin nie.
Switserland se reguleerder van finansiële markte, Finma, het die maatskappy agter Swisscoin, Euro Solution, op ‘n waarskuwingslys geplaas.
Nog ‘n sogenaamde kriptogeldeenheid vol belofte wat die ronde doen, is OneCoin. Dit is ook ‘n piramideskema.
Intussen is al hoe meer reguleerders besig om regulasies vir die verhandeling van bitcoin en ander kriptogeld te probeer opstel.
Bitcoin het volgens Bloomberg gister in Asië teen $13 040, die laagste vlak sedert 5 Desember, verhandel juis weens die gerugte oor strenger regulering. Dit is nagenoeg 30% minder as die hoogtepunt van byna $20 000 wat middel Desember gehaal is.
Ander kriptogeldeenhede het ook verswak, met ripple wat 17% verloor het.
Steven Maijoor, voorsitter van die Europese owerheid wat toesig hou oor aandelebeurse, het in ‘n onderhoud op Bloomberg TV gesê beleggers in bitcoin “moet gereed wees om al hul geld te verloor”.
“Dit het ‘n uiters wisselvallige waarde, wat die gebruik daarvan as geldeenheid ondermyn. En dit word ook nie wyd aanvaar nie.”
Die owerheid het gewone beleggers in November gewaarsku teen aanvanklike muntuitreikings en “monitor” ontwikkelinge in kriptogeldeenhede, volgens Maijoor.
China het in 2017 begin toeslaan op die bedryf en teiken op die oomblik webwerwe en apps wat as verhandelingsplatforms optree.
Suid-Korea dreig om verhandelingsplatforms toe te maak om die histeriese spekulasie in kriptogeldeenhede te laat afkoel en Park Sang-ki, minister van justisie, het selfs ‘n algehele verbod voorgestel.
Intussen het die regering gesê hy sal eers konsulteer voordat hy regulering instel, berig The Cointelegraph.Verskeie regerings wêreldwyd werk aan wetgewing om kriptogeld te beheer.
Terug na Inhoud

36. Rapper het vergeet van sy 700 bitcoin
(Die Burger, 29 Januarie 2018)
Petrus Malherbe
Die Amerikaanse rapper 50 Cent het onlangs ‘n lekker meevallertjie gekry toe hy ontdek het hy het 700 bitcoin waarvan hy heeltemal vergeet het.
Die skinderblad TMZ berig die rapper, wie se regte naam Curtis James Jackson III is, was die eerste kunstenaar wat bitcoin as betaling vir een van sy albums aanvaar het.
50 Cent het in 2014 die album Animal Ambition uitgereik en aanhangers kon hom in bitcoin daarvoor betaal.
Een bitcoin was toe sowat $662 werd; vandag is dit $10 556 werd, volgens Coindesk.
Die rapper het uiteindelik meer as 700 bitcoin in betaling vir sy album ontvang, oftewel sowat $400 000 volgens die kriptogeld se destydse waarde.
Vandag is daardie einste bitcoin tussen $7 miljoen en $8 miljoen werd.
Toe TMZ hom onlangs vra wat hy met sy bitcoin gedoen het, het hy erken hy het nog nie weer daaraan geraak nie. Gou het hy besef op watter goudmyn hy sit.
“Nie sleg vir ‘n tjokker van die South Side nie. Ek is so trots op myself,” het die rapper kort daarna op Instagram by ‘n skermgreep van die TMZ-artikel gespog.
‘n Latere foto op Twitter wys hom omring deur bitcoin met die byskrif: “’n Bietjie bitcoin vir enigiemand? LOL. Ek weet ek maak jou siek, maar verskoon my …”
Hy het later bygevoeg “Ek gaan nie kop verloor nie. Ek het vergeet ek het die k*k gedoen.”
Verskeie bekendes in Hollywood word deesdae betaal om kriptogeldeenhede in die sosiale media te bemark, berig die BBC.
Die akteur Jamie Foxx het in September sy opwinding gewys in ‘n twiet waarin hy sê hy “kan nie wag” om op die nuwe platform Cobinhood te begin handel dryf nie.
Terug na Inhoud

37. Listeriose: Jy móét weet van waar hoender kom
(Die Burger, 22 Januarie 2018)
Hanlie Stadler
Suid-Afrikaners word deur ernstige gesondheidsrisiko’s in die gesig gestaar weens ingevoerde hoendervleis, en boonop betaal hulle nie eens veel minder daarvoor as vir veiliger plaaslike produkte nie.
Só sê die organisasie FairPlay, wat hom teen die storting van oorsese hoendervleis beywer, in die lig van ‘n Special Assignment-program oor die bedenklike praktyke by Brasiliaanse hoenderverwerkingsaanlegte en die listeriose-epidemie in Suid-Afrika wat al minstens 67 mense geëis het.
‘n Groot hoeveelheid hoender word van Brasilië ingevoer, asook van Europa. Hoender word ook uit die VSA ingevoer.

Plaaslike produsente glo dat hoender teen onder kosprys hier gestort word, wat die hoenderbedryf plaaslik laat kwyn. Duisende mense het in 2017 hul werk in die bedryf verloor, lank voor die voëlgriepepidemie, wat hoofsaaklik eierprodusente geraak het.
FairPlay het verlede maand ‘n klag by Ebrahim Mohamed, die nasionale verbruikerskommissaris, ingedien nadat hy pakke bevrore hoenderstukke by Makro in Woodmead, Sandton, opgespoor het wat moontlik uit nege lande op drie vastelande afkomstig is.
“Dit is gevaarlik vanuit die oogpunt van voedselveiligheid en naspeurbaarheid,” het Francois Baird, stigter van FairPlay, toe gesê.
“In die geval van siekte of besmetting sal dit onmoontlik wees om hierdie produk na te speur tot by die land van oorsprong en om die betrokke uitvoerder of abattoir te vind.”
Die grootste probleem met die listeriose-epidemie is juis dat die oorsprong van die dodelike bakteriële besmetting nog nie opgespoor kon word nie.
Daar is tans geen bewys dat wel van ingevoerde of selfs van plaaslike hoenderprodukte kom nie.
Listeriose kan ook deur vars groente en vrugte, vis of ander vleis oorgedra word.
Baird sê hulle is nie verras deur Special Assignment se onthullings Maandag nie. Dit wys hoe hoendervleis ontvries, weer bewerk en weer gevries word – stappe wat tot gevaarlik hoë vlakke van bakterieë kan lei.
“FairPlay het die regering gevra om dieselfde streng veiligheidsmaatreëls op ingevoerde hoender toe te pas as waaraan Suid-Afrikaanse produsente moet voldoen, met geen sukses tot dusver nie. Die onafhanklike ondersoek na ingevoerde hoender bewys hoe belangrik dit is dat dié tydbom ontlont word.”
Die departement van landbou, bosbou en visserye en van gesondheid ondersoek plaaslike hoender van die plaas tot op die winkelrak.
Baird sê hulle het verlede jaar op ‘n vergadering met verteenwoordigers van die Europese Unie (EU) ‘n pak bevrore hoender uit Europa getoon waarvan die land van oorsprong onmoontlik is om te bepaal.
Baird sê benewens die kommer oor etikettering en veiligheid, betaal plaaslike verbruikers nie regtig minder vir die “goedkoper” ingevoerde hoender nie.
FairPlay vind dit ook ironies dat die Vereniging vir Vleis-invoerders en -uitvoerders (Amie) die departement van landbou hof toe wil sleep oor die toetse wat op bevrore rou vleis by die Durban-hawe gedoen word.
“Amie kla dit neem te lank om alle invoer te klaar, wat sy sake raak.
“Maar kan enige kortpad toegelaat word wanneer verbruikers se veiligheid ter sprake is?” vra Baird.
Terug na Inhoud
Terug na Inhoud

38. Dronk vlieënier vasgetrek
(Die Burger, 22 Januarie 2018)
‘n Vlieënier van British Airways is Donderdag op die Gatwick-lughawe in Londen in die stuurkajuit van ‘n vliegtuig geboei omdat hy dronk was, berig die BBC.
Hy sou agter die stuur gewees het van ‘n passasiersvliegtuig wat na Mauritius gevlieg het.
Bemanningslede het vermoed die 49-jarige vlieënier is dronk en het hom voorgekeer.
SkyNews berig die polisie in Sussex is Donderdag omstreeks 20:25 na die lughawe ontbied. Hulle het die vlieënier in hegtenis geneem
Die Boeing 777 sou om 20:20 van die Gatwick-lughawe opgestyg het, maar die vlug is tot 23:00 vertraag. Die vliegtuig het op die aanloopbaan gestaan terwyl geskarrel is om ‘n ander vlieënier te kry.
Die vlieënier wat in hegtenis geneem is, is van Harmondsworth, Hillingdon.
Die polisie het hom in hegtenis geneem weens die vermoede dat hy ‘n vliegtuig wou laat vlieg terwyl sy alkoholvlak oor die voorgeskrewe minimum perk was. Hy was tot Vrydag in polisieaanhouding.
British Airways sê hy beskou die voorval in ‘n baie ernstige lig. Die lugdiens het die passasiers verskoning gevra.
Terug na Inhoud

39. Drink jonk … en betaal later die prys daarvoor
(Die Burger, 24 Januarie 2018)
Heinz Mödler
Josef Stalin het nie teruggestaan vir vodka nie. Maar hierdie diktator, wat meer as 40 miljoen mense se lewens gekos het, wou nie hê sy kinders moes alkohol drink nie.
Tog, wanneer hy vir hom ‘n glasie vodka geskink het, het hy hulle laat proe. Hy het geglo dié blootstelling sou hulle staal teen die euwels van drank.
Svetlana, Stalin se dogter, het later vertel hoe haar moeder, Nadja, woedend geraak het wanneer haar pa haar laat proe het. “Jy gaan van die kinders alkoholiste maak!’ het sy geskreeu.
Wie is reg?
Stalin is nie die eerste mens wat sy kinders op hierdie manier probeer desensitiseer nie. Baie ouers voel vroeë blootstelling aan alkohol verwyder die hunkering na Bacchus se nektar wanneer hulle puberteit bereik.
Kinders word gestuur om vir pa ‘n bier te gaan haal, oop te maak en ‘n slukkie te vat. En wanneer almal vir ete aansit, kry Boet en Sus elkeen ‘n klein glasie met ‘n titseltjie wyn in. Soos klein grootmense.
Groot fout, sê navorsers.
Kinders wat van kleins af aan alkohol blootgestel word, begin nie net op ‘n jonger ouderdom (formeel) drink nie, maar drink ook meer as kinders wat nooit alkohol geproe het nie.
Maar Stalin en ander ouers wie se goeie bedoelings nou skadelik blyk te wees, is nie al wat kinders aan’t drinke kry nie.
Die menslike brein, veral die onvolwasse brein (wat dikwels nie ouderdomsverwant is nie …) is baie toeganklik vir eksterne invloede, soos advertensies en groepsdruk.
In die jare sewentig was ouers byvoorbeeld doodbang dat hul kinders verkeerde dinge gaan gebruik en doen weens iets genaamd subliminale (onderbewustelike) reklame.
Die storie was dat elke soveelste prentjie op ‘n rolprentfilm vervang word met ‘n foto van ‘n blikkie Coke. Slegs die onderbewussyn “sien” die advertensie (die res van die liggaam is salig onbewus van die aanslag) en laat fliekgangers pouse storm om ‘n Coke te gaan koop.
Ouers het onrustig geslaap oor subliminale reklame, want dit kan mos veroorsaak dat hul kinders dwelms gebruik en by terroristegroepe aansluit wat te veel Coke drink.
Ná jare se slapelose nagte is uiteindelik erken subliminale reklame is eintlik net ‘n bangmaakstorie – dit bestaan nie werklik nie.
Maar moet nie die groot rol wat advertensies in kinders se drinkgewoontes speel, onderskat nie.
Watter kind wil dan nie die bier drink wat op hul gunsteling-sportspan se truie pronk nie? Of nie met ‘n aantreklike lyf op seiljagte en in sportmotors rondkerjakker nie?
Adverteerders verkoop aan kinders ‘n onweerstaanbare lewenstyl. Kinders met ‘n lae selfbeeld en lede van die cool groep begin skielik dieselfde alkohol drink – om verskillende redes.
Die gevare van alkohol is parallel met dié van rook, dwelms en seks. Praat prontuit met jou kinders oor al hierdie moeilike onderwerpe.
Pas jou boodskap aan soos jou kind ouer raak. Indien nie, gaan jou kinders binnekort meer van hierdie onderwerpe weet as jy.
Sonder dat jy dit weet …
• Dr. Mödler is ‘n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Terug na Inhoud

40. Meer as net TWEE MENSE
‘n Huwelik is veel meer as ‘n verbintenis tussen twee mense. Dis iets wat groei en versorg moet word. Deur HELENE DE KOCK
(Rooi Rose, Februarie 2018)
Die een wat jou kop en jou hart amper so goed soos sy eie ken. Die een wat al om en by vyftig jaar die lewe saam met jou aanpak, wat jou belange op die hart dra in sterblink sowel as dofsware tye. Jy en hy kom soms tot stilstand en begin oor alles wonder. Natuurlik is julle dankbaar ook. Julle is lank vir mekaar gespaar. Dit, op sigself, is ‘n mirakel.
Soms staar ons verwonderd na mekaar net om agter te kom dat om dekades vas te vang, te bedink en uit te klaar, ingewikkeld is. Saamwees is suiwer genade, soos alles anders. Ene Wijngaarden stel dit so raak in sy boek oor die aard van volwassenheid: die huwelik word nie net uit liefde nie, maar ook tot liefde gesluit. Werk moet jy daaraan werk. Nes ‘n huishouding verg dit aanhoudende instandhouding, vereis dit dat jy jou hand daaraan hou. Terwyl alles verander namate die lewe dag vir dag aanskuif, is die liefde alleen die een groot konstante. Dit moes ons ook ontdek. Genadiglik tot ons vreugde.
‘n Huwelik, het ons eendag in ‘n gemoedelike geselsery op die stoep weer ewe filosofies besef, is veel meer as ‘n verbintenis tussen twee mense. Dis iets wat groei en wat versorg moet word. Ou cliché ja, maar kom dit by die toepassing daarvan, nie altyd so gladweg uitvoerbaar nie. Nie omdat die liefde ontbreek nie, maar meermale juis omdat jy liefhet.
Die bekende kunshistorikus Rookmaaker het gesê: “Painting is more than art alone.” Om te skilder, om kuns te skep, is nie alleen vir versiering nie. Dis gelaai met betekenis. Dit behoort waardes en waarhede en ook geskiedenis en kultuur te weerspieël. So, reken ons, behoort ‘n huwelik ook te wees. Iets wat geskep word en met betekenis gevul word. Die aanvanklike verrukking moet verdiep. Die lewe het ‘n geneigdheid om so ‘n verdieping aan te help en op dié manier werk dit na die een of die ander kant toe. Julle kry mekaar liewer – of julle dryf uitmekaar. Ons weet in elk geval goed en moes dit telkemale ontdek, dat ons nie uit ons eie hierdie betekenis kan verryk nie. Daar is Een wat ons daarmee kan help. Eers later besef ‘n mens dat dit eintlik Hy is wat sinvolle inhoud gee – aan jou huwelik en aan jou lewe.
Ná sowat vyftig jaar kan ‘n mens ‘n rits skilderye, of liewer tablo’s, van jou lewe saam met die geliefde oproep. Herinnering, wat die dikwels raaiselagtige spieëlbeeld van ervaring is, skep dit vir jou: my pa wat ons op die dag van my ma se verjaardag en op hul eie troudag trou; ‘n maand se wittebrood in ‘n sneeuwit Europa; die opwinding van ons eerste huis, die (ewe opwindende) sewe verhuisings na nuwe plekke; die geboorte van ons drie kinders wat ons ryk en ryker maak maar so ook die asembenemende en hartverskeurende belewenis om hulle te sien grootword en later volwasse word; om hul liefde en vriendskap te ken terwyl jy steeds die leisels as ouer moet hou, verg vernuf en baie genade.
Die afsterwe van ‘n oudste kind wat die vorige dag nog springlewendig was, breek jou wêreld stukkend. Daar is die snydende verdriet, die verskriklike gemis. Die saam staan langs ‘n kis terwyl julle krampagtig hande vashou. Dan, die een wat nou die oudste is, wat by julle kom staan en vir julle en vir hom en sy suster bid. Daar is bande wat in smart gesmee word wat staalsterk is.
En ook, die huwelik word wel tussen net twee gesluit, maar daar is veel meer mense betrokke. ‘n Mens het immers nie in ‘n vakuum lief nie. Jou eie lewe binne die huwelik en ook as individu, word met verhoudings verweef. Vanselfsprekend dié met jou genoot in die eg, maar jou kinders, jou ouers, jou sibbe, die uitgebreide familie en jou vriende bring hul eie bydrae na ‘n egpaar. Hierdie verhoudings kan ook betekenis tot jou eie huwelik voeg wat jou help dra en jou anker.
Maar, sê die geliefde op ‘n dag toe ons weer gesels oor wat die huwelik alles beheIs, jou huwelik behoort ook na buite iets te beteken. ‘n Mens skep ‘n klimaat binne die kultuur waarin jy en jou maat beweeg. Jy kan immers probeer om blydskap uit te straal. Is dit nie wat ons almal nodig het nie? Inderdaad, stem ons plegtig saam. Dit is net nie altyd ewe maklik nie.
Ons kon nog altyd kommunikeer. Dit beteken nie dat ons altyd saamstem nie. Ons kan driftig en interessant verskil. Maar ons waardes en lewensbeskouing is diep gewortel en steeds dieselfde. Dit is ‘n akademiese feit dat ons aan ‘n geslag behoort wat in die geskiedenis van die mensdom die meeste by verandering moes aanpas – of verstar. Penisillien is ontdek, mense het maan toe gegaan, harte is oorgeplant. Die tegnologie het wêrelde verander. Ons het drie vorme van tydgees beleef. Die modernisme, postmodernisme en nou die post-postmodernisme. Maar die liefde het gebly. Dank Vader.
Terug na Inhoud

41. Oefen sáám, Woef hou daarvan…
Daar is al bewys jou hond maak jou gelukkiger. Nou is dit jou beurt om jou hond gelukkig te maak, skryf Alet Wichmann.
(Rapport beleef, 21 Januarie 2018)
Dit is Januarie en ieder en elk waarmee ek in aanraking kom, het onderneem om hierdie jaar gesonder te eet, gewig te verloor, suiker te vermy …
Maar nuwerjaarsvoornemens word mos gemaak om te verbreek, en die afgelope Woensdag was juis die internasionale laat-staan-die-voorneme-dag.
So, wat van hierdie jaar fokus jy liewer op jou hond se gesondheid? Studies het mos nou al gewys dat verhoudings – en nie jou gewig nie – die eintlike ding is wat jou gelukkig maak.
En ‘n onlangse studie het ook gewys dat kinders meer bevrediging kry uit ‘n verhouding met ‘n troeteldier as ‘n verhouding met ‘n broer of suster. Dit geld seker dan vir volwassenes ook, of hoe?
Vet is nie oulik nie
‘n Maer, gesonde hond se leeftyd word gemiddeld met 1,8 jaar verleng, sê prof. Kelly Swanson van die Universiteit van Illinois in Amerika.
‘n Hond wat gewig moet verloor, moet kos met meer vesel en minder energie inneem. Veselryke kos sal tot gevolg hê dat die hond uit sy eie minder eet.
Lees ook die etikette op hondekos om seker te maak jy kies die beste kos vir jou hond se lyf en volg die kosgee-riglyne behoorlik.
Banting vir honde
Voorlopige resultate van ‘n studie deur die Amerikaanse vereniging vir mikrobiologie wys dit is goed vir jou hond om ‘n laekoolhidraat-hoëproteïen-dieet te volg.
Só ‘n dieet sorg vir ‘n gesonder mikrobioom, ‘n bevolking organismes, soos bakterieë en fungi, wat in en op die vel van mens en dier leef. ‘n Gesonde versameling in die mikrobioom sorg vir ‘n gesonde hond, maar ‘n mikrobioom wat nie genoeg goeie organismes bevat nie, word ook in honde verbind met siektes soos diabetes, allergieë en prikkelbare-derm-sindroom.
Maak jou eie gesonde banting-happie vir jou hond.
Hierdie gevriesde happies is boonop ideaal vir die warm dae wat ons nou beleef.
Piesang-grondboontjiebotter-blokkies
Verpulp ‘n bakkie roomkaas, twee piesangs en suiker- en soutvrye grondboontjiebotter saam. Skep dit in ‘n silikoon-ysbakkie en plaas in die vrieskas.
Sodra dit hard gevries is, kan jy een uitdruk en dit aan Wagter voorsit.
Gaan stap
Laat jou hond jou neem om te oefen. Hy sal dit graag doen, en jy kan dalk selfs jou eie voorneme om gewig te verloor nakom.
Dis ‘n skande, maar na raming neem sleg 60% van honde-eienaars hul diere enigsins om te stap.
Hoeveel oefening jou hond nodig het, hang af van sy ouderdom, ras, grootte en gesondheid. Neem hom eers veearts toe om seker te maak hy’s gesond genoeg. Jou veearts kan sommer ook raad gee oor ‘n oefenprogram vir jou spesifieke hond. En net soos mense moet jou hond stadig begin. Julle kan nie op dag een al die spreekwoordelike marathon aanpak nie.
Honde wat byvoorbeeld geteel is om te jag, boer of werk, soos labradors, Franse dashonde en kolliehonde, het die meeste oefening nodig. Behalwe om daagliks minstens een tot twee uur lank aktief te wees, moet hierdie honde elke dag ‘n halfuur lank straf oefen, en jy kan hulle maar gerus neem om te draf.
Kortneushonde, soos die bulhond, hoef egter net rustig om die blok te gaan stap.
Terug na Inhoud

42. Witversnitte is die nuwe goud
Witversnitwyne word al hoe meer mode in Suid-Afrika. Wynmakers eksperimenteer meer en jaarliks is daar nuwe opwindende wyne op die rakke om van te kies – van vrolike wyne tot die statige versnitte wat vir jare kan verouder. Winifred Bowman vertel meer.
(Versnit Die Burger, 24 Januarie 2018)
Dis nie net in Suid-Afrika waar witversnitwyne opslae maak nie: Greg Sherwood, Britse wynmeester (toevallig ook ‘n boorling van Pretoria) en hoofwynaankoper by die bekende Handford Wines in Londen, raak liries as hy van dié wyne praat! Volgens Sherwood word die meeste van die beste wyne in die algemeen op aanbeveling verkoop en verbruikers vorm daarna hul eie opinie oor die wyn. Maar, sê hy, hulle raak verlief op die kompleksiteit, die tekstuur, diepte van die sonskyngeure en die volronde smaak van Suid-Afrikaanse witversnitwyne: “Hierdie wyne het gravitas en teenwoordigheid, maar is steeds absoluut heerlik om te drink, en het boonop baie goeie verouderings¬vermoë. Vir my is dit een van die unieke suksesstories van die wynwêreld – hierdie wyne is in Suid-Afrika gebore en kan net hier gemaak word! Of dit nou op chenin blanc gebaseer is of nie, almal het uitstekende balans, intensiteit en is baie goeie pasmaats vir kos – dis ‘n hele nuwe genre van wyn.
“Die wyne verkoop goed as gevolg van die gehalte en smaak – nie as gevolg van die druifsoorte in die versnit nie. Dis soos Franse wyne waar ‘n mens nie weet wat die versnit behels nie, maar jy weet dat jy baie daarvan hou en meer daarvan wil drink. En dít is ‘n unieke verkoopspuntkategorie vir Suid-Afrika.”
Sherwood sê verder die meeste van die versnitwyne pas in die premium-kategorie, en word dus met presisie en toewyding gemaak. Die wyne het goeie kompleksiteit (veral dié van ou wingerdstokke), is goed verpak en meestal in kleiner hoeveelhede beskikbaar. Die chenin blanc-versnitwyne is veral gewild omdat sy kliënte bewus is van die druifsoort. “As die wyne deels of ten volle in (ouer en groter vate) eikehout verouder is, toon dit die beste resultate, want dan kan die wynliefhebber ook die terroir van die wyn ervaar,” sê hy.
“Wit versnitwyne is verantwoordelik vir die meeste van die Suid-Afrikaanse wyne wat ons hier in Londen verkoop – en dis al vir ‘n ruk die geval. In my opinie behoort ‘n wit versnitwyn deel te wees van die premium aanbieding van enige wynmaker, maar natuurlik met hoë gehalte.”
Terug na Inhoud

43. Oud-Greys skitter in Franse rugby
(Die Burger, 31 Januarie 2018)
Ruan Bruwer
Vyf oudleerlinge van dieselfde skool wat almal al vir die Springbokke uitgedraf het, het Sondagaand in Frankryk in ‘n sege oor die verdedigende kampioen van die Franse Top-14-liga gedeel.
Montpellier het Clermont, verlede jaar se kampioen in dié liga, met 30-29 geklop danksy ‘n doelskop deur Ruan Pienaar in die laaste minuut. Pienaar het 15 punte met die skoen bygedra.
Montpellier het daarmee sy plek aan die bopunt van die puntelys ingeneem.
Saam met Pienaar in die wenspan was nog vier gewese leerlinge van Grey-kollege in Bloemfontein van wie twee pare toevallig in posisies langs mekaar gespeel het.
Die broers Bismarck (haker) en Jannie du Plessis (vasskop) het langs mekaar in die skrum gesak en Jan Serfontein (binnesenter) en Frans Steyn (buitesenter) het in die middelveld stelling ingeneem. Almal het voorheen vir die Springbokke gespeel, maar Serfontein en Steyn nooit saam in ‘n toets nie.
Pienaar en Bismarck het saam vir Grey se eerste span uitgedraf. Nóg ‘n oudleerling van dié skool, Henry Immelman, is by die klub gekontrakteer.
Hulle is trouens ses van 11 Afrikaanssprekendes wat tans vir Montpellier speel. Die ander is Jacques du Plessis, Paul Willemse, Nico Janse van Rensburg, Johannes Jonker en Wiaan Liebenberg.
“Wie sou kon dink ‘n paar ouens van die Vrystaat sal weer saam vir Montpellier speel? Wonderlike oorwinning oor ‘n sterk Clermontspan! Nou op pad plaas toe vir ‘n ruskans,” het Steyn saam met ‘n foto van die oud-Greys getwiet.
Die span is eers weer op 17 Februarie in aksie. Montpellier het verlede jaar met Jake White as afrigter in die kwarteindronde van die Top14 uitgeval.
• Grey het verlede jaar ‘n vyfjaarooreenkoms met Montpellier gesluit danksy ‘n anonieme skenker wat ‘n noue verbintenis met die klub het.
Volgens die ooreenkoms sal Grey se rugbyafrigters toegang tot dié Franse klub se afrigtingsmetodes hê. Dit behels ook ‘n uitruilooreenkoms vir rugbyafrigters.
‘n Onderwyser is ook by die skool aangestel om Frans as ‘n vak aan te bied.
Terug na Inhoud

44. Pak ‘n gesonde kosblik
(Rapport Beleef, 14 Januarie 2018)
Dit is ‘n uitdaging om ‘n kosblik skool toe stuur wat leeg terugkom. Maar dit is moontlik. Hier is ‘n paar wenke wat jou sal help om die komende week se terug-skool-toe-kosblik te pak.
• Betrek jou kind by die proses. Vra eenvoudig: “Wat wil jy in jou kosblik hê?” sê die Amerikaanse dieetkundige Liz Weiss. “As hy nie eet wat jy inpak nie, kry hy in elk geval nie die voedingswaarde daarvan nie.”
• Sorg dat die kos aptytlik lyk. As jy appelstukke insit, sprinkel suurlemoensap oor, sodat dit nie verbruin nie.
• Kinders hou van speel, so sorg dat hulle dit ook met hul kos kan doen. Pak byvoorbeeld ronde volgraanbeskuitjies, tamatiesmoor, stukkies hoender en gerasperde kaas in afsonderlike houers, met ‘n nota wat sê: “Bou jou eie mini-pizzas.”
• Baie jong kinders wissel hul melktande of dra draadjies. Hulle sal byvoorbeeld nie ‘n heel appel kan eet nie, so sny dit eerder in kleiner skyfies.
• Vries die bottel water wat jy inpak oornag. Dan bly dit koud en hou jou kind se kos ook sommer koel.
• Wees voorbereid, dit sal keer dat jy oorhaastig ongesonde besluite neem net om die kosblik gepak te kry. As jy byvoorbeeld pastaslaai wil inpak, kook die pasta die vorige aand al. Of sny groente soos komkommer en wortels vooraf in stokkies en hou dit in die yskas saam met ‘n lekker doopsous.
Resep
Pak iets interessanter in as ‘n toebroodjie. Hierdie tortilla-broodjies val in die meeste kinders se smaak – en jy kan die vulsel ook aanpas.

Jy benodig:
1 tortilla
10 ml pesto of mayonnaise
2 snye ham
1 klein tamatie, gesny
80 ml cheddarkaas, gerasper
1 knippie sout en gemaalde swartpeper

Maak so:
Sit die tortilla op ‘n groot bord en smeer die pesto of mayonnaise oor.
Stapel die ham en tamatie oor die een helfte van die tortilla en sprinkel die kaas oor. Gooi die sout en peper oor en vou toe sodat die tortilla soos ‘n halfmaan lyk.
Rooster aan albei kante in ‘n pan op die stoof, totdat die kaas gesmelt het en die tortilla goudbruin is. Laat afkoel, sny in twee en plaas in die kosblik.
Terug na Inhoud

45. Ode aan ‘n tamatie
Onverwags briljant in slaai saam met waatlemoen
(Rapport Beleef, 28 Januarie 2018)
Geroosterde tamatie-en-waatlemoenslaai
500 g ryp tamaties, in skywe en dan weer in die helfte gesny
100 ml olyfolie
2,5 ml sout
2,5 ml varsgemaalde swartpeper
10 ml suiker
20 ml balsamiese asyn

Ander slaaibestanddele:
900 g waatlemoen, in blokke gesny
200 g fetakaas, gekrummel
100 g gesoute kasjoeneute, in groot stukke gekap
klein handvol vars kruisementblare, geskeur

Voorverhit die oond tot 150°C. Meng die tamaties, olyfolie, sout, peper en suiker bymekaar en rooster dit vir een uur (of tot droog) op ‘n uitgevoerde bakplaat.
Haal uit die oond, strooi balsamiese asyn oor en laat dit afkoel tot kamertemperatuur.
Meng nou al jou ander slaaibestanddele saam met die tamaties. Bedien dadelik.
Terug na Inhoud

46. ROOI FLUWEEL EN SJOKOLADE KLEIN KOEKE
Ou Mutal Advertensie
Bestandele
25g sagte botter
250g strooisuiker
2 extra-groot eiers
200g koekmeel
25g kakaopoeier
1t. bakpoeier
125ml karringmelk
20ml rooivoedselkleursel
VERSIERSEL:
250g sagte volroom roomkaas (blok)
50g sagte botter
250g strooisuiker, gesif
2,5ml vanielje-ekstrak
Vars blomme vir versiering

Voorbereiding
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer en voer 2 x 20cm koekpanne met bakpapier uit.

OM DIE KOEKE TE MAAK:
1. Room die botter en strooisuiker saam.
2. Voeg die eiers 1 vir 1 by en klop tot donsig.
3. Sif die droë bestanddele saam.
4. Meng die voedselkleursel en karringmelk.
5. Vou al die bestanddele saam in.
6. Verdeel die mengsel tussen 2 koekpanne en maak die deeg gelyk.
7. Bak die koeke vir 15 – 20 minute, of tot deur gaar.
OM DIE VERSIERSEL TE MAAK:
1. Verroom die botter en roomkaas. Voeg gesifde versiersuiker en vanielje-ekstrak by.
2. Klop tot glad en verdik.
OM DIE KOEKE AAN MEKAAR TE SIT:
1. Gebruik ‘n 7-8cm ronde snyer om vier lae van elke koek uit te sny sodat jy eindig met agt ronde lae.
2. Versier die koeke en sit die lae bo-op mekaar sodat jy 4 klein koeke het.
Terug na Inhoud

47. ROOMYS IN ‘n KITS!
Hierdie roomys kan blitsvinnig gemaak word en is perfek vir die hittige somer. Wie het nou ‘n verskoning vir dié lekker bederf nodig?
(Rooi Rose, Februarie 2018)

VINNIGE AARBEIROOMYS
GENOEG VIR 6
600 g aarbeie, stingels verwyder en gekap
4 piesangs, elk in kwarte gesny
250 ml (1 k) dubbelroomjogurt
GLAD Resealable Freezer-Sakkies
GLAD-Bakpapier

1 Die vorige dag: Pak 400 g van die aarbeie en die piesangs in GLAD Resealable Freezer-Sakkies en vries oornag.
2 Verwerk die oorblywende 200 g aarbeie in ‘n voedsel-verwerker, of gebruik ‘n stokmenger, tot glad. Hou eenkant.
3 Voer ‘n 10 cm x 20 cm-broodpannetjie met GLAD-Bakpapier uit.
4 Verwerk die bevrore aarbeie, piesangs en jogurt in ‘n voedselverwerker tot glad.
5 Skep die roomys in die broodpannetjie. Roer die aarbeipuree liggies deur die roomys om ‘n marmereffek te skep. Jy kan die roomys dadelik eet of vir ‘n paar uur in die vrieskas laat vries.
Terug na Inhoud

48. 5 koel kosse vir gewigsverlies
In die vakansie het jy lekker geëet, maar nou is dit tyd om ontslae te raak van die vetjies wat jy ogetel het. Dis dalk te warm om weg te spring met intense oefeninge, oorweeg dus eers net gesonder kosse. Danielle Daniëls het by Claudine Ryan, ‘n geregistreerde dieetkundige, uitgevind watter koel kosse jou sal help gewig verloor.
(Gesond, 19 Januarie 2018)
Maak seker jy sluit genoeg koel kosse by jou dieet in. Omdat dit laag in kalorieë en verfrissend is, is dit ideaal gedurende die somermaande. Onthou om die res van jou dieet ook gesond te hou en nie slegs op enkele kosse te fokus nie. Om gewig te verloor moet jou kalorie-inname minder wees as dit wat jy gebruik.
Druiwe
Druiwe het ‘n hoë waterinhoud en is ook ryk aan vitamien C en antioksidante wat anti-inflammatoriese eienskappe het.
Dit is ‘n verfrissende happie vir die somer, veral as dit lekker koud is. Druiwe sal jou ook versadig hou omdat dit ‘n lae glisemiese indeks het.
Druiwe kan selfs gevries word en pleks van ys by water of ander drankies gevoeg word om drinkgoed lekker koud te hou op warm dae. So hidreer jy nie net nie, maar hou jy ook die honger weg!
Tamaties
Wat is lekkerder as ‘n verfrissende koue slaai op ‘n warm somersdag? Tamaties is een van die sleutelbestanddele van ‘n slaai – dit gee nie net ‘n heerlike smaak nie, maar is boonop laag in energie. Jy kan dus weglê aan groot porsies daarvan, sonder dat dit ‘n noemenswaardige bydrae tot jou kalorie-inname sal maak. Tamaties is ook ryk aan die antioksidant likopeen, wat inflammasie in die liggaam kan verlaag en die hormoon leptien onderdruk. Leptien is ‘n hormoon wat aptytvlakke verhoog. Tamaties is dus ‘n ideale gewigs-verlieskos omdat dit help om jou aptyt in toom te hou. Dit bevat ook vesel wat verder tot versadiging bydra. Wanneer tamaties gaargemaak word, verhoog die likopeenvlakke. Sit dus gerus ‘n geurige tamatiesmoor voor saam met jou braaivleis!
Bessies
Bessies is ideaal vir gewigsverlies. Dit het ‘n lae glisemiese indeks, wat energie geleidelik in die bloed vrystel en so help om bloedglukose te stabiliseer asook aptytvlakke te verlaag. Om nie eens te praat van die lae kalorie-, hoë antioksidant- en veselinhoud van bessies nie! Een so ‘n antioksidant is die flavonoïed antosianien, wat die liggaam help om adiponektien te vervaardig. Hierdie hormoon kan help om jou metabolisme te verhoog en so bydra tot gewigsverlies.
Daar is ook ‘n paar studies wat aandui dat bessies kan help om viserale vet (die vet om jou maag) te verminder. Gevriesde bessies is heerlik in ‘n vrugteskommel op warm somersdae. Peusel gerus ook aan koue bessies in plaas van lekkergoed wat baie verfynde suiker bevat.
Waatlemoen
‘n Soet, sappige waatlemoenwiggie is ‘n heerlike somerbederf.
Die soet smaak flous jou smaaksintuie – deur eerder ‘n stukkie waatlemoen as ‘n sny koek te eet, spaar jy honderde kilojoules.
Waatlemoen is hoog in water (omtrent 97%) en bevat vesel, vitamiene A en C. Dit kan dus help met hidrasievlakke op warm dae en keer dat jy dehidreer. Dehidrasie kan jou eetlus verhoog en dit moeilik maak om gewig te verloor.
Gebruik waatlemoen in ‘n vrugteslaai as ‘n soet bederf, maak waatlemoenroomyse of gebruik dit in groenteslaai as ‘n bygereg! Soos enige vrug bevat waatlemoen wel suiker, hou dus liefs by een wiggie op ‘n slag wanneer jy gewig wil afskud.
Spinasie
Spinasie is bekend as ‘n “superkos” wat hoog in antioksidante is. Maar dit kan ook bydra tot gewigsverlies.
‘n Studie wat in die joernaal Apetite gepubliseer is, het bevind dat spinasieblare massaverlies met 45% kan verhoog omdat dit voedseldrange met 95% verlaag. Dit bevat baie min kalorieë, maar bevat wel oorgenoeg vesel.
Gebruik dit in tipiese somergeregte soos vrugte- en groente-skommels, doopsouse of op toebroodjies en burgers.
Komkommer
So koel soos ‘n komkommer? Komkommers bevat ook baie water en is ‘n lekker krakerige koue opsie om aan te peusel of in slaai te gebruik. Komkommers is, nes tamaties, baie laag in energie, en hou jou gehidreer. Hierdie vrug is dus ideaal om in die somer by jou dieet in te sluit om gewig te verloor. Dit bevat verskeie soorte vitamiene en minerale wat die liggaam voed en help om kosdrange te verminder. Gebruik komkommer ook in jou water saam met suurlemoenskyfies vir ‘n verfrissende drankie of eet dit saam met ‘n koue doopsous.
Wortels
Krakerige wortelstokkies is ‘n heerlike happie op warm somersdae. Dit werk boonop goed saam met doopsouse soos humus en maaskaas.
Wortels is nie net goed vir jou oë nie, maar bevat kragtige antioksidante en vitamien A wat jou teen vrye radikale beskerm en veroudering kan teenwerk. Wortels is ‘n uitstekende dieetkos. Dit bevat min kalorieë en baie vesel, dus sal dit jou sommer gou versadig laat voel.
ADVERTENSIE
EWC MEDIWELLNESS CENTER
Vakansievet vergete met vetvriestegniek en meer!
Die EWC Mediwellness Centre wat bekend is vir dienste soos die SlenderWonder-gewigsverliesprogram, Endermologie-sellulietbehandelings, Safyre RF-vel-ferming en teenveroudering-gesigsbehandelings, bied ook die afgelope vier jaar Cool-tech-vetvriesbehandelings aan met groot sukses.
Die vetvriesbehandelings is ‘n gewilde alternatief vir liposuiging sonder die risiko van narkose. Die behandeling verminder vetselle permanent deur van verkoeling gebruik te maak.
Die beste kandidate is nie meer as 15 kg oorgewig nie, met vet om die maag, heupe, dye en arms wat verminder moet word.
Die beste resultate word ses na agt weke na behandeling gesien, voordat dieselfde area weer behandel kan word.
Uitstekende afslag is beskikbaar tot einde Januarie. Skakel 021 913 8837 om jou konsultasie te bespreek en vir die afslag te kwalifiseer, of vir navrae oor ander verslankings-behandelings.
Vir meer inligting besoek www.endowellness.co.za
Terug na Inhoud

49. ‘Die beste dieet’: Volg ons uitgewerkte eetplan
(Die Burger, 23 Januarie 2018)
Carryn-Ann Nel
Dit is vanjaar vir die agtste keer agtereenvolgens in die VSA aangewys as die beste dieet juis omdat dit soveel resultate lewer sonder om spesifieke kos uit te skakel.
Die Dash-dieet, of “Dietary Approaches to Stop Hypertension”, is ‘n eetpatroon wat oorspronklik ontwerp is om bloeddruk doeltreffend te verlaag. Sedertdien is bewys dit is doeltreffend vir verslanking, verlaging van cholesterol, asook die behandeling en voorkoming van tipe 2-diabetes en kanker.
Anika Barnard, ‘n geregistreerde dieetkundige en praktykhoof van Cape Gate Dietitians, sê die eetpatroon behels die inname van groot hoeveelhede groente en vrugte, matige inname van laevet- of vetvrye suiwel en vleis, asook grane, peulgewasse, neute en sade. Dit beperk die inname van suiker, vette en olies.
Gevolglik is dit ‘n hoëvesel-, matige-vet-dieet, ryk aan kalium, kalsium, magnesium en antioksidante.
“Dit is vanjaar vir die agtste keer agtereenvolgens aangewys as die beste dieet juis omdat dit soveel resultate lewer sonder om spesifieke kos uit te skakel.
“Dit word as ‘n lewenslange oplossing beskryf. Dis so gebalanseerd en gesond dat kinders dit ook kan volg. Die dieet kan ook maklik aangepas word vir vegetariërs. Ek vind dat my pasiënte wat op die dieet is, mal is oor die kleurryke etes en versnaperings. Hulle voel tevrede, versadig en energiek, en dis ‘n groot pluspunt vir enige dieet.”
Annelie Smith, ‘n geregistreerde dieetkundige van Impact Clinics Cape Town, sê in vergelyking met die tipiese Westerse dieet is die Dash-dieet ontwerp om bloeddruk te verminder vanweë die beperking van natrium en die hoë inname van plantvoedsel.
“Hierdie dieet is in die 1990’s saamgestel in reaksie op hoë bloeddruk en dus kardiovaskulêre siektes. Die Dash-dieet is laag in dierevet en suiker. Dit bied meer kalsium, kalium en magnesium in die dieet.”
Die sewedag-spyskaart hiernaas is spesiaal deur Barnard vir Die Burger opgestel.
“Die porsies is aangepas vir vroue van 18 jaar en ouer wat gewig wil verloor. Dis ‘n generiese plan en moet eintlik volgens huidige gewig en doelwitte aangepas word.
“Die hoeveelheid gewig wat verloor kan word, hang af van persoon tot persoon afhangend van hoeveel gewig jy het om te verloor, hoe aktief en hoe oud jy is.
“’n Gesonde, gebalanseerde dieet met ‘n vermindering in die totale energie-inname sal wel tot gewigsverlies lei.
“Die beste is om te mik vir 0,5 kg- tot 1 kg-gewigsverlies per week. Dies beter om 5% tot 10% van jou liggaamsgewig te verloor en dit minstens ses maande lank af te hou as om meer te verloor en weer die gewig op te tel.”
Die DASH-dieet
Dit is vanjaar vir die 8ste keer in ‘n ry aangewys as die beste dieet juis omdat dit soveel resultate gee sonder om spesifieke kos uit te skakel.

Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Maandag 180 ml ongegeurde laevet-jogurt plus ½ koppie volgraan ontbytvlokkies 1,5 koppie aarbeie besprinkel met 1 eetlepel sonneblomsaad Mango-en-hoender-slaai: Braai 1 vellose hoenderborsie in ‘n kleefwerende pan. Garneer met vars gemaalde swartpeper en suurlemoensap. Plaas 1 koppie mangoblokkies op ‘n bed van baba-spinasie en daarna die hoender. Gebruik 1 teelepel olyfolie as slaaisous 250 ml laevet-melk en 1 stukkie volgraan-, suikervrye beskuit Maalvleis met bruinrys: 60 g ekstramaer maalvleis en ½ koppie geblikte lensies (geur met 1 teelepel olyfolie, uie, tamatie en tiemie). Geniet met ½ koppie bruinrys en 1 koppie gestoomde brokkoli

Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Dinsdag 1 eetlepel maalvleis van die vorige aand op 1 sny lae-GI-brood 180 ml ongegeurde laevet-jogurt plus 1 peer Tuna-wrap: 90 g geblikte tuna gemeng met 1 eetlepel laevet-mayonnaise en 1 koppie seldery-rooi soetrissie-en-komkommerslaai. Skep in 1 volgraan-wrap en geniet ¼ koppie maaskaas op tamatieskywe
Vark-roerbraai: 60 g varkblokkies (verwyder sigbare vet) geroerbraai in 1 teelepel kanola-olie, gerasperde gemmer en sout na smaak. Voeg 2 koppies fyn gekerfde kool en wortels by. Plus 1 koppie spanspek vir nagereg
Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Woensdag ½ koppie gaar hawer-mout met laevet-melk 1 gerasper-de appel met kaneel en 1 eetlepel fyn amandels Kekerertjieslaai: Meng 1 koppie geblikte kekerertjies met 1 koppie gekerfde tamaties en babamielies en ‘n ¼ avokado. Besprinkel met 1 eetlepel laevet-feta 180 ml ongegeurde laevet-jogurt plus 1 koppie bloubessies Reënboogsnoek met patat: Plaas gekerfde rooi-uie, geel soetrissie, vars tamatie en pietersielie op 60-90g snoek. Besprinkel met 1 teelepel olyfolie en suurlemoensap en bak in die oond tot gaar. Geniet met ‘n mediumgrootte patat, gestoom in die skil

Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Donderdag 1 sny rogbrood met ¼ koppie laevet-maaskaas besprinkel met 1 eetlepel vlassaad ½ piesang met 250 ml laevet-melk Aspersie-baba-aartappel-en-eierslaai: 1 koppie gestoomde aspersies en 3-4 baba-aartappels plus twee eiers. Garneer met 5 ontpitte olywe, suurlemoensap en swartpeper 2 vye met 30 g ricotta-kaas Hoenderpasta: 60 g hoendervleis en ½ koppie volgraanpasta met 1 koppie sampioene en plat ertjies. Meng ½ koppie witsous wat met laevet-melk en 1 teelepel olyfolie gemaak is, deur
Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Vrydag 180 ml ongegeurde laevet-jogurt met ‘n ½ koppie appelblok-kies en pekanneute 1 sny lae-GI-brood met twee teelepels grondboon-tjiebotter Gestoomde stokvis met geroosterde eiervrug en ½ koppie bruinrys 250 ml laevet-melk en 3 gedroogde perske-halwes 2 gebraaide lamtjoppies (verwyder sigbare vet en geur met paprika en suurlemoensap) met 1 koppie quinoa-slaai: ¼ koppie swart bone plus ¼ koppie gaar quinoa plus groentemengsel (gekapte uie, geel soetrissie en tamatie, besprinkel met 1 teelepel olyfolie en balsamiese asyn)
Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Saterdag 30 g gerookte salm in 1 medium-grootte volgraan-wrap met tamatie en avokado 2 koppies frambose met een eetlepel okkerneute Volgraanpita gevul met 2 eetlepels hummus, baba-spinasie en geroosterde blomkool 5 rou amandels plus 180 ml laevet-ongegeurde jogurt Volstruis-steak en baba-aartappeltjies: 60 g volstruis-steak (gaar gestowe in rooiwyn en uie) plus 3-4 baba-aartappel gestoom in skil plus 2 eetlepels maaskaas bo-oor en 1 koppie gestoomde groenbone
Ontbyt Happie Middagete Happie Aandete
Sondag
1 omelet met gebraaide sampioene 1 medium-grootte pruim Geroosterde hoender: Rooster 1 dytjie/twee boudjies in die oond tot goudbruin. Geniet met 2 koppies geroosterde groente (murgpam-poentjie, boerpampoen, wortel, brokkoli en rooi-uie besprinkel met 1 teelepel olyfolie, roosmaryn en knoffel) plus 1 koppie vrugteslaai vir nagereg 180 ml ongegeurde laevet-jogurt plus 1 eetlepel vlassaad Tuna-oopbroodjie: 60 g geblikte tuna gemeng met 1 eetlepel laevet-mayonnaise en gekapte sprietuie op 1 sny lae-GI-brood
Terug na Inhoud

Leave a Reply

*