DIE PIONIER – FEBRUARIE 2017

Inhoud/Contents

DIE PIONIER

Download PDF

  1. Redakteursbrief
  2. Taal van pyn en vreugde.
  3. Hulle kleur hul eie prentjies in.
  4. Die MOEITE WERD..
  5. Andrew Murray – 100 jaar Later
  6. 83-jarige wewenaar bereik hoë piek.
  7. The Queen’s two presidential admirers.
  8. Viniel vlieg nou van die rakke af
  9. Fluisteringe van die wolf
  10. ‘Verlore vasteland’ onder Mauritius gekry.
  11. My slimfoon slaan toe haar eie koers in.
  12. Woensdae rol wiele in Porterville.
  13. Jaco Jacobs behaal sonderlinge prestasie.
  14. Danksy Ella (79) is daar by Brandfort g’n laatslaperboer
  15. Agter tralies vir diefstal – toe besteel man glo tronk.
  16. HUISHULPE.
  17. Skêr 18 jaar lank in man se maag.
  18. As jy nie vlerke het nie, moet jy ‘n huis hê.
  19. US-mikrobioloog ontwikkel probiotika vir winkelrakke.
  20. 5 vrae aan Antoinette Pienaar
  21. ‘Vader van Pac-Man’ op 91 jaar oorlede.
  22. Die BlackBerry en die baas se vergaderings.
  23. East Germans taught Trump about walls.
  24. Daar was destyds glo ‘haaie’ in die Karoo.
  25. Hmmm, uhm … he-he-he.
  26. Lego blaas nou ‘lewe’ in sy boublokkies.
  27. Ses goue reëls.
  28. Meer stilte is wat die wêreld nou nodig het
  29. Reuse-ysberg ‘sal gou wegbreek’
  30. Op die rug van populisme.
  31. ‘Toe swaai ek vir die trein uit’
  32. Om te VLIEG..
  33. Vra Hom Uit
  34. Advokaat loop sy rieme styf in hof
  35. Om te goeder trou geld aan vriende te leen – ai tog!
  36. Bly GESOND..
  37. Raad met goor reuke in jou huis.
  38. Kyk hie’! Die vjêrfdromme isj dan vol whisjkie!
  39. Gholfbane kry wind van voor in China.
  40. Rassie moet twee keer dink.
  41. Lekker gesous.
  42. Kookboek ding oorsee mee.
  43. TE KOOP.
  44. Dolverlief op malskommels.
  45. SUPERRUGBY-PROGRAM 2017.


 


1. Redakteursbrief

22 Februarie 2017

Geagte lesers

Ek wil baie graag begin deur die Matrieks van 2016 by Pionierskool geluk te wens met hul 100% slaagsyfer – asook al die onderwysers vir hul volgehoue harde werk bedank!  Tawana Mutasa het uitstekend gevaar met onderskeidings in Engels Huistaal, Afrikaans Addisionele Eerste Taal, Besigheidstudies en Geskiedenis.  Donderdag, 12 Januarie 2017 het hy ‘n sertifikaat vir Uitnemendheid ten spyte van leerhindernisse van Minister Debbie Schäfer ontvang.  Verder is daar ook ‘n berig oor Sarel van der Westhuizen, Tomley van Vuuren, Ricardo Gatyana en Tayla Kuilders se volgehoue deursettingsvermoëns om ongeag vele struikelblokke tog sukses te behaal.  Dit maak ons trots om sulke suksesverhale te lees!

Afrikaans is een van ons 11 landstale (12 indien ons binnekort Gebare Taal ook as amptelike landstaal erken)  wat vir ‘n groot groep van ons bevolking ‘n huistaal, leeftaal, gevoelstaal en droomtaal is.  Ongelukkig dra dit swaar aan sy bagasie van die apartheidsverlede en gepaardgaande hartseer.  Tog bly dit ‘n taal vir ons mense wat na aan ons harte lê en dit dra so baie kultuurskatte in ons Afrikaanse letterkunde.  Dit sal ‘n wonderlike dag wees wanneer Afrikaans suiwer ‘n taal van Afrika word vry van sy ongelukkige verlede en deur alle Afrikaners omarm word.

Madiba se woorde aan Franklin Sonn – “Jy is wat jy is en soos wat jy is, word jy gesien!” – is wyse woorde wat deur baie ter harte geneem kan word. President Donald Trump en President Jacob Zuma kan gerus hierna luister.  Dit is natuurlik ook van toepassing op vele ander kwessies soos ons raskwessie, taalkwessie en die wêreldwye populisme wat nou posvat.  Populistiese en opportunistiese politiek is ‘n fenomeen wat wêreldwyd in die VSA, Europa en Afrika – insluitend Suid-Afrika – geweldig toeneem en ons politieke landskap weereens begin domineer.  Adolf Hitler, van Nazi-Duitsland, het so die Duitse bevolking verlei en  oorwin met tragiese gevolge vir ons wêreldgeskiedenis.  Ons almal moet beslis daarteen waak dat die geskiedenis homself weer herhaal nie!  Dit is interessante leesstof om al ons politici sedert 1910 se verskillende style in optredes en dialoogtegnieke te vergelyk en ook die van die Amerikaanse presidente.

Antoinette Pienaar is ‘n gerekende kenner van kruie-medisyne en boererate.  Hierdie volkskennis vorm natuurlik die basis waaruit die mediese wetenskap en medisyne ontwikkel het.  Ten spyte van al die hedendaagse wonderlike tegnologie begin ons tog terug te hunker na die goeie dinge van die verlede.  Kyk nou na die herlewing van die ou viniel langspeelplate met sy warm analoog klanke versus die kliniese perfekte digitale klank tegnologie van CD’s. Maar ai, dan sal my ou Lego boublokkies nou sowaar met rekenaartegnologie lewe kry sodat dit geprogrammeer kan word om te beweeg en klanke te maak!  Dit is nou iets wat ek destyds baie graag sou wou hê, maar die kinders van my tyd en vroeër het nie tekort geskiet aan ‘n wonderlike verbeelding wanneer hulle gespeel het nie.  Dink maar aan ons klei-osse, Dinki-karretjies, lappoppe en eenvoudige speelgoed.  Vandag is dit alles elektronika en tegnologie wat die kind van vandag se verbeeldingswêreld weinig oorlaat om vanself te droom.  Die uitvinder van die ou arkade-speletjie, Pac-Man, is onlangs op 91 jaar oorlede.  Kan julle glo dat die ongelooflike BlackBerry slimfoon nou al uit die oude doos is en in 2016 ‘n stille dood gesterf het!

Hierdie uitgawes het ook vele wenke, rate en aanbevelings oor huishulpe se vergoeding, die grootmaak van kinders (wat altyd ‘n uitdaging bly), gesondheidswenke, hoe om reuke in jou huis hok te slaan.  Daar is sowaar ook raad en wenke aan die vroulike geslag oor hoe om die droom man in haar lewe te vind en die hof te maak.  Niemand kan sê dat Die Pionier nie aan almal se behoeftes probeer voldoen nie!

Twee sportbrokkies handel oor al China se gholfbane en die sensitiewe en netelige kwessie vir al ons rugby-entoesiaste – wie moet by Allister Coetzee oorneem as hoofafrigter van ons mank Spingbokspan?  Rassie Erasmus of Johan Ackermann – of moet Allister nog ‘n kans kry?  Veiligheidshalwe bly ek maar uit hierdie debat…

Ter afsluiting het ons ‘n interessante geskiedenis oor die rol van kos in die val van die Romeinse Ryk en die geskiedenis van souse.  Ek persoonlik is ‘n sterk voorstander van lekker souse by my maaltye.  Ons tradisionele Kaapse geregte vind wêreldwyd aanklank en dit is nou saamgestel in ‘n baie suksesvolle kookboek – “Kook saam Kaaps”. Dan as ‘n heerlike toegif aan al die soettande onder ons lesers – Melkskommels en al die nuutste giere en resepte daarom.  Die blote gedagte daaraan kan sommige van ons in ‘n diabetiese koma laat verval!!!  Die laaste artikel is beslis nie vir al die gesondheidsbewustes onder ons bedoel nie.

TOTSIENS

Op 28 Februarie 2017 gaan ‘n groot man ons verlaat na 14 jaar van liefdesdiens aan Kaleidoskoop SA (voorheen Instituut vir Blindes) wanneer Mnr Freddie Botha finaal die tuig by ons neerlê.  Mnr Botha is werklik ‘n geliefde persoon onder ons mense en inwoners – hy het diep spore getrap in menige van ons lewens en ‘n besonderse verskil in ons lewens gemaak.  Hy was soos ‘n vader, vriend, berader, trooster, leidsman en geloofsleier vir ons gemeenskap in goeie en slegte tye.  Jy kon altyd op hom staatmaak om na jou te luister en te help waar hy kon.  In my persoonlike lewe het hy ook ‘n besondere rol gespeel deurdat hy my na Kaleidoskoop gebring het en deure vir my oopgemaak het toe ek geen hoop vir my eie toekoms gesien het nie.  Nou as doofblinde het ek ‘n wonderlike werk en toekoms by Kaleidoskoop.  Dit is ‘n wonderwerk as ‘n mens kyk hoeveel doofblindes, blindes en siggestremdes daar buite sonder ‘n heenkome of werk sit.

Ek wil hiermee die volgende gedig aan Mnr Botha opdra en ons almal salueer jou daarmee.  Ons gaan almal vir jou mis en wil jou en jou eggenote ‘n vreugdevolle en geseënde tyd van aftrede en welverdiende rus toewens!

 

Tyd vir Aftrede

~ Allen Bredell

‘n Nuwe blaai slaan om

‘n Nuwe hoofstuk begin

In die boek van jou lewe

Die hoofstuk van aftrede

 

Dis tyd om te groet

Vir vriend en kollega

Jou tyd om ‘n geseënde loopbaan

Vaarwel toe te roep vir altyd

Om jou aftree tydperk binne te gaan

In die groot genade van God

 

‘n Tyd van vreugde

Beskermend altyd in God’s liefde

 

Blydskap en trane het jy gedeel met baie

Meer blydskap as trane

Deur die lang getelde jare

Saam met kollegas en vriende

Vir altyd mooi gevorm, die talle herinneringe

‘n God’s seëning was jy vir almal

Ja, so oud en jonk en sommer almal

 

Dis hartseer om te groet vir altyd

Maar vandag sal die laaste woord

Hier bymekaar in ons harte

Neergelê word om vir altyd

In liefde gekoester te word

 

Gaan jou aftrede binne met God

Met ‘n lied in jou hart

‘n Vreugde in jou siel

 

Mooi loop en seën aan al ons lesers tot volgende keer.

Dr Johan Pretorius

Redakteur – Die Pionier

Back to top

2. Taal van pyn en vreugde

(Die Burger, 27 Januarie 2017)

Murray La Vita

Afrikaans is so deel van Suid-Afrika soos rooibostee, maar dit is ‘n taal wat gaan sukkel, sê dr. Franklin Sonn.

“Afrikaans is so gekoppel aan die gruwels van die verlede dat enige weerstand teen optrede teen (die marginalisering van) Afrikaans amper gesien word as pogings om dit (die verlede) weer in die lewe te roep.

“Ek neem myself as ‘n voorbeeld: Ons het Engels begin praat in die huis. Ek wou nie my kinders blootstel nie. Ek het gedink: Gee my kinders ‘n break.

“Maar nou praat ons weer Afrikaans. Ons is besig met ‘n proses om Afrikaans te bevry van die gruwels van die verlede, van (Jeff) Benzien van die security police, van al dáái.

“Ek weet nie hoe lank dit gaan duur nie. Die opkomende bruin Afrikaanse skrywers en digters, hulle skryf nou oor die lyding, nè? Maar die oomblik as hulle oor die triomfe begin praat, sal ons weer regkom. So op die lange duur voel ek veilig oor Afrikaans, maar op die korte duur gaan dit moeilik wees. Want die instellings sterf, nè.

“Ek vat nou hier by die kerk, ek is ‘n Christen en nou gaan ek soms kerk toe, daar is verskríklike smart dominees daar, mense soos die moderator, Nelis (Janse van Rensburg), dis ‘n plesier om onder hulle preke te sit, máár dis ou mense! Dan vra ek vir hulle: ‘Nou, waar’s die kinders dan?’ Dan sê hulle die kinders is by die charismatiese kerke. Die charismatiese kerke is Engels, of hoe?”

Die onderhoud met Sonn vind plaas teen die agtergrond van die boek Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die struggle deur middel van Afrikaans (Naledi).

Oor Sonn, wat die voorwoord geskryf het, sê die redakteurs van die boek: “Sy betrokkenheid by sy mense en die liefde wat hulle vir hom koester, kom duidelik na vore in hierdie boek as verskeie skrywers verwys na sy rol in die bruin mense se struggle teen apartheid – in Afrikaans.”

Die 77-jarige Sonn sit op ‘n rusbank in die ruim sitkamer van die huis in Welgemoed, ‘n noordelike voorstad van Kaapstad, wat hy met sy vrou, Joan, deel. Die vertrek is vol Suid-Afrikaanse kunswerke (onder meer van ou meesters soos Gregoire Boonzaier) en antieke meubels en Delft-porselein. Klassieke musiek speel op die agtergrond.

Sonn is ‘n man wat diep spore in die Suid-Afrikaanse gemeenskap getrap het, onder andere as struggle-leier, vakbondman, skoolhoof en rektor van die Skiereilandse Technikon.

“Daar is onder bruin mense ‘n chroniese selfbewustheid wat baie begryplik ontstaan het by ons almal, ook by my, by die wyse waarop die argitektuur van die rasse-ideologie neerslag gevind het en hoe hy benadelend gewerk het op die groep waarvan Adam Small skryf; en lóúter benadelend, érg benadelend, waaroor ons nog nie eers gepraat en gedink het nie.

“Dink aan die benadeling van die rasseregistrasiewet, nè, wat die bruin mense op ‘n negatiewe manier definieer het in die wet. Die ergste was die Ontugwet, artikel 16 van die Ontugwet: ‘Kyk, jy is bruin van kleur, so jy’s uit misdaad gebore.’ Ék is uit misdaad gebore, want artikel 16 het seksuele omgang tussen wit en swart ‘n misdaad gemaak, uit daardie omgang kom ‘n bruin kind.

“Dis pynlik om nou daaroor te praat, maar daai pyndrempel kan ons nie oor nie. Nou vat ons dit nog ‘n bietjie verder.

“Ek kry die gedagte die jong mense moet daaruit loskom – loskom uit onse eie persoonlike pyn van struggle om te wéés, die wees wat altyd negatief en eintlik onwéttig was – sodat ons ‘n regte gesprek oor Afrikaans kan hou, want ons definieer nog altyd Afrikaans as die taal van ons pyn.

“Afrikaans is amper die semen van ons bestaan; ons is ín die taal en ín die kultuur gebore … uit ‘n pa wat ons nie wil hê nie, wat ons fisiek onteien het, nie net per definisie nie, hy het ons fisiek onteien.

“Hy het gesê: ‘Gaan wég van my woonbuurt! Gaan net weg uit my omgewing, ek wil jou nie sién nie.’ Hy het ons ook onterf in daai taal!

“Nou is hierdie gewaarwordinge so intens dat mense dit vermy. Ek lees nou wat die nuwe bruin ouens skrywe en hulle worstel hiermee. Hulle kom net tot by daai punt waar hulle sê wat hulle nie is nie. Dis moeilik om te sê wat hulle ís.”

As jy Afrikaans verwerp, dan verwerp jy iets van jouself, sê hy.

“Die problematiek daarvan is dat as jy Afrikaans handhaaf, dan sluit jy swart mense uit, want Afrikaans is nie altyd verwelkomend nie.

“So dit bring vir my as ‘n ou man nou tot die gedagte dat die onus om daaraan te ontkom sodat ons in die toekoms ‘n regverdige en ‘n insluitende nierassige samelewing kan word, lyk vir my berus by die bruin mense omdat ons deur hierdie smart gekom het.

“‘n Wit of ‘n swart kind hoef nie deur hierdie goed te worstel nie – hy ís net en hy wórd net. En hy gaan net aan. Swart kinders worstel nie met hierdie botsing van die politiek en die kultuur nie.”

Nelson Mandela het dikwels met hom Afrikaans gepraat.

“Dan vra ek: ‘Hoekom praat jy met my Afrikaans?’ Hy sê: ‘Ek hou van Afrikaans en dis lekker om saam met iemand te wees wat dit is.’

“Ek dink ons het nog nie ten volle vir Madiba gehoor nie. Ons interpreteer hom nog binne die stryd om oorwinning; ons interpreteer hom nog de binne die konteks van wat ons verwérf het nie.

“Madiba was president toe my moeder sterf. Toe bel hy my uit Pretoria en sê hy wil net jammer sê oor my ma en hy kom begrafnis toe. Toe kom hy spesiaal afgevlieg vir ‘n bruin vrou van Landsdowne se begrafnis. En hy sê ook vir my: ‘Ek wil asseblief iets sê.’ Toe hou hy ‘n 20 minuut lange toespraak in Afrikaans.

“Een Saterdag bel hy my en sê hy is alleen, ek moet opkom na Genadendal (sy ampswoning in Kaapstad). Ons het die hele middag daar rondgedwaal in die tuine en toe het hy gaan sit.

“Toe sê ek: ‘Ek gaan jou vandag vastrek. Vandag gaan ek jou vastrek, Madiba.’ Ek vra: ‘Wat maak jý met hierdie identiteitskwessies? Léér my nou, asseblief. Ek vra nou as ‘n kind: Wat maak ons met die identiteitskwessies?’

“Toe vra hy ek moet nou spesifiek wees, toe sê ek vir hom: byvoorbeeld die problematiek van bruin wees. Toe práát ek daaroor.

“Toe sê hy: ‘Onthou net, in dié lewe is dit nie so belangrik wie jy sê jy is nie, dis wie ánder sê jy is. Ek sien jou op ‘n bepaalde manier, jy’s my seun, ek voel baie na aan jou, daarom moet ek altyd met jou gesprek soek en het ek uit die tronk uit ook vir jou geskryf. Maar ek sien jou op ‘n bepaalde manier.’

“Toe los ek dit nét daar, want dit was vir my baie wesenlik. Jy is wat jy is en soos wat jy is, word jy gesien! En dit het my baie gehelp.”

Mandela het Sonn in 1994 as ambassadeur in Amerika aangestel. Wat is sy indruk van die huidige stand van sake met Donald Trump as nuwe president van daardie land?

“Ek dink ons as vry en oopdenkende, liberale demokratiese mense gaan ‘n swaar tyd beleef, want die reaksionêres oral gaan moed kry en vir Suid-Afrika sal dit in ‘n mate ‘n terugslag wees. Dit gaan ‘n ontwaking tot gevolg hê van die hele kwessie van die eie en van éksklusiwiteit eerder as ínklusiwiteit.

“Ek dink dis ook ‘n bedreiging vir die ekonomie, want Amerika, as hy insulêr word, dan doen hy net goed vir Amerika. Amerika stel nie belang in die buiteland nie, nè.

“Baie van die hulpprogramme wat ons kry, is Amerikaans, ook beurse en die geleenthede om te studeer. As ons die goedgesindheid van Amerika verbeur, gaan ons dit vóél. Dit is nou ‘n tydperk van isolasie, insulasie en America only – daardie jingoïsme. Dis amper dieselfde ding as dié van Malan en Verwoerd: Suid-Afrika vir óns … en dit klink sleg, nè.”

In sy tyd as ambassadeur in die VSA was hy gemoeid met die skep van die Afrika-handelsbeleid.

“Dit was ‘n groot prestasie om handelsverligting te kry, veral vir Kenia met sy tekstiele en vir Suid-Afrika, om grense oop te maak en handelsversperrings uit die weg te ruim. Maar Trump gaan dit ook nou herroep, die handels voorkeure. ”

Dit is vir Sonn belangrik om nie as iemand geteken te word wat ‘n voorstander van “coloured nationalism” is nie.

“Wat my deur my lewe gedryf het, is om met die mense met wie ek ‘n kulturele aanvoeling het, ‘n verhouding op te bou.

“Almal praat van ‘n nasie bou, maar jy kan nie ‘n nasie bou en dan opsetlik, soos Malema, mense wil uitstoot nie. Jy moet mense inbring. Ons moet nie na Afrikaners kyk as die boere van apartheid nie, maar as Suid-Afrikaners wat byvoorbeeld teen Britse imperialisme geveg het.

“Die Afrikaanssprekende gemeenskap, waarin ek nou uit vrye keuse woon, dis almal boere dié (hy wys na buite), hulle smag na Afrikaanse leierskap. As daar ‘n week verbygaan wat mense dit nie vir my sê nie, dan is dit nou baie.

“Die verwarring is nie nou net meer by coloureds nie, dis nou by die wit Afrikaanssprekendes ook. En hulle is vry en oop vir ‘n bruin leier wat hom byvoorbeeld bemoei met vrae soos of Afrikaans ‘n Afrikataal is en het Afrikaans oorlewingsmoontlikhede?

“Óns kan ons daaroor uitspreek, maar die oomblik as die wit man dit sê dan word daar gesê: ‘Jy wil nou weer skerms opslaan.’”

Later sê hy: “Ons gaan deur verandering en ons vergeet dat ons ‘n baie jong demokrasie is. Niks is seker in Suid-Afrika nie. Behalwe die wete dat dit gaan regkom.”

Back to top

3. Hulle kleur hul eie prentjies in

PIONIERSKOOL SE UITBLINKERS

(Die Burger, 5 Januarie 2017)

MATRIEK 2016

Anika Marais

“Juffrou!” Sarel van der Westhuizen (21) kom skree-skree by die gang van die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester afgestap.

“Juffrou! Ek is klaar met skool! Ek is klaar met skool!”

Hy gooi sy kop agteroor, knyp sy oë toe en lag kliphard.

“En Juffrou? Juffrou, ek het my skoolloopbaan met ‘n formidabele skryfstuk afgesluit. As ek dit nou maar self mag sê.”

Sarel het einde verlede jaar op ‘n braille-tikmasjien die derde vraestel vir Afrikaans eerste addisionele taal geskryf. ‘n Deel daarvan was ‘n opstel oor diamantsmokkelaars.

“Manne! Manne! Vanaand is dié aand!” Sarel bewe eintlik van opgewondenheid soos wat Tomley van Vuuren (21) en Ricardo Gatyana (21) uit die eksamenlokaal na die voorportaal van die skool gestap kom.

“Vanaand gaan ons groot!”

Tayla Kuilders (18), wat aan Ricardo se arm vashou, giggel.

“Ja, ek hoor jou, Tayla!” is Sarel se antwoord.

“Maar vanaand is ‘n manne-aand. Ons gaan ‘n bietjie hier in die dorp rondloop en ‘n ou ietsie drink. Kom ons sê maar ‘n Coke in aanhalingstekens.”

Dié matriekklas het meer as genoeg rede gehad om einde verlede jaar vir ‘n aand lank Worcester op horings te neem.

Benewens die feit dat hulle al vier heeltemal blind of swaksiende is, was daar boonop nog ‘n hele paar struikelblokke wat tussen hulle en hul matrieksertifikaat gestaan het.

Tomley moes gr. 5 én gr. 10 herhaal.

Ricardo woon sonder sy ma in Worcester, saam met sy broers en suster, en moes óók gr. 10 herhaal.

Sarel het in gr. 9 die pad byster geraak en “op die onwettige manier begin kuier”.

En Guillain Barré-sindroom is op 16-jarige ouderdom by Tayla gediagnoseer. En ondanks die rehabilitasie wat sy vir bykans ‘n jaar ondergaan het, het sy gematrikuleer sonder om ‘n jaar te herhaal.

“Ek het nie gedink ek gaan dit maak nie.”

Sy raak tranerig.

“Maar ek het dit reggekry. Ek het dit reggekry. Ek is opgewonde. Ek is net te opgewonde.”

Elkeen van hulle het voor ‘n uitdaging te staan gekom waar hulle maklik sou kon sê: Dis nou genoeg. Maar tog het hulle besluit: Ek gáán deurdruk tot matriek.

“Ek het gr. 5 herhaal omdat ek baie uit die skool was vir operasies op my oë,” vertel Tomley.

“Maar toe raak ek lui. Ek wou nie huiswerk doen nie. En in gr. 10 het ek nie eens meer probeer nie. Ek het hom sommer ordentlik gedruip.”

Maar binne ‘n paar jaar het Tomley sy lewe omgekeer.

Hy het in ‘n akteur ontpop wat onder meer al by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees opgetree het, en is boonop as hoofseun van die skool gekies.

Ricardo se wêreld het ineengestort toe sy rapport aan die einde van gr. 10 kom en dit lees: Druip.

“Ek het dit nie verwag nie, want ek het my alles ingesit.”

Ricardo sit vorentoe met sy hande gekruis op die tafel.

“Dit was baie moeilik om te aanvaar. Ek kon tóé tou opgegooi het, want ek sou alles weer moes oordoen en saam met jonger kinders in die klas sit. Maar ek het weer teruggekom en besluit: Miskien was ek net nog nie reg om aan te beweeg nie.”

Vir Sarel het die draaipunt gekom toe sy pa hom een dag in gr. 10 uit Brakpan gebel het.

“Toe ek rekenaartoepassings-tegnologie [RTT] nie deurkom nie, het ek net besluit te hel met alles. Te hel met die hele besigheid. Ek het alles net gelos – my akademie, my vriende.”

Die jong man wat die heeltyd lag, raak skielik ernstig.

“My pa het gebel en net een ding vir my gesê: ‘Dis jy wat jou eie prentjie in die lewe inkleur’. En toe het alles verander.”

Die volgende jaar het Sarel tydens die Pionierskool se jaarlikse Pioneer Rally saam met die oud-Springbok Toks van der Linde in die motor gery.

“Ons is albei mal oor golden oldies. Jy weet, musiek van die 60’s, 70’s en 80’s. Ons het so gesels dat ek vir lang tye vergeet het om te navigeer! En toe ek weer sien, sit Toks voet in die hoek! Ons het 160 km/h gery en gesing. Só gesing dat hy nie ‘n stem gehad het toe ons by die casino aankom nie. En hy moes daai aand die seremoniemeester wees!”

Hy lag weer.

“Hy het my gisteraand gebel en gesê ek moet hom laat weet as ek my laaste vraestel geskryf het.

“Ek gaan hom sommer nou bel en sê: ‘Oom Tokka! Dis ek, Sarel, oom Tokka! Ek is klaar en vanaand gaan ons groot gaan!”

Matriekuitslae in Die Burger

Die uitslae van Wes-Kaapse skole verskyn môre in Die Burger saam met ‘n bylae met onderhoude met uitsonderlike matrikulante. Die departement van basiese onderwys se beleid vereis dat die uitslae wat môre in Die Burger verskyn, nie onder matrikulante se name gepubliseer word nie, maar net onder hul eksamennommers.

Dié besluit is geneem in ‘n poging om kandidate wat nie geslaag het nie se identiteit te beskerm. Die matriekuitslae wat môre in Die Burger gepubliseer word, is deur die departement van basiese onderwys verskaf. Hoewel alles moontlik gedoen is om te verseker dat die uitslae korrek is, is dit moontlik dat foute kon deurglip.

Die uitslae wat by skole bekend gemaak word, moet steeds as die finale uitslae beskou word. Vir enige verdere navrae oor die uitslae, bel die departement van basiese onderwys by 0800 202 933.

Back to top

4. Die MOEITE WERD

(Rooi Rose, Februarie 2017)

Deur JACQUELINE LEUVENNINK

Dis die begin van ‘n sonderlinge liefdesverhaal toe die netjiese, gladgeskeerde “young Mister Murray” op ‘n Kaapse winterdag in 1855 in Groenpunt deur die hek met sy groot wit pilare ry en voor ‘n elegante gewelhuis met ‘n rietdak stilhou. Saam met Andrew is sy oom en doktor Philip van die Londense Sendinggenootskap. Hulle kom besoek die Rutherfoord-familie, deel van die créme de la créme van Kaapse sosiale kringe.

Toe die aanvallige jong dogter van die huis inkom om tee uit ‘n silwerteepot in fraai porseleinkoppies te skink, helder die wintersdag vir die geleerde jong man op. Die 19-jarige Emma steek haar hand na hom toe uit, iets wat ‘n ietwat oorblufte Murray laat reageer met ‘n opregte: “I am extremely privileged to meet you, Miss Rutherfoord…”

Emma is ‘n jong vrou met ‘n ondersoekende gees, die produk van ‘n tipies Victoriaanse opvoeding vir die hoër stand. Haar ma en later goewernantes en leermeesters het haar geskool, sy speel klavier, teken, borduur, het ‘n goeie kennis van Shakespeare, Bunyan en John Donne en praat ‘n vingerhoedjie vol Duits en Frans. Trou is in hierdie stadium nie hoog op haar lys nie; sy voel sterk daaroor dat die lewe uit meer as rose borduur, bestaan. Met haar liefde vir die buitelug en die veldblomme teen die berg se hange kom daar ‘n effens meer ongetemde sy na vore wanneer sy na hartelus perdry en bergklim. Bo-op Tafelberg wil sy net nog en nog sien. Bedaar, kind, sê die grootmense. Jy sal jou ooreis…

Die Rutherfoords se landgoed strek van die see tot by Seinheuwel. Howson Rutherfoord is ‘n bedrewe sakeman, politikus en filantroop, ‘n ingeligte man wat The Commercial Advertiser; The Illustrated London News en die Cape Argus lees. Hy geniet intelligente gesprekvoering en hulle ontvang dikwels belangrike besoekers.

Toe die gesin ná ‘n jaar in Londen na Kaapstad terugkeer, is Howson verkies tot lid van die wetgewende vergadering (Hoërhuis) van die Kaapse parlement wat vir die eerste keer in 1854 vergader het. Geloof is die stil middelpunt van die Rutherfoord-gesinslewe. Hul deur staan oop vir sendelinge van alle denominasies. Hulle is dus bewus van die skrander seun van ‘n Skotse sendelingpredikant uit die Karoo.

Andrew besef onmiddellik Emma is die kans van ‘n leeftyd. In die week wat hy op vervoer na die noorde moet wag, lê hy daagliks besoek af in Groenpunt. Mr Rutherfoord is meer as ingenome.

“What an extraordinary talented young man this young Murray is.”

Die tyd is min en Andrew ‘n man wat nie gras onder sy voete laat groei nie. Skaars drie dae nadat hy haar die eerste keer gesien het, kry Emma ‘n brief van hom waarin hy haar vra om te trou. “Hoewel my werk in Bloemfontein bevredigend en uitdagend is, is ek soms baie alleen en verlang ek na iemand wat vir my ‘n lewenslange metgesel kan wees; “a companion which I believe the Lord will grant me in due time”.

Hy gaan voort om te sê hy het dadelik aangetrokke tot haar gevoel, “een van daardie vreemde misteries van die lewe. Dit gaan vir my baie swaar wees om binne ‘n paar dae weer van jou afskeid te neem. Jy is geseën met spesiale talente wat myne kan aanvul en my lewe sal verryk”.

Andrew is slaggereed om die bal aan die rol te sit en “this serious matter of great consequence for both of us” met haar pa te bespreek. Maar hy misgis hom met Emma. Dit klink soos iets uit ‘n Jane Austen-roman. Hy laat haar hart ook vinniger klop maar die vurige jong intellektueel se oorhaastigheid skok haar verfynde siel. Die huweliksaansoek is volgens haar heeltemal te halsoorkop en sy reken hy laat dit soos ‘n saketransaksie klink. Sy het darem gedink hy het beter aanvoeling as om nie eens tyd te maak vir ‘n hofmakery waartydens hulle mekaar beter kan leer ken nie. Dit laat haar ewe impulsief besluit om summier alle kontak met hom te verbreek.

Haar brief aan hom is koue water op die vuur. “It seemed to me that there could be no mutual sympathy and no clear knowledge of character necessary for so close, so holy a relationship.”

Voor sy vertrek kom Andrew groet. Hy erken teenoor haar pa dat haar reaksie geregverdig was en dat hy onder druk gevoel het van sy gemeente wat dringend op sy terugkeer wag. Dis ‘n erg bekaf vryer wat die lang reis terug na sy pioniersbestaan aanpak. Emma se familie maak intussen geen geheim daarvan dat hul simpatie meer by die jong predikant lê as by haar nie. Haar suster Mary is so ontstig dat sy amper ‘n week lank nie met Emma praat nie.

Andrew vermy voorlopig die Kaap en woon nie eens die volgende sinodesitting by nie. Maar hy gee darem ook nie heeltemal moed op nie. Emma kry hom ook nie uit haar kop of hart nie. Toe hy met haar begin korrespondeer, reageer sy aan die begin steeds effens kil. Maar die man wat in hul latere huwelik van 48 jaar 250 boeke sou publiseer, weet hoe om te skryf. Emma leer ken hom oor ‘n tydperk van ‘n jaar in hul briefwisseling en sy gedagtes en verlangens staan haar aan. Toe hy weer vra, sê sy ja sonder dat sy hom intussen weer gesien het.

Daar word vertel dat die jong predikant die reis van Bloemfontein na Kaapstad, wat destyds gewoonlik drie weke geduur het, binne 13 dae afgelê het.

Hulle trou op 2 Julie 1856 in die Dutch Reformed Church in Wynberg, Emma ‘n prentjie in wit moeselien en kant, Andrew in strikdas en manel. Daar is skaars tyd om ‘n bruidsuitset bymekaar te kry voor hulle noorde toe vertrek. Die jong bruidegom voldoen met groot sorg en moeite aan sy vrou se versoek dat haar klavier moet saam op die wittebroodsreis, ‘n groot kampeer-avontuur vir die jonggetroudes.

Die klavier raak haar naelstring met die lewe wat sy agterlaat. Sy skryf: “Dear Mama, what a joy it is, playing the piano. Most of the time I play for my Andrew.” Dit raak ‘n gewoonte dat sy vir hom sing en lees as hulle lang afstande in die kapkar aflê om mense op afgeleë plekke te gaan besoek. Eenvoudige, goedhartige boeremense oorlaai hulle met groente, eiers, hoenders en eende, selfs ‘n skaap. Dit ontroer haar. En sy geniet die konstante verandering in die landskap en veral die kosbare alleentyd met haar man wanneer hulle reis.

Emma se nuwe bestaan is ver verwyder van haar jongmeisie-drome om haar in ‘n gesofistikeerde Londen te gaan vestig. By geleentheid mis sy wel sekere dinge. “Liewe Mamma, kan jy dalk vir my skoene aanstuur? Ek het tog so ‘n swak vir Franse leerstewels.”

Maar haar liefde vir die hardwerkende, begeesterde man met die oop, eerlike gesig oorbrug al die aanpassings in ‘n oorwegend waterlose stad met sy losse versameling van sowat 45 grasdakhuise wat langs die Bloemspruit gestrooi lê. “Dear Mama, I certainly never knew before I could be so bound to anyone or love anyone so much”

Sy is voortdurend besorg daaroor dat Andrew se gesondheid ‘n knou kan kry weens sy veelvuldige pligte. Waar sy kan, vergesel sy hom op sy togte omdat sy weet hy kan dan nie heeltemal so hard werk nie omdat hy haar in ag moet neem. Haar eie atletiese, fikse liggaam is ‘n groot bate. Sy het elf kinders in die wêreld gebring.

Andrew Murray word in 1871 na Wellington beroep waar Emma hom tot met haar dood in 1905 bystaan. Hul reis saam kan vergelyk word met haar beskrywing van ‘n klim tot bo-op Tafelberg: “so wild, so free, so majestic, so worth the trouble and fatigue” rr

*Inligting kom uit die briewe van Emma Rutherfoord/Murray in “In Mid-Victorian Cape, Letters from Miss Rutherfoord”, saamgestel deur Joyce Murray (Emma se kleindogter) en in 1954 in Kaapstad deur A.A. Balkema uitgegee.

 

DIE SKOTSE MURRAYS

Die standbeeld van die sittende figuur van die dinamiese predikant, mistikus en skrywer Andrew Murray voor die Moederkerk in Kerkstraat, Wellington, is ‘n bekende gesig. ‘n Rugbesering het hom in sy latere lewe genoodsaak om dikwels te sit en preek. Op 9 Mei, sy verjaardag, word steeds elke jaar kranse gelê by sy graf, ‘n klipgooi van die standbeeld af.

Murray se predikant-pa, ook Andrew, het as jong man uit Skotland na Suid-Afrika gekom. Andrew jnr. word op Graaff-Reinet groot tot hy as tienjarige Skotland toe gaan om daar skool te gaan. Ná sy teologiese studie in Holland word hy in 1848 as predikant in Den Haag georden. Met sy terugkeer na Suid-Afrika kry hy opdrag van die NG Kerk om die Afrikaners in die binneland te gaan bedien en ‘n versoenende rol te speel tussen die Kaapse regering en die Boere in die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier.

In die elf jaar van sy bediening in Bloemfontein was hy onder meer die stigter van Grey Kollege.

Emma speel waarskynlik ‘n belangrike rol in sy ywer om ook beter opvoedingsgeleenthede vir jong vroue te help skep. Hy stig later in sy bediening op Wellington die Seminary for Girls.

Back to top

5. Andrew Murray – 100 jaar Later

(NG Kerk Weskaap, Facebook)

Dr Andrew Murray, oudleraar van die Groote Kerk gemeente is vanjaar presies ‘n 100 jaar gelede op 18 Januarie 1917 oorlede.

Ons dink terug aan sy invloed en nalatenskap. Sy standbeeld staan voor die Groote Kerk aan die Adderleystraat kant. In 1917 net na Andrew se afsterwe verwys DE KERKBODE na hom as “… ontegenzeggelijk gelijk de grootste figuur in Onze Kerk geweest “ en die Kaapse dagblad THE ARGUS gaan verder deur te sê dat : “Though the majority may never have set eyes upon dr. Murray in person, the influence of his devotional books has touched every corner of the globe; few names in this region of Christian literature being more familiar”.

‘n Man met ‘n roeping en ‘n passie: om te preek, stigter van skole en opleidingsentra vir dogters, sendingyweraar, herlewingsgesinde, boekskrywer (hy het in sy lewe sowat 20 000 gedrukte bladsye geskryf!), Godvresende geestelike vader van vele.

Andrew Murray was sekerlik een van die heel grootste Onderwys Hervormers in SA se geskiedenis. Hy was sy tyd in 1872 ver vooruit deur die twee geleerde dames, drr. Bliss en Ferguson, na Suid-Afrika te bring om onderwys aan dogters op Wellington te gee. Deur hulle hierheen te bring het hy die beginsel geskep om geleerde persone in te koop, ‘n beginsel wat spoedig deur ander inrigtings in Suid-Afrika gevolg is. Die belangrikste doel van die skool was om dogters en hulle belange eerste te stel. Gesamentlik het hulle die Seminarium ontwikkel as ‘n plek waar dogters Christelike en praktiese onderrig ontvang wat by die beste inrigtings in wêreld kon kersvashou. Hierdie verbintenis het verseker dat Hoër Onderwys vir dogters die eerste keer in SA beskikbaar was.

Vroue het ‘n besondere rol in die lewe en denke van Andrew Murray gespeel. As man uit die Victoriaanse tydperk was hy sy eie tyd ver vooruit. Wat in gedagte gehou moet word is dat die optrede van Andrew in die veelbewoë Victoriaanse tydperk plaasgevind het. Die posisie van vroue is as onderdanig beskou en hulle moes sekere reëls nakom wat deur die samelewing as aanvaarbaar beskou is.

By die inwyding van die Vrouemonument in 1913 het die volgende gebeurtenis afgespeel wat Andrew se posisie binne die Afrikanerdom van toe, pragtige illustreer het: In die brandende middaghitte het die menigte ure lank na ‘n eindelose reeks uitgerekte toesprake geluister. Tydens die geleentheid het generaal Christiaan de Wet ‘n sambreel oor Andrew gehou om hom teen die hitte te beskerm. Toe Andrew hom bedank, sou De Wet gesê het: “‘n Mens sou kon betaal het om dit te mag gedoen het – daar was heelwat mense wat dit ook graag wou doen.”

Bron: Dr Jurie Joubert

Groote Kerk gemeente

Back to top

6. 83-jarige wewenaar bereik hoë piek

(Die Burger, 28 Januarie 2017)

Christiaan du Plessis

‘n 83-jarige man van Kaapstad het gisteroggend die eerste piek van Kilimandjaro, Stellapunt, in Tanzanië bereik nadat sy vrou verlede jaar aan kanker dood is.

Peter Grant het ses dae, pleks van die gewoonlike vyf dae, geneem om die piek te bereik.

Stellapunt toring 5 685 m bo seespieël uit en is nie ver van Uhuru, die berg se hoogste kruin, af nie.

Volgens Grant se suster, Pamela Delport (80), het sy nie verwag dat haar broer die bokant van die berg sou bereik nie.

“Ek weet nie waar hy sy gene vandaan kry nie, want hy het nie eens veel kans gekry om te oefen nie. Dit is asemrowend dat hy dit tot daar gemaak het,” sê sy.

Grant se vrou, Colleen, sou hom verlede jaar saam op die tog na Tanzanië vergesel het, maar die egpaar se planne is kortgeknip toe kanker by haar gediagnoseer is. Sy is in Augustus dood.

Volgens Mariska Griffin, eienaar van eXplore Plus Travel & Tours, wat Grant se klimtog gereël het, was dit vir Grant ‘n emosionele staptog.

“Dit is ‘n merkwaardige prestasie. Dit gebeur gereeld dat bergklimmers wat veel jonger as Grant is dit nie tot by Stellapunt kan maak nie,” sê Griffin.

Volgens haar sou ‘n toergids Grant gister by die berg af vergesel het.

“Hulle gaan waarskynlik stadig loop en daarom sal hy eers Saterdagmiddag (vanmiddag) op gelyke grond wees.”

Volgens Delport is sy onseker hoe hulle haar broer, wat môreaand terug in Kaapstad aanland, se prestasie gaan vier.

“Ek vermoed hy gaan baie plannetjies hê wanneer hy terugkeer. Die adrenalien gaan waarskynlik nog ‘n hele ruk in sy liggaam wees,” het sy gesê.

Back to top

7. The Queen’s two presidential admirers

Idi Amin trumped by Donald

(Die Burger, 5 February 2017)

PS John Scott

I bet Donald Trump is as thrilled at the idea of meeting the Queen (Elizabeth of England, that is) as Idi Amin was all those years ago.

And that the queen is just as unthrilled at the prospect as she was when she dined with Uganda’s dictator in 1971.

A year later he gushed in an interview with the Daily Telegraph’s Chris Munnion: “Tell the queen I love her.” Munnion never had the opportunity to pass on these felicitations. Amin had already invited her to the 10th anniversary of Uganda’s independence, and she had replied she was “most disappointed” that her commitments prevented her acceptance of his invitation, signing herself off as “your good friend”.

But that was as far as she ever reciprocated his affection. By then he had decided to expel Uganda’s 80 000-strong Asian population, and the British Foreign Office was nervous that any appearance of a snub on her part might might lead to victimisation of other UK nationals still in his country.

In 1977, when his reign of terror had become public knowledge, the queen was so nervous that he might turn up at her Silver Jubilee service of thanksgiving in St Paul’s Cathedral during the Commonwealth heads of government meeting that she confided to Lord Mountbatten she would use the ceremonial Pearl Sword to hit him over the head.

Naturally she will refrain from doing any such thing if and when she meets her latest presidential admirer. But nor will she watch him play golf at Balmoral in Scotland, which he was hoping she would find time to do.

Trump is very proud of his Scottish ancestry, though has yet to proclaim himself “King of Scotland”, one of the titles Amin conferred on himself. He may make the Scots an offer they can’t refuse.

His desire to impress the queen with his golf swing was matched by Amin’s pride in his swimming ability. The Ugandan once challenged the BBC’s Africa correspondent to a swimming race in the hotel pool (the correspondent made sure he lost).

Unlike Idi, who landed Britain with all the Asians he turned into refugees, Donald’s planned mass expulsions won’t affect the queen’s kingdom. But there are other similarities. Amin said things that I wouldn’t be a bit surprised to hear Trump say.

For instance: “There is freedom of speech, but I cannot guarantee freedom after speech.”

And: “Sometimes people mistake the way I talk for what I am thinking.”

And: “I consider myself the most powerful figure in the world.”

Trump to a T. In fact, 40 years ago Idi Amin could have taken them straight out of Trump’s mouth.

Amin also said: “I propose getting rid of conventional armaments and replacing them with reasonably-priced hydrogen bombs that will be equally distributed throughout the world.” Would Trump say such a thing? He may already have said it, with a beady eye on that little red button.

What about two more of Amin’s pronouncements: “You can’t run faster than a bullet.” And: “I have to keep law and order, and it means I have to kill my enemies before they kill me.” Or at least fire them, as Trump fired the acting attorney general for not defending his orders to ban Muslim immigrants.

But he will have only nice things to say to the queen, who will in turn try not to say anything at all in case her sweet nothings are tweeted to the world.

Back to top

8. Viniel vlieg nou van die rakke af

Kliniese klank van digitale musiek verruil vir warmte van analoog

(Die Burger, 11 Januarie 2017)

Daar is deesdae baie mense wat met groot spyt rondloop oor die plateversamelings wat hulle verkoop of weggegee het toe CD’s die musiekmark begin oorneem het. Wêreldwyd raak plate al hoe gewilder. Madeleine Barnard berig.

In Brittanje het die verkope van vinielplate in 2016 die beste syfers in 25 jaar getoon met meer as 3,2 miljoen plate wat verlede jaar verkoop is – ‘n styging van 53% in vergelyking met die vorige jaar en die hoogste sedert 1991. Verlede jaar was ook die eerste jaar dat die waarde van vinielverkope hoër was as dié van digitale aflaaimusiek.

Pieter de Wit, CD-aankoper vir Musica in Suid-Afrika, het ook net goeie nuus oor plaaslike vinielverkope. “Syfers van plateverkope het voortdurend gestyg sedert Musica weer in 2013 viniel bekend gestel het – viniel het dubbelsyfergroei getoon in 2016.” Verkope oor die Kerstyd was baie goed – baie mense koop weer plate as geskenke. Musica hou tans 70% van die vinielmark in Suid-Afrika en bied tans ‘n verskeidenheid van plate in 65 winkels in Suid-Afrika en Namibië aan.

Stephen Segerman is die eienaar van Mabu Vinyl in Kaapstad. Hierdie winkel, wat in 2001 deur die vinielliefhebber Jacques Vosloo in Kloofstraat begin is, het gehelp om viniel deur die maer jare aan die lewe te hou.

Mabu verkoop ook CD’s, video’s, boeke en DVD’s, maar dit bly in hart en siel ‘n platewinkel. Segerman sê dat sy klante ‘n mengsel van ouer nostalgie-versamelaars, house-platejoggies en hiphop-liefhebbers is – en nou ook jonger musiekliefhebbers wat die USB-draaitafels koop sodat hulle na plate kan luister sonder om ‘n hele hoëtroustelsel te koop.

Segerman reken daar is verskeie redes vir die groeiende gewildheid van viniel. “Ek dink dat veral jong musiekliefhebbers moontlik moeg raak vir iPods met ‘n mengsel van musiek. Hulle wil sit en luister na ‘n hele plaat, met die snitte in die korrekte volgorde soos die kunstenaar dit bedoel het. Hulle soek ook die ligte atmosferiese kraak en suis van ‘n plaat. En hulle wil opstaan en die plaat omdraai ná 20 minute.”

François van Coke gaan eersdaags ‘n 7”-kortspeler uitreik met twee snitte van sy tweede soloalbum, Hierdie is die lewe, daarop. Dit word op 2 Februarie uitgereik. ‘n Vollengteplaat vir hierdie album sal ook uitgereik word. Van Coke het ook so gemaak met sy eerste soloalbum, Francois van Coke.

Van Coke is gaande oor die medium en het al plate versamel voordat dit weer mode was. “Party mense hou steeds van ‘n fisieke formaat, want die digitale formaat is so maklik en vinnig verteerbaar. Dit is lekker om ‘n album op te sit en deur te luister. Dit is net soveel makliker om te skip as jy musiek digitaal luister. Ek hou ook van die grootte. Die omslag van ‘n album lyk net soveel beter in die groot formaat.”

Hyself het ‘n groot versameling. “Ek het ou plate van The Beatles, Beach Boys, Led Zeppelin, Black Sabbath, CCR, Bruce Springsteen, Thin Lizzy, Stones, ensovoorts. Dan het ek ook nuwe plate wat ek die laaste paar jare gekry het van The Strokes, Queens of the Stone Age, Jack White, en so meer.”

Deon Maas, skrywer van Melk die heilige koeie, besit nie meer ‘n CD-speler nie, behalwe in sy motor. Hy het ‘n diverse versameling – plaaslike musiek van Nico Carstens, Die Briels, Ihashi Elimhlophe, Bobby Hendricks, Jack Parow en Fokofpolisiekar en internasionale musiek van ondergrondse hiphop, dub reggae, Thai en Surinaamse funk tot vandag se Peaches, Tool, The Swans en KilKil.

“Ons lewe in ‘n craft-era en viniel pas daarby in. Analoog-klank is nou maar eenmaal warmer en het meer van ‘n teenwoordigheid as digitaal. As jy my nie glo nie, luister na dieselfde liedjie op dieselfde stelsel, eers op viniel en dan op jou iPod. Plate gee jou fisieke kontak met die musiek en dwing jou om daarna te luister omdat jy dit so gereeld moet omdraai. En dit maak dat jy weet na wie jy luister.”

Die komponis en musiekregisseur Charl-Johan Lingenfelder vertel hoe hy ‘n paar jaar gelede in Londen by ‘n musiekwinkel ingestap het en oorstelp was om die nuutste musiek op viniel te sien. Hy het sedertdien al weer baie musiek in plaatvorm gekoop om sy reeds uitgebreide versameling aan te vul.

Lingenfelder voel die digitale revolusie het musiek van sy waarde ontneem. “Musiek is te maklik bekombaar, wat veroorsaak dat ons begin anders luister na musiek. Dit het weggooibaar geword. As jy ‘n plaat koop, haal jy groot geld uit en die moeite wat gepaardgaan met die luister daarvan, maak dat ek groter waarde heg aan dit wat ek hoor.”

En op ‘n praktiese vlak? “Min mense weet dat CD’s ‘n beperkte leeftyd het. Viniel het ‘n baie langer lewensduur as jy die plate en jou platespeler oppas. Mense is trots op hul plateversamelings en toerusting.

“Dis soos boeke. Kuns. Estetiese besittings wat deel is van wie jy is en wat jy wil hê mense van jou moet weet.”

Back to top

9. Fluisteringe van die wolf

(Die Burger, 3 Februarie 2017)

Oop Kaarte

Murray La Vita

Die groot Afrikaanse skrywer Abraham de Vries praat aan die vooraand van sy 80ste verjaardag oor die “Middeleeuse Klein-Karoo”, die dood van skrywers en die “moord op Afrikaans”.

Ons sit onder ‘n prieel aan die agterkant van Braam en Hannie de Vries se huis in Kaapstad. Die hele Tafelberg is voor ons oë uitgestrek. ‘n Voël is nou en dan hoorbaar tussen die druiweblare en die oorryp vrugte wat daar hang.

Die onderhoud begin by sy geliefde Klein-Karoo, waar hy op Winkelplaas by Ladismith grootgeword het en steeds heen gaan om van die stres van die stad weg te kom. Mense vereenselwig hom veral met sy Klein-Karoo-stories.

“Maar ek het ‘n héngse klomp ander geskryf… Mense vergeet partyslae jy gebruik jou klein vaderland, soos ou Con de Villiers sou gesê het; jy gebruik die stukkie van die land wat jy ken en dan dra jy verhale soontoe, dis nie verhale wat jy noodwendig daaroor skryf nie, dis verhale wat jy soontoe neem omdat jy die wêreld ken, die mentaliteit van die mense ken.

“Wat vir my aan die Klein-Karoo interessant is, is nie noodwendig net die stories van die plek nie, maar hoe die plek verander het. Dit is óngelóóflik.

“Neem nou die Kersverhaal wat ek vir Die Burger geskryf het… Die klomp Kersverhale wat ek oor die jare geskryf het, is ‘n soort petite histoire, ‘n klein geskiedenis van die wêreld daar. In die jongste verhaal kom die mense byvoorbeeld die aand daar aan in die Klein-Karoo, of Kannaland-Karoo soos ek dit genoem het, en waar is hulle die aand tuis? In ‘n klomp werkershuisies wat in oornaghuisies omgebou is. Dis amper half onopgemerkte goed, maar dit is tog ‘n totále wêreld wat verander.”

Hy praat oor sy vriendskap met wyle Adam Small en die jongste video-portret wat hy oor hom gemaak het.

“Dis die eerste een. Die tweede een gaan Breyten (Breytenbach) wees, dink ek. Dit is vir kinders. Jy weet, die kinders gaan nie meer vandag skool toe met die algemene kennis wat ons gehad het nie. Daarom is sulke soort van goed belangrik vir hulle. Boonop ding jy mee met die televisie en die tipe van goed. As hulle nou kan sien hoe Adam self die gedigte lees, dan raak dit vir hulle belangrik. Ons beplan eintlik om so ‘n hele reeks te maak waar digters kortliks sê waaroor die gedig gaan en waarna hulle moet oplet en dan die gedig voorlees.”

Die digters en skrywers wat die afgelope paar jare gesterf het, kom ter sprake.

“Hulle kap in ons bos … Eers was dit Ronnie Belcher. En dis Adam, dis George (Weideman), dis André (Brink), Chrís (Barnard), Ina (Rousseau), Liesbet Eybers … Hénnie (Aucamp).”

Dit is ‘n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde, sê hy.

“Dit is almal unieke stemme, dit is nie net sommer stories nie, dis veel meer wat daarmee saamgaan. Maar dis nie te sê dat daar nie ander bykom nie, want daar kom prágtige ander goed by.

“Ek wil nou nie oor dié soort van ding praat nie, maar … wat op die oomblik besig is om met Afrikaans te gebeur is een van die grootste tragedies wat hierdie land nog getref het.

“Mý boeke gaan vergete raak omdat dit nie in ‘n ander taal geskryf is nie … Die Afrikaanse koerant, die Afrikaanse boekwêreld, die héle Afrikaanse wêreld, het ‘n probleem. En hierdie probleem is verskríklik diepliggend en dit is die móórd wat ideologie pleeg op taal.

“Baie min mense sien dit raak, maar wat in Stellenbosch aangaan en wat die ou Nasionale Party aan Afrikaans gedoen het, is presies dieselle.

“Dis álbei ‘n keuse van ‘n sekere manier van dink bo die waarde van taal as sodanig. Dis ‘n keuse van ideologie, van ‘n kamma grênd manier van dink en geen énkele begríp van wat taal in werklikheid is nie.”

Engels is nie net ‘n taal nie, Engels is ‘n woord vir magsmisbruik, sê hy.

“ Jy kán nie ‘n klein taal stel teenoor ‘n wêreldtaal nie. As jy op ‘n eiland aan die kus van Denemarke ‘n universiteit stig met Deens en Duits as die twee tale, dan gaan daardie universiteit binne drie jaar Dúits wees.”

Oor die publikasie van sy eerste verhaal, het De Vries al gesê: “Geen mens voel ooit weer so oor enige skryfwerk as met die publikasie van jou eerste verhaal nie. Ek het gevoel ek het vir iets vergoed, maar ek het nie geweet vir wat nie.”

Ek pols hom daaroor.

“My ma is dood met my geboorte, maar ek dink dit is … Kyk, die eerste twee stories wat gepubliseer is, Spioene en Bert die Jagter, het altwee te doen met kinders wat ‘n houding inleem of wat iets doen in verband met die dood. Ek kan dit nie anders sien nie. Jy weet … Daar’s hópe stories wat ek ken wat ek nie skryf nie. En die vraag is, hoekom nie? Ék weet dit nie.

“Sodra dit raak aan ‘n probleem, dán’s ek geïnteresseerd, want dan weet ek die storie gaan vir my die waarheid vertel. Daar is tog iets magies aan storievertellery.”

Jy konfronteer iets deur daaroor te skryf, meen hy.

“Maar as jy dit bewustelik doen, dan gaat hy in sy glorie in. Ek weet wel presies waar ek Spioene gekry het en hoekom ek gedink het: blikskottel, hiér sit ‘n storie! Vertel hierdie storie!

“Pa en ‘n oom het gesit en gesels, en Pa het vertel van dié spioene in die Boereoorlog wat sý pa-hulle van vertel het. Nou dit is onmiddellik … dis die kinders wat vir die eerste keer skrik voordat die spioen doodgeskiet is. Ek onthou dit nóú nog, dan sê die een seuntjie vir die ander een: ‘Môre speel ons weer kleilat.’ Met ander woorde, hulle wil nie nou verder met dié ding iets te doen hê nie.”

In Spitsberaad skryf Rob Antonissen as volg oor De Vries se eerste twee bundels: “Onopdringerig, en op heel natuurlike wyse in die gebeure en in die ervaring van doodeenvoudige mense vermeng, was daar egter tog reeds, byna in verhaal na verhaal, iets besonders aanwesig; die besef van iets onvatbaar geheimsinnigs aan die gang onder die gang van die alledaagse lewe en in die omgang met die alledaagse dinge, iets wat te midde van al die lewensgedoentes te make moet hê met die dood; en waarop die mens, wanneer dit skielik voelbaar word, reageer met ‘n redelose angs, benoude verwondering, rou verdriet, ontsetting.”

De Vries beskryf sy stiefma en suster as “albei bederwers van geaardheid”.

“Ja, natuurlik het hulle my bederf!” sê hy laggend.

“Die héle geméénskap het jou bederf want almal was … haai siestog die arme kind,” sê Hannie.

“Ek onthou nog, my suster Hester sal vra: ‘Wat wil julle drink?’ En as jy sê koffie, dan sê sy: ‘Boeta, maar ek het tee ook.’ Dit was ‘n vreemde vorm van bederf. Man, ek kan dit nog goed onthou, die oom wat op die dorp na my toe gekom het en gesê het: ‘Jong, ek het nog vir jou ‘n ding!’ Wát is dít toe? ‘n Pot vyekonfyt wat my oorlede ma vir hulle gegee het. Kan jy nou wragtig meer?

“Ek was seker so sewe, agt. En ek het gewonder wát is sy bedoeling? Dit is ‘n bietjie makaber.

“Een ding moet jy nooit vergeet nie: Die hele idee van die onskúldige, plattelandse, dóódgewone, gelówige mense … dit is ‘n vólsláe vals beeld van die mense op die platteland! Daar’s niks wat in die stad gebeur wat nie op die platteland gebeur nie.”

Daar is iets Middeleeus aan die Klein-Karoo.

“En natuurlik die soort afwykendes van die Middeleeue … Ons praat altyd van die donker Middeleeue, maar dit was als behalwe ‘n donker tydperk, die Renaissance het op die loer gelê in baie opsigte. Maar kyk nou byvoorbeeld Pieter Bruegel die Oue en daai snáákse vlieënde visse van hom. En wie is dit wat die naaste aan hom is?

“Breyten Breytenbach! Het jy sy skilderye al gesien? Hy het ‘n streep weg … Breyten ken die platteland net so goed soos ek, né. So, daai soort van ding is nie vir hom vreemd gewees nie. Jy kry dit ook in sy bundel Katastrofes en in Jan Rabie se bundel 21 en Henri Michaux se Verschijningen.

“Dis almal presiés dieselfde soort van omvergooi van die werklikheid of die te voorskyn haal van die skadukant, of die lagwekkende skadukant partyslae van die werklikheid. Dis ‘n fássinerende wêreld. Dis ‘n ongelóóflike diép menslike wêreld.”

Waarom skryf hy hoofsaaklik kortverhale?

“Ek het dit lankal vermoed en ek is nou baie seker daarvan. Dit het níks, absoluut níks met enigiets anders as met geaardheid te doen nie. Kortverhale is ‘n geaardheid. Dis ‘n manier van die wêreld bekyk. Ek kan my nie voorstel om my lewe te red dat ek ‘n boek skryf met 600 bladsye nie. Dis geáárdheid, jy moet by ‘n punt uitkom; jy moet iets kan sê wat die moeite werd is.”

Hoe ‘n kortverhaal eindig, is baie belangrik.

“Die slot van enige kortverhaal is eintlik veronderstel om ‘n lig te werp oor dit wat jy vertel het, om dít in perspektief te plaas en om die geheel af te rond, en dít is partyslae moeilik, want dit is partyslae waar jy … jy moet taal goed ken.

“Ek sou dit nie kon doen in Nederlands óf in Engels óf in enige ander taal wat ek ken nie. Daarvoor het jy die skaduwees en die ligkante van Afrikaans nodig. Dít is die aspek van taal wat Stellenbosch nie verstaan nie … Die feit dat dit deel is van ‘n lewende organisme; dit is nie iets wat jy gebruik soos ‘n mandjie wat jy … Dis nie Rooikappie wat vir Ouma goed neem in ‘n mandjie nie. Dis die fluisteringe van die wolf … Taal is daai fluisteringe van die wolf … en wat die houtkapper gehoor het.”

  • De Vries word op 9 Februarie 80. Op 9 Maart word ‘n profielgesprek met hom op die Stellenbosse Woordfees gevoer. Dit is een van verskeie geleenthede wat beplan is om sy verjaardag te gedenk.

Back to top

10. ‘Verlore vasteland’ onder Mauritius gekry

(Die Burger, 2 Februarie 2017)

Elsabé Brits

‘n Klein deeltjie van ‘n “verlore vasteland’’ is onder die hedendaagse Mauritius gevind.

Wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand het dit bevestig nadat hulle navorsing op die eiland gedoen het. Die bevindings is pas in die vakjoernaal Nature Communications gepubliseer.

Die rots wat gevind is, is ‘n deel van die vasteland wat oor was toe die supervasteland Gondwana sowat 200 miljoen jaar gelede begin opbreek het.

Prof. Lewis Ashwal, wat die navorsing gelei het, sê dit was eintlik ‘n verrassing omdat die berge op die eiland nie ouer as 9 miljoen jaar oud is nie.

Die betrokke stukke rots het afgebreek van Madagaskar toe Afrika, Indië, Australië en Antarktika van mekaar weggebreek en die Indiese Oseaan en verskillende vastelande gevorm het.

Die oeroue stukke van die aardkors is veel later deur lawa bedek.

Ashwal, ‘n geoloog, sê die mineraal sirkoon word in rots gevind wat deur vulkane uitgespoeg word. Toe dié spesifieke oorblyfsels bestudeer is, is gevind dit is te oud om aan Mauritius te behoort.

“Die aarde bestaan uit twee dele – vastelande wat oud is en oseane wat “jonger” is. Op die vastelande is rotse wat meer as 4 miljard jaar oud is, maar jy vind niks soos dit in die oseane nie, dit is waar nuwer rots vorm,” sê hy.

Mauritius is ‘n eiland waar die oudste rots 9 miljoen jaar oud is. Die sirkoon wat daar gevind is, is egter sowat 3 miljard jaar oud. Sirkoon word in graniet gevind. Dit bevat spore van uraan, torium en lood en omdat dit die geologiese prosesse goed oorleef, bevat dit ‘n ryk rekord van die geologiese prosesse. Dit kan ook akkuraat gedateer word. Sirkoon is voorheen in sand op die strand gevind, maar daar is gesê dit kon aangewaai gewees het.

Dit beteken die opbreek van Gondwana was kompleks en fragmente van verskeie groottes het bly dryf, wat die Indiese Oseaan-vallei help ontwikkel het.

Gondwana

Wat was Gondwana?

Dit was ‘n supervasteland wat meer as 200 miljoen jaar gelede bestaan het. Daar was rots op wat tot 4 miljard jaar oud is.

Nadat die vasteland opgebreek het, het Afrika, Suid-Amerika, Antarktika, Indië en Australië en die Indiese Oseaan gevorm.

Gondwana het opgebreek weens plaattektonika omdat die seevallei aanhoudend tussen 2 cm en 11 cm per jaar beweeg. Vastelande ry op die plate van die oseaanvloer.

Back to top

11. My slimfoon slaan toe haar eie koers in

(Die Burger, 26 Januarie 2017)

Martie Retief Meiring

Tegnologie sal my nie onderkry nie. Inteendeel, ek verwelkom dit.

Ek weet Twitter is ‘n lokval vir bekke wat nie koppe het nie, ek weet fopnuus regeer die wêreld se denke en oordeel, ek weet robotte gaan wen, en karre gaan eersdaags sonder mense bestuur word.

(Dit gaan só rof in ons chaotiese dorp dat dit lyk of ál die karre op die pad al klaar nie mense-bestuurders het nie.)

Ek glo ook dat gastehuise binnekort op Mars geopen sal word. Daarom is ek nie verbaas dat my selfoon, slimfoon, ‘n eie lewe gaan soek het nie.

Dit het só gebeur: Knaend verskyn hier ‘n vreemde nommer op my skerm. Ek antwoord nie vreemde nommers nie, juis oor televerkopers. Maar toe skakel die bekende vreemde nommer om 02:17.

Dis te erg. Ek skakel die nommer. “Jy het my 02.17 vannag geskakel,” sê ek. Die duidelik verergde manstem sê: “Nee, jý het my in die middel van die nag gebel.”

‘n Mens kibbel nie met ‘n vreemde man in die middel van die nag nie.

Maar ‘n manstem? My foon kan dus ‘n meisie wees en het dalk ‘n kubervryer. Nogal op my rekening.

Maar sentimentele ou fool, ekke, word toe slapknieë oor my alter ego se sci-fi-romanse. Toeval, ek is net slimfoonongeletterd, sê die ongelowiges toe ek hulle van my dierbare foontjie se moontlike romanse vertel.

Ek hou vol: As Wikileaks vir Trump en Poetin aan die gesels kan kry, en as Julius Malema gephotoshop word met ‘n wapen, is dit nie vir my vreemd dat ons selfone hul eie ding wil doen nie. Rondflerrie of, dalk opwindender, revolusies aanspoor.

Waar sou #FeesMustFall sonder selfone gewees het? Feit is, g’n oorlog werk sonder selfone nie – loop vra maar daar in Sirië rond.

Ek weet nie wat my foon met haar vryer of selfs haar leier praat nie; maar toe ek haar eenkeer naarstig soek, kry ek haar twee dae later onder my motorsitplek.

Dink net wat het die twee alles in daardie tyd voordat die battery afgeloop het, gesels, gevry of komplotte gesmee.

Maar my selfoonhandelaar is vasgevang in ‘n verstarde outydsgeit. Hy het mos gesê die foon is baie vroueverbruikersviendelik (die seksis).

Lees ek die settings? Wel, nie eintlik nie. En ja, ek vergeet soms my foon op ander plekke. En ja, ek vergeet om die klank aan te skakel. En ja, ek spel in swak selfoontaal. En ja, ek lees eerder die name as die nommers op die skerm. En ja, nie alle vreemde nommers is van ‘n staatsveiligheidsagentskap of televerkopers nie. Kinders speel met hul pa’s se selfone, en so kry ek die “vreemde” nommers. Dis nie rocket science of Star Wars nie, sê die verkoper. Dis net ‘n selfoon.

Hy dink ek het net ‘n mooi sprokie vir my stupid-geit gesoek. Klaarblyklik het tegnologie nie ‘n hart nie.

Back to top

12. Woensdae rol wiele in Porterville

(Die Burger, 28 Januarie 2017)

In die plattelandse dorp Porterville word die inwoners van die ouetehuis weekliks op ‘n uitstappie deur die dorp geneem om vir ‘n slag die mooi omgewing en die berg te sien. Suzaan Potgieter het Woensdag saam met dié planmakers gaan stap.

Twaalf rolstoele met inwoners van die plaaslike ouetehuis word deur die Porterville se strate gestoot terwyl dié wat hulle stoot oor haarkappers, huisaanbouings en stories van die dorp gesels.

Teen 09:00 elke Woensdag kan jy reeds die rolstoele voor Huis Nerina sien staan.

Want hier in Porterville het die gemeenskap ‘n plan beraam om die bejaardes elke week ‘n bietjie vars lug te gee.

Elke Woensdag, behalwe in Desember, word die inwoners van die ouetehuis in rolstoele gelaai en vir hul uitstappie geneem. Die roetes wissel, maar die staptog is gemiddeld 2 km en duur sowat 45 minute.

Opgewonde gesigte sit en wag in spanning vir die staptog om te begin en wanneer die wiele eers rol, is die inwoners meestal stil en loer net na die omgewing.

Riana van der Merwe, wat deel van die projek is, sê hulle stap al sowat twee jaar met die inwoners in die rolstoele. “Jare gelede het iemand met die rolstoelstaptog begin, maar dit het doodgeloop. Ons het onlangs weer daarmee begin.”

Volgens Van der Merwe het hulle ‘n Whatsapp-groep waarop hulle Dinsdae bepaal wie die volgende dag kan stap. Dan reël hulle die uitstappie met die ouetehuis se verpleegsters.

Huis Nerina het ‘n paar rolstoele waarin die mense op die uitstappies geneem word, maar intussen word daar hard aan die plastiekknippies van broodsakkies bymekaargemaak sodat hulle dit vir nog rolstoele kan inruil.

“As daar meer rolstoele is, kan meer mense Woensdae met die bejaardes gaan stap,” sê Van der Merwe.

Volgens haar is die gemeenskap baie betrokke by die bejaardes en selfs plaaslike ondernemings help elke nou en dan.

“As Kaap Agri nie te besig is nie, stuur hulle twee of soms meer van hul werknemers om ons te kom help rolstoele stoot. Van die ander ondernemings stuur ook maklik ‘n groep of iemand uit die kantoor om te help.”

Mardene Kalis het Woensdagoggend ook ‘n rolstoel gestoot en sê: “Vir baie is dit hul enigste weeklikse uitstappie en ‘n mens kan sien hulle geniet dit om ‘n bietjie uit te kom.”

Werna van der Merwe, wat ook Woensdag gehelp stoot het, meen die staptog is terapeuties vir die bejaardes.

“Baie van hulle kan nie praat of reageer nie, maar as hulle glimlag, kan jy sien dat hulle dit geniet. Daar was ook ‘n tannie wat nie ná ‘n beroerte kon praat nie, maar na ‘n paar sessies in die rolstoel het sy weer begin gesels.”

Buiten die weeklikse uitstappies, word die inwoners van Huis Nerina ook op ander maniere gehelp en bederf.

“Ons het hulle al vir inkopies geneem en elke jaar word ‘n afsluitingsgeleentheid in die teetuin van die Pomona-plaas gehou,” sê Werna.

Back to top

13. Jaco Jacobs behaal sonderlinge prestasie

(Die Burger, 31 Januarie 2017)

Elretha Britz

Jaco Jacobs, een van Suid-Afrika se voorste kinder- en jeugboekskrywers, het die afgelope week die sonderlinge prestasie behaal deurdat 29 van sy boeke onder die internasionale maatskappy Nielsen BookData se top-100 verskyn.

Nielsen tel elke week alle boekverkope in Suid-Afrikaanse winkels, insluitend dié van oorsese skrywers. Die lys word ingedeel in fiksie vir volwassenes, niefiksie en kinder- en jeuglektuur, die afdeling waarin Jacobs selfs J.K. Rowling getroef het.

Die beskeie Jacobs sê: “Kinderboeke verkoop meestal die tyd van die jaar goed, omdat ouers besef hulle moet vir hul kinders leesstof gee. Skole koop ook hierdie tyd boeke.”

Izak de Vries van Lapa-uitgewers sê 26 van die 29 boeke dra die naam Jaco Jacobs en drie is onder sy skuilname Tania Brink en Lize Roux.

Sy prestasie is nóg beter as in ag geneem word dat J.K. Rowling die week sewe boeke op die lys het en die uiters gewilde Jeff Kinney agt.

“Die naam Jaco Jacobs is glad nie onbekend in die Nielsen-statistieke nie. Sedert 1 Maart 2013 was hierdie beskeie Bloemfonteinse pa reeds 712 keer op die top-100-lys, ‘n gemiddeld van 4,7 keer per week. Dit sluit sy boeke onder skuilname en talle vertalings uit,” skryf De Vries.

Jacobs sê hy skryf tans aan nuwe boeke in die Hoezit- en Stalmaats-reeks.

Back to top

14. Danksy Ella (79) is daar by Brandfort g’n laatslaperboer

(Die Burger, 2 Februarie 2017)

Elsje du Toit

Byna 40 jaar al word die boere in die distrik Brandfort klokslag om 06:00 wakker gemaak met die woorde “Wyk 3 Romeo Alfa” wat oor hul radiofrekwensies gehoor kan word.

Maar wanneer Ella van Dyk (79) nie roep nie, verslaap die boere sommer.

Danksy dié stelsel is baie misdaadvoorvalle al op plase voorkom.

“Ons het ook ‘n buurtwag. Elke week kry iemand anders die beurt om buurtwag te ry,” sê sy.

“Soggens sal hulle terugrapporteer wat hulle die vorige nag gesien het.

“‘n Paar maande gelede het ons veediewe só op heterdaad betrap.”

Dié boervrou, wat die laaste 20 jaar in die dorp woon, sê sy het nog net een keer ‘n fout begaan.

“Ek het een middag ‘n bietjie gedut. Toe ek wakker word, sien ek dit is al ná ses,” sê sy.

“Ek het opgespring en na die radio gehardloop en dadelik begin roep.

“Een van die boere het geantwoord: ‘Ella, dit is sesuur die aand.”

Sy lag uit haar maag.

As deel van die werksaamhede van die destydse Burgerlike Beskerming het dit in 1978 gewoonte geraak om elke oggend en elke aand die boere in die distrik te roep om plaasveiligheid te verseker.

“Dit het alles uit die ou kommandostelsel ontstaan.”

Indien iemand nie sy radio geantwoord het nie, is hy gebel.

“En wanneer hy steeds nie gereageer het nie, het ons gereageer.”

Vandag het dit al heelwat getaan en word die boere net soggens geroep.

“In die winter roep ek hulle darem ‘n bietjie later, want dit word dan mos later lig.”

Dié taak is aan Ella toevertrou nadat die oggendroepe in chaos verval het deurdat sy en haar oorlede man, Hansie, dorp toe getrek het en almal om die beurt die kans gekry om die boere wakker te roep.

“Dit was chaos,” sê Ella se kleinseun Hannes.

“Mense het vergeet. Daarom is Ouma gevra om dit verder aan te pak. Sy is baie pligsgetrou daarmee.”

Ella is geseënd met drie kinders, nege kleinkinders en twee agterkleinkinders, met ‘n derde wat op pad is.

Nie net skryf Ella elke môre in haar boek wie geantwoord het en wie nie, maar al die inwoners van die dorp se verjaardae, hul kinders en kleinkinders se verjaardae, huweliksherdenkings, wie siek is, wie dood is en selfs hoeveel dit op elke plaas gereën het, word aangeteken.

“Elke môre sal ons ‘n bietjie gesels en mekaar gelukwens. Net om in voeling met mekaar te bly,” sê sy.

Hannes sê dit dra baie by tot die lekker gees in die distrik.

“Ouma speel ‘n baie groot rol in die samehorigheidsgevoel in die distrik. ‘n Mens raak mos baie besig en verloor later tred met mekaar se doen en late.

“Maar met Ouma in die omtrek sal niemand ooit iemand anders se verjaardag, of selfs sy of haar huweliksherdenking, vergeet nie.”

Back to top

15. Agter tralies vir diefstal – toe besteel man glo tronk

(Die Burger, 27 Januarie 2017)

Mariska Spoormaker

Hy was reeds agter tralies, maar toe begin dié veroordeelde dief van Stutterheim se lang vingers blykbaar weer jeuk en hy besteel toe glo die gevangenis.

Goedere ter waarde van duisende rande is tussen 16 en 17 Januarie uit die pakkamer van die Stutterheim-gevangenis gesteel. Selfs kanne vol petrol het voete gekry.

Dié kanne, ongelukkig egter leeg, asook minstens R10 000 se gesteelde goedere is Woensdag in ‘n huis in die Kubusie woonbuurt buite Stutterheim gevind nadat die polisie op ‘n wenk van die publiek gereageer het, sê kapt. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder.

Verdere ondersoek het die polisie na ‘n 29-jarige man in die gevangenis en ‘n 40-jarige man buite die gevangenis gelei. Laasgenoemde is eergister om 20:00 in hegtenis geneem.

“Die polisieondersoek fokus nou op die vermiste skakel,” sê Mawisa, “want ons moet weet hoe die goedere wat deur die gevangene uit die stoor gesteel is in Kubusie kon beland terwyl die gevangene nog steeds binne was.”

Die gevangene is (weer) van huisbraak en diefstal aangekla en sy vermeende medepligtige ook, sê Mawisa.

Albei het gister in die landdroshof op Stutterheim verskyn. Die saak is tot 1 Februarie uitgestel. Tot dan bly die beweerde medepligtige in aanhouding.

Kapt. Makhaya Tukwayo, waarnemende stasiebevelvoerder van King William’s Town, het die gemeenskap vir die wenk bedank en gesê wanneer die gemeenskap saam met die polisie werk, is dit een van die beste maniere om misdaad te bekamp.

Back to top

16. HUISHULPE

MINIMUM LOONVERHOGINGS 2016/17

(Rooi Rose, Februarie 2017)

Departement van Arbeid | Ons werk vir jou

VANAF 1 DESEMBER 2016 TOT 30 NOVEMBER 2017 SAL LONE STYG SOOS VOLG:

 

Die minimum lone vir huishulpe

wat meer as 27 ure per week werk

Area Per uur Weekliks Maandeliks
Area A R12.42 R559.09 (vir ‘n 45-uur week) R2 422.54 (vir ‘n 45-uur week)
Area B R11.31 R508.93 (vir ‘n 45-uur week) R2 205.16 (vir ‘n 45-uur week)

 

Die minimum lone vir huishulpe

wat 27 ure of minder per week werk

Area Per uur Weekliks Maandeliks
Area A R14.54 R392.59 (vir ‘n 27-uur week) R1 701.06 (vir ‘n 27-uur week)
Area B R13.35 R360.54 (vir ‘n 27-uur week) R1 562.21 (vir ‘n 27-uur week)

 

Vir verdere inligting, kontak die Departement van Arbeid by www.labour.gov.za, of die naaste kantoor van die Departement van Arbeid.

 

WERKSURE

Normale ure (oortyd en etenstyd uitgesluit)

‘n Huishulp mag nie verplig word om:

  • Meer as 45 ure per week te werk nie
  • Meer as nege ure per dag in ‘n vyf dag werksweek te werk nie
  • Meer as agt ure per dag in ‘n sesdag werksweek te werk nie.

 

‘n Huishulp mag nie meer as 15 ure oortyd per week werk nie en nie meer as 12 ure per dag, oortyd ingesluit, werk nie.

Oortyd moet teen een-en-‘n-half keer die werknemer se normale loon betaal word of ‘n werknemer mag instem tot betaalde tyd af.

 

DAAGLIKSE EN WEEKLIKSE RUSPERIODES

  • ‘n Daaglikse rusperiode van 12 opeenvolgende ure en ‘n weeklikse rusperiode van 36 opeenvolgende ure, wat ‘n Sondag insluit, moet toegelaat word, behalwe waar anders ooreengekom is
  • Die daaglikse rusperiode mag, soos ooreengekom, tot 10 ure verminder word vir ‘n werknemer wat op die perseel woon en wie se etenstyd ten minste drie ure lank is
  • Die weeklikse rusperiode mag, soos ooreengekom, tot 60 ure verleng word elke twee weke, of verminder word tot agt ure in enige week indien die rusperiode met die ekwivalent die volgende week verleng word.

 

webtuiste: www.labour.gov.za | facebook: Department of Labour | twitter: @deptoflabour

 

17. Skêr 18 jaar lank in man se maag

(Die Burger, 4 Januarie 2017)

REUTERS

‘n Span chirurge in die noord-ooste van Viëtnam het ‘n chirurgiese skêr uit ‘n man se maag verwyder – 18 jaar nadat dit tydens ‘n operasie daar vergete gebly het.

Viëtnam se staatstelevisie berig dit is boonop heel toevallig dat die skêr opgemerk is.

‘n Sonar is in Desember op Ma Van Nhat (54) in die Thai Nguyen-hospitaal gedoen nadat hy in ‘n motorongeluk betrokke was. Dit is toe dat die personeel sien dat daar ‘n skerp voorwerp aan die een kant van sy maag is.

Nog ‘n toets by die Bac Kan-hospitaal naby Nhat se huis het bevestig dat dit inderdaad ‘n chirurgiese skêr van 15 cm lank is wat gebreek en binne-in sy lyf vassit.

Dit is juis by die Bac Kan-hospitaal waar hy in 1998 ‘n operasie ondergaan het – ook ná ‘n motorongeluk.

“Ná die operasie het ek ligte pyn ervaar, maar dokters het gemeen ek het ‘n maagsweer, waarvoor ek daarna en tot onlangs toe nog pynmedikasie gebruik het.

Nhat is op Oujaarsdag geopereer om die skêr te verwyder.

Hoewel die Bac Kan-hospitaal die voorval op televisie bevestig het, sê die bestuur pasiënte se rekords word slegs vir 15 jaar gehou, dus is dit byna onmoontlik om vas te stel wie verantwoordelik gehou moet word.

“Ons probeer hulle opspoor, en sal hulle in kennis stel van wat gebeur het,” sê Trinh Thi Luong, hospitaalbestuurder. “Laat dit ‘n les wees vir alle dokters, veral chirurge,” sê hy.

Back to top

18. As jy nie vlerke het nie, moet jy ‘n huis hê

(Die Burger, 3 Januarie 2017)

Annemarie van der Walt

Die kind se arms is naderhand so vol skatte wat hy op ons wandeling gevind het dat ek moet help dra: ‘n mosbegroeide dennebol, die halwe dop van ‘n voëleier, ‘n boomtak wat soos ‘n stokmannetjie lyk en die helfte van ‘n perdekakebeen, tande en al.

Oor dié tande is hy opgewonde. Hy is seker die tandemuis sal vir hom geld bring as hy dit in sy skoen sit, want hy wil spaar sodat hy sy eie hond kan hê.

Ek het gesê dis ‘n goeie gedagte en gedink dan sal ek ook weer in stilte en alleen kan gaan stap met mý hond, want dis ‘n onbegonne taak om dié woelwater te ontduik.

Hy hang tydig en ontydig aan die tuinhek of doem skielik net langs my op sodra ek die hond se leiband aanknip.

Eers het ek half afwesig sy gebabbel op die agtergrond geskuif terwyl ek my eie dinke probeer dink, maar gaandeweg luister ek met meer aandag.

Hulle het nou die dag vir sy niggie gaan kuier, vertel hy uitasem.

Ek vra waar sy bly, maar nee, beduie hy, sy is net hier in die begraafplaas en eintlik ken hy net haar naam, maar hy sal my gaan wys waar haar huisie is.

Hy self dink net dis ‘n bietjie te klein vir haar. Sy hand glip in myne.

Dis miskien ook ‘n bietjie te donker vir haar, sê hy.

Ons kan ‘n ander keer gaan kyk, sê ek, maar hy hardloop reeds weer vooruit en wink my nader.

Kyk die paddastoele, en is dit regtig so dat daar feetjies woon? Hy dink nie so nie, want goetertjies met vlerke het mos nie ‘n huis nodig nie.

Hy steek ‘n ent verder by ‘n klipruïne wat van die delwerstyd dagteken in sy spore vas. Wow, dit moes ‘n mooi huis gewees het, roep hy uit.

Kan hy maar een van die klippe optel? Hy sal dit self dra, hy belowe.

So vorder ons met rukke en stote, en dit kos mooipraat om die kind naderhand die swaar klip te laat agterlaat wat hom laat kreun en steun. Dra gaan ek dit wraggies nie.

Eindelik stem hy in, dra dit ver van die voetpad en maak dit toe onder hande vol dennenaalde. “Ek sal dit kom haal, eendag.”

Die res van die pad huis toe is hy bedees. Die hond voel aan iets haper en loop langs hom, en die kind wriemel sy vingers in haar pels.

‘n Mens kan net ‘n hond kry as jy ‘n huis het, nê? Ek antwoord ja. Stilte.

Voor die tuinhek wil ek al sy vondste vir hom teruggee, maar hy skud sy kop.

“Tannie moet dit hou. Gee net die perdetande. En Tannie moenie vergeet waar ek my klip gebêre het nie.

“As Nuwejaar kom, gaan ons mos trek; maar as ek groot is, kom ek terug. Want ek het nie vlerke nie en ‘n hond ook nie, en ons het ‘n huis nodig.”

Back to top

19. US-mikrobioloog ontwikkel probiotika vir winkelrakke

(Die Burger, 2 Februarie 2017)

Elsabé Brits

‘n Probiotika wat die hele maagdermkanaal belyn, is plaaslik ontwikkel.

Prof. Leon Dicks, mikrobioloog aan die Universiteit Stellenbosch, het die stamme ontwikkel vir Cipla se drie entiro-produkte.

Dit is beskikbaar in koutablette, kapsules en ‘n poeier wat in die mond oplos.

As die miljarde mikrobes in die maagdermkanaal versteur word, kan dit lei tot verskeie toestande soos hardlywigheid, diarree, rumatoïed-artritis en inflammasie.

“Baie probiotika-bakterieë is sensitief vir uitdroging en moet in vloeibare vorm aangevul word.

“Die vriesdroogmetode wat ontwikkel is vir entiro is uniek en stabiliseer die probiotika-bakterieë,” sê Dicks.

Hy sê ‘n mens het net twee stamme nodig: L. plantarum (aërobe-bakterieë), wat vanweë die suuragtige omgewing meestal aan die dunderm heg, en E. mundtii (anaërobe-bakterieë), wat aan die dikderm heg vanweë die alkaliese omgewing.

Back to top

20. 5 vrae aan Antoinette Pienaar

(Die Burger, 5 Februarie 2017)

Anika Marais

  1. Wat was vir jou die lekkerste daarvan om hierdie reeks te skiet?

Bure is in dorpe en stede, maar veral op plase lewensbelangrik. Hier op Theefontein is al ons bure 80 km plus buite die dorp, so as jy uit iets uitraak by jou huis en jou buurman is in die dorp, dan red hy jou lewe daar en dan.

Daarom was dit vir ons heerlik dat ons bure almal deel was van die program. Só kon die kykers ons lewens leer ken wat wyer strek as ons werf.

Die mense wat bel met terugvoer is deur die bank meegevoer en geïnspireer deur die skoonheid van die Karoo en gefassineer met die eenvoud van ons lewe.

  1. Hoekom dink jy onderskat mense die krag van kruie om ons gesond te maak?

Ek dink mense onderskat die kragtige werking van kruie omdat die moderne mens al hoe minder geaard is in die natuur. Omdat mense nie meer daaglikse kontak met die natuur het nie, “vergeet” hy dat hy nét in die natuur kan “onthou” dat die natuur ons herinner dat ons almal ‘n skakel het (mens, dier, plant, berg, blou lug, son). Soos ‘n ketting, skakel ons aanmekaar. As jy in die veld loop, sien en onthou jy dat daar vir elke siekte ‘n bossie in die veld is wat jou kan gesond maak.

Dasbos en klipkruie en kankerbossie is die drie kruie waarsonder jy my nooit sal kry nie. Dasbos en klipkruie werk vir ‘n legio dinge – dit versterk die niere, dit help met skildklierprobleme, dit help om trauma wat op sellulêre vlak vasgevang is te laat gaan. Hierdie twee kruie help veral met die balans in die liggaam.

Kankerbossie versterk die immuunstelsel en as die immuunstelsel gesond en sterk is, sal al jou organe groot baat daarby vind.

  1. Wat is die grootste les wat jy by Oom Johannes geleer het, wat niks met kruie te doen het nie?

Die grootste les wat ek by oom Johannes geleer het, is dat ons almal gebore word met ‘n pad wat ons moet loop en al wat jy elke dag hoef te doen, is om op te daag op jou pad en jou pad te skoffel. Op jou pad leer jy hoe om jou glo voor jou bang staan te maak.

Ek het nog lank nie alles by Oom Johannes geleer nie. Ek voel ‘n mens kan net voel jy het nou als geleer as jy jou laaste asem uitblaas. Hoe meer jy dink jy weet, hoe meer besef ‘n mens hoe min jy weet.

  1. Jy en Oom Johannes is elke week op RSG te hoor met raad vir luisteraars. Wat is die snaaksste versoek/raad wat jy al van ‘n luisteraar ontvang het?

Die wonderlikste raad wat ek nog ooit op die program saam met Amoré op die radio gekry het, was oor vratjies. Die tannie het ingebel en gesê dat as jy vratjies het, moet jy klippies optel en op elke vrat ‘n klippie druk. Dan sit jy al die klippies in ‘n boksie en draai die boksie toe soos ‘n present, lint en al. Dan gaan jy dorp toe, loop na ‘n plek toe in die straat waar baie mense is. Dan gooi jy die boksie oor jou linkerskouer en sonder om om te kyk, loop jy weg. Die volgende oggend sal jou vratjies weg wees.

  1. Hoe het die droogte jou familieplaas getref en wat doen julle om water te spaar?

Die droogte in die Karoo het ons kort duskant wanhoop gehad en dis ‘n daaglikse stryd om nie kleingelowig te word nie. Die veld, die diere, die berge en die mens smag dag en nag na uitkoms en die verskrikking van die swart gebrande veld maak ‘n sterk band tussen mens en natuur. Jy raak diep onder die indruk van jou interafhanklikheid van als om jou.

Ons het onlangs reën gehad en binne agt dae het die veld uit die dood uit opgestaan en hierdie opstanding weergalm dan deur jou binnelandskap. Die dankbaarheid wat pols deur die landskap tamboer tot in jou hart. In ons tuintjies plant ons net plante wat min water nodig het, ons was in kommetjies, soos in die outyd, en omdat ons self water aandra vir ons huise, maak die gedagte aan swaardra jou suinig met jou watergebruik.

 

Vinnige feit

Antoinette woon op ‘n plaas in die karoo sonder enige selfoon- of internet opvangs.

“Al wat die mens reggekry het met tegnologie is om meer en meer eensaam te word, want ons praat nie meer met mekaar met die stem nie.

“Ons praat deur vir mekaar woorde te tik en ‘n duisend vriende te hê van wie jy nog net ‘n foto gesien het. Waar mense mekaar vroeër geboelie het deur mekaar bloedneus te slaan agter die rooi muurtjie op die skoolterrein, boelie ons nou gesigloos en slaan mekaar vuisvoos met onvanpaste inskrywings op Facebook. Ek skryf nog briewe, waar die posstelsel jou genoeg tyd gee om te verteer wat jy geskryf het en dan die afwagting waarmee ek my posbus dophou, gee my oneindige plesier.

“Die selfbehepteid van selfies maak my naar. Die oom sê altyd: “Haastig is nie altyd vinnig nie.” Deur haastig te reageer op ‘n ander mens se opinie laat jou in slaggate trap, waaroor jy later baie spyt is en só word jy deel van ‘n malle tsoenami van ondeurdagte gedagtes.”

Back to top

21. ‘Vader van Pac-Man’ op 91 jaar oorlede

(Die Burger, 31 Januarie 2017)

Reuters, DailyMail.co.uk

Die “vader van Pac-Man” is in die ouderdom van 91 dood, het die Japanse speelgoed- en speletjievervaardiger Bandai Namco gister in Tokio bekend gemaak.

Masaya Nakamura, die maatskappy se stigter wat nog as topadviseur gedien het, is op 22 Januarie dood.

Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

Pac-Man, ‘n monstervretende speletjie, is in 1980 bekend gestel en het ‘n groot treffer in Japan en oor die wêreld heen geword.

Guinness World Records het dit as die mees suksesvolle arkadespeletjie ter wêreld aangedui.

Nakamura het die maatskappy wat Namco geword het in 1955 gestig.

Die maatskappy het begin deur twee elektries aangedrewe hobbelperde op ‘n afdelingswinkel in Yokohama, suidwes van Tokio, te bedryf.

Nakamura het topadviseur van die beherende maatskappy geword toe Namco en Bandai in 2005 saamgesmelt het.

Pac-Man se ontwerp is gegrond op ‘n pizza waaruit ‘n skyf gesny is.

Nakamura het die woord ‘pac’, of ‘pakkoe’ in Japannees, na berig word gekies om die geluid te verteenwoordig wat Pac-Man maak wanneer hy sy prooi verorber.

“Pac-Man is ‘n spelervriendelike speletjie met tonne oulike karakters en dis hoekom dit so lank gelief was,” het die speletjie se ontwerper, Toru Iwatani, in 2005 by die New Yorkse première van Pixels gesê. Pac-Man speel ‘n prominente rol in dié rolprent en Iwatani is in ‘n kameerol daarin te sien.

Pac-Man het as ‘n arkadespeletjie begin, waarna dit op die Nintendo-tuiskonsole gespeel is. Dit is sedertdien aangepas vir selfone, PlayStation en Xbox.

Nog Namco-treffers is bestuursnabootsingspeletjies soos Ridge Racer en ‘n tromspeletjie.

Back to top

22. Die BlackBerry en die baas se vergaderings

(Die Burger, 7 Januarie 2017)

Bun Booyens

Saam met 2016 is die BlackBerry-selfoon vort – dié maatskappy gaan ophou om selfone te maak. Weg is die foon met daardie lekker knoppies waarmee ‘n mens so foutloos en vinnig kon tik. Selfs ek is onlangs oor die Rubicon na ‘n ander slimfoon gesleep.

Dit is eintlik verbluffend dat ‘n maatskappy wat so ‘n gewilde pioniersproduk kon bou, dit nie kon vernuwe met ‘n beter kamera en ‘n duideliker kleurskerm nie. Beslis ‘n gevallestudie vir sakeskole se leerplan.

Waarvoor sal die BlackBerry onthou word? Dalk vir die wyse waarop dit mense se gedrag in vergaderings verander het, reken ek.

Destyds was dit ‘n maatskappy se senior mense wat eerste ‘n BlackBerry gekry het. Hulle was dan ook die eerstes wat ontdek het hoe maklik dit is om in ‘n vergadering e-posse te lees. Op ‘n Berry kon jy ook blitsig antwoorde tik en stuur. Die verslawing was oombliklik.

Die base het aanvanklik skelm onder die raadsaal se tafel met hul Berrys gevroetel, amper soos jy eens in die skoolbank ‘n toffie uit jou broeksak gewikkel het.

En kort voor lank het die ander mense ook met Berrys begin woel; want as die baas mag, mag almal mos. Dit het nie daar opgehou nie.

Waar daar meer as een Berry of slimfoon in die vergadering was, het mense vir mekaar begin boodskappe stuur. “As hy nog EEN KEER sê ons moet buite die boks dink, gaan ek hom én sy boks by die venster uitgooi!” was een van die eerstes wat ek ontvang het, van ‘n kollega twee sitplekke van my af.

In videokonferensies het jy skielik ook boodskappe van kollegas aan die ander kant ontvang: “Wed jou ‘n bier hy gaan nou-nou weer die woorde ‘optimise’ en ‘leverage’ gebruik” – ‘n wegbreekvergadering binne ‘n vergadering.

Ook dinkskrums en bosberade is onherroeplik deur die Berry en ander slimfone verander. Daar waar die maatskappy se A-span “sonder steurnisse van buite” die nuwe missie en visie moes formuleer, kon jy nou skielik ook bybly met die kriekettelling op Nuweland.

Wanneer jy deesdae in die skemerte in ‘n ouditorium sit, sien jy deurentyd hoe iemand voor jou se gesig skielik in die skemerte van onder verlig word. Dan is dit weg, en ‘n sekonde of wat later slaan daar weer op ‘n ander sitplek ‘n ligkolletjie uit, soos vuurvliegies.

Enigiemand wat op ‘n telekonferensie oor daardie ronde foontjie in die middel van die tafel sy sê sê, moet besef omtrent almal aan die ander kant luister net met ‘n halwe oor. Die meeste is op hul selfone doenig.

Ná die koms van die iPad kon die slimfoon onder die tafelblad uitkom, want dié tablet is as ‘n wettige werktuig geag. Deesdae is dit ongewoon as iemand sonder ‘n skootrekenaar of slimfoon in die raadsaal kom aansit.

In talle vergaderings maak mense eintlik nie meer oogkontak met die spreker of mekaar nie. Ongeskik eintlik, maar ek doen dit self. Alles BlackBerry se skuld.

Back to top

23. East Germans taught Trump about walls

Only China’s is longer

(Die Burger, 28 Januarie 2017)

PS John Scott

You have to hand it to Donald Trump. For him only the biggest is best.

Or the second biggest, in the case of walls. His proposed 3 218.6-kilometre-long wall blocking off Mexico will be the world’s next longest after the Great Wall of China, 8 851.8 km when last measured.

Like China’s wall, you should be able to see his from space. Don’t be surprised if he launches satellites that focus permanently on the wall and photograph any sneaky Mexicans trying to cross it. But there are also other more conventional ways of catching prospective wall-crossers, tried and tested by the East German government before their wall came down.

Naturally there will be watch towers, manned by troops with machine guns. The Berlin Wall, which was only 140 km long, had 302 of these. Searchlights will flood it every night. Guards will constantly patrol it with fierce dogs. If Trump is really serious (and is he ever not?) about keeping out illegal immigrants, a 3 218.6-km-long strip of no-man’s land on the American side will be mined. Any job seekers who make it over the wall will be sorry they didn’t stay south of the border, slumped against a tree under their sombrero.

The Berlin Wall was only 3.6 metres high. Trump is bound to build his wall higher, for honour’s sake, though China’s wall, at 9 m, will be hard to match. A point to ponder about the China wall is that it took nearly 2 000 years to complete. Trump has at most eight. Building it will provide furious employment for thousands of Americans, if that’s how they want to be employed, in the hot desert sun amid the rattlesnakes.

He may find a few Mexicans offering their services. And why not, so long as they promise to stay on their side of it, and are respectful to Mr Trump for expecting their government to pay the billions it will cost.

There is another wall, in Israel, whose construction is well advanced. Its primary function is to keep out the suicide bombers who blew up umpteen Israelis during the second intifada. But no Mexicans who slipped across the border ever blew up an American, as far as I am aware. Still, Trump is playing safe. You never know when one might.

All this could give walls a bad name, and even hedges, like the one Jan van Riebeeck planted. He knew it wouldn’t keep the Khoi out but made it more difficult for them to drive the settlers’ stolen cattle through it, once they had got in. And a lot of nervous South African householders today feel safer in community complexes with walls round them. At least they know all the burglaries they suffer can be reassuringly ascribed to “inside jobs”.

Walls are useful to talk to, when there is no one else. Shirley Valentine amused us all by confiding: “I like a glass of wine while I’m doin’ the cookin’, don’t I wall” (and in the absence of a wall on Mykonos beach she greeted a rock). Shakespeare had Bottom the weaver addressing a “beautious wall” with the words: “Show me thy chink, to blink through, with mine eye.”

The question is, will Donald Trump himself blink, and renege on his promise to wall off Mexico? Or will he look north as well, and realise that if he builds a wall along Canada’s 8 891 km border, it will be 40.2 kilometres longer than the Great Wall of China? The temptation may be too great.

Back to top

24. Daar was destyds glo ‘haaie’ in die Karoo

(Die Burger, 7 Januarie 2017)

Eugene Gunning

Visse soortgelyk aan haaie het 280 miljoen jaar gelede in die Karoo voorgekom waar Prins Albert vandag geleë is.

Dit blyk uit navorsing deur dr. Rob Gess van die Albany-museum op Grahamstad waarvan die besonderhede Donderdag bekend gemaak is.

Dit word as ‘n groot deurbraak beskou en is ook aanlyn in die tydskrif Nature gepubliseer.

Hoëdefinisieskanderings van ‘n 280 miljoen jaar oue fossiel is met behulp van hoogs gevorderde tegnologie gedoen. Dit het getoon die fossiel is van die chimeras, ‘n groep kraakbeenagtige visse wat aan haaie verwant is.

Die fossiel is in die 1980’s deur Roy Oosthuizen op sy plaas Zwartskraal in die Prins Albert-gebied ontdek

Oosthuizen het ook baie in fossiele belang gestel. Hy is in 1999 oorlede.

Gess sê Oosthuizen het dit destyds aan ‘n paleontoloog gewys. Dié het ‘n voorlopige wetenskaplike verslag daaroor opgestel.

In daardie stadium het die wetenskaplike toerusting nie bestaan om dit verder te ontleed nie.

Die fossiel was baie delikaat en kon nie uit die rots verwyder word nie,

Dit is toe na die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad gebring, waar dit tot 2013 bewaar is.

In 2013 het die Instituut vir Evolusionêre Studies by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) ‘n hoëdefinisie-skandeerder gekry.

Dit kan voorwerpe tot in die fynste besonderhede ontleed.

Gess, wat in daardie stadium verbonde was aan die geologie-departement van die Rhodes-Universiteit op Grahamstad, het toe ‘n navorsingsvoorstel aan Wits gedoen en ook toestemming by die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad gekry om die fossiel te ontleed.

Die fossiel is na Johannesburg gebring vir skandering.

Volgens Gess moet ‘n mens onthou die Karoo was 280 miljoen jaar gelede ‘n groot binnelandse see.

Die nuutste data is ontleed in samewerking met onder andere dr. Michael Goats van die Universiteit van Chicago.

Volgens Gess het die skelet kenmerke van visse soortgelyk aan haaie en die brein en senuweestelsels van die chimeras.

Back to top

25. Hmmm, uhm … he-he-he

(Die Burger, 6 Januarie 2017)

Bun Booyens

Op 20 Januarie neem die VSA afskeid van Obama, en wie weet, dalk groet Suid-Afrika ook vir Zuma in 2017.

Albei het twee termyne as president van hul land agter die rug, maar daar is min te vergelyk tussen die twee, behalwe dalk hul retoriese styl.

Elk is geseën met ‘n diep, resonante stem en albei praat opvallend stadig. Maar dis waar die ooreenkoms eindig.

Obama is retories een van die talentvolste presidente in Amerika se moderne geskiedenis, op peil met Ronald Reagan en John F. Kennedy.

In Suid-Afrika is Zuma as spreker (in Engels) loshande Suid-Afrika se swakste president sedert 1994, en waarskynlik ook onder die agterosse sedert Uniewording in 1910.

Obama se praatstyl en lyftaal is die afgelope agt jaar haarfyn ontleed. Tydens verkiesingsveldtogte praat hy byvoorbeeld tipies 180 tot 190 woorde per minuut, maar as president aansienlik stadiger, met langer verposings tussen frases.

Sy langste stilte was ‘n volle 13 sekondes, in 2015 gedurende sy huldigingsrede vir die nege kerkgangers wat in Charleston, Suid-Carolina, doodgeskiet is. (‘n Mens sou kon redeneer Zuma se langste stilte was langer as 13 maande – oor Nkandla, maar dit eers daar gelaat.)

Op die podium is Zuma beduidend stadiger as selfs Obama.

Tydens die debat in die Nasionale Vergadering oor sy staatsrede in 2016 het hy byvoorbeeld vrae teen ongeveer 70 woorde per minuut – en soms minder as 50 – beantwoord (dis nou in die dele waar daar min applous of uitjouery was).

Obama kies sy stiltes fyn; Zuma praat so stadig want hy lees so stadig, vermoed jy.

Die tydskrif The Economist berig dat drie Turkse taalprofessors ‘n verhandeling geskryf het oor waar Obama sy kenmerkende stiltes in sy sinne plaas – voor of ná die voorsetsel.

Andere ontleed weer sy mikropouses en kibbel of daar ‘n komma ná die “yes” in sy “Yes we can”-slagspreuk behoort te wees.

Fyn klankopnames wys ook dat Obama sy verposings soms met ‘n net-net hoorbare “hmmm” vul en dít wek by mense die indruk dat hy reeds weet wat hy wil sê, maar vinnig op sy voete kies hoe om dit te sê.

Zuma, op sy beurt, verpoos oënskynlik sodra sy asem min raak, sommer op enige plek, soms op die voorlaaste woord van ‘n sin en selfs in die middel van ‘n lang woord. (Google gerus hoe Trevor Noah vir Zuma naboots.)

So baie te lees in die lyftaal

Zuma en Obama se lyftaal verskil ook radikaal. Zuma kyk tipies nie meer as vyf keer per minuut op van sy geskrewe teks nie, en tydens tegniese passasies soms net twee of drie keer – en dan is hy soos ‘n rivierbaber wat vinnig opkom vir asem. Daar is dikwels geen werklike oogkontak met die gehoor nie.

Tot ‘n jaar of twee gelede het Zuma boonop tussendeur voortdurend sy bril met sy middelvinger op sy neus teruggestoot. Deesdae doen hy dit minder. En jy wonder hoekom het die adviseurs wat hom met ‘n nuwe bril reggehelp het, ook nie aan die res van sy voordragstyl geskaaf nie?

Wanneer Obama praat, kyk hy selde áf. Sy ken is hoog, en hy kyk eers links, dan regs (sy teks verskyn op skerms weerskante van hom) en sy oë is op iemand spesifiek in die gehoor gerig.

Hy is egter allesbehalwe ‘n gladde spreker. ‘n Doktorale student van Utrecht het getel dat Obama tydens ‘n onderhoud van 9 minute 21 sekondes altesame 106 keer “uh” gesê het en 18 keer “uhm …”, maar hy het steeds oortuigend geklink.

Sy voorganger, George W. Bush, het minder ge-“uh”, maar jou met die indruk gelaat dat hy eers moet hoor wat hy sê voordat hy weet wat hy dink.

In die woorde van The Economist se Ann Wroe: “He was taken for an idiot, whereas Mr Obama was hailed as a great orator.”

Die verhaal van twee toesprake

Zuma en Obama het in Desember 2013 op die huldigingsdiens vir oudpres. Nelson Mandela in die FNB-stadion in Johannesburg die verhoog gedeel. In Die Burger se nuuskantoor het ons die verrigtinge op TV gevolg.

Dis straks nie billik om die twee se toesprake van daardie dag met mekaar te vergelyk nie, want in Gauteng het die politieke gety toe reeds teen Zuma begin draai.

Elke keer wanneer sy gesig op die grootskerms verksyn het, het ‘n geboe in die stadion opgeklink.

Zuma het een van die teleurstellendste toesprake van sy loopbaan gelewer. Weer sta-a-adig, weer met die klem op verkeerde woorde en weer het hy geklink of hy sy teks daar op die podium vir die heel eerste keer onder oë gekry het.

Dít voor ‘n wêreldgehoor en dít komende van iemand wat tronkstraf saam met Madiba op Robbeneiland uitgedien het, maar oënskynlik nie een van sy toespraak se 2 274 woorde self kon of wou skryf nie.

“Hel, kon jy dit nie ten minste net ‘n paar keer ingeoefen het nie?” wou jy as Suid-Afrikaner uitroep, want hoe kry ‘n aartspopulis soos Zuma, wat voor Zoeloe-gehore joviaal uit die vuis praat en spontaan dans, dit reg om soms só oninspirerend te wees?

Obama het die toespraak van die dag gelewer. Oral het mense geknik-knik, talle van hulle met ‘n knop in die keel, toe hy gesê het: “While I will always fall short of Madiba’s example, he makes me want to be a better man.”

Ná die tyd het iemand in die nuuskantoor opgestaan en terwyl sy uitloop gesê: “Hoekom moet ons ons die heeltyd vir ons ou skaam?”

Een frase, een toespraak

Die meeste politieke figure word vir ‘n enkele frase of enkele toespraak onthou, selfs die groot orators.

Thabo Mbeki was ‘n effens afgetrokke spreker, maar sy “I am an African”-toespraak is deel van Suid-Afrika se nasionale psige.

Jy onthou Nelson Mandela wat op Tuynhuys se stoep spontaan joernaliste te woord staan en hulle op hul naam aanspreek – ongeëwenaarde retoriek op ‘n persoonlike vlak.

Jy onthou FW de Klerk vir sy waterskeidingstoespraak in Februarie 1990, gelewer as ‘n beredeneerde betoog deur ‘n juris.

Voor hom was daar PW Botha met sy Rubicon-toespraak. Sy reputasie was reeds effens uitgekalwe, en al wat oorgebly het, was ‘n dreigende wysvinger en ‘n “don’t push us too far”.

In Amerika word Bill Clinton, ondanks sy charisma, onthou vir “I did not have sexual relations with that woman … Miss Lewinsky”; Reagan vir “Mr Gorbachev, tear down this wall”; en Kennedy vir “Ich bin ein Berliner.”

Richard Nixon word onthou vir “I am not a crook”, kort voordat hy, verswelg deur skande weens die Watergate-skandaal, onder ‘n wolk uit die Withuis weg is. Dít klink kommerwekkend baie soos iets wat Zuma in November verlede jaar in die Nasionale Vergadering gesê het: “The truth is I am not a thief and there is no evidence to support this claim …”

Dalk is dít die retoriese frase waarvoor Zuma onthou sal word. Of erger, dalk net ‘n he-he-he-laggie.

■ Bron oor Obama: “Barack Obama’s Pauses: The Defining Feature / of a Presidency” – Ann Wroe, The Economist: The World in 2017.

 

En wat van die res?

Die regeringsleiers voor 1994 was ook nie almal met ‘n goue lepel in die mond gebore nie.

  • Johannes Steinmeyer, ‘n lid van Die Burger se aanvangsredaksie in 1915 en parlementêre verslaggewer, vertel in sy outobiografie, Spykers met koppe (1946), dat genl. Louis Botha (1910-1919), eerste premier van die Unie, ‘n “konkrete” spreker was, maar met Engels gesukkel het: “So het dit meer kere gebeur dat genl. Botha, wanneer hy ‘n formele voorstel soos ‘n mosie van roubeklag in die parlement in albei tale moes lees, by ‘n moeilike Engelse woord vasgesteek het en hom tot genl. Smuts gewend het met die gefluisterde vraag: ‘Jannie, wat is dit?’”
  • Jan Smuts (1919-1924; 1939-1948) het in 1912 as minister van finansies waargeneem. Volgens Steinmeyer was “Slim Jannie” nooit “op ‘n vertroulike voet met syfers” nie: “Tog het hy ‘n begrotingsrede gehou en op die debat geantwoord, alles van papier gelees. Sy antwoorde was soms so verregaande verkeerd dat mnr. J.W. Jagger, finansiële deskundige van die Opposisie, dit nie kon hou nie en gevra het of die minister sal toelaat dat hy [Jagger] die vraag eerder beantwoord. En Smuts was maar te bly daarvoor.”
  • J.B.M. Hertzog (1924-1939) was die eerste premier wat radio as medium tot sy beskikking gehad het, en het dit goed benut.
  • D.F. Malan (1948-1954) was ‘n dominee voordat hy ‘n koerantredakteur en politikus geword het. Sy praatstyl was eerder abstrak as konkreet – preekstoelretoriek.
  • Hans Strydom (1954-1958), was te kort aan bewind om werklik retories ‘n impak te maak.
  • H.F. Verwoerd (1958-1966) was ‘n redenaar eerder as ‘n orator en selfs sy felste teenstanders was lugtig om hom in debatte te pak.
  • John Vorster (1966-1978) was waarskynlik die stadigste prater onder die pre-1994-premiers: “Ek glô … dat ons volk … geroepe is om…”

Back to top

26. Lego blaas nou ‘lewe’ in sy boublokkies

(Die Burger, 10 Januarie 2017)

Elvira Wood

Kinders sal later vanjaar “lewe” in hul Lego-skeppings kan blaas en sal nou nie net kan bou waarvoor hulle lus is nie, maar sal hul skeppings ook kan programmeer om te beweeg en geluide te maak.

Die Deense speelgoedmaatskappy het sy nuutste produk – Lego Boost – Donderdag op die CES-tegnologieskou in Las Vegas, Amerika, bekend gestel.

Lego beskryf die nuwe stel as ‘n “bou-en-programmeerstel met woema wat kinders toelaat om lewe aan hul skeppings te gee deur beweging, klank en persoonlikheid”.

Die stel gaan in die tweede helfte van 2017 beskikbaar wees en nagenoeg $159,99 in Amerika kos.

Lego Boost is ontwikkel vir kinders van sewe jaar en ouer en gebruik bekende blokkies en basiese programmeringstaal wat dit maklik maak om die skeppings te programmeer.

Dit stel wat Lego ‘n bewegingskern noem, in werking. Dit is ‘n blokkie met ‘n ingeboude sensor wat kan kantel. Kinders kan dan blokkies, motors en ‘n sensor wat kleur en afstand kan waarneem, daarby voeg.

Die stel sluit instruksies in vir die bou van vyf modelle: Vernie die robot, Frankie die kat, ‘n kitaar, ‘n karretjie en wat hy ‘n autobuilder noem.

“Ons weet kinders droom daarvan dat hul Lego-skeppings ‘lewend’ kan raak en ons hoofdoel met dié stel is om die droom te bewaarheid,” sê Simon Kent, hoof van ontwerp by Lego.

“Ons wil hê kinders moet eerstens pret en ‘n onbeperkte speelervaring hê. Ons kan dit vermag deur die programmeringsopsie by te voeg.”

Die skeppings word geprogrammeer met behulp van ‘n app wat gratis afgelaai kan word en wat verduidelik hoe dit gebruik moet word.

Soos in die geval van die blokkies, kan kinders gedrag en beweging programmeer deur verskillende bevele te kombineer. Hulle kan ook hul stem opneem en byvoeg en die wat kan spel en tik, kan dit boonop verpersoonlik.

Die app het meer as 60 ander aktiwiteite om kinders aan te moedig om hul eie goed te skep.

Die oomblik dat kinders gemaklik is met hoe om hul Lego Boost-modelle te kodeer is dit aanpasbaar by al Lego se ander stelle en kan hulle dit gebruik om dit “lewend” te maak.

Back to top

27. Ses goue reëls

(Rapport Beleef, 5 Februarie 2017)

Alet Wichmann

Het jy al gesien hoe kinders speel? Hulle kies eers ‘n baas en dan maak hulle reëls.

Daarin is vir volwassenes ‘n boodskap, sê die dissiplinekenner en berader Dereck Jackson. “Die wêreld waarin jou kind gebore word, is vol reëls. Dis in ons natuur om reëls te maak, ons gebruik dit selfs tydens ontspanning, soos in sport. Van vier jaar af begin kinders self reëls maak. Die boodskap aan hul ouers is, beheer my asseblief só. Stel grense, want dit laat jou kind veilig en geborge voel.”

Die ses reels

Voor vier jaar is die meeste kinders nie gereed vir reëls nie. Dan beheer jy hulle slegs deur vir hulle impulsbeheer te leer om die grondslag te lê dat jy nie kan doen net wat jy wil nie.

Maar nou kan jy die ses reëls wat vir altyd gaan geld, begin instel. Dit is:

  • Daar is ‘n tyd om te gaan slaap en ‘n tyd om op te staan. Jy bepaal dit volgens jou kind se ouderdomsgroep: Dit wissel tussen agt en tien uur per nag.
  • Daar is ‘n tyd om te eet. Jy dwing nie jou kind om te eet nie. Jy sit die kos vir ‘n redelike tyd op die tafel voor hom en dan vat jy dit weg.
  • Jy moet netjies maak waar jy deurmekaar gemaak het.
  • Daar is ‘n tyd om te bad of stort.
  • Jy moet jou ouers respekteer. Moenie jou kind toelaat om sonder respek met jou te praat nie, want dan sal hulle nie respek aan ander betoon nie en dit het sosiale gevolge. Ander ouers sal byvoorbeeld nie wil hê jou kind moet met hulle s’n speel nie.
  • Daar is ‘n tyd om jou huiswerk te doen. Hierdie reël kan ingestel word sodra jou kind begin huiswerk kry.

Só pas jy dit toe

Wanneer jou kind ‘n reël breek, is die eerste stap om hom tereg te wys. Wees selfgeldend, nie beledigend nie en beslis ook nie onderdanig nie.

“Vandat jou kind tien maande oud is, begin hy jou lyftaal verstaan. Jou stemtoon en lyftaal is van dan af 93% van kommunikasie,” verduidelik Dereck. As jy byvoorbeeld jou kind beveel om iets op te tel, moet jy ook met jou vinger wys terwyl jy praat.

Stap twee. Jou kind het nie op jou bevel gereageer nie, nou tree jy op. ‘n Raps (om nie van ‘n pak slae te praat nie) is volgens Dereck onvanpas sodra jou kind uit die doeke is (sien kassie).

Met jonger kinders moet jou optrede onmiddellik wees. Jy kan nie 10:00 die oggend sê: Omdat jy nie geluister het nie en die deur gebreek het, kry jy nie vanaand poeding nie. “Vir ‘n kind is vanaand ‘n miljoen jaar ver. Selfs kinders van vyf jaar oud verstaan nog nie die konsep van tyd nie,” sê Dereck.

Vir ‘n vierjarige is isolasie genoeg. Sê byvoorbeeld: In hierdie huis gebruik ons nie sulke oneerbiedige taal nie, gaan vir tien minute na jou kamer toe.

Ouer kinders se begrip van tyd is al goed gevestig. Hul belangrikste bates is hul tyd voor die televisie of rekenaar of hul sakgeld. Vir hulle kan jy sê: Jy het nie jou huiswerk gedoen nie, daarom mag jy nie Vrydag saam met jou maats gaan fliek nie.

Jy en jou tiener

Tieners, veral van gr. 8 af, is komplekser. Dit help nie meer om hulle kamer toe te stuur nie en om bloot hul tyd voor die TV te beperk, werk ook nie meer so goed nie.

Met jou tiener gaan sit jy en skryf die reëls neer op ‘n stuk papier. Jy deel eers ‘n A4-papier in twee kolomme.

Heel eerste vra jy vir hom wat hy van jou wil hê en dan skryf jy dit aan die linkerkant neer. Byvoorbeeld sakgeld, skoon klere vir skool en sport, kos, vervoer… Die lys raak gou lank. Stem in tot alles, solank dit nie onvanpas is nie.

Daarna skryf jy jou ses reëls aan die regterkant neer. Wanneer hy sy lang lys teenoor jou kort lysie sien, maak dit reeds ‘n indruk.

Nou pas jy jou dissipline toe in drie fases:

  1. Wanneer jou tiener nie jou reëls nakom nie, reageer jy nie dadelik nie. Jy skree nie, jy kerm nie, jy smeek nie, jy neem slegs waar. Wanneer hy dan aan die einde van die maand vra waar sy sakgeld is, wys jy hom bloot op die kere wat hy die reëls verbreek het en sê dat dit is waarom hy nie sakgeld ontvang nie. “Hierdie stap werk baie keer nie onmiddellik nie, aangesien tieners al maniere gevind het om self geld te verdien – byvoorbeeld deur van hul besittings te verkoop,” sê Dereck.
  2. Maar die volgende maand hanteer jy dit weer dieselfde. Jy kerm nie, jy smeek nie, jy merk slegs op wanneer hy jou reëls verbreek. Ná sowat twee weke sal jou kind begin opmerk dat hy nie meer skoon klere het nie. As hy jou daaroor vra, sê jy rustig dat hy nie jou reëls nakom nie en daarom was jy nie meer sy klere nie. “Jy moet hom egter die opsie gee om sy eie klere te was. Sê ek sal jou wys hoe die wasmasjien en strykyster werk,” sê Dereck. “Die meeste kinders sal in elk geval teen hierdie tyd hul gedrag drasties aanpas. Dit gebeur bitter selde dat ek ouers eens tot by stap 3 moet neem.”
  3. Dis nogal drasties maar nou berei jy nie meer vir jou kind kos nie. “Jy het ingestem tot kafeteria dienste toe julle die reëls neergeskryf het, maar nou is dit klaar. Sê vir jou kind: Daar is eiers, daar is brood, jy kan dit self maak. Die mees onbeskofte skoolseun sal in ‘n heer verander,” sê Dereck uit ervaring.

Dis belangrik om te volhard wanneer jy jou kind dissiplineer, want dit maak sy lewe in die wêreld makliker, sê Dereck. As jy bekommerd is dat die skool gaan snaaks dink wanneer jou kind met vuil, ongestrykte klere by die skool aankom, gaan praat met die skoolhoof, hy sal verstaan.

  • Bespreek Dereck vir ‘n praatjie deur 082 8551323 te skakel.

 

‘n Raps op sy tyd?

Hy glo nie daaraan om ‘n kind ouer as vier jaar oud ‘n raps te gee nie, maar voor dan is dit soms nodig, sê Dereck Jackson, dissiplinekenner en berader: “Totdat ‘n kind vier jaar oud is, leer hy hoofsaaklik deur aanraking. Dis waarom alles eerste mond toe gaan.”

Om jou kind onder vier ‘n lewensbelangrike les te leer – soos om nie oor die pad te hardloop nie, nie self in ‘n swembad te klim nie of in sy karstoeltjie te sit – is ‘n hou op die doek soms nodig. Hul spraak is nog nie goed genoeg ontwikkel om ‘n gevaar te verduidelik en verstaan nie.

Die raps mag nooit elders as op die doek wees nie en ook nooit met iets anders as ‘n plat hand nie. Die doel is nie om seer te maak nie, maar om jou woorde te versterk met aanraking. ‘n Raps is ook slegs nodig as jou kind nie op jou verbale waarskuwings reageer nie.

Back to top

28. Meer stilte is wat die wêreld nou nodig het

(Die Burger, 24 Januarie 2017)

Johan van Wyk

Die maande lange beheptheid in die media met Donald Trump, wat toe uiteindelik president van Amerika geword het sonder dat die wêreld tot ‘n einde gekom het en ten spyte van hom beslis sal bly voortwentel, het my aan Annie van Gert Geelhoek laat dink.

Toe die predikant, nadat hy op huisbesoek tydens ‘n swaar droogte Habakuk se gebed voorgelees en ernstig gebid het dat die sluise van die hemel geopen word, ordentlikheidshalwe ‘n geselsie aanknoop, vra hy uit of sy al in die Kaap was.

Sy het gelate gesug. “Nee, Dominee, hier by ons is dit maar net Geelhoek op en Geelhoek af.”

Toe hy wou weet of dit dan nie vervelig is nie, het sy gesê: “Nee wat, Dominee. Ons skik ons daarna.” Die simpatieke leraar het nie verder gevra nie. Dit was in die dae toe mense tevrede was om sonder radio, TV en koerante hul lewe op eensame plase te slyt. Ál gesels was tussen man en vrou.

Tot my spyt nie meer nie. Terwyl die Trump-betottelde media elke druppel bloed uitsuig, het ek gewens ek is op Geelhoek. Wanneer ek die koerant oopslaan of die radio en die TV aanskakel, wens ek ek is daar.

Maar gesels kan opraak. Dis wanneer ordentlike niksseggendheid inskop. Die Engelse noem dit small talk.

Byvoorbeeld: Wanneer ant Kitty van Kans in Boesmanland by ouma Pollie, haar suster, op Sandkraal gekuier het en hul gesels opraak, sou sy uitvra wat die prys van blouseep en bruin suiker op Calvinia is, teenoor wat dit op Brandvlei kos. En as dit beantwoord is, belangstellend verneem: “Sussie, hoe gaan dit met jou hoenders?” Ouma Pollie sou dan breedvoerig uitwei oor watter van haar koekoekhenne broei of dubbeldooreiers lê en hoe parmantig die werfhaan geword het.

In die tydelike opflikkering sou ant Kitty sê: “My wêreld, Sussie, kan jy nou meer!” Ouma Pollie sou dit sugtend beaam met: “Ja, die ou wêreld …” ‘n Lang stilte sou volg. “Silence is golden,” sê die Engelse.

Dit, stilte, en werk was die ou mense se redding. Die wêreld smag daarna. Ek meer as ooit.

Te midde van die daaglikse rumoer vind ek ook vreugde in ander, op die oog af onbenullige, dinge. Soos om soggens in stilte die rooidag langs die see te sien breek. Oggendstond het mos goud in die mond.

Drie weke gelede broei ‘n ringnekduifpaartjie twee kleintjies uit in ‘n klimop onder die plafon van my huis se voorstoep. Terwyl Donald Trump as president van Amerika ingehuldig word, klou hulle, te midde van ‘n verwoede suidoos, op lewe en dood aan die brose nessie van ‘n paar stokkies en waag dit selfs om lomp kort entjies te vlieg terwyl ‘n buurtkat op die muur hul vordering met arendsoë dophou.

Die bliksem weet dit nie, maar my kettie is met ‘n droë pruimpit gelaai.

Back to top

29. Reuse-ysberg ‘sal gou wegbreek’

(Die Burger, 7 Januarie 2017)

PROF. ADRIAN LUCKMAN VAN DIE UNIVERSITEIT VAN SWANSEA

‘n Reusagtige ysberg wat ongeveer ‘n kwart so groot soos Wallis is, is op die punt om van Antarktika weg te breek.

Wetenskaplikes sê ‘n ou skeur in die Larsen C-ysbank – die noordelikste groot ysbank in Antarktika – het in Desember skielik gegroei. Dit beteken slegs 20 km se ys hou die ysberg van 5 000 m2 nou in plek.

Navorsers in Swansea, Wallis, sê die verlies van die reuse-ysberg – wat na verwagting een van die tien grootste stukke ys sal wees wat tot nog toe van Antarktika weggebreek het – sal die hele ysbank kwesbaar laat.

Larsen C is ongeveer 350 m hoog en dryf op die see aan die rand van Wes-Antarktika, waar dit die vloei van gletsers wat daaraan geheg is, terughou.

Die BBC berig navorsers hou Larsen C reeds etlike jare lank met ‘n valkoog dop sedert die ineenstorting van die Larsen A-ysbank in 1995 en die skielike opbreek van die Larsen B-ysbank in 2002.

Navorsers van Brittanje se Projek Midas het verlede jaar gewaarsku dat die skeur in Larsen C besig is om vinnig te groei. Die spoed waarteen dit groei, het egter in Desember drasties toegeneem en die ysbank het binne ‘n kwessie van ‘n paar weke skielik met ‘n verdere 18 km gegroei.

“Ek sal verbaas wees as Larsen C nie binne die volgende paar maande wegbreek nie,” het prof. Adrian Luckman, projekleier van die Universiteit van Swansea, aan die BBC gesê.

Volgens hom kon daar nog nie genoeg wolklose satellietbeelde van die gebied geneem word nie. Die navorsers het egter daarin geslaag om twee radarbeelde te kombineer om solank ‘n beter prentjie te kry.

“Larsen C is so naby aan opbreek dat ek skat dit onvermydelik is,” sê Luckman.

Navorsers sê die situasie is ‘n geografiese eerder as ‘n klimaatverwante gebeurtenis. Die skeur is volgens hulle reeds dekades lank teenwoordig, maar het eers onlangs deurgebreek.

Daar bestaan die moontlikheid dat klimaatsverandering moontlik die skeuring van die ysberg versnel het, maar wetenskaplikes sê hulle het geen regstreekse bewyse om dié teorie te steun nie.

Hulle is egter bekommerd oor hoe ‘n skeuring die ysbank sal raak, gegewe hoe Larsen B in 2002 ná ‘n soortgelyke skeuring skouspelagtig verbrokkel het.

“Almal deel nie noodwendig ons siening nie, maar ons is oortuig die oorblywende ysbank sal minder stabiel as die huidige een wees,” sê Luckman.

“Ons verwag in die komende maande tot jare verdere skeurings en uiteindelik ‘n moontlike ineenstorting.

“Dit is egter baie moeilik om so iets te voorspel en ons huidige modelle dui slegs aan dat die ysbank minder stabiel sal wees – nie dat dit onmiddellik in duie sal stort of enigiets van dié aard nie.”

As Larsen C wegskeur en op die see dryf, sal dit nie watervlakke beïnvloed nie, maar as die ysbank verder verbrokkel kan dit tot gletsers lei wat spoed optel soos wat dit van die landmassa afgly. Dít sal wel seevlakke beïnvloed.

Na raming sal die seevlak met ongeveer 10 cm styg, indien al die ys wat nou deur Larsen C teruggehou word, in die see vloei.

Die moontlike uitwerking van Larsen C se afskeuring sal eers in die toekoms duidelik blyk.

Vir die oomblik word daar net voorspel dat Antarktika se kuslyn binnekort anders kan lyk.

“Die moontlike uiteindelike gevolg sou wees dat die ysbank in die komende jare tot dekades in duie kan stort,” sê Luckman.

“Selfs die hoër seevlakke in die gebied is nie nou op enigiemand se radar nie – dit is slegs ‘n groot geografiese gebeurtenis wat die landskap daar sal verander.” – BBC

Back to top

30. Op die rug van populisme

(Die Burger, 24 Januarie 2017)

Max du Preez

Maak jou gereed vir ‘n ongekende era van goedkoop populisme, hier in Suid-Afrika en elders ter wêreld.

Wees voorbereid op wilde beloftes en beroepe op mense se meer basiese instinkte; op etniese en rasmobilisering; jingoïsme en eng nasionalisme; die demonisering van die “ander”; aanvalle op die media; en outoritêre tendensies. Verstaan betyds dat ons daagliks te make gaan hê met verskynsels soos “post-waarheid”, “alternatiewe feite”, vals nuus en propagandaveldtogte.

Die vaandeldraer van dié nuwe era is die Amerikaanse president, Donald Trump. Rusland se Wladimir Poetin, sy groot vriend, is nie ver agter hom nie. En dan is daar Pole se Jaroslaw Kaczynski, Turkye se Recep Tayyip Erdogan, asook ‘n falanks verregse Europese politici wat aan die deur van mag klop – mense soos Nederland se Geert Wilders, Duitsland se Frauke Petry en Frankryk se Marine le Pen.

Maar ons hier aan die suidpunt van Afrika gaan pres. Jacob Zuma en sy kabaal se reaksionêre populisme baie meer aan die bas voel. As ons nog twyfel gehad het, het Zuma dit die laaste paar weke uit die weg geruim.

Hy gaan “witmonopoliekapitaal”, die onteiening van landbougrond, “radikale ekonomiese transformasie” en etniese mobilisering inspan om sy dalende gewildheid te probeer red en die aandag van sy persoonlike en finansiële skandes en van sy skelm vriende af te trek.

Hierin gaan hy ywerig bygestaan word deur die Gupta-familie se propagandamasjien, die heethoofde van die ANC se jeug- en vroueliga en splintergroepies soos Black First Land First, betaalde Twittergebruikers en ‘n vals nuusveldtog op sosiale media.

Wat al die nuwe generasie populistiese politici in gemeen het, is ‘n vrugbare teelaarde in die bevolking. Trump, ‘n miljardêr, het hom as die kampvegter vir die sukkelende laer middelklas, werkers en konserwatiewe Christene geposisioneer en die renons in die Washingtonse politieke establishment uitgebuit. Hillary Clinton het dié mense en sentimente onderskat.

Zuma se teelaarde is gevaarlike armoede, ongelykheid en werkloosheid en die werklikheid of persepsie dat wit rassisme nog hoogty vier.

Trump en Zuma se strategie en styl het veel in gemeen. Albei verstaan dat mense wat gemarginaliseer voel, vatbaar is vir manipulering en dat hul woede maklik gekaap en gekanaliseer kan word. Vereenvoudig wie die vyand is – die elite, die liberales, die minderhede, die media, die immigrante – en legitimiseer dan vooroordeel en onverdraagsaamheid. Posisioneer jouself as ‘n soort messias-figuur vir die klein outjie wat skielik bemagtig voel deur jou en dan deur die vuur vir jou sal loop.

Trump en Zuma het ewe min respek vir die waarheid of feite; albei baklei om hul persoonlike geldsake geheim te hou; albei kultiveer ‘n beeld van macho manlikheid wat grens aan vrouehaat; albei maak of hulle baie godsdienstig is, terwyl hul lewens en dade die teendeel suggereer.

Dit is interessant dat Trump so ‘n blinde, lojale gevolg in so baie gemeenskappe het, ook in Suid-Afrika. Etniese nasionaliste, rassiste, Islamofobe, seksiste, reaksionêre en mense wêreldwyd wat bitter en uitgesluit voel, sien hom as ‘n simbool dat hul vooroordele geldig en legitiem is. Trump wys namens hulle ‘n middelvinger vir verdraagsaamheid en gematigdheid – hulle sou sê vir politieke korrektheid. Dit is verstaanbaar. Wat moeiliker is om te begryp, is hoe hulle bereid is om sy leuens, skelmstreke, verdraaiings en manipulering so maklik te vergewe of te ontken.

Dit is ‘n verskynsel wat ons ook met Zuma se populisme sien. Die media in Amerika én hier het baie werk – en heelwat introspeksie – om te doen.

Back to top

31. ‘Toe swaai ek vir die trein uit’

(Die Burger, 12 Januarie 2017)

Eldred van Rensburg, Bellville

Ek dink nie Citroën was die eerste vervaardiger wat ‘n motor se voorligte saam met sy voorwiele laat draai het nie.

My pa, Frank, het ‘n Buick gehad. Ek was toe so twee of drie jaar oud.

Hy het self ‘n stelsel ingebou wat die motor se ligte saam met die voorwiele laat draai het.

Hy het ook die eerste “treinfluit” in die uitlaatstelsel ingebou.

My ma het altyd vertel van die keer toe hulle vir vriende anderkant Patensie gaan kuier het.

Dit was al donker. Toe hulle ‘n skotige opdraande nader, sien hulle ‘n motor se ligte naderkom.

My pa trek die “fluit” oop, en toe verdwyn die ligte.

Toe hulle oor die bult kom, sien hulle die motor se ligte in die bos langs die pad.

My pa stop toe om te help en vra die ou wat dan gebeur het.

“Man,” sê hy, “ek kon sweer ek het ‘n trein hoor aankom en my alie afgeskrik en toe die pad byster geraak.”

Back to top

32. Om te VLIEG

(Rooi Rose, Januarie 2017)

Vlieg kan ‘n nagmerrie word. Dis die gedagte aan die foltering van ingeperktheid, slaaploosheid en uiterste ongemak wat jou in koue sweet laat uitslaan, skryf GERDA TALJAARD

Voor ek my voet op ‘n vliegtuig sit, is ek al vlugvoos. Dis nie dat ek ‘n vliegfobie het of vlugsiek raak nie. Inteendeel, wanneer ‘n vliegtuig opstyg, gee dit my ‘n heerlike adrenalieninspuiting. Dis die blote gedagte aan die Middeleeuse foltering van ingeperktheid, slaaploosheid, opgeswelde voete, uiterste ongemak en veral die stryd om persoonlike ruimte wat my by voorbaat in koue sweet laat uitslaan.

Watter reisiger moes nie al baklei om sy medepassasier se elmboog of knie van sy sitplek af te hou nie? Om die waarheid te sê, het ek my ook al (onbewustelik) aan sulke gedrag skuldig gemaak. Dit was op ‘n stampvol vlug na Londen om ‘n rugbywedstryd in 2015 se Wêreldbekerreeks te gaan kyk. Saam met my op die vliegtuig was talle ander oproerige rugbyondersteuners met hul Springboktruie en rokershoese – ná drie uur sonder sigarette het die longe begin protesteer.

Tot my verligting het daar ‘n stywe Duitse tante langs my gesit wat ewe heilig op haar privaatheid was. Sy het nie geselsies probeer aanknoop of eens in my rigting gekyk nie, net stigtelik aan haar smaaklose aandete gekou en met oorfone na Handel geluister. My ideale reisgenoot.

Ná ete het ek my stryd aangepak om ‘n bietjie slaap te kry. Eers met bene uitgestrek, dan opgetrek. Eers op dié sy, dan op die ander, versigtig om nie my stroewe medepassasier te pla nie. Teen die oggend word ek verbasend uitgerus wakker … met my kop (al kwylende) op die Duitse tante se boesem.

Veel erger het my verlede jaar getref, dié keer op ‘n taamlike leë vlug na Amsterdam. Baie passasiers het uitgestrek op oop sitplekke gelê en slaap sodat dit genadiglik stil was. ‘n Kopverkoue het die slaap weggehou en ek moes maar gedurig opstaan en in die donker gangetjie toilet toe strompel om my neus te gaan blaas.

Op een van daardie uitstappies badkamer toe het ek gevoel ek stamp iets van een van die slapendes se sitplekke af. Dalk ‘n kussing, dink ek en buk om dit op te tel. Ek voel-voel in die donker rond en lig die (nogal swaar) voorwerp op. En daar staan ek met ‘n vreemde man se voet in my hand terwyl die arme mens ’n benoude kreet gee.

My suster was jare lank ‘n lugwaardin by ‘n bekende lugredery en het ‘n arsenaal staaltjies oor die stommiteite van die passasiers én haar eie blapse. Op ‘n keer moes sy ‘n blinde vrou en haar gidshond na ‘n sitplek heel agter in die vliegtuig lei. My sus sit haar hand op die vrou se skouer terwyl dié voetjie vir voetjie met haar labrador aanstap. Elke nou en dan vra die vrou “Is jy oukei, meisie?” en my suster antwoord: “Ek’s doodreg, baie dankie.” So gaan dit aan tot hulle by die regte sitplek kom. “Wat is jou hond se naam?” vra my suster nadat die vrou haar bedank het. “Meisie,” antwoord die vrou.

Dan is daar die storie van die ou oom van Mokopane wat na Melbourne in Australië op pad was – ‘n storie wat my suster ná al die jare steeds laat huil. Dit was die oom se eerste vlug, en die eerste keer dat hy sy enigste kleinkind sou sien wat toe al vyf was. Dit alles vertel hy elke keer wanneer my suster hom bedien, ook dat sy vrou drie maande gelede oorlede is. Sy kinders kon dit nie bekostig om die begrafnis by te woon nie, daarom het hy nou besluit om sy ou lorrie te verkoop sodat hy hulle darem weer kan sien, want jy weet nooit …

My suster was naderhand ietwat geïrriteerd met die man wat elke dan en wan nóg ‘n brandewyntjie bestel, net om nóg ‘n droewige storie met haar te deel.

Toe die lugturbulensie die vlug stamperig maak, vra hy haar hoekom die vlieënier dan so rof bestuur. Seker maar sy idee van ‘n grappie, dink sy, maar toe hy ná aandete in sy avokadogroen pajamas en pantoffels uit die toilet kom, besef sy dat hy dalk ernstig was.

Hy lyk ‘n bietjie verleë toe die ander passasiers hom openlik aanstaar maar my suster stel hom gerus. Sy sal hom die volgende oggend voor ontbyt wakker maak sodat hy betyds ander klere kan aantrek.

Die res van die nag verloop sonder enige voorval, en vieruur die volgende oggend gaan maak my suster die oom wakker. Maar hy word nie wakker nie en toe sy aan sy hande raak, is hy reeds yskoud. Hy het sy eerste vlug gehaal, sy laaste reis aangepak…

Vlieg kan ‘n nagmerrie wees, maar dit is die eindbestemming wat saak maak. Daardie oomblik wanneer jy die eerste keer ‘n plek sien en ‘n nuwe wêreld vir jou oopgaan. Of daardie oomblik wanneer jy ná ‘n vermoeiende lewensreis weer jou geliefdes aan die hand kan vat… rr

Back to top

33. Vra Hom Uit

(Rooi Rose, Januarie 2017)

Anet Schoeman

DIE SEKSUOLOOG DR. ELNA RUDOLPH SE WENKE

  • Kry maats wat ook enkel is, maar moenie gedurig met ‘n groot groep vroue (van ses of meer) uitgaan en hoop om mans te ontmoet nie. As jy in ‘n kleiner groepie is, sal loslopermans makliker begin gesels. As die groep groot is, is dit intimiderend om toevallige kontak te maak.
  • Moenie altyd net as ‘n groep vroue uitgaan nie. Vra dat elke vrou ‘n enkellopende mansvriend saamnooi net om in oefening te bly met mansgeselskap. As jy gereeld op informele vlak met mans sosialiseer, is jy gemaklik as jy dan op ‘n date gaan. Dis ook ‘n goeie geleentheid om iemand wat jy in die oog het saam te nooi. Lig hom via ‘n SMS in dat julle almal gaan fliek of wynproe en of hy lus is om saam te gaan. Dan is dit nie so ‘n groot stap nie.
  • Moenie by die huis sit en wag op ‘n wonderwerk nie. Dit laat jou net hulpeloos en desperaat voel. Aanlynafspraakwebwerwe werk. Dis die moderne manier om mense te ontmoet. Voorheen het jy ‘n pasmaat by die werk of die kerk ontmoet. Dinge werk nie meer so nie. Dis in elk geval erg ongemaklik as jy en ‘n kollega uitgaan en dinge loop skeef.
  • Mense trou ook later en vroue fokus aanvanklik op hul beroep. Op universiteit is jy omring deur talle moontlike huweliksmaats, maar as jy eers jou beroep wil vestig, kan jy sukkel om mense te ontmoet wanneer jy gereed is vir ‘n ernstige verhouding.
  • Dis vanselfsprekend dat jy sekere veiligheidsmaatreëls instel as jy ‘n vreemdeling gaan ontmoet. Kies ‘n openbare plek in ‘n omgewing wat jy ken. Gee nooit persoonlike inligting soos jou huisadres, telefoonnommer of werksplek nie.
  • Aanlynafspraak-apps soos Tinder stel jou in staat om met mekaar op Tinder te kommunikeer sonder om foonnommers uit te ruil. Sê altyd vir iemand dat jy met ‘n vreemdeling uitgaan, waarheen jy gaan, en hoe laat jy terug sal wees. Jy kan ook ‘n app soos Find Friends op jou foon aflaai wat vir ‘n vriend presies sal wys waar jy (oftewel jou selfoon) is.
  • Aanlynverhoudings wat langer as ‘n maand duur voor julle mekaar ontmoet, hou meer risiko’s in. Mense kan maklik voorgee om iemand anders te wees en teen die tyd dat julle mekaar ‘n paar weke later ontmoet, weet hierdie persoon al baie van jou af. Boonop is daar die kans dat jy tussen al die sexting en flankeerdery verlief geraak het.
  • Navorsing toon dat sowat die helfte van mans op afspraakwebwerwe reeds getroud is. As jy op die ingewing van die oomblik ‘n afspraak maak, is dit moeilik vir ‘n getroude man om sy sake so gou agtermekaar te kry. So skud jy hulle hopelik uit.
  • Boonop kan jy en jou date sommer vinnig sien of julle lus het om mekaar weer te sien. As die ou simpel is, drink jy jou drankie en gaan huis toe. Dis so eenvoudig soos dit.
  • Moderne vroue het veeleisende beroepe en werk lang ure. Dis soms moeilik om ‘n balans te kry tussen werk en speel en jy kan eensaam raak. Maak ‘n punt daarvan om elke week saam met iemand te gaan koffie drink/uit te gaan. Al ontmoet jy nie jou geesgenoot nie, maak jy dalk oulike vriende saam net wie jy pret kan hê. Of dalk ken hy weer iemand wat by jou sal pas. So vergroot jy jou sosiale kring. Vroue moet sosiale media gebruik om hul opsies te verbeter en hulself blootstel om in ‘n posisie te wees om nuwe mense te ontmoet.
  • Die geheim is om in oefening te bly, positief te wees en afsprake oopkop te benader. Daar is niks verkeerd met die idee dat jy meer as een ou gelyktydig sien nie. Hou jou opsies oop tot jy voel een ontwikkel in iets meer as net kuier.
  • Namate ‘n mens ouer word, besef jy daar is veel meer aan ‘n verhouding as die aanvanklike vonkelwynoomblikke wat jou voete onder jou uitslaan. Dis belangrik dat julle iets het om oor te gesels en vir mekaar interessant is, anders gaan die verhouding saam met die aanvanklike borrels platval.
  • Maak seker dat jy goeie geselskap is, anders gaan julle in lang ongemaklike stiltes sit en tande tel.

 

DIS NET ’N DATE…

Lu-Anne, van Lu-Anne Dating Couch, is ‘n verhoudingskenner en gee wenke as jy die voortou wil neem.

  • ‘n Afspraak is maar net ‘n paar uur wat jy in iemand se geselskap deurbring. As dit lekker is, is dit dalk die begin van iets wonderliks. As dit misluk, het jy minstens ‘n snaakse storie om te vertel. Moenie ‘n berg van ‘n molshoop maak nie.
  • Die moderne man is gemaklik daarmee dat ‘n vrou die eerste skuif maak. Maar daarna is dit sy beurt. As hy jul afspraak geniet het en jou weer wil sien, sal hy nie wag tot jy hom weer kontak nie.
  • Almal het ‘n ego wat gekneus voel as iemand nie “ja” sê nie, maar jy gaan nooit weet as jy nie waag nie. Onthou, mans is maar net so bang om die eerste skuif te maak.
  • Teksboodskappe is soos tennis, jy stuur een, dan hy, dan weer jy … Die sport werk net as julle albei die bal slaan. Meer as een opeenvolgende boodskap is te veel.
  • Hou geselskap lig en interessant. Bly weg van politiek, familieprobleme en drama.
  • Jy kan uit beleefdheid aanbied om die rekening te betaal as jy hom uitgevra het, of aanbied om die rekening te deel, maar as hy verwag dat jy vir alles betaal, moet jy dalk twee keer dink of jy hom weer wil sien.
  • Dis makliker om iets te dóén vir ‘n eerste afspraak, maar as jy besluit om te gaan fliek, het julle nie veel geleentheid om mekaar te leer ken nie. Spreek dan af om voor of ná die fliek koffie te drink.
  • As ‘n afspraak vir jou te vreesaanjaend klink, kan jy hom na ‘n groepfunksie nooi. Maar weet net dis moeilik om iemand beter te leer ken in ‘n groep. Lu-Anne stel voor dat jy hom eerder nooi om ‘n aktiwiteit saam met jou te doen.
  • As daar gemeenskaplike belangstellings is soos dat julle interessante wyne waardeer, kan jy hom na jul wynklub se volgende wynproe nooi. Dan is dit nie so formeel soos ‘n afspraak nie, en julle het reeds iets om oor te gesels. www.lu-anne.co.za

Back to top

34. Advokaat loop sy rieme styf in hof

(Die Burger: Eiendomme, 28 Januarie 2017)

GUSTAF PIENAAR

Egskeiding bly maar ‘n hartseer saak – selfs vir regspraktisyns.

As jong prokureur het ek nogal probeer om mense tot ander insigte te bring.

Ek onthou die gawe jong man wat op ‘n dag voor my lessenaar kom sit het: Hy wou skei. Ek het mooi gepraat diékant en dááikant toe en hom gevra om tog weer goed oor die aangeleentheid te gaan nadink.

‘n Paar dae later het hy in ‘n nota laat weet: “Ek wou hê jy moet my skei, nie my huwelik red nie.” Hy het ‘n paar rand ingesluit vir sy koste en laat weet dat hy ‘n ander prokureur gekry het.

Nog later het ek die waarheid agtergekom: Daar was toe al die tyd ‘n nuwe liefde in sy lewe.

Omdat by haas elke egskeiding die betaling van onderhoud en die verdeling van die ongelukkige paartjie se wêreldsgoed ter sprake kom, is dit seker nie onvanpas om vir ‘n slag een van my rubrieke daaraan te wy nie.

Die aanknopingspunt is ‘n onlangse uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad wat in die eerste bundel van 2017 se hofverslae opgeneem is.

Die uitspraak lees soos ‘n riller; ek kan nie onthou dat so iets al voorheen in die Suid-Afrikaanse hofverslae verskyn het nie.

Dit vertel die verhaal van ‘n verhoor wat 50 hofdae – die meeste klaarblyklik stormagtig – geduur het.

Die eiser was ‘n vrou wat teen haar senior-advokaat-man eise ingestel het vir ‘n verdeling van hul boedel ooreenkomstig die aanwasbedeling, en maandelikse onderhoud ten bedrae van R30 000.

Die man was 53 jaar oud en sy vrou 28 toe hulle 24 jaar gelede getroud is. Sy was van Hamburg in Duitsland, kon omtrent net Duits praat en was reeds ver swanger.

Onseker of sy met die advokaat moes trou, is sy terug Duitsland toe, waar hy haar besoek het en onhoudbare druk op haar geplaas het: “Trou nóú met my, of vergeet vir ewig daarvan.”

Die man was voorheen getroud en het met sy eerste egskeiding ‘n groot finansiële knou gekry.

Klaarblyklik het hy hom voorgeneem om nooit weer in so ‘n strik te beland nie, en het hy sistematies te werk gegaan om sy aansienlike bates in ‘n web van trusts en maatskappye – hier en in die buiteland – weg te steek.

Suid-Afrikaans ontwerpte huweliksvoorwaardekontrak wat die paartjie in Duitsland onderteken het, het ‘n klousule bevat wat later die argwaan van die hof ontlok het.

In ruil vir betreklik geringe bates wat die man aan sy bruid geskenk het, moes sy onderneem om nie eendag as hulle om welke rede ook al sou skei, ‘n onderhoudseis teen hom in te stel nie.

Sy sou selfs nie geregtig wees op onderhoud van sy boedel nie, sou hy voor haar te sterwe kom!

Ruimte ontbreek om die man se skema om ‘n huwelikskontrak met sy jong Duitse bruidjie te sluit wat hóm alleen gepas het, volledig te bespreek.

Dit het waarnemende regter Weinkove – wat kwalik sy irritasie met die gedrag van ‘n senior en gerespekteerde advokaat kon onderdruk – laat opmerk dat die man die egskeiding reeds haarfyn beplan het voordat hulle getroud is.

Die regter verklaar uiteindelik die vrou se eensydige afstanddoening van onderhoud in die huweliksvoorwaardekontrak nietig.

Dit is onbillik, druis in teen die openbare belang en teen sekere bepalings van die Grondwet, die Wet op Egskeiding, die Wet op Huweliksgoedere en die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades.

Oor die kwesbare posisie waarin die vrou haar in Duitsland bevind het toe sy die kontrak onderteken het (haar Duitse regsadviseurs was onkundig oor die Suid-Afrikaanse huweliksreg), sê die regter dat geen Suid-Afrikaanse prokureur met ‘n greintjie selfrespek haar sou geadviseer het om só ‘n eensydige huweliksvoorwaardekontrak te sluit nie.

Gedurende die loop van die uitgerekte egskeidingsgeding was die man daarop uit om dit so moeilik moontlik vir die vrou te maak om die saak tot finaliteit te bring.

Die regter sê hy het ‘n roekelose “geskroeide aarde”-veldtog gevoer om die koste van die geding op te jaag en haar op dié manier finansieel te knak. Hy was ontwykend en klaarblyklik ook oneerlik oor die omvang van sy boedelbates.

Sy kierankies het uiteindelik gebraai.

Hy is beveel om die helfte van sy boedel van R22 miljoen (‘n minimum waarde wat die hof oplaas kon vasstel) aan die eiseres oor te betaal, asook maandelikse onderhoud ten bedrae van R30 000 – wat jaarliks ooreenkomstig die inflasiekoers aangepas sal word.

En dan is daar ‘n nogal pikante bykomende bevel.

Sedert 1 September 2016 is die vrou ook geregtig op ‘n Subaru Outback-motorkar – nogal “mét lugreëling en kragstuur” – wat die man elke vyf jaar met ‘n soortgelyke motor moet vervang.

Om sy afkeuring van die man se gedrag te betoon, het die regter hom ook gelas om die vrou se regskoste grotendeels op die bestraffende skaal van prokureur en kliënt te betaal.

Hierdie uitspraak is ‘n morele kompas vir mense wat met sterre in hul oë ewige trou aan mekaar beloof.

Die huweliksbootjie kan nie vertrek met slegs ‘n reddingsboei vir één van die partye aan boord nie.

  • Verwysing: W v H 2017(1) SA 196. (Die partye in egskeidingsgedinge mag nie geïdentifiseer word nie – wat ‘n sinvolle beleid is ter beskerming van sulke mense se privaatheid en waardigheid.)
  • Pienaar is ‘n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy beantwoord graag vrae van ‘n algemene aard, maar gee nie persoonlike regsadvies nie. Hy is per e-pos by c.gustafpienaar@gmail.com bereikbaar.

Back to top

35. Om te goeder trou geld aan vriende te leen – ai tog!

(Die Burger, 28 Januarie 2017)

Gustaf beantwoord lesersvrae

André van die Wes-Kaap vra vandeesweek vir my:

“Hoe hanteer ‘n mens dit as jy te goeder trou geld aan ‘n vriend voorgeskiet het en nou sukkel om dit terug te kry – al was daar net ‘n klein terugbetaling as gebaar oor Kersfees? Kan ‘n mens maar dreig om hom te laat aanskryf, of skryf jy hom sonder meer aan?”

Dit is wat jou te doen staan:

André, dis maar die ou-ou storie.

Mense vra gewoonlik vriende (dikwels ook familie) om hulle geldelik te help as hul wéét die bank gaan nee sê. Dan behoort daar gevaarligte te flikker.

Wat die bank as ‘n risiko beskou, is dan mos ook vir jou ‘n risiko.

As ‘n mens wíl help en jy kan dit bekostig, skenk dan eerder die geld en maak vrede daarmee. (Onthou net daar is ‘n perk op wat jy jaarliks belastingvry mag skenk.)

Maar wat as jy nie sulke vrygewigheid kan bekostig nie?

Betaal ‘n paar rand en laat ‘n prokureur vir julle ‘n skulderkenning opstel wat voorsiening sal maak vir:

  • rente,
  • ‘n terugbetalingstermyn; en
  • selfs ‘n versnellingsklousule as die skuldenaar byvoorbeeld ‘n paaiement sou oorslaan.

As ‘n groot bedrag ter sprake is, moet julle ook kyk na ‘n geskikte vorm van sekuriteit vir die lening – soos ‘n verband of selfs lewensversekering.

Die gevaar met sulke private lenings is maar altyd verjaring. André is gelukkig: die betaling wat hy onlangs ontvang het, het straks die verloop van verjaring gestuit.

Moenie die man self probeer opskroef nie, André.

Gaan spreek ‘n geakkrediteerde skuldinvorderaar. Hulle werk daagliks daarmee.

Back to top

36. Bly GESOND

Deur SALOMÉ DELPORT

(Rooi Rose, Februarie 2017)

Duisend dae…

Die voeding wat jou kind in die eerste duisend dae van sy lewe kry, bepaal sy brein se ontwikkeling

Leer jóú kosbare kind dat die volgende paar items altyd beter waarde as gemorskos bied:

Grondboontjies en neute, eerder as lekkergoed. • Jogurt, eerder as oliebolle. • Stil en vonkelwater, eerder as koeldranke of vrugtesap. • ‘n Vrug eerder as sjokolade. • Biltong eerder as skyfies.

Waar kry jy jou DRUKKIES?

Aanraking is vir ons emosionele moedersmelk maar dit is ook fisiek goed vir ons. Dit verminder byvoorbeeld die inflammasie wat aan hartsiektes en Alzheimersiekte gekoppel word. Maar waar kry jy drukkies as jy enkellopend of bejaard is? Selfs mense binne huwelike gee nie noodwendig daagliks vir mekaar drukkies nie. Navorsing wys ander soorte kontak tel óók.

 

  • Hou iemand se oog ‘n paar sekondes.
  • Sit jou hand op iemand se arm of skouer wanneer jy met hom gesels.
  • Groet mense met ‘n drukkie, eerder as met ‘n soen.
  • Gee jouself ‘n drukkie. Omarm jouself.
  • Masseer jou kopvel of jou voete.
  • Druk met jou een hand jou ander arm van jou hand tot by jou skouer.
  • Kry ‘n kat of hond. Hulle hou van aanraking, en vly hulle graag teen ‘n menselyf aan.

 

WAT VAN ‘VAPE?’

Die dokkie A Billion Lives maak dit evangelie dat e-sigarette ‘n miljard lewens kan red. Dit is nou as al die rokers na e-sigarette oorskakel. Hul hoofpunt is dat hierdie “lewensreddende instrument” deur groot geld onderdruk word. Hulle bied hul perspektief baie oortuigend aan. Hier is drie teenargumente: 1 Die dokumentêr ignoreer die ooglopende feit dat géén rook beter is as vaping en gewone rook. As die voorstaanders van vaping werklik so bekommerd is oor ons gesondheid waarom dan nie net die verbouing van tabak help staak nie? 2 En gaan die mense wat vaping bevorder nie ook groot geld daaruit maak nie, as hulle ons net kan oorreed om dit te gebruik? 3 Hulle grond hul stellings dat vaping gesond is nie op navorsing wat dit so bevind het nie maar op die afwesigheid van navorsing daaroor. Vaping is ‘n nuwe verskynsel. Dus kan die langtermyngevolge nog nie gemeet word nie.

Maar pleks van die advertensies, promosies en dokkies te glo, kan jy gaan kyk wat navorsers op PubMed daaroor sê. Jy sal vir seker hierdie een raakloop: navorsing deur dr. Jessica Wang-Rodriguez, kop- en nekkankerspesialis van UCLA, se navorsing wys dat e-rook twee keer meer skade aan jou selle se DNS aanrig en tien keer meer selle laat sterf as skoon lug. Dit impliseer dat e-rokers net soos rokers in alle waarskynlikheid ‘n hoër risiko op talle kankers het.

Back to top

37. Raad met goor reuke in jou huis

(Die Burger: Eiendomme, 28 Januarie 2017)

Linette Retief

Daar is niks só erg soos slegte reuke in ‘n huis nie. Benewens die feit dat dit vir die inwoners van die huis onaangenaam kan raak, meen eiendomskenners slegte reuke kan voornemende kopers afsit as hulle vir die eerste keer na jou huis kom.

Het jy al agtergekom dat sekere dele van jou huis nie só vars ruik nie?

Hier is inligting oor die mees algemene reukprobleme in huise en raad oor hoe om dit beter te maak:

  1. Sigaretrook: Die reuk van sigaretrook sit in matte en die vesels van meubels vas lank nadat die rook reeds weg is. Kenners stel voor jy strooi koeksoda oor die onwelriekende oppervlak en laat dit daar lê vir ‘n hele paar uur. Daarna kan jy ‘n stofsuier gebruik wat deur water filtreer om die koeksoda op te suig.
  2. Kombuisafval: Dit is nie genoeg om net elke dag die rommel uit te gooi nie. Jy moet alles weggooi wat in die vullisblik is en dit binne en buite met skoonmaakmiddels ontsmet.

As jou vullisblik besonder vuil is, neem dit eerder uit die huis. Spuit dit met ‘n ontsmettingsmiddel en spoel dit dan deeglik af. Nog ‘n wenk: Plaas bederfbare artikels in ‘n kleiner plastieksak wat kan seël voordat jy dit weggooi.

  1. Yskas: Koeksoda is die beste oplossing vir ‘n yskas wat nie lekker ruik nie. As dit steeds sleg ruik selfs nadat jy die koeksoda gebruik het, probeer om dit met geaktiveerde steenkool aan te vul. Maak dit deel van jou roetine om gereeld in jou yskas te kyk of daar kos is wat sleg geraak het. Was jou yskas ook elke week deeglik met seep en water.
  2. Koffiepot: Die reuk van vars gemaalde koffie kan aanloklik wees, maar dit raak al hoe onaangenamer hoe langer dit talm.

Só kan jy die probleem oplos: Vul die pot met een deel wit asyn en twee dele water.

Gooi die oplossing in die waterbak en skakel die koffiemaker aan. As die pot ‘n filter het wat jy weer kan gebruik, hou dit in die koffiemaker.

Laat die asyn deur ‘n hele siklus in die koffiepot loop. Jy sal dalk ‘n venster hiervoor wil oopmaak om die reuk van die asyn te laat verdamp. Wanneer die oplossing klaar gekook het, laat die koffiemaker afkoel en herhaal die proses. Daarna moet jy die koffiemaker nog twee keer met water kook, dit was en met water afspoel.

  1. Troeteldiere: Dit kan help om jou meubels in die son te laat staan om reuke van troeteldiere te laat verdamp.

Daarna moet jy dit met ‘n stofsuier met ‘n waterfiltreerder stofsuig.

Daar is ook ‘n verskeidenheid gespesialiseerde reukweerders by kleinhandelaars en troeteldierwinkels wat met dié soort reuke kan help.

  1. Skottelgoedwasser: Soms kan ‘n mens nou maar net nie vasstel waar die snaakse reuke in jou kombuis vandaan kom nie.

Dit sal goed wees om jou skottelgoedwasser te ondersoek, want kosreuke is geneig om dikwels aan dié toestel vas te kleef.

Gooi twee koppies wit asyn pleks van reiniger in die masjien terwyl dit leeg is.

  1. Muf: Muf floreer in vogtige omgewings soos badkamers en kelders. Die beste oplossing hiervoor is om al jou vensters op ‘n warm dag oop te maak en ‘n ontvogtiger aan te skakel. Gebruik ‘n waaier om die lug te sirkuleer. Verwyder ook klam handdoeke, matjies en stortgordyne en was dit in die wasmasjien. Meng gelyke dele bleikmiddel en water en bespuit die teëls in die badkamer daarmee.
  2. Laaie: Strooi koeksoda in jou laaie en los dit daar vir ‘n paar uur of selfs dae. Suig dit met ‘n stofsuier op. As die reuk bly, sit sakkies met potpourri in die laai.
  • Bron: Property24, met vergunning van home-dzine.co.za.

Back to top

38. Kyk hie’! Die vjêrfdromme isj dan vol whisjkie!

(Die Burger, 3-4 Februarie 2017)

Cara-Lee Dorfling

Duur drank wat vir Saoedi-Arabië bestem was, is gisteroggend in verfdromme in Port Elizabeth gekonfiskeer.

Die polisie het op inligting gereageer en ‘n skeepsvraghouer in Markman met 480 Wondercoat Paint-verfdromme van 20 liter elk ondersoek.

Konst. Mncedi Mbombo, polisiewoordvoerder, sê 97 van die verfdromme bevat drank.

Die dromme met drank is gevind in die onderste en middelste rye van die splinternuwe verfdromme in die skeepshouer.

Elke derde houer was met drank gevul, terwyl die res verwaterde verf bevat het.

Die polisie het van hul bron verneem die drank is Johnnie Walker Black Label-whisky.

Dié 1 940 liter wat gevind is, is die ekwivalent van meer as 2 500 bottels en sowat R1 miljoen werd.

Volgens die polisie word die drank vermoedelik teen dubbel die waarde in Saoedi-Arabië verkoop.

Die koper moet nog opgespoor word. Die polisie ondersoek klagte van bedrog en die onwettige verkoop van drank.

Rolf Dahler, eienaar van die Wondercoat Paint-tak in Port Elizabeth, sê hy is dronkgeslaan oor die vonds.

“Net wanneer ‘n verfdrom beskadig word, sal ons ‘n nuwe, leë verfdrom aanvra.

Francois Joubert van die hooftak in Welkom kon ook nie sê hoe die drank in hul verfdromme beland het nie. “Leë dromme word baie selde weggestuur.”

Jy op Facebook en Netwerk24

Duur drank wat vir Saoedi-Arabië bestem was, is Donderdag in verfhouers in Port Elizabeth gekonfiskeer.

 

  • Nou kan ‘n mens gepleister en geverf raak. – Anton Bouwer
  • Dis die soort verf waarmee jy die dorp rooi verf. Daar gaan met nuwe oë na verfhouers gekyk word. Sonder om kwasterig te raak! – Matthys CJ de Beer
  • G’n wonder nie dat hulle sê ons drink te veel in SA. Ons smokkel dan glad die goed in paint-blikke… – Enrico Hartzenberg
  • Johnny Painter. – Danmar King
  • Hoeveel is al deur? Hierdie was seker maar ‘n druppel aan die emmer! – Wessel du Toit
  • Ek sjal nie kan sjkilder nie hahaha… – Anet du Toit
  • Dronkgeslaan voorwaar. Is daar nie baie streng drankbeheerreëls in die Midde-Ooste nie? – Elane vd W
  • Glo my as ek sê daar is niks drank in Saoedi-Arabië nie. – Elmien Goss
  • “Intussen sê Rolf Dahler, eienaar van die Wondercoat Paint-tak in Port Elizabeth, hy is dronkgeslaan…” – FC
  • .. skerp! – etrhfgfdgn

 

Jy SMS

  • Dis toe nie water in wyn nie. Hulle verander sommer verf in whisky. Slim, man! Magda, Despatch
  • Wou lankal my huis ‘n whiskykleur verf.
  • Ek begin sommer môre. Hoop my trapleer is stewig. André, Durbanville
  • Dis verf in daardie blik / ja, dis verf in daardie blik / dalk bietjie dunnerig / maar genoeg laat jou kwassie knik. Pieter

Back to top

39. Gholfbane kry wind van voor in China

(Die Burger, 24 Januarie 2017)

Reuters

Die Chinese regering het opdrag gegee dat meer as 100 gholfbane in dié land gesluit moet word in ‘n poging om onwettige ontwikkelings in die kiem te smoor.

Hoewel nuwe gholfbane in 2004 reeds verbied is deur owerhede in Beijing omdat bewerkbare grond en waterbronne skaars is, het ontwikkelings bly opskiet om te voldoen aan die vraag van Chinese welgesteldes.

In 2011 het die regering strenger begin optree en sedertdien is opdrag gegee dat 111 van China se 683 bane sluit, het die nasionale ontwikkelings- en hervormingskommissie gesê.

Volgens dié kommissie het verskeie ontwikkelaars hul bane op onwettige wyse op bewerkbare grond uitgelê.

Ontwikkelaars moet nog die grond waarop 18 bane onwettig gebou is, teruggee. ‘n Verdere 47 is verbied om met konstruksiewerk voort te gaan.

Back to top

40. Rassie moet twee keer dink

(Die Burger, 24 Januarie 2017)

Stephen Nell

Teen nou is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hoop dat Rassie Erasmus bereid sal wees om die Ierse klub Munster die rug toe te keer om die Springbokke te kom afrig.

As dit hoegenaamd Erasmus se droom is om die Bokpos te beklee, kan daar nie ‘n beter geleentheid wees nie. Dit het verlede seisoen só sleg met die Bokke gegaan dat daar vanjaar slegs ‘n verbetering kan wees.

Erasmus kan die bepalings dikteer en vir hom ‘n waterdigte kontrak beding.

As ek in sy skoene gestaan het, sal ek dit egter van die hand wys. Die feit van die saak is dat om die Bokke af te rig byna altyd in trane eindig en selfs die einde van jou loopbaan kan beteken. Jy én jou gesin gáán seerkry.

Jan en Alleman verkeer boonop onder die illusie dat ‘n span met ‘n historiese wenrekord van skraps oor die 60% eintlik onoorwinlik moet wees, en die politici sirkel soos aasvoëls bo jou kop.

As jy die besluit van emosie stroop, is dit slegs blinde patriotisme wat dit aantreklik kan maak om die Bokke af te rig. Wat wel duidelik is, is dat Saru sy geloof in Allister Coetzee as Bok-afrigter verloor het.

In ‘n onderhoud oor die naweek met ons susterspublikasie City Press, het Saru se president, Mark Alexander, gesê daar is onsekerheid of die beheerliggaam met Coetzee gaan volhard.

Tussen die lyne gelees oorweeg Saru sy opsies. Indien Erasmus nie belangstel nie, is een van die oorwegings om deur ‘n sterker bestuurspan pleisters oor die gebreke te plak. Dit kan gedoen word deur middel van hulpafrigters soos Franco Smith en Johan Ackermann.

Laasgenoemde is natuurlik ook ‘n moontlike kandidaat vir die hoofafrigterspos, maar kan dalk doen met nóg ‘n seisoen of twee se ervaring.

Sonder dat Saru werklik geloof in hom het, gaan Coetzee bitter eensaam raak in sy pos. Dit reduseer ook die afrigtersindabas tot ‘n klug, want die man wat dit lei, se vermoëns word deur sy werkgewer in twyfel getrek.

Tweedens loop hy die gevaar om deur die Suid-Afrikaanse publiek as ‘n marionet beskou te word, met die mag wat eintlik agter die skerms sal lê.

Coetzee is verlede jaar tot ‘n mate vir die wolwe gegooi met die omstandighede rondom sy aanstelling en die aanstel van ‘n swak bestuurspan. Hy het egter ook tot sy eie ondergang bygedra en was teen die einde van die jaareindtoer ‘n afrigter sonder antwoorde.

Als in ag genome, sal dit in ál die partye se belang wees as Saru en die huidige Bok-afrigtingspan se paaie skei.

Die beheerliggaam soek iets beter in die mark en sal dit waarskynlik ter wille van borgskappe móét vind.

Dat Erasmus baie het om te bied, blyk duidelik uit wat hy tans by Munster vermag. Onder die Iere is daar ook vir hom geweldige waardering en bevind hy hom in ‘n werksomgewing waar daar geen van die onplesierigheid is wat daartoe aanleiding gegee het dat hy sy pos as Saru se hoof van rugby ontruim het nie.

Nóg ‘n faktor is dat Erasmus in die Suid-Afrikaanse konteks nie gemaklik was met die druk wat met afrigting gepaardgaan nie.

In die Kaap het hy besluit om die leisels van die Stormers-afrigtingspos aan Coetzee te oorhandig om eerder agter die skerms aan die groter prentjie te werk.

Die Bok-pos is nóg ‘n warmer patat as wat die Kaapse rugbybase en media-sirkus skep. Waarom dan ‘n span waar die positiewe energie vloei die rug toekeer om onder toksiese omstandighede te werk?

Back to top

41. Lekker gesous

(Rooi Rose, Januarie 2017)

Soms maak sjefs en kokke om den brode kos, maar soms is hulle hul sous werd en lewer hulle ‘n onvergeetlike bydrae …

Deur MARIËTTE CRAFFORD

Dis toe die kok, wat voorheen as die laagste soort slaaf bejeën is, die eerste keer aansien gekry het, en dit wat voorheen as knegskap gesien is as ‘n kuns begin beskou is, dat Rome se verval begin het.”

Want daarmee saam het onthale oordadige geleenthede geword en dit het tot Rome se ondergang gelei, het die Romeinse geskiedskrywer Titus Livius van Padua, vanjaar presies tweeduisend jaar gelede voor sy heengaan geskryf.

Vertonerige, buitensporige bankette met allerhande souse as bindmiddele en pronkstukke het die botoon gevoer. Voordat die Romeinse tiener-keiser Heliogabalus op 18 in ‘n sluipmoordaanval dood is, het hy eers sy stempel van uitspattigheid en eksentrisiteit wat kos betref, afgedruk.

Keiser Heliogabalus het nie net ‘n koslus gehad nie – hy het veral ‘n voorliefde vir nuwighede gehad, skryf Felipe Fernández-Armesto in sy boek Food – A History.

“Op sy bankette wou hy ondenkbare skeppings laat voorsit. Hy wou leef in ‘n wêreld waar eienaardigheid as normaal beskou moes word. Sy aptyt was vir kos-surrealisme.

“Hy het ganslewer vir sy honde voorgesit. Sy mens-gaste het hy trakteer op ertjies beklee met goud en lensies met oniks, boontjies getooi met amber en vis bestrooi met pêrels.”

Daarby het hy glo ‘n gereg met 600 volstruiskoppe laat skep en ‘n visgereg bestel met ‘n blou sous om die see na te boots.

Sous was vir keiser Heliogabalus van die allergrootste belang wanneer dit by die tafelvreugdes gekom het. Wanneer hy nie van ‘n sjef se sous gehou het nie, het hy glo die “niksnuts” verbied om enigiets anders as die “aanstootlike” sous te eet totdat hy dit verbeter het.

Dié sogenaamde “kultus-van-die-sous” het ‘n elitistiese toetssteen onder die adellikes en hoëlui geword. Die Franse fynproewer Brillat-Savarin skryf hoedat ‘n stuk ham wat bedek is met die sous wat van 49 soortgelyke stukke ham afgekook is aan die Prince de Soubise (na wie Soubise-sous vernoem is) voorgesit is.

Ter bevestiging van die belangrikheid van souse – wat beskryf word as die vloeistof wat ‘n gereg help geur – bestaan ‘n groot deel van die oudste Europese resepteboek wat behoue gebly het juis uit sousresepte.

En insgelyks het Antonin Carême hom van armoedige tot adellike losgekook met onder meer sous – trou aan die tradisie van die Franse jus – as die pronkstukke van sy luisterryke loopbaan as meestersjef. As een van 25 kinders van ‘n brandarm ouerpaar het sy pa hom as jong seun een aand vir oulaas goed laat eet en hom toe by die taverne by een van die stadshekke in Parys gelos met die hoop dat iemand hom of haar oor sy seun vir wie hy nie meer kon sorg nie, sou ontferm. Carême, wat nog nie 15 jaar oud was nie, het by ‘n eenvoudige koswinkel as kokskneg ingeval. Met sy sonderlinge kostalent het hy algou opgang gemaak en uiteindelik het sy toewyding en begaafheid hom die mees gesogte chef de cuisine aan die howe van konings en prinse gemaak.

Hy is met die hoogste vorme van erkenning vereer en staan vandag nog bekend onder die eretitel “Die Sjef van konings en die Koning van sjefs”.

Amper só was dit in die huishouding van ‘n Johannesburgse kunstenares. Sy was ‘n allerlieflikste alleenloper met ‘n vrye gees wat haar togte na woestyne en oor berge en dale laat aanpak het. Hoewel kunstenaars dikwels ‘n sukkelbestaan voer, was dit anders in haar geval. Danksy haar besondere kunstalent was haar kunswerke gewild en kon sy ‘n gemaklike lewe lei. Sy het baie geswerf en haar Huishouding aan ‘n liefderyke huishoudster, wat ook ‘n knap kok was, se sorg toevertrou.

Wanneer sy dan ná maande lange uittogte terugkeer, was haar huis gepoets en haar gunstelinggeregte op tafel. Daarby het haar huishoudster metterjare soos ‘n geliefde vriend en familielid geword. Die verwelkoming was elke keer hartlik.

“En wat is jou gunstelinghuiskos nadat jy soms saam met woestynnomades kameelmelk uit volstruiseiers gedrink het en koedoeharte rou moes eet?” het iemand haar eendag gevra.

Haar huishoudster-kok het net mooi geweet wat om voor te berei om haar kunstenaarwerkgewer-vriendin te behaag: Spinasie-en-tamatie-sous met stywepap, vrugtige Kaapse kerrie met ‘n langsous, melksnysels met kaneelsous, het sy opgenoem.

“Maar die lekkerste is wanneer ek afgepak het en ons klaar geëet en opgeruim het … Dan skink sy vir ons elkeen ‘n dubbele dop whisky in bababottels. Sy gooi ‘n ysie of twee in, draai die proppe met die spene op die bottels en dan gaan lê elkeen op ‘n bank in die sitkamer – met die bottel whisky binne reikafstand byderhand! – en begin gesels. Oor die swerftog en oor die dinge wat by die huis gebeur het,” het sy vertel.

Danksy die tietiebottels hoef hulle nie regop te kom om te drink en te sluk nie, het sy verduidelik. Behalwe, natuurlik, om weer en weer ‘n dubbelsopie in die bababottels te skink.

“En so lê ons moeiteloos en drink en gesels en raak dan baiekeer net daar op ons banke met ons tietiebottels whisky aan die slaap. Lekker gesous …” rr

Back to top

42. Kookboek ding oorsee mee

‘KOOK SAAM KAAPS’ ‘N TOPVERKOPER

(Die Burger, 7 Januarie 2017)

Romantha Botha

“Dit voel nog soos ‘n droom. Eers het ons gedink dat die boek ná die TV-program sou uitsterf. Soos ons in die Kaap sê, die ding ruk … en dit ruk handuit!”

So vertel tannies Flori Schrikker (64) en Koelsoem Kamalie (69) van Bonteheuwel, wie se kookboek, Kook saam Kaaps, onlangs deur die Gourmand-kookboek-beoordelaars as die beste nasionale kookboek aangewys is.

Die boek ding nou mee met internasionale boeke om die Gourmand-wêreldkookboekprys wat in Mei in China aangekondig word.

“Toe ek die nuus hoor, was ek stomgeslaan. Ek is ‘n baie emosionele mens en het byna heeldag gehuil,” vertel Schrikker.

Die boek is reeds 38 weke lank die topverkoper op die Nielsen-peiling en ‘n topverkoper in Suid-Afrika.

Kamalie sê om te kook was nog altyd in haar bloed.

“Ek het by my ouma grootgeword en daar was altyd potte aan die kook. Almal wat na haar huis gekom het, het altyd met ‘n vol maag daar uitgestap. So ook in hierdie huis. Dit maak my gelukkig om heerlike kos aan ander voor te sit,” vertel sy.

Hulle sê die kookboek is waarskynlik so suksesvol oor die maklike resepte.

“Dit is bestanddele wat almal in hul huis het. Niks fancy nie, net maklike kos wat ver kan gaan. Ons het in groot gesinne grootgeword en my ouma het altyd kos gemaak wat die hele gesin kon voed,” vertel Schrikker.

Terwyl sy ‘n pynappeltert binne vyf minute aanmekaarslaan, gee sy sommer ‘n stukkie raad oor die liefde ook.

“Die moderne vrou sê altyd dat hulle nie tyd het nie, maar hulle sal moet tyd maak, want die pad na ‘n man se hart is deur sy maag,” sê sy.

Die twee bobaaskokke maak ook seker dat die mae van die kinders in die gemeenskap gevul is deur ‘n sopkombuis te bedryf.

“Soos jy kan sien, my huis is altyd oop en hier is altyd mense wat hier in en uit,” sê Kamalie.

Hulle het ook ‘n tweede boek, Soettand, wat eersdaags drukkers toe gaan en teen Februarie op die rakke verskyn.

In die boek deel hulle soetgebak en poedings wat reeds jare lank familiegunstelinge is, soos onder meer ouma Rose se doekpoeding, ‘n onderstebotert, potpoeding en tweegevrietjies.

Hulle is ook bekend vir hulle kookreeks Flori en Koelsoem se kosse Woensdae op Via.

Back to top

43. TE KOOP

Perkings braille masjien te koop. Goeie werkende orde.

Prys: R1000

Kontak: Annette Slabbert

012 386 8355

072 872 2544

Back to top

44. Dolverlief op malskommels

AanTafel

(Die Burger, 1 Februarie 2017)

Errieda du Toit

Melkskommels laat my dink aan die groot tienerliefde van die eendstert Danny Zuko en die stroopsoet Sandy Olsson, aan T-Birds en die Pink Ladies. Melkskommels en musiekrolprente beleef dieselfde terugkeer, moontlik om dieselfde rede: ontvlugting van die werklikheid.

Melkskommels uit ‘n era van diners, inryflieks en stoofpypbroeke is ‘n bleeksiele teenoor die bygewerkte weergawe van die 21ste eeu. Deesdae se melkskommels, bekend as freakshakes of crazy shakes, beeld eerder die warboel van die tydsgees uit, en doen dit in turboversnelling.

Dis soos Herman Lensing, nuwe kosredakteur van Sarie Kos sê: ‘2017 is die jaar van suikersoet drome en magiese melkskommels.” Op die voorblad van die nuwe #somersoet-uitgawe pronk ‘n dekadente grondboontjie-en-karamel-skommel wat die tendens se topstatus bevestig.

Die gier het in 2015 by Patissez, ‘n bakkery in Canberra, begin. (Dis soet toeval dat Sandy van Grease en Olivia Newton-John, wat haar karakter speel, van Australië is.) Al het die skeppers van freakshakes dit as ‘n handelsmerk geregistreer, is dit nou ‘n generiese naam vir dié eienaardige en wonderlike mal-monster-melkskommel-kaloriebomme.

En dis orals, nie net op Instagram nie. My Sugar, ‘n sjokolade-koffiekroeg in Seepunt, is maar een van vele Kaapse plekke waar ‘n karnaval van tooisels glas toe kom – van miso karamel en toffie-springmielies tot sjokoladebruintjies en sjokolade-skerfkoekies.

Dis asof die torings soet sonde rebelleer teen die “skoon-eet”-beweging, ‘n hutsmerktendens wat die teenoorgestelde verteenwoordig. Hoe meer ‘n malskommel na ‘n vulkaniese uitbarsting lyk en hoe groter die chaos, hoe meer wys dit vuis na die kospolisie en eetreëls.

Malskommels verwelkom snye koek, soetkoekies en geroosterde malvalekkers. Strepe sjokoladesous, vrugtestrope en/of karamel drup in trane van blydskap oor die glas se rand. Bollings gegeurde room is taamlik standaard. Soetgoed op strooitjies, honderdduisende kleursprinkels, grondboontjiebotter, basaar-klapperys, stukke duiwelsbrood (heuningkoek), makrolletjies en pretzels staan in as ekstras. Oliebolle, wafels, Kit Kat, Nutella, spookasem, matcha en meringues skouer mekaar vir skommelspasie.

  • Errieda du Toit kan op Twitter by @huiskok gevolg word. Haar blog is by huiskok.com.

 

Skommel die melk vir twee

Framboos-en-Turkse-lekkers-skommel

Jy benodig:

  • 100 g Turkse lekkers
  • 250 ml melk
  • 410 g frambose (vars of bevrore)
  • 1 liter vanieljeroomys plus ekstra vir voorsit
  • 400 ml melk
  • 100 g pistasieneute, fyngekap
  • pienk spookasem vir voorsit
  • strooitjies vir voorsit

 

Maak dan só:

Plaas Turkse lekkers en melk in middelslagpot en smelt oor lae hitte. Roer totdat ‘n gladde mengsel vorm. Verpulp frambose, roomys en melk in voedselverwerker by hoë spoed tot glad. Verdeel Turkse-lekkers-sous tussen 6 glas. Skink framboosmengsel op die sous. Sprinkel pistasieneute bo-op. Rond af met spookasem en pienk strooitjies. Sit dadelik voor.

 

Grondboontjie-en-karamel-skommel

Jy benodig:

  • 200 g (250 ml) suiker
  • 200 ml water
  • 100 g (108 ml) botter
  • 250 ml room
  • 250 ml gladde grondboontjiebotter plus ekstra vir opdien
  • 1 liter vanieljeroomys plus ekstra vir voorsit
  • 400 ml melk
  • 1 70 g-sakkie kaneelgegeurde springmielies
  • 1 100 g-sakkie pretzels, in donkersjokolade gedoop

 

Maak dan só:

Plaas suiker en water in middelslag-pot en verhit oor lae hitte terwyl jy roer. Verhoog hitte sodra suiker opgelos het en bring tot kookpunt. Laat kook 8-10 minute sonder om te roer, totdat goue karamel vorm. Skud pot nou en dan heen en weer. Verwyder van hitte en voeg botter en room by. Skud pot liggies totdat alles ingemeng is. Laat afkoel.

Verpulp grondboontjiebotter, roomys en melk in voedselverwerker by hoë spoed tot glad. Skep ‘n teelepel ekstra grondboontjiebotter in elk van 6 glase en smeer teen kant van glas met agterkant van lepel. Vul derde van glas met melkskommel en skep ‘n bietjie karamelsous bo-op. Herhaal lae totdat glas vol is. Plaas ‘n skep van die ekstra roomys bo-op met springmielies. Plak pretzels aan kant van glas vas met ‘n bietjie grond- boontjiebotter. Eet dadelik.

  • Sarie Kos se Februarie-Maart-uitgawe is nou te koop. Dit bevat Valentynsfeesborde vir twee, die bekendstelling van die Kokkedoortjies en ‘n uittreksel uit Errieda du Toit se nuwe boek, Tuistafel.

 

Sewe doodsondes

Om as dol geklassifiseer te word, hoef die nuwe-era-skommel nie al sewe doodsondes in een glas te hê nie.

Die kaloriepolisie sal seker nie ‘n dolskommel beboet as dit met amandelmelkroomys, glutenvrye beetkoek, gesmelte donkersjokolade, geklopte soja-melkroom en geroosterde sade gemaak is nie. Vrugteskommels en gladdejantjies (smoothies) bring ook minder leë kilojoules, meer voedingstowwe en vesel na die partytjie.

Pleks daarvan om roomys te gebruik kan ek die gewete sus met goodie-two-shoes-skommels van bevrore piesangs en mango, versier dit met heuningjogurt en vars grenadellapulp. Ek kan pynappelstukke op strooitjies inryg, geroosterde klapper en amandelvlokkies oorstrooi en die glas vol vrugtesosaties steek. Ál malligheid sal wees wanneer gravitasie oorneem en die tooisels tuimel voordat ek die foto vir Instagram kan neem.

Back to top

45. SUPERRUGBY-PROGRAM 2017

(Die Burger, 20 Februarie 2017)

Afskoptye aangedui is SA-tyd. Alle wedstryde word op supersport SS1 uitgesaai.

Alle tye onderhewig aan verandering

 

WEEK 1      
Do. 23 Feb. Rebels t. Blues Melbourne 10:45
Vr. 24 Feb. Highlanders t. Chiefs Dunedin 08:35
Reds t. Haaie Brisbane 11:00
Sa. 25 Feb. Sunwolves t. Hurricanes Tokio 06:15
Crusaders t. Brumbies Christchurch 08:35
Waratahs t. Force Sydney 10:45
Cheetahs t. Leeus Bloemfontein 15:05
Kings t. Jaguares Port Elizabeth 17:15
Stormers t. Bulle Kaapstad 19:30
WEEK 2      
Do. 2 Mrt. Force t. Reds Perth 12:30
Vr. 3 Mrt. Chiefs t. Blues Hamilton 08:35
Sa. 4 Mrt. Hurricanes t. Rebels Wellington, NZ 06:15
Highlanders t. Crusaders Dunedin 08:35
Brumbies t. Haaie Canberra 10:45
Sunwolves t. Kings Singapoer 12:55
Leeus t. Waratahs Johannesburg 15:05
Stormers t. Jaguares Kaapstad 17:15
Cheetahs t. Bulle Bloemfontein 19:30
WEEK 3      
Vr. 10 Mrt. Chiefs t. Hurricanes Hamilton 08:35
Brumbies t. Force Canberra 10:45
Sa. 11 Mrt. Blues t. Highlanders Auckland 08:35
Reds t. Crusaders Brisbane 10:45
Kings t. Stormers Port Elizabeth 15:05
Cheetahs t. Sunwolves Bloemfontein 17:15
Haaie t. Waratahs Durban 19:30
Jaguares t. Leeus Buenos Aires 21:40
WEEK 4      
Vr. 17 Mrt. Crusaders t. Blues Christchurch 08:35
Rebels t. Chiefs Melbourne 10:45
Bulle t. Sunwolves Pretoria 19:00
Sa. 18 Mrt. Hurricanes t. Highlanders Wellington, NZ 08:35
Waratahs t. Brumbies Sydney 10:45
Leeus t. Reds Johannesburg 17:15
Haaie t. Kings Durban 19:30
Jaguares t. Cheetahs Buenos Aires 21:40
WEEK 5      
Vr. 24 Mrt. Crusaders t. Force Christchurch 08:35
Rebels t. Waratahs Melbourne 10:45
Sa. 25 Mrt. Blues t. Bulle Auckland 08:35
Brumbies t. Highlanders Canberra 10:45
Sunwolves t. Stormers Singapoer 12:55
Kings t. Leeus Port Elizabeth 15:05
Cheetahs t. Haaie Bloemfontein 17:15
Jaguares t. Reds Buenos Aires 23:40
WEEK 6      
Vr. 31 Mrt. Highlanders t. Rebels Dunedin 08:35
Sa. 1 Apr. Blues t. Force Auckland 06:15
Chiefs t. Bulle Hamilton 08:35
Reds t. Hurricanes Brisbane 10:45
Stormers t. Cheetahs Kaapstad 15:05
Leeus t. Haaie Johannesburg 17:15
So. 2 Apr. Waratahs t. Crusaders Sydney 08:05
WEEK 7      
Vr. 7 Apr. Hurricanes t. Waratahs Wellington, NZ 09:35
Sa. 8 Apr. Sunwolves t. Bulle Tokio 07:15
Highlanders t. Blues Dunedin 09:35
Brumbies t. Reds Canberra 11:45
Haaie t. Jaguares Durban 15:05
Stormers t. Chiefs Kaapstad 17:15
So. 9 Apr. Force t. Kings Perth 08:05
WEEK 8      
Vr. 14 Apr. Crusaders t. Sunwolves Christchurch 09:35
Sa. 15 Apr. Reds t. Kings Brisbane 07:05
Blues t. Hurricanes Auckland 09:35
Rebels t. Brumbies Melbourne 11:45
Cheetahs t. Chiefs Bloemfontein 15:05
Stormers t. Leeus Kaapstad 17:15
Bulle t. Jaguares Pretoria 19:30
WEEK 9      
Vr. 21 Apr. Hurricanes t. Brumbies Napier, NZ 09:35
Waratahs t. Kings Sydney 11:45
Leeus t. Jaguares Johannesburg 19:00
Sa. 22 Apr. Highlanders t. Sunwolves Invercargill 07:15
Crusaders t. Stormers Christchurch 09:35
Force t. Chiefs Perth 11:45
Bulle t. Cheetahs Pretoria 17:15
Haaie t. Rebels Durban 19:30
WEEK 10      
Vr. 28 Apr. Highlanders t. Stormers Dunedin 09:35
Sa. 29 Apr. Chiefs t. Sunwolves Hamilton 09:35
Reds t. Waratahs Brisbane 11:45
Sa. 29 Apr. Force t. Leeus Perth 13:55
Cheetahs t. Crusaders Bloemfontein 17:15
Kings t. Rebels Port Elizabeth 19:30
Jaguares t. Haaie Buenos Aires 21:40
So. 30 Apr. Brumbies t. Blues Canberra 08:05
WEEK 11      
Vr. 5 Mei. Hurricanes t. Stormers Wellington, NZ 09:35
Cheetahs t. Highlanders Bloemfontein 19:00
Sa, 6 Mei Rebels t. Leeus Melbourne 07:00
Chiefs t. Reds New Plymouth 09:35
Waratahs t. Blues Sydney 11:45
Haaie t. Force Durban 15:05
Bulle t. Crusaders Pretoria 17:15
Jaguares t. Sunwolves Buenos Aires 23:40
WEEK 12      
Vr. 12 Mei Blues t. Cheetahs Auckland 09:35
Brumbies t. Leeus Canberra 11:45
Sa. 13 Mei Crusaders t. Hurricanes Christchurch 09:35
Rebels t. Reds Melbourne 11:45
Bulle t. Highlanders Pretoria 15:05
Kings t. Haaie Port Elizabeth 17:15
Jaguares t. Force Buenos Aires 23:40
WEEK 13      
Vr. 19 Mei Chiefs t. Crusaders Fiji 09:35
Stomers t. Blues Kaapstad 19:00
Sa. 20 Mei Hurricanes t. Cheetahs Wellington, NZ 09:35
Force t. Highlanders Perth 11:45
Sunwolves t. Haaie Singapoer 13:55
Leeus t. Bulle Johannesburg 17:15
Kings t. Brumbies Port Elizabeth 19:30
So. 21 Mei Waratahs t. Rebels Sydney 08:05
WEEK 14      
Vr. 26 Mei Blues t. Chiefs Auckland 09:35
Reds t. Force Brisbane 11:45
Sa. 27 Mei Sunwolves t. Cheetahs Tokio 07:15
Highlanders t. Waratahs Dunedin 09:35
Rebels t. Crusaders Melbourne 11:45
Bulle t. Hurricanes Pretoria 15:05
Haaie t. Stormers Durban 17:15
Jaguares t. Brumbies Buenos Aires 23:40
So. 28 Mei Leeus t. Kings Johannesburg 14:30
WEEK 15      
Vr. 2 Jun. Blues t. Reds Samoa 09:35
Sa. 3 Jun. Crusaders t. Highlanders Christchurch 04:35
Chiefs t. Waratahs Hamilton 07:05
Brumbies t. Rebels Canberra 11:45
Force t. Hurricanes Perth 13:55
WEEK 16      
Vr. 9 Jun. Hurricanes t. Chiefs Wellington, NZ 09:35
INTERNATIONALE SEISOEN-BREUK    
WEEK 17      
Vr. 30 Jun. Haaie t. Bulle Durban 19:00
Sa. 1 Jul. Jaguares t. Kings Buenos Aires 01:05
Cheetahs t. Stormers Bloemfontein 15:05
Leeus t. Sunwolves Johannesburg 17:15
WEEK 18      
Vr. 7 Jul. Reds t. Brumbies Brisbane 11:45
Force t. Rebels Perth 13:55
Sa. 8 Jul. Waratahs t. Jaguares Sydney 09:35
Bulle t. Kings Pretoria 17:15
Stormers t. Sunwolves Kaapstad 19:30
WEEK 19      
Vr. 14 Jul. Highlanders t. Reds Dunedin 09:35
Rebels t. Jaguares Melbourne 11:45
Kings t. Cheetahs Port Elizabeth 19:00
Sa. 15 Jul. Sunwolves t. Blues Tokio 05:05
Chiefs t. Brumbies Hamilton 07:15
Hurricanes t. Crusaders Wellington, NZ 09:35
Force t. Waratahs Perth 11:45
Haaie t. Leeus Durban 17:15
Bulle t. Stormers Pretoria 19:30
KWALIFISERING    
Vr. 21 Jul. Moet bevestig word
Moet bevestig word
Sa. 22 Jul. Moet bevestig word
Moet bevestig word
HALFEINDSTRYDE    
Vr. 28 Jul. Moet bevestig word
Sa. 29 Jul. Moet bevestig word
EINDSTRYD      
Sa. 5 Aug. Moet bevestig word