DIE PIONIER – DESEMBER 2015

Inhoud/ContentsDie Nuwe Pionier - Maart 2014

1 Redakteursbrief

2 SIELSKALENDER

3 Kersfees in Afrika

4 Die Droogte (Gebed)

5 DIE GOEIE, VREUGDEVOLLE NUUS!

6 KLA gaan nie help nie

7 ‘n Brief vir André, die blinde wat kon ‘sien’

8 ‘Daar ís nog engele in die wêreld’

9 Sukses van jou onderneming is onderhewig aan goeie beplanning

10 Oorleef Kersfees!

11 Who’s got the best friends

12 Migrante sonder bagasie

13 Hark die Engele nader! (Kersfees op Philippolis)

14 Wes-Kaap kry beste ouditmenings in land

15 Bale veevoer uitgedeel aan boere in nood

16 Kind se ‘Hallo!’ soos matrieksertifikaat

17 OEFEN jou VROLIKER

18 Waar een pad eindig.

19 ‘Talle skole word dalk gou parallelmedium’

20 ‘Eienaars het reg om hul te beskerm’

21 Verwonderd

22 Wat lê anderkant ras?

23 Presbiteriane kla predikante aan wat huwelike vir gays voltrek

24 ‘Dis vrou se skuld as sy verkrag word’

25 W-Kaap spog met 8 voorste restaurante

26 Die Italianer

27 Skroewe stywer vir gee van krediet

28 Siel van ‘n vrou

29 Leef gesond

30 ‘n Treffende kitsbestekopname

31 ‘Ons kan Bybel nie soos Huisgenoot lees’ oor gays

32 Vind Rus

33 ‘n Kosbare geskenk

34 Hartswoorde

35 Beste gr. R-onderwyser ‘lief vir leerders’

36 ‘My tyd om te blom sal ook kom’

37 Harde werk word wel beloon – Alex

38 ‘Miners Shot Down’ wen gesogte Emmy

39 Tande trek nie vir sussies

40 Dieper water

41 Die Seuntjie

42 Bly GESOND

43 ‘n Blou Krismisroos

44 Sportman van die jaar!

45 Wayde van Niekerk wen twee Mercedes-Benze; skenk een daarvan aan sy stiefpa

46 ‘Hoe gaan dit nog met Frikkie?’

47 Koningskoek

48 Liplekker

49 Kerspoedingsouse

50 Krip en kruis: Peter Veldsman se brandewynbotter en portsous

51 Tyd vir bak Kersfees!

52 Drie-bestanddeel-grondboontjiebotterkoekies

53 Maklike sjokolade- hawermoutkoekies

54 Swierige buitelugete

55 Couscousslaai met kekerertjies en fetakaas

56 SNOEK-EN-AARTAPPELSLAAI-BAKKIES

 

 

DIE PIONIER

Jaargang 83, No 06

Volume 83, Nr 06

 

Datum 15/12/2015 Date

 

REDAKSIE

Rig asseblief alle korrespondensie aan:

[[*lnb~eng-xueb*]]Please direct all correspondence to:[[*lnb*]]

 

Die Redakteur [[*lnb~eng-xueb*]]The Editor[[*lnb*]]
Die Pionier [[*lnb~eng-xueb*]]Die Pionier[[*lnb*]]
Posbus 994 P.O. Box 994
WORCESTER WORCESTER
6849 6849

 

Tel.: (023) 342 6313

Faks/Fax: (023) 342 0335

E-Pos/E-Mail: [[*g1*]]info@pioneerprinters.org.za[[*g2*]]

 

Die redaksie onderskryf nie noodwendig die menings wat in die artikels en briewe in Die Pionier uitgespreek word nie, en behou hom die reg voor om sodanige stof te verkort en redaksioneel te versorg.

[[*lnb~eng-xueb*]]The editorial staff does not necessarily endorse the opinions expressed in the articles and letters in Die Pionier, and reserves the right to abbreviate and edit such articles.[[*lnb*]]

Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim subsidie van die L W Hiemstra Trust en Marie Luttig Trust.

[[*lnb~eng-xueb*]]This publication is made possible by a generous subsidy of the L W Hiemstra Trust and Marie Luttig Trust.[[*lnb*]]

 

1 Redakteursbrief

2 Desember 2015

Geagte lesers

Dit is moeilik om te glo dat ons weer aan die einde van nog ‘n jaar staan. Die afgelope jaar was ‘n veelbewoë jaar met sy volle kwota van onrus, opstande, oorloë, terreur-aanvalle, hongersnood, droogtes, rampe, klimaatsverwarming, pessimisme, woede, hartseer en trane. As ‘n mens so terugkyk na die wêreldgebeure die afgelope jaar kan ons met reg wonder oor waarheen ons oppad is. Dit alles kan ons dan bedruk en depressief maak. Dit is dan wanneer positiewe denke en ons geloof in God se genade en teenwoordigheid so belangrik is:

IMMANUEL – GOD MET ONS

Daarom is Desembermaand, vakansiemaand en Kersfees vir die mens nog soveel te meer belangrik. Maar dit is ook ‘n vreemde maand hoor! Dit is die een tyd in die jaar wanneer familie van heinde en ver bymekaar wil kom. Behoede jou indien jy die eienaar van ‘n vakansiehuis by die see is, want dan ken almal jou telefoonnommer en wil hulle by jou kom afpak of jy nou wil of nie! Dit is die tyd van die jaar wanneer familie en vriende vir ‘n tyd lank bymekaar kom en dan moet leer om saam ‘n ruimte te deel en met mekaar oor die weg te kom. Dit is ‘n abnormale situasie omdat elkeen sy/haar eie gewoontes, voorkeure en gebruike saambring en moeilik aanpas by ander se voorkeure, gebruike en tye. Dit is ‘n resep vir konflik, kort humeure en struwelinge na die eerste week!

Vakansie in Desember moet eerder ‘n tyd wees om jou batterye te herlaai, rustig te word binne in jouself, goed te wees vir jouself, selfondersoek te doen deur die labirint van jou lewe deur te loop en alle nagatiewe bagasie af te gooi, die chaos in jou lewe en binneste skoon te. hark en te orden, te ontspan en alles te doen waarvoor jy deur die jaar nie die tyd gehad het nie – soos om te oefen, fiks te word en gesond te leef. ‘n Reuse geskenk aan jou medemens is om bloed te skenk op ‘n gereelde basis , veral oor die Feestyd, en jou te laat registreer as ‘n orgaanskenker – hiermee kan jy lewens red! Die Japanese het ‘n baie ou tradisie deurdat hulle ‘n Zen tuin skep met rotse en gruisklippies wat in in die mooiste patrone gehark word as ‘n vorm van meditasie. Meditasie is ‘n manier om stil en rustig te word binne in jouself en weer een met God en sy Skepping te word. “Siience is the language of God.”

In ons materialistiese en gejaagde lewe moet ons weer terugkeer na die ware betekenis van Kersfees. Ons moet dit vier as ‘n Christusfees met die blye boodskap van die Koningskind wat Kripkind geword het terwille van ons. Daarom word Jesus Christus Immanuel genoem – God is met ons. Kersfees moet ons laat terugkeer na die Evangelie van Jesus Christus – van vreugde, blydskap, vrede, seën, liefde en genade. Dit moet ‘n tyd van rus, vrede, omgee, liefde, gee, ontvang, innerlike kalmte en die spandeer van gehaltetyd saam met jou familie en geliefdes wees.

Die Instituut vir Blindes bied elke jaar die jaarlikse Kersspel aan en Dinsdag, 1 Desember, het ek dit weer beleef. Die eenvoudige verhaal van Jesus Christus se geboorte word so treffend deur ons siggestremde en blinde inwoners, met soveel deernis en piëteit, aangebied dat ek elke keer met trane in my oë en met groot dankbaarheid dit opnuut ervaar – die ernome boodskap wat dit vir die mensdom meebring. In November bied die Groote Kerk, in Kaapstad, ook die jaarlikse Kerssangdiens aan en word jy op sulke hoogtes meegevoer deur die engelekore, magtige orrelspel en samesang. Die geboorte van Jesus Christus was oor die eeue heen die inspirasie van ‘n ongelooflike repertoire van klassieke, kerk- en populêre musiek wat God en Jesus Christus loof en prys. Dit lig ‘n mens se gees en gemoed op na bo en laat dit sweef saam met die engelekore se hemelse klanke en bring jou onder die indruk van die Almag van God en die wonder van Jesus Christus se geboorte.

Met hierdie gedagtes wil ek namens die redaksiespan van Die Pionier hierdie jaar afsluit deur elkeen en almal van julle ‘n besonderse Christusfees toe te wens met diepe vrede, vreugde en liefdevolle samesyn met jou geliefdes. God se rykste seën en genade word vir elkeen toegebid. ‘n Voorspoedige Nuwe Jaar gevul met seën, vreugde, goeie gesondheid en vrede word vir almal toegewens. Laat ons die nuwejaar met optimisme, positiewe denke, liefde, deernis, verdraagsaamheid, insig, begrip en wysheid tegemoet gaan.

Hartlike groete tot volgende keer!

Johan Pretorius

Die Redakteur

 

Back to top

2 SIELSKALENDER

deur LIZETTE MURRAY

(Leef, Desember 2015)

Immanuel – God is met ons.

Maandag

Ken jy regtig vir Immanuel?

♦ Christus word Immanuel genoem: God met ons. ♦ Ken jy hierdie Christus? Hý wat mens geword het en tussen ons kom woon het? Of is dit bloot akademiese inligting? ♦ Christus wil in jou lééf en werk. Dis waarom Hy aarde toe gekom het. ♦ Jy hoef nooit weer sonder Hom te wees nie.

Dinsdag

Maak jou deur oop vir Hom

♦ Nooi Jesus in jou lewe. Laat hom toe om die middelpunt van jou dag te wees. ♦ Wees bewus van Hom – in jou huis, by die werk, in die lang ry by die verkeersdepartement, waar jy kinders aflaai of gaan haal, waar jy en jou man by die tafel sit en julle geldsake uitwerk.

Woensdag

Is Hy jou middelpunt?

♦ Maak ‘n punt daarvan om in die besige dae voor Kersfees tyd af te staan om te dink oor die kern van Kersfees. ♦ Vra jouself elke dag een van die volgende vrae: Wat was vandag die belangrikste item op my Kersfeeslysie? ♦ Waaroor het ek vandag die meeste gedink? ♦ Is Christus die middelpunt van my Kersvoorbereidings?

Donderdag

Kersfees gaan oor Hom

♦ Skep ‘n Kerstradisie waarvan Christus waarlik die middelpunt is. ♦ Skryf daagliks een “geskenk” neer wat jy graag Kersfees vir Hom wil gee. Laat jou huismense dieselfde doen. ♦ Plak dié lysie teen jou yskas of kennisgewingbord. ♦ Dit kan so eenvoudig maar sterk wees soos: My glimlag is vir U.

Vrydag

Deel jou vreugde

♦ Dis beter om te gee as om te ontvang. Leef hierdie woorde. ♦ Koop of maak klein Kersgeskenke vir mense wat dit nie kan bekostig nie of alleen is. ♦ Deel dit spontaan uit wanneer jou pad kruis met iemand wat dié liefdesbaar nodig het.

Saterdag

Leer ander Hóé

♦ Moedig jou huismense of kollegas aan om ook dankbaarheidsgeskenke te gee. ♦ ‘n Onderwyseres kan dit ‘n klasprojek maak. Moedig ‘n vriendin of kollega aan om saam met jou klein geskenkies vir behoeftiges toe te draai. ♦ Skryf ‘n Kersboodskap by elke pakkie.

Sondag

‘n Feesdag

♦ Groet mekaar Kersoggend met die woorde: “Immanuel. God is hier tussen ons.” ♦ Dek vir Hom ‘n plek aan julle feestafel. ♦ Laat die kinders Sy plek met blommetjies of skulpe versier. ♦ Sê spesifiek dankie vir die grootste Kersgeskenk wat ons ooit ontvang het: Jesus Christus.

 

Back to top

3 Kersfees in Afrika

Chris Cameleon

Ses-en-dertig grade in die somerson snikheet

En ‘n pikswart kersfeesvader sit voor ‘n winkelsentrum en sweet

Kinders loop in plakkies rond aan roomyse en smul

En net die prentjies op kerskaartjies is in spierwit sneeu gehul

 

Kersfees in Afrika

As hy wil kan kersfeesvader maar sy kortbroekie hier dra

Kersfees in afrika

Ruil jou takbok vir ‘n donkie, en jou slee vir ‘n donkiekar

Ha ha ha, dis Kersfees in Afrika

 

Gluhwein en kaneel maak plek vir bier en Aromat

En geroosterde kalkoen gee pad vir braai in die agterwerf

Niemand hier dra mussies nie en jassies is taboe

Met ‘n pet op vol sonbrandroom stroom ons almal strande toe

Back to top

 

4 Die Droogte (Gebed)

Pieter van Schalkwyk

Upington

(Facebook – NG Wes-Suid-Kaap)

“Hemelse Vader en Almagtige Here

Dit is twee uur in die môre en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie.

Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.

Voor ek vir reën vra, moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer.

Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook Here vir die wonderlike mense wat u rondom my in hierdie wêreld geplaas het. ‘n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se uniekheid, harder as kameeldoring hout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef het u ‘n besonderse liefde vir die diere en die boerdery in my hart gesit en daarvoor is ek U baie dankbaar, maar Liewe Heer dit is as gevolg van hierdie liefde, en my tekort aan insig, dat ek U weë nie verstaan nie.

…Ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

…Ek verstaan nie as die koei met ‘n sug gaan sit en ons al twee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

…Ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoekoei, wie se voet in die draad gehaak het, kyk en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestyn son, veroorsaak sal word.

…Ek verstaan nie as ek “hart se punt” koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het.

…Ek verstaan nie as jong eerstelam ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek onthou vaagweg hoe ‘n glad verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersop teen haar wang afloop.

…Ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf is as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

…Ek verstaan nie as ek die donkie langs die pad sien lê wat in die tuig gesterf het, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ‘n plan gehad nie.

…Ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voortsukkel nie.

…Ek verstaan nie as die erdvark, wat ‘n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rond ploeter op soek na iets om te eet.

…Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oop kalwe en die woestyn son dit verdroog en verdood.

…Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ‘n wolk stof en ‘n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny.

Here, ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here, ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis.

Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en sleg te kan onderskei. Ek bid veral Here dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U toe.

Ek bid ook vir wysheid en krag vir die hele gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat u ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here, nou dat U my hart ken, smeek ek by U: ‘Gee asseblief vir ons almal reën en gee asseblief vir ons almal genoeg reën!’

Amen.”

 

Back to top

 

5 DIE GOEIE, VREUGDEVOLLE NUUS!

(Leef, Desember 2015)

Die Evangelie is ‘n evangelie van blydskap: Jesus is gelukkig, Hy lag, Hy is gevul met heilige vreugde. Onthou ons, Sy volgelinge, dit dié Feestyd?

In sy New York Times-topverkoperboek Jesus is… Find a new way to be human (Thomas Nielson © 2013) kyk Judah Smith, predikant by The City Church in Seattle, Washington, met nuwe oë na die karakter van Jesus.

“Mense lees graag Lukas 2:1-20 oor die Kerstyd – dit vertel immers die verhaal van Jesus se geboorte. Daar is ‘n kort stukkie in hierdie storie wat baie sê oor die wese van God en die Evangelie.

Die deel wat vir my die meeste uitstaan, is deur die engel gesê wat Jesus se geboorte aan die skaapwagters verkondig het. Hy het gesê “…kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.”

Jesus en vreugde gaan altyd hand aan hand. En dis nie sommer gewone vreugde nie – dis gróót vreugde. “Goeie nuus” is die vertaling van die Griekse woord “euangelion”. (Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf.) Dié Griekse woord word ook soms vertaal as “evangelie” of “preek” en is die wortel van die woord “evangelisasie”. Met ander woorde, die Evangelie is in wese goeie nuus. Evangelie en goeie nuus is sinoniem. Die Evangelie is nie slegte nuus nie. Dis nie dreigende nuus nie. Dis nie hellevuur-en-donder-nuus nie. Dis goeie nuus. Baie goeie nuus. Uit-jou-vel-uit-nuus. Mens kan nie vreugde van die Evangelie skei nie. Vreugde is ingebou in die definisie van die Evangelie. Dit is letterlik dieselfde woord.

Die oplosssing tot jou geluk-probleem is nie om met vakansie te gaan, ‘n snaakse boek te lees, te slaap, of na ‘n komedievertoning te kyk nie. Die oplossing tot jou soeke na geluk is die Evangelie.

‘n Jesus van vreugde

Party mense kan nie verstaan hoe God en geluk saam pas nie. Hulle dink geloof en pret is fundamenteel teenoorgesteldes. Vir hulle is God ‘n kosmiese pretbederwer. ‘n Suurknol. ‘n Jandooi. ‘n Nukkebol. God is teen partytjies en pret en plesier. Dus is God die teenstelling van geluk.

Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. God het geluk uitgedink. Hy het die konsep van humor geskep. Hy het dit so beskik dat ons in staat is om pret te hê. Hy het ‘n pragtige wêreld gemaak en vir ons vyf sintuie gegee om dit mee te geniet. Ons plesier gee Hom plesier. As ons daarvan hou om gelukkig te wees, en as ons na sy Beeld geskape is, hoeveel te meer skyn God nie geluk uit nie?

Jesus is gelukkig. Ek weet nie wat fout is met so baie skilderye en flieks wat Jesus uitbeeld nie, maar om die een of ander rede het Hy die helfte van die tyd donker oë en Hy lag nooit nie. Hy lyk gespanne, asof hy doodmoeg is…

Jesus was nie so nie. Weet jy hoe weet ek dit? Want kinders het daarvan gehou om by Hom te wees. Kinders hou nie van suurpruime nie. Hulle hou nie van knorrige mense nie. Daar was so baie kinders naby Jesus dat Sy dissipels gedink het hulle moet dit verbied.

Die Bybel sê oor Jesus: “U het die reg lief en U haat die onreg. Daarom het God, u God, U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote” (Hebreërs 1:9). Jesus was die mees opgewekte mens van almal. Hy het grappies vertel. Hy het mense se siel uitgetrek. Hy het gelag.

Vir sommige mense is die idee dat Jesus gelag het oneerbiedig, asof dit beteken Hy was nie heilig nie. Daar is ‘n sekere idee waarmee ek glad nie saamstem nie: “Ons heiligheid is vir God belangriker as ons geluk.” Ek dink heiligheid is die sleutel tot geluk, en ek dink geluk kan die suiwerste uitdrukking van heilig wees. Mens kan nie die twee skei nie.

Die Bybel is vol woorde soos “vreugde”, “blydskap”, “seën”, “geluk” en “vrede”. Geluk is ‘n natuurlik uitvloeisel van jou verhouding met God en jou ervaring van Sy liefde. Keer op keer gebruik die Bybel die woord “geseënd” wanneer dit beskryf wat dit beteken om ‘n ware kind van God te wees. Daardie woord kan vertaal word met “gelukkig” of “bly”. Ware geloof lei tot geluk, plesier, blydskap en seën.

‘n God van vreugde

Die Bybel sê in Nehemia 8:10 (1953-vertaling) “…want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here – dít is julle beskutting.” Dit sê nie oefening is jou beskutting nie, ook nie harde werk nie, ook nie om die lotery te wen nie. Dit sê nie eens vreugde is jou beskutting nie, maar wel die vreugde wat van die Here kom.

Dalk is ons moeg en dan dink ons dit is omdat ons oorwerk is of nie genoeg slaap nie. Dan drink ons slaappille en koop ‘n matras wat so slim is dat dit net sowel ‘n IK kon gehad het, en hoop dít sal ons rus gee. Maar dan voel ons steeds lusteloos. Ons het geen energie nie.

Die probleem is nie te min slaap nie, die probleem is ‘n gebrek aan vreugde. Ons krag is regstreeks gekoppel aan ons vreugde, en ons vreugde is gekoppel aan die Evangelie waarin ons glo.

Ek sê nie ons moet voorgee dat ons vol vreugde is nie – daardie vals glimlag-vir-die-kamera wat niemand oortuig nie. Dit gaan nie daaroor om “uitbundig” te lag en met vrolike sêgoed te wys hoe diep geestelik jy werklik is nie: “Ek lees nou hierdie boek wat sê jy moet vreugdevol leef. Want vreugde is mos deel van die Evangelie. En ek wil hê mense moet kan sien ek glo in die Evangelie. Sê nou net ek glimlag nie heeltyd nie, dan sleep ek dalk net God se Naam deur die modder!”

En dan doen ons dit, ons glimlag en lag en klop mekaar gemoedelik op die skouer, maar by die huis waar niemand ons kan sien nie, is ons ‘n regte ou suurknol.

Die vreugde wat God gee, is opreg. Dit sypel deur ons hele wese en laat ons elke oomblik in volkome vrede en geluk leef. Die vreugde van God versterk ons, troos ons, en bemoedig ons.

Ware geluk is ‘n manier van leef, nié ‘n vlietende emosie nie. Selfs wanneer uiterlike omstandighede ons emosies tydelik rondslinger, kan ons nuwe krag kry deur ons vertroue op God te stel.

Dawid bid in Psalm 51 dat God hom weer vreugde en blydskap sal laat beleef. Hy vra dat die Vader wéér die inisiatief sal neem en Dawid sal red. Ons kan dit nie op ons eie doen nie, dit kan net danksy God se genade gebeur.

Die Evangelie bring ‘n konstante vreugde na ons lewe. Ongeag waardeur ons gaan, wat ons omstandighede ook al mag wees, wanneer ons die Evangelie verstaan, sál ons gelukkig wees en vreugde ervaar.

Die Evangelie en vreugde gaan saam. God se vreugde is gratis. Ons hoef niks te doen nie. God sé vreugde is Sy genade, blydskap en krag waartoe ons onbelemmerde toegang het. Niks kan beter wees as dít nie.

 

Back to top

 

6 KLA gaan nie help nie

Deur Ilse Salzwedel

(Rooi Rose, Desember 2015)

Prof. Piet Naudé, gewilde rubriekskrywer, predikant en deesdae ook direkteur van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool, sê Suid-Afrika is steeds ‘n wonderlike plek, maar ons moet anders op al die uitdagings reageer.

‘HOE JY REAGEER MAAK ‘N VERSKIL’

“Ja, die meeste ‘publieke’ dinge wat verkeerd is – van Eskom tot die haglike toestande in regeringskole en staatshospitale – kan voor die deur van die regering gelê word. Maar hoe ons daarop reageer, is ons eie keuse.

“Dit gaan niks help om te kla en die korttermyn- politieke argument – waarby ‘n titsel rassisme waarskynlik ingeroer is – te wen nie. Ek en jy kan nie die land red nie, maar elkeen van ons kan die omgewing waar ons leef en werk ten goede verander. Daar is letterlik honderde inspirerende verhale van mense wat ‘n verskil maak in ons land: van mense wat teen R40 per maand ‘n laekoste- private skool in Johannesburg suksesvol bestuur tot ‘n maatskappy wat sy werkers teen loan sharks beskerm en finansiële geletterdheid bevorder. Die klein en oënskynlik onbenullige bydraes maak saam die verskil.”

In jou jongste boek Reading Between the (Head)lines ontleed jy die psige van Suid-Afrika en verwys jy onder meer na hoe ons verbruikersgerigtheid ons psige verander het…

“Ek koop, daarom is ek” het ons middelklas-menswees gereduseer. As alles gemeet word aan geld of kommersiële waarde, raak die lewe smaakloos, arm en eentonig. Kyk maar na sport, godsdiens en ons universiteite. Waar ons in die verlede uit pure trots rugby gespeel het, skuif ons nou agter die grootste tjek aan. Waar priesters en dominees gesien is as mense wat ingetoë lewe, is godsdiens nou ook ‘n geldmaakbesigheid. Dis nie meer wie ek is nie, maar wat ek het, wat tel.

Jou boek handel ook oor Suid-Afrika se maatskaplike tale. Wat presies is dit?

‘n Taal bestaan nie net uit woorde nie, maar ook uit sosiale instellings en die dinge wat ons doen en nalaat. Die kernboodskap van die boek is dat ons nie dinge moet aanvaar soos hulle blyk te wees nie. Die temas is wydlopend, maar ek het die aanslag lig gehou. Ek glo ‘n mens ontmasker mag en ideologie en vooroordele met humor. So, jy kan lees van politiek, godsdiens, werkverslawing en die verbruikerskultuur, maar ook van die gesinslewe en hoe om ‘n goedkoop troue te reël.

Het ons as reënboognasie gevorder?

Ja, ons het, maar ons gemeenskaplike onderrok oor rassisme, seksisme en klassisme hang nog plek-plek ver uit. Ek dink daar is baie goeie wil onder gewone mense, maar ons word teen mekaar opgestel deur politici wat hul mag put uit ons verdeeldhede en wanpersepsie van mekaar.

Het jy ‘n boodskap vir ons lesers?

Suid-Afrika is ‘n land met ongelooflike potensiaal. Ons demokrasie is goed gevestig. Kla en selfbejammering gaan nie help nie. Ons sal saam dinge in hierdie land moet laat werk en nie toelaat dat hebsug of populisme ons toekoms verongeluk nie. Hier is genoeg mense met goeie bedoelings en ‘n nuwe middelklas wat graag wil hê dat ons sukses behaal. As Christen glo ek die geskiedenis is in God se hande.

WIE IS PIET NAUDÉ?

Piet Naudé (59) sê in sy kop is hy nog jonk. Hy wou aanvankiik regte studeer en ‘n advokaat word, maar het geroepe gevoel vir teologie.

Ná matriek aan die Hoërskool Oudtshoorn is hy Stellenbosch toe om tokkelok te word.

“Hier het die wêreld vir my oopgegaan. Ons professore was die eerste geslag akademici wat meestal hul nagraadse opleiding in Europa voltooi het, en het ons aangemoedig om klassieke tekste en die beste kontemporêre tekste te lees en in globale akademiese debatte betrokke te raak. Filosofie – en later sistematiese teologie – het my veral geprikkel. Ek het eenvoudig aanhou studeer omdat dit so lekker was.”

Hy is die afgelope 30 jaar akademikus, maar het sy amp in die NG Kerk behou en preek nog af en toe. “Ek dink my bedieningsrol het verskuif, en ek probeer om ‘n etiese dimensie na die openbare ruimte oor te dra en praat dikwels met sakegehore oor die toekoms van ons land.”

Sy vrou, Elize, is ook ‘n akademikus, en hulle het drie volwasse kinders.

Piet is ‘n gewilde rubriekskrywer en het al elf boeke geskryf. “Stories vertel was van jongs af my kos en ek hou van skryf.”

Hy het byna tien jaar lank ‘n weeklikse rubriek vir The Herald geskryf, en is selfs met ‘n nasionale joernalistiekprys bekroon. Tussendeur was daar ook rubrieke vir Leef en Die Burger.

 

Back to top

 

7 ‘n Brief vir André, die blinde wat kon ‘sien’

(Die Burger, Brieweblad, 27 November 2015)

Nico, Suider-Paarl

Hy was blind van geboorte af, maar hy wou regte studeer. Ek onthou sy naam was André. As personeellid van Maties het ek hom menige oggend met sy wit kierie in Victoriastraat sien stap op pad na die ou Hoofgebou, wat die regsfakulteit gehuisves het.

In eksamentye het ek hom by Dagbreek gaan oplaai en by die eksamenlokaal besorg. Hy het alleen in ‘n lokaal geskryf, aangesien hy die antwoorde op ‘n ou tikmasjientjie moes tik. Sy vraestelle was in braille opgestel.

Een oggend was ek ook die opsiener. Daar het hy gesit en sukkel om die tiklint weer op die rol te kry. Dan lees hy die brailleskrif en tik totdat die lint weer vashaak of van die rol afklim. Ek moes trane uit my oë vee wanneer ek sien hoe hy sweet en sukkel. En hy het net 30 minute ekstra tyd per vraestel gekry. André het sy graad verwerf.

Ek weet nie wat van hom geword het nie, maar ek weet ná 20 jaar op Maties se personeel dat die Universiteit Stellenbosch destyds ‘n universiteit was en dat die studente daar was om te studeer en grade te verwerf. Anders as vandag. Ek het self my eerste twee grade daar verwerf en vir verdere studie 22 universiteite oorsee besoek.

Stellenbosch was een van die mooistes en het gehalteonderrig gegee. Dit sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie brief is vir jou, André; veral vir daardie dag toe jy in die motor aan my gesê het: “Wat ‘n mooi dag, Meneer.” lets wat jy nooit gesien het nie.

 

Back to top

 

8 ‘Daar ís nog engele in die wêreld’

SKOOLMA MAAK HUIS OOP

(Die Burger, 14 November 2015)

Dis een ding om ‘n onderwyser te wees, maar ‘n heel ander om jou leerders saam huis toe te neem. Anika Marais en die fotograaf Nasief Manie het die onderwyseres MELANIE VANDAYAR se huis in Mitchells Plain besoek waar sy op ‘n karige onderwysersalaris elf van haar leerders huisves.

Soos orrelpypies staan die leerders langs mekaar en groet ordentlik met die hand. “Welkom by Jorvan,” sê die spreekkoor, pynlik netjies geklee in hul skooldrag, elkeen met ‘n swart knopie op hul baadjies wat lees: Dare to stand out.

Maar Melanie Vandayar se arendsoog tel die één leerder op wie se maroen skooldas teen 16:00 al bietjie begin skeeftrek.

Sy trek vir Gabriel Rossouw (9) nader, haak hom onder haar vlerk, trek die das stywer om sy nek en vryf ‘n paar keer saggies oor sy kop. Soos peuters wat hul ma nooit uit hul sig laat verdwyn nie, hou die elf leerders van die Jorvan-uitreikprogram in Mitchells Plain hul skoolma heeltyd dop.

Júís vir daardie liefdevolle hand op ‘n skouer of die goedkeuring wat die knik van haar kop verklap – dít wat hulle begeer, maar nie altyd by hul eie huise kry nie.

“Daar ís nog engele in die wêreld en ek ken twee van hulle,” vertel Sage Bennett (19).

Toe hy vier jaar gelede vir Melanie en haar man, Brian, by die Christ Redeemer-kerk in Westridge ontmoet het, was hy “maar ‘n loskop tiener”. Sy pa het pas sy eie lewe geneem, sy punte was power en sy ma het gesukkel om al die drade by die huis bymekaar te hou.

“Maar aunty Mel het my tussen al die ander kinders raakgesien.” Twee jaar onder die Vandayar-vlerke en hy word as onderhoofseun van Pelican Park High School in Grassy Park gekies. Nóg twee jaar later en hy is ‘n BSc-student aan die Universiteit van Wes-Kaapland en hou boonop sy lyf elke nou en dan model.

Sage is een van elf kinders vir wie “aunty Mel” en “uncle Brian” hul huis se deure oopgemaak het.

En nie nét vir ‘n middag hier en ‘n middag daar nie. Permanent. Vir leerders wat ernstig oor hul akademie is, maar nie ondersteuning by hul ouers kry nie, is daar altyd in die Vandayar-huis nóg ‘n plekkie.

Toe die uitreikprogram aanvanklik in 2011 begin is, het die leerders soos sardientjies in die sitkamer in hul huis in Daphnesingel, Woodlands, geslaap.

“Ek en Brian moes baie mooi seker maak ons het alles in die kombuis en badkamer gedoen voor ons gaan slaap het, want in die nag kon ons nie deur die sitkamer stap nie, só vol was dit,” vertel Melanie.

Sy lag uit haar maag en haar groot bos bruin krulle dans om haar gesig.

“Ons het ook nie ‘n groot tafel gehad waar ons en die ander kinders almal in die aand vir aandete kon inpas nie. Ons het toe maar ‘n paar bamboes-koffietafels langs mekaar gesit en soos die Japannese op kussings op die vloer geëet.”

‘n Paar jaar later het ‘n huis in dieselfde straat, net vier deure verder, op die mark gekom.

Blitsvinnig het die Vandayar-gesin dit opgeraap, self stukkie-vir-stukkie afbetaal, en in die Jorvan-huis omskep waar elf leerders tans permanent woon. Die naam Jorvan is ‘n kombinasie van Melanie se dogter Jordan, se naam, en hul van.

“Ek en Brian het voorheen beurte gemaak om elke aand by die kinders in die tweede huis te gaan slaap, maar noudat Sage op universiteit is, is hy so te sê die huisvader,” vertel Melanie.

Dis vieruur die middag en Melanie haar “kinders” het pas by die huis aangekom.

Sy sit nou op dieselfde sitkamerbank waarop die eerste leerders destyds geslaap het. Die muur agter haar hang propvol foto’s en dankie-sê-briefies van kinders wat al haar drumpel deurgetrap het.

“Vir alles wat julle vir ons opgeoffer het, is ons dankbaar,” het een van die leerders, Celine Solomons (17), op babapienk papier geskryf.

As lewenswetenskappe-onderwyser by die plaaslike Cedar High School het sy egter nie nét elf kinders vir wie sy by haar huis tutoriale aanbied tot laat-aand nie.

“Ek gaan nooit personeelkamer toe nie. My klas is pouses propvol leerders wat hulp met huiswerk of take kom soek. Die leerders weet ek is altyd daar.”

Sy krap-krap aan die lussie van haar swart hoëhakskoene. Maar moenie dink ek sien nooit hierdie elf van my by die skool nie, hoor? Hulle is heeltyd in my gesig! Aunty Mel dít, aunty Mel dát … Heeldag lank!”

Toe sy egter in 2011 die “Dare to stand out”-groep by die skool begin het, was dit beslis nie leerders se eerste keuse nie.

“Die kinders wat toe in die groep was, is geboelie. Die ander kinders het vir hulle gelag, omdat hulle tydens pouses en ná skool gekies het om op hul akademie te fokus. Maar die gety het begin draai en vandag is ons al ‘n groep van 35 leerders wat die skool se kultuur op akademie probeer fokus.”

Elf van dié 35 leerders hoef hul gunsteling-onderwyser egter nie by die skoolhekke te groet nie. Hulle kom elke dag saam met haar huis toe.

“Ek identifiseer leerders by die skool wat potensiaal toon, maar wat nie noodwendig genoegsame ondersteuning by die huis kan kry nie. As ek ‘n kind raaksien, bel ek dadelik vir Brian, ons praat daaroor en dan praat ons met die kind en sy/haar ouers oor die moontlikheid om in die Jorvan-huis te kom woon.”

Daar is egter nie sprake van “amptelike papiere” waarmee sy die kinders aanneem nie, maak sy dit vinnig duidelik.

“Die doel is om vir hulle daardie ekstra ondersteuning te gee om akademies te presteer, maar dit is steeds vir ons baie belangrik dat die leerders soms naweke en vakansies huis toe gaan om die bande met hul ouers te versterk.”

Dit raak vinnig duidelik: Akademie is wat alles in die Jorvan-huis dryf – wanneer hulle eet, hoe laat hulle gaan slaap, hoe laat hulle opstaan.

“Mense vra altyd vir my: ‘Hoe kry julle dit reg’?”

Sy stoot haar bril teen die brug van haar neus op.

“Ek sien dit regtig nie eintlik as iets groots nie. Is dit nie wat ons almal eintlik veronderstel is om te doen nie?”

Dalk omdat haar eie skoolloopbaan in gr. 8 bykans van haar weggeneem is, voel dié opoffering vir haar soos ‘n kleinigheid.

Toe Melanie ‘n 14-jarige leerder in Hanover Park was, was haar pa ‘n volslae alkoholis en haar ma kon ná ‘n histerektomie vir ‘n tyd lank nie werk nie.

“Ek was die oudste van vier kinders en ek is uit die skool gehaal om in ‘n klerefabriek te gaan werk. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het vir R16 per week gewerk.”

Sy kon dit egter net vir twee weke uithou.

“In die derde week het ek die Maandagoggend opgestaan en weer my skoolklere aangetrek. My ma was baie ontsteld, maar ek het geweier om my opvoeding prys te gee. Ek het toe reeds geweet dít is die enigste manier om myself uit hierdie omstandighede te lig. Vir baie van die kinders wat ons inneem, is dit presies dieselfde storie.”

As Melanie smiddae twee keer met die motor van die skool tot by hul huis gery het om al die kinders te vervoer, hardloop almal nie heel eerste om ‘n lekker plek voor die televisie te verseker nie.

“Die televisie in die Jorvan-huis is nie eens by die muur ingeprop nie,” sê sy.

Die skedule is rigied. Om vier-uur is daar vinnig tyd vir broodjies maak, voor die eerste studiesessie om 16:30 begin. Dan is daar nie sommer ‘n goeie rede vir leerders om hul stoele voor 18:30 te verlaat nie.

Van 19:00 tot 21:00 kom Melanie self om tutorsessies vir die groep aan te bied. Op Woensdag- en Vrydagmiddae kom laer­skoolkinders soos Gabriel ook ná skool vir ekstra lesse.

As die res van die huis al gaan slaap het, sal Chanté Wildschutt, die enigste matriekleerder in die huis, wéér voor die boeke gaan sit, omdat sy tans matriekeksamen skryf.

Om 21:00 suiker almal af na die “ouerhuis” waar Melanie vir almal aandete gemaak het.

“Brian sê altyd vir my: ‘Maak nou vanaand baie kos, sodat ons môre die leftovers kan eet. Maar glo my, daar is nooit enige leftovers nie!”

Melanie maak die vrieskas in haar spens oop.

“Al wat ek maak, is bredies, bredies, bredies en soms spaghetti bolognaise en macaroni en kaas. As ons hoender maak, eet ons drie van daardie groot pakke met tien stukkies hoender in op. jy sal jou oë nie glo nie.”

In die koskas staan bottels en bottels grondboontjiebotter, Oros en blikkies baked beans.

“Ek gaan net een keer per maand winkel toe en koop alles. Jy leer bitter vining om sulke groot lysies te maak.”

Die geld vir die hoender, toiletpapier en doktersrekeninge kom alles uit die Vandayar-kitty.

“Daar is nie ander finansiering nie. Brian werk as ‘n toergids en as hy die maand nie baie werk het nie, laat ons die boeke net uit my onderwysersalaris klop.”

Vir die leerders is die aandete-ritueel ononderhandelbaar – maak nie saak of hulle vir die derde aand in ‘n ry groentebredie eet of net kaastoebroodjies kry nie.

Om die lang tafel in Melanie se eetkamer word die dag saam herkou. “Aanvanklik was dit vir my ‘n groot aanpassing,” bieg Celine, wat nou reeds twee jaar in die Jorvan-huis woon.

“My ouers het nooit eintlik met my gepraat nie. Ek was onsigbaar, want hulle het gedink ek is dom. So aanvanklik was dit vir my moeilik om gewoond te raak aan die feit dat aunty Mel elke dag kom kyk of ek my huiswerk gedoen het en hulle in die aande om die etenstafel vir my uitvra oor my dag.”

Maar tussen die Jorvan-kinders is Celine nie kans gegee om in haar dop weg te kruip nie.

“Die dag toe ek in hierdie huis ingetrek het, was die beste dag van my lewe. Ons praat oor alles! En daar is so baie seuns om oor te skinder!”

Die Celine wat vandag die derde hoogste punte in haar graad kry, het twee jaar gelede net-net deurgeskraap en onderwysers het al begin mor dat sy eerder vakke soos wiskunde moet laat vaar.

“As dit nie vir aunty Mel was nie, het ek seker al lankal die skool verlaat. Nou weet ek ek is beter as wat ander mense sê ek is. Nou weet ek ek kan iets doen, selfs al dink niemand anders so nie.”

 

Back to top

 

9 Sukses van jou onderneming is onderhewig aan goeie beplanning

WERK MET ‘N DOEL VOOR OË

Danie Keet

(Die Burger, 14 November 2015)

Om ‘n sukses van enige onderneming te maak is deeglike beplanning van die grootste belang.

Ons hoor dikwels dat bestuurders of ander mense in verantwoordelike posisies praat van beplanning. Ons dink dan dit is net die senior personeel of bestuurslui wat regtig kan beplan.

Dit is natuurlik nie waar nie en moet ook nie so gesien word nie. Elkeen van ons, ongeag die posisie waarin jy in jou onderneming aangestel is of die afdeling waarin jy werk, moet beplan.

As jy ‘n entrepreneur is wat jou eie onderneming wil begin, moet jy veral twee vrae vir jouself afvra: is die diens wat ek wil lewer in aanvraag? Daar moet dus ‘n besliste behoefte wees aan die produk of diens wat jy wil lewer. Die tweede vraag is of ek oor die nodige vaardighede, kennis en persoonlike bates beskik om die diens te lewer en dit suksesvol te bestuur?

Beplanning moet op elke vlak van ‘n onderneming geskied en geen besigheid kan daarsonder klaarkom nie.

Dit hoef ook nie altyd ‘n hoërgraad-oefening te wees nie – dit is nie net vir die slimmes in die onderneming nie. Elke werker behoort doelgerig te beplan. En daardie plan moet deel vorm van die onderneming se strategiese doelwitte en so opgestel word om daardie doelwitte te bereik.

Dit moet dus die missie en visie van die onderneming nastreef en moet gemik wees op die toekomstige bestuur en bedryf van die onderneming, of daardie deel van die onderneming waarin jy werk.

Terselfdertyd moet jou beplanning realisties en bekostigbaar wees. Luukse beplanning en oordadige idees gaan jou niks baat as dit nie uitvoerbaar is nie. Soos die kenners dit uitspel: “KISS – keep it simple stupid”. Beplanning is ook gewoonlik net ‘n hulpmiddel om by jou doelwitte uit te kom – dit is nie die hoofdoel self nie.

“Eenvoudig gestel, kan beplanning dus beskryf word as die werk wat iemand doen deur doelwitte te kies en dan te besluit watter stappe geneem moet word om daardie doelwitte te bereik,” sê Roland Innes, besturende direkteur van Dyna Training in Kaapstad.

“En,” sê hy, “die doelwit is dit wat jy binne ‘n spesifieke tydraamwerk wil bereik. Om daardie doelwit te bereik, met so min as moontlik foute, is dit goed om sekere stappe in plek te stel – dit is eintlik maar al wat beplanning is. Omdat jy nie iets produseer as jy beplan nie – dit lyk dikwels asof jy net in die niet staar of op ‘n stukkie papier sit en krap – is jy tog besig om iets te beplan of te produseer. Dit is baie uitdagend om te dink dat dit tydverkwisting is en jy wil sommer net inspring en ‘n taak begin. Dit lei dikwels tot redelike resultate, maar nie so goed as wat dit sou gewees het as jy dit deeglik beplan het nie. Sulke mense lyk ook baie keer baie besig en of hulle harder werk. Dit is ook so, want hulle moet harder werk om dieselfde resultate te kry as diegene wat deur noukeurige beplanning dieselfde taak meer strategies benader en deurvoer.

“Mense wat hul lewens en die dinge wat hulle wil doen doelgerig beplan, bereik gewoonlik aansienlik meer as diegene wat nie hierdie roete volg nie. Ander werk baie hard, maar kan nie altyd dieselfde resultate toon nie,” sê Innes.

Tim Berry, medestigter van Borland International en bekende sakebeplanner, skryf in entrepreneurmag.co.za dat bestaande ondernemings ook beplanning nodig het.

“Die mite is dat dit net beginnerondernemings is wat beplanning nodig het. Hierdeur verbeur baie ondernemings die geleentheid om hulself beter te bestuur. En jy moet jouself die vraag afvra of jy dit kan bekostig om nie te beplan nie.

“Daar is talle voordele in deeglike beplanning. Hier is ‘n paar:

  • Bestuur jou groei. Jou onderneming se groei is afhanklik van ekonomiese neigings, markbehoeftes en ander faktore. Ondernemings wat beplan, kan hul onderneming rig sodat hierdie faktore tot hul voordeel aangewend word.
  • Bestuur prioriteite. Sorg dat hulpbronne reg aangewend word en benut jou onderneming se sterkpunte.
  • Wys verantwoordelikhede toe aan spesifieke mense.
  • Hou rekord van jou vordering. Deeglike beplanning stel jou in staat om te verseker dat jy nog op pad is na jou doelwitte en om jou te help om jou onderneming goed te bestuur.”

Berry glo ook dat kernpunte soos spesifieke verantwoordelik­hede vir spesifieke werknemers, aktiwiteite, spertye en begrotings, deel moet uitmaak van jou oorhoofse beplanning.

“Finansiële beplanning is natuurlik van kardinale belang, wat op sy beurt weer nou skakel met jou kontantvloei. Enige onderneming moet verseker dat dit die regte hoeveelheid geld genereer – groei kos geld. Of jy nou jou onderneming wil uitbrei of net die huidige standaard handhaaf, beplanning is noodsaaklik in albei gevalle,” sê hy.

 

Back to top

 

10 Oorleef Kersfees!

(Leef, Desember 2015)

Met ‘n paar blink idees, goeie beplanning en báie genade, kan jou gesin ‘n Kerstyd geniet wat goed is vir álmal, ‘n tyd wat jy en jou geliefdes graag sal wil onthou.

Dis daardie tyd van die jaar waarna almal opgewonde uitsien. Die einde van die jaar is in sig. Die harde werk is afgehandel en uiteindelik kan jy ‘n slag asemskep. Of kan jy?

Die feestyd is ook die tyd van die jaar wat die meeste ma’s met angs vul: Die skole het gesluit. Almal is saam, ja, maar die héle tyd en gewoonlik in één huis! Dan is daar boonop gewoonlik te veel geskenke, te veel soetgoed, te veel kans vir misverstande en humeure om op te vlam. Te veel kans vir ‘n gekerm en gekla. En ‘n huis vol familie wat nie noodwendig langs dieselfde vuur sit nie.

Gooi hierby te min slaap en jy het ‘n resep vir ‘n Kerstyd wat niemand se gemoed goed doen nie…

Die goeie nuus is dat dit nie só hoef te wees nie. Daar kan ‘n gesonde balans gehandhaaf word êrens tussen ‘n klatergoud-Kersfees gevul met onrealistiese verwagtinge en die chaos van familiekuiers wat te lank, so voel dit, uitrek.

Hier is nege wenke wat sal help om dié feestyd gesond te wees wat liggaam én gees betref:

Vergeet van perfeksie

Sien om na jouself eerder as om te probeer seker maak dat Kersfees foutloos verloop.

Vergeet daarvan om tot laatnag jouself af te sloof net om jou kuiermense (skoonfamilie?) te probeer beïndruk. Daardie koekies wat jou ure geneem het om in sjokolade te doop lyk en proe dalk wonderlik, maar wil jy regtig aan die Kerstafel aan die slaap raak?

Laat ons nou maar eerlik wees: Mens het juis in die Desember-vakansie roetine nodig om al jou varkies op hok te hou. Moenie nou laat slaplê met oefening nie. Besluit om dié Kersfees gesonder te eet. Beloon jouself met iets waarvoor jy nooit andersins kans kry nie, soos tyd in die stoomkamer ná ‘n gimsessie. Deur ‘n gesonde roetine te volg sal jy fisiek voorbereid wees vir die spanning wat nou maar eenmaal deel is van die Kersvakansie. Deur na jouself om te sien sal jy ook nie gou uitgeput raak deur die onmin en irritasies wat ‘n huis vol mense kan meebring nie.

Gee om!

Wanneer die huis besaai lê met nuwe geskenke is dit die perfekte geleentheid om met jou kinders te gesels oor die waarde van gee. Kies saam speelgoed, boeke, of klere – selfs nuwe geskenke wat hulle dalk nie wil hê nie – en skenk dit aan ‘n organisasie vir behoeftiges. Laat hulle dit self gaan uitdeel; dit sal die hele gesin geestelik ‘n hupstoot gee wanneer julle ‘n persoonlike en emosionele verbintenis met gee kan maak.

Reik uit na iemand in jou buurt of vriendekring soos ‘n weduwee, enkelma of bejaarde paartjie, of dalk ‘n vriendin wat bloot bemoediging nodig het.

Begin ‘n nuwe kostradisie

Laat jou spannetjie – ook jou kuiermense – in die kombuis help. Begin ‘n nuwe, gesonde Kerstradisie. Pleks van soetkoekies bak, hoekom nie ‘n somerslaai maak nie? Maak seker die kleingoed sit van begin tot einde handjie by – ook wanneer die skottelgoed ná die tyd gewas moet word.

Sê dankie

Dankbaarheid kom nie natuurlik nie – dis ‘n dissipline wat aangeleer word.

Neem die tyd om betekenisvol dankie te sê. Doen moeite met dankiesê-kaartjies aan almal wat geskenke gegee het en moedig jou spannetjie aan om op ‘n kreatiewe manier dieselfde toe doen. Dit kan pret wees en sal hulle besig hou. Dis alles deel van doelbewus stadiger leef in ‘n andersins gejaagde “rustyd”, wanneer die fokus in elk geval eintlik dankbaarheid oor Jesus se koms moet wees.

Bederf jouself… met slaap!

Die opwinding van die feestyd kan net so uitputtend wees soos ‘n besige tyd op kantoor. Te min slaap gaan die pret uit Kersfees haal as jy omgesukkel en kort van draad is. Nou is die tyd om slaap ‘n prioriteit te maak, sommer vir die hele gesin.

Kies ‘n dag wanneer almal gevrywaar word van vakansie-aktiwiteite om met ‘n boek op te krul, ‘n ou gunsteling-fliek te kyk, of sommer net te dut.

Wees goed vir jou gees

Met ‘n nuwe jaar wat vinnig nader kom, is dit goed om nou reeds tyd te maak om te fokus op jou drome en doelwitte, maar met die hoop en geestelike vernuwing wat Kersfees behoort te bring.

Vra jouself af: Hoe wil ek in die nuwe jaar in my geloof groei? Gee jouself die geskenk van vryheid, vry van reëls en die druk om “perfek” te wees.

Deel eerder jou eie doelwitte as ‘n dissipel van Jesus soos jy dit sien met ‘n gelowige vriendin. Moedig jou kroos ook aan om hulle eie verhouding met Jesus te herevalueer. Hoe wil hulle nader groei aan God?

Werk met ‘n plan

“Ek’s verveeld,” is die woorde wat dié tyd van die jaar baie gereeld gehoor word. Maak seker almal het iets te doen, al is dit dan niksdoen! Kies ‘n eenvoudige, werkbare plan. Maak tyd vir kuier saam met vriende en maats, ‘n lekker kunsprojek, ‘n dag van saam kosmaak, ‘n fliekaand. Besluit vooraf om dit eenvoudig te hou – met baie tyd vir ontspan.

Ja, verwag die ergste…

Maak nie saak hoe goed jy beplan, hoeveel slaap jy inkry, of hoe breed jou Kers-glimlag is nie, vra vir genade – en deel dit uit! – want daar gáán met tye chaos wees! Die kinders gaan baklei, mense gaan selfsugtig wees en jou frustreer, maar dis oukei, want ons almal is nou maar eenmaal mense.

Kinders is kinders. Families is, wel, families. As jy verwag gemoedere kan hoog loop, dat iemand dwarstrekkerig gaan wees, dat jou harde werk met ondankbaarheid begroet gaan word, kan jy jou daarop voorberei.

Vergeet van onrealistiese verwagtinge en kies om jou (uitputtende, frustrerende) mense met oorgawe lief te hê.

Onthou, dit gaan oor meer as die perfekte Kersfees. Dit gaan daaroor om tyd as geskenk te gee en te ontvang, om saam te wees. Herinner jouself aan die hart van Kersfees: Lag, deel drukkies uit, luister, aanvaar, behoort.

Hou aan met bid!

Wanneer dinge te veel raak, haal diep asem en sê dankie vir die seën van Kersfees.

Vra God om vir jou nuwe energie te gee om dié wonderlike, soms chaotiese tyd van die jaar met nuwe vreugde saam met jou mense te geniet.

1 Tessalonisense 5:17 sê: “Bid gedurig.” Dié opdrag geld veral oor die Kerstyd! Ons kan ons planne beraam, maar ons kan dit nie alleen doen nie. Die Seun wil saam met ons aan ons Kerstafel sit. Hy wil daar wees as ons ná die tyd skottelgoed was. Kuier oor Kerstyd is goed, maar hou die laaste uur of wat van die dag vir God. En nooi Hom sommer voor jy in die oggend opstaan al om jou hart en gedagtes te bewaak sodat jy onthou waaroor die Kerstyd werklik gaan.

 

Back to top

 

11 [[*lnb~eng-xueb*]]Who’s got the best friends

(E-mail, 02 Desember 2015)

Friendship among Women:

A woman didn’t come home one night. The next morning she told her husband that she had slept over at a friend’s house. The man called his wife’s 10 best friends. None of them knew anything about it.

Friendship among Men:

A man didn’t come home one night. The next morning he told his wife that he had slept over at a friend’s house. The woman called her husband’s 10 best friends. Eight confirmed that he had slept over, and two said he was still there.[[*lnb*]]

 

Back to top

 

12 Migrante sonder bagasie

BESOEK AAN ‘n DEURGANGSKAMP

Natie Engelbrecht

(Die Burger, 7 November 2015)

Dit is hier waar die kinders moet onthou hoe om te speel en waar vrywilligers geluidloos huil. NATIE ENGELBRECHT was in ‘n tydelike migrante- en vlugtelingkamp in Brussel, waar hy ‘n les vir Suid-Afrika geleer het.

Ek sit in die bistro in ‘n koue en bewolkte Brussel en probeer, met behulp van die soveelste beker koffie, die afgrond binne my toeskryf; myself ligter skryf vir die vlug terug Kaap toe.

Ek probeer sin maak van nog ‘n vreemde reis tussen die materialisme van die Europese sakegemeenskap, waar ek vir internasionale kliënte belastingstrukture ontwerp, en my besoeke aan die hulporganisasies wat deur hulle gefinansier word.

Naby die Hotel Metropole, waar Einstein en Marie Curie aan die een of ander belangrike kongres deelgeneem het, het ek onverwags in hulle vasgeloop. In die Europese hoofstad in Maximilien Park agter ‘n gietysterheining en langs ‘n besige straat vol restaurante met vars croissants en duur koffie. Feitlik oornag het hier ‘n tentedorp ontstaan.

In die skadu van nuwe kantoorgeboue net om die draai van die Gare du Nord-gebied vol prostitute en dwelmverslaafdes is sowat 300 tente van alle groottes en kleure.

Naby die hek van dié tydelike vlugtelingkamp soek ‘n man angstig iemand se nommer op ‘n ou selfoon. ‘n Seun uit Irak hou sy hand, wat in bebloede verbande toegedraai is, versigtig vas. Hy wag al twee dae vir ‘n dokter.

Twee vroue haal babadoeke agter uit ‘n stokou Volvo. Hulle is van Afganistan en is al tien jaar in België. Die reuk tref my; ‘n kankeragtige reuk van verrotte vleis.

Die vlugtelinge en migrante in hierdie kamp kom uit Sirië, Irak, Somalië, Eritrea en Afganistan. Oral sit en staan verdwaalde mense in gebroke groepies. Miskien is “groepies” die verkeerde woord. Almal is eintlik alleen. Almal wag.

Dit duur tot vyf dae om ‘n asielaansoek in te dien by die tydelike kantoor vir “vreemdelinge” in Brussel. Te min Belgiese vrywilligers probeer om die groeiende getal vlugtelinge te help.

Daar is baie bejaardes. In Berlyn was ‘n oubaas sonder bene in ‘n rolstoel wat al amper 40 dae naby die LaGeSo gewag het dat die amptenare hom moet help. Die LaGeSo is die eerste kontakpunt vir vlugtelinge, waar hulle amptelik om asiel aansoek doen.

In die oubaas se hand was die nommer wat hy by sy aankoms gekry het. Nommer 2 344. Hy het vlot Duits gepraat en was ‘n prokureur in Sirië. “In Sirië was ek ‘n Christen, maar hier … hier weet ek nie,” verduidelik hy.

Ook in Maximilien Park in Brussel is daar, soos in Berlyn, baie bejaardes. ‘n Ou vrou sit met haar rug teen ‘n graf voor ‘n kampstofie waarop ‘n ketel kook. Langs haar is ‘n hoop kospakkies en ‘n stapel komberse.

Die regering se woordvoerder, ‘n modieuse dame in ‘n duur snyerspakkie met nog duurder hoëhakskoene, sê op die perskonferensie dat sy tevrede is met die hulp wat die Belgiese regering verleen.

“Daar word goed na hulle omgesien. Hulle het kos, klere, slaapplek. Hulle kry selfs ‘n toelaag.”

Maar in Maximilien Park weet die vlugtelinge niks van hierdie hulp nie en is die owerhede grootliks afwesig.

Naby die ou vrou voor die stofie probeer ‘n jong Vlaamse student agter ‘n skootrekenaar skuil. Sy is ‘n vrywilliger wat die vlugtelinge help om vermistes op te spoor en om aansoek te doen om identiteitsdokumente. Haar hande is oop en stil op die toetsbord.

Sy huil geluidloos. “Hulle het geen bagasie nie,” sê sy snikkend wanneer ek probeer troos. “Niks.”

‘n “Fasiliteerder” op die Hongaarse grens het klaarblyklik besluit dat hierdie mense nog nie genoeg verloor het nie en toe met hul besittings verdwyn terwyl die vlugtelinge deur die eerste van vele registrasieprosesse moes gaan.

Dit is stil. Kinders speel een-een en geluidloos met nuwe speelgoed wat die een of ander organisasie kom aflaai het saam met ‘n doos vol pamflette. In die skadu van ‘n gedenknaald sit ‘n meisie op ‘n jong vrou se skoot. Die hande wat haar te styf vashou, is stukkend, en bloed syfer deur die Hello Kitty-pleisters.

Die meisie het ‘n te groot Disney-hemp aan, haar hare is ongekam, en trane het droë strepe oor haar vuil gesiggie getrek. ‘n Man sit voor hulle op sy hurke en wieg heen-en-weer. Hy staar na ‘n vuur wat lank reeds dood is.

In die kamp is klaarblyklik baie verskillende faksies wat steeds baklei. Soos een ouerige Belgiese hulpwerker verduidelik het: “Ze konden niet weg van de oorlog en geweld draaien. Ze zijn nog steeds de uitvoering ervan. In hun hoofd.”

Die nood en vrees en pyn is oorweldigend. ‘n Tingerige seuntjie sit en speel met ‘n nuwe motortjie. Ek gaan hurk by hom. Hy hou aan speel sonder om op te kyk. Hy is stil. Hy beweeg die motortjie stadig heen en weer.

Ek kyk hulpeloos hoe hy probeer onthou hoe om te speel. En na sy sussie wat ‘n ent agter hom met haar hande styf om haar knieë sit. Ek gaan sit plat op die grond in my nuwe pak, my das losgemaak.

Ek onthou hoe ek en my broers in die stof gespeel het in die agterplaas van my ouerhuis in Olive Schreinerstraat in Vryburg, Noordwes. Hoe moeiliker dit gegaan het, hoe harder het ons gespeel. Met ons hande het ons in die stof paaie geskraap. En geluide gemaak.

Ek begin om vir die seuntjie geluide te maak vir sy stil motortjie. Eers reageer hy nie. Toe begin hy die motortjie vinniger of stadiger beweeg om te probeer pas by die geluide wat ek maak. Ek kyk op na sy ma, en sy glimlag.

Skaam loer hy na my. Dit lyk asof hy my weeg; of hy probeer onthou hoe ‘n mens glimlag. Dan roep hy sy sussie met ‘n maer handjie nader. Hulle kom sit voor my op die nat grond. Ek maak geluide – van vinnige motors en van die polisie en die ambulans toe die motortjie omval.

Hulle lag. Ek sukkel om die trane weg te hou. Skielik besef ek dat hier iets goddeliks is. Binne in hierdie afgrond. Onverwags.

Nie omdat hier kerke betrokke is nie. Ook nie omdat ‘n klomp gebedsmatte in ‘n hoop lê nie.

Eerder omdat gewone mense die nood raaksien en uit eie bronne hulp aanbied vir vreemdes sonder om vir die regering te wag.

Miskien is dit wat ons nou in Suid-Afrika nodig het.

 

Back to top

 

13 Hark die Engele nader! (Kersfees op Philippolis)

Wim Fourie

(Blog, Desember 2015)

Op Philippolis het ek leer hark. Doodgewone alledaagse hark met ‘n langsteelhark. In die agterplaas van ons huisie met sy gruisgrond tussen die druiweprieel en die stal. Maar hark is nie maar net die bymekaarhark van blare of klippies of grond nie. Hark is soveel méér. Dis gedagte-ordening. Dis droomsekwensies en grondskilderye.

Op Philippolis het ek eers my Ouma Alwine se harkpassie begin verstaan, haar verbete vee-sessies. Want hark en vee is nie net ‘n skoonmaakding nie, dis ordeskeppende rituele – die uitvee van die oue en ongewenste – die inhark van die nuwe…

Vroegmore op Oukersdag staan ek en hark met ‘n engelrefrein in my kop: Hark now hear the angels sing, glory to the newborn king, So al harkende met die “Hark” van die engelelied as temamusiek, begin my gedagtes op ‘n tweespoorpad loop. Een spoor loop terug, die ontdekkingspad van die reis tot hier – die ander vorentoe, die vooruitsig van ‘n eerste Kersfees saam met ou en nuwe vriende in hierdie dorpie wat soveel seën vir my, vir ons gebring het…

Vir jare was Philippolis net die naam van ‘n dorpie iewers in die Suid-Wes Vrystaat. Op ‘n dag lees ek van Anna Neethling-Pohl wat terugkeer na Philippolis want dis die plek “om sterre te pluk”. In my agterkop liasseer ek die woorde, want so ‘n plek moet mos verken word. Jare gaan verby. Op die langnaweek van Vrouedag 2004 besluit ons om die “sterre-dorpie” te verken.

‘n Onverklaarbare iets gebeur toe ons die eerste keer Philippolis binnery. Ons is moeg van die gejaagde leefstyl. Ervaar ook die middeljare as plato-tyd. Soms selfs soos Klaagliedere se gruisklippie-in-die-mond-tyd. Die verwoede tempo van elke dag doof die lewensmusiek uit. Dit voel byna asof die engeltjies so bietjie op AWOL is. Her-oriëntering is nodig. Ons het ‘n behoefte aan die salwing van ‘n rustige plekkie. Ongejaag en Leef-vriendelik. Toe ons om die laaste draai vanaf Trompsburg se kant die dorpie nader ervaar ons so gevoel van bekendheid, van tuiskom Ons eerste aanblik van die dorpie is die kerktoring met sy besondere swart spitsdakkie. Ons gastehuis is teenaan die kerk. Vir die duur van die naweek word die kerktoring die baken, die uurlikse klokslag ons sonwyser.

Ons ontdek ‘n dorpie wat ‘n geskiedenis, ‘n storie met hom saamdra. En ons nooi om deel van sy verhaal te word. Ons leer nuwe mense ken. ‘n Hartlikheid wat in ons resoneer. Ons leer stap waar ons wil wees. Af met Voortrekkerstraat. ‘n Ry dennebome langs die straat en een akkerboom as uitroepteken. Verby Indraf, Kokkewiet en Ons Dien, die twee kafees en die een algemene handelaar. Verby die Emily Hobhouse gedenktuin. ‘n Heerlike ontdekkingstog van karaktervolle historiese huisies. Ons raak verlief op die dorp en sy outentieke karakter. Ons leer mense ken. Jim Reeves se Liedjie van jare her “A stranger’s just a friend you do not know” kon hier geskryf wees. Ons ervaar die opwinding van ‘n besigtigingstoer van Philippolis op Café se perdekarretjie, die Saterdagmiddag. Besluit: die rit is die naaste wat ons aan ‘n Suid-Afrikaanse Jingle Bells slee-rit kan kom!

Sondagoggend woon ons die erediens in die pragtige ou historiese kerk by, Die gebou het die aanslae van die Anglo-Boere oorlog, sowel as die twee wêreldoorloë oorleef. Die spitsboog vensters skep ‘n gewyde atmosfeer. Die inspirasie van die Woord en orrelmusiek skep ‘n diep vrede in ons.

Na die diens staan die mense buite die kerk en gesels. Ons herken al ‘n paar gesigte en vriendelike glimlagte.

Later verken ons die Labirint wat deel vorm van die Laurens van der Post gedenktuin. Steenspirale waarop mens kan loop, vertel van ‘n geestelike reis. Die loop daarvan is ‘n ontdekkingstog na binne waartydens jy al die negatiewe dinge en oortollige bagasie aflê. In die kern van die labirint sien jy as’t ware jou lewenspatroon. Ontdek jy jou kern-self, dit wat ten diepste saak maak. Dan is jy gereed om die terugspiraal te loop en simbolies die goeie lewensbagasie op te tel. Die spirale van die labirint bevestig dit wat ons reeds ervaar – ‘n rusplek waar jy die binnereis met insig en ‘n rustige eerlikheid kan aandurf.

Maandagoggend voor sonsopkoms, klim ons teen die koppie in die middel van die dorpie uit. Twee kanonne staan waaksaam en tuur oor die slapende dorpie. Ons sit en wag die son in. Toe die strale teen die kerktoring en kanonlope blink, lag ons uitbundig oor die kontras van kanon en kerktoring wat so in mekaar se skadu staan.

Ons neem swaar afskeid van die dorpie met sy karaktervolle geboue, eiesoortige sjarme en vriendelike mense. Na Planeet Philippolis (soos ons die ervaring doop) sal ons gewis terugkeer.

‘n Jaar later hang ek ‘n glasengeltjie in die oop raam wat uitkyk op die kerk. Lynette se geskenk aan my. Dis lente. Nuwe lewe bot oral. Hierdie keer gaan ek alleen. Dis tyd vir kopskrop. Retraite. Tyd om die wintersheid van ou bagasie af te skud. Om ongeskryfde woorde neer te pen. Ek gaan tuis in die Laurens van Der Post Skrywershuis.

Toe ek die Sondagaand skuins voor middernag in die bed klim, is daar die welbehaaglike gevoel – ek is weer op die “sterre-pluk-plek”. Ek luister na die twaalf afgemete klokslae en voel soos ‘n eietydse Marco Polo. My tweede besoek aan die hartsplek word ‘n ontdekkingstog, geografies en spiritueel, ‘n verkennende omlyning van my binnestem.

In die drie dae wat volg groei die besef: hierdie plekkie se bekoring lê diep. Daar is ‘n byna magiese kwaliteit aan die omgewing wat moeilik in woorde vasgevang word. Saans verwonder ek my aan die wydsheid van die uitspansel. Die stilte. Dink weer aan die aanhaling: “Silence is God’s first language, all the others are bad translations.”

Soggens vroeg is ek op die solder van die skryfhuis voor die rekenaar om my eerste indrukke van die dag neer te pen. Soos eerste voetspore op ‘n skoon strand. Ek kry kans om die Woord rustig in te neem. Te dink. Gedagtes neer te skryf. Die uurlikse kerkklok beaam die proses. Ek ervaar die oop stilte waarin mens so bewus word van God.

Later in die dag is dit verkenningstyd. Gesels ek, vra ek uit. Leer ek meer van die dorpie en sy inwoners ken. Ek ontmoet Richard Proctor-Sims, ‘n uitgewer wat onlangs hierheen verhuis het. Hy bly in Oom Japie se huis en bedryf sy spesialis boekwinkel en ‘n restaurant vandaar. Hy vertel dat hy die land deurreis het op soek na ‘n plek om in af te tree, ‘n aantal moontlike plekke op sy kortlys geplaas het, maar sy hart in Philippolis verloor het.

In Tobie Mullerstraat ontdek ek ‘n klein, historiese huisie met ‘n Te Koop-bordjie. Dit het groen luike en voordeur, in tipiese Karoostyl gebou met ‘n gestroopte eenvoud. Die naambord links van die voordeur lui: Hartjiehortjie Huisie. In elk van die ses groen luike is ‘n hartjie uitgesny. Die res van die oggend, terwyl ek besig is om my eie indruk van die magiese landskap in woord en beeld te probeer vaslê, sien ek telkens in my gedagtes ‘n hartshuisie wat wag om betrek te word.

Laataand stap ek weer verby die huisie. Die sekerheid groei, hier wag daar ‘n nuwe hoofstuk. Veral toe ek ontdek dat daar agter die huis ‘n lang erf met ‘n bakoond en ‘n stal is. Terwyl ek vertoef in die eenvoudige vertrek met sy lang hout voerbak en klippiesvloer, voel dit vir my ineens of ek midde in die kersverhaal staan. Ek kry so ligte rilling van opgewondenheid. Besluit dat ek en Lynette ‘n aanbod op die huisie moet maak. Wat ons toe die volgende week wel doen.

Advent 2005. Ons kuier in Philippolis en ontvang die goeie nuus dat die huisie nou amptelik ons s’n is. Ons hoor dat die huisie uit 1861 dateer en dat die oorspronklike transportakte deur Adam Kok III onderteken is. By die greinhouttafel sê ons dankie vir die hartshuis met sy plankvloer-voorhuis, slaapkamers, badkamer en kombuisie met ‘n rietjiesdak (brakdak), vuurherd en koolstoof. In die slaapkamer met die mooi muurpapier maak ons ‘n fyn engeltjie staan. ‘n Versierde Koniferboompie by die venster in die voorhuis.

Vroeg op Oukersdag word die werf skoongehark. Die harkpatrone word landelike skilderye met Van Gogh se spiralende lug, golwende koringvelde wat tuiskom op Vrystaatse bodem. So al harkende neurie die engelekoor hulle kersagenda.

Die werklikheid oortref self ons beplanning. Onder die sterre braai ons karoo-skaaptjops. Die bykosse is reeds gereed. Die greinhouttafel word uitgedra en op die voorstoepie teenaan die straat geplaas. Dit word feestelik versier.

Die lui van die koperklok is die aanduiding dat die fees begin! Twee krulkopdogtertjies hardloop na die stal waar verligte glasengeltjies op die rand van die voerkrip hulle verwelkom. Die ou verhaal van die Jesuskind klink selfs vir ons volwassenes nuut hier in die gestroopte omgewing waar diere oor baie jare ‘n skuiling gevind het. Dit word ineens waarlik Christusfees. Ek verstaan weer die eenvoud van die Blye Boodskap. Koningskind wat kripkind word. Terwille van ons. Ek sien die opgewondenheid in die twee dogtertjies se oë. Weet dat hierdie oomblik hulle meer sal bybly as die geskenke wat wag onder die boompie in die voorhuis.

Laataand sit ons op die stoep en sien die uitspansel. Sterre ontelbaar. Helder. Naby. Ek steek my hand asof om een te pluk. Want op Kersfees het die hemel na aan ons gekom. Immanuel. God met ons.

Iewers vermoed ek ‘n engelekoor – Vrede op aarde. Ook op planeet Philippolis.

NS Mariana Els skryf:

En nou wil ek ook hierdie planeet besoek en my hartswens is om net één Kersfees in die Hartjie Hortjie Huisie deur te bring met Karoo tjoppie in die hand terwyl ek die Engelekoor hoor sing.

Dis pragtig geskryf!

Ek gaan nou hark.

 

Back to top

 

14 Wes-Kaap kry beste ouditmenings in land

Jason Felix

(Die Burger, 26 November 2015)

Kaapstad. – Die Wes-Kaapse regering het in die afgelope boekjaar weer eens die beste ouditmenings in die land ontvang – en boonop beter as die nasionale regering gevaar.

Dr.Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van finansies, het gesê dit is alles te danke aan harde werk, goeie regering, toegewyde amptenare en behoorlike monitering.

Die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu het gister die ouditmenings van die onderskeie nasionale en provinsiale departemente in Pretoria bekend gemaak.

Net een van die Wes-Kaap se 13 departemente het in die boekjaar 2014-’15 ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings ontvang, terwyl 12 skoon ouditmenings ontvang het.

Die provinsie se openbare entiteite het ook goed gevaar.

Agt van hulle het skoon ouditmenings ontvang en een het ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings ontvang.

Dié met skoon ouditmenings is die Wes-Kaapse Dobbel- en Perderenraad, Staatsgarage, Erfenis Wes-Kaap, Wes-Kaapse Kultuurkommissie, Wes-Kaapse Taalkomitee, Wes-Kaapse Bewaringsraad (CapeNature), Wes-Kaapse Drankraad en die Saldanhabaai Nywerheidsontwikkelingsone.

“Die ouditeur-generaal se verslag is vir ons ‘n bewys dat ons doeltreffend kan regeer en ons geld ordentlik bestuur. Goeie regering is nie meer ‘n tegniese kwessie nie. Dit gaan alles oor die morele waardes van amptenare. Ons het oor tyd baie geleer,” het Meyer gesê.

Die Wes-Kaapse Behuisingsfonds het ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings ontvang.

Meyer het aan Die Burger gesê die behuisingsfonds gaan aanstaande jaar by die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings ingesluit word.

Slegs die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings ontvang.

“Dit is die grootste departement in die provinsiale regering en ek verwag altyd dat daar klein probleme sal opduik,” het hy gesê.

Die Wes-Kaap se ouditmenings het die afgelope boekjaar in die geheel verbeter vergeleke met vorige jare. In die boekjaar 2014-’15 het die Wes-Kaap R79 miljoen onreëlmatig bestee. In 2012-’13 was dit R221 miljoen, en in 2013-’14 R170 miljoen.

Nasionale en provinsiale departemente en openbare entiteite se geldsake het volgens Makwetu in die jongste boekjaar effens verbeter.

Onreëlmatige uitgawes in 2014-’15 was sowat R25 miljard, teenoor R35 miljard in die vorige boekjaar. Vrugtelose en verkwiste uitgawes het van Rl,2 miljard in 2013-’14 afgeneem na R936 miljoen in 2014-’15.

 

Back to top

 

15 Bale veevoer uitgedeel aan boere in nood

Marietjie Gericke

(Die Burger, 23 November 2015)

Bloemfontein. – Sowat 16 boere wat probeer om die knellende droogte in die Vrystaat en Noord-Kaap te oorleef, het Saterdagoggend by Glen in dié stad opgedaag om veevoer by Boere in Nood te kry. Dié hulpskema word danksy ‘n Facebook-blad bedryf en Saterdag is ‘n paar honderd bale voer uitgedeel.

Cobus Venter van Bloemfontein, een van sewe vrywilligers van Boere in Nood, sê sedert die organisasie sowat drie weke gelede deur N.C. Schoombie van Bethlehem begin is, kan hulle nie voorbly om te help nie.

Herman Rynhoud van die plaas Wilhelmshohe het Saterdagoggend 200 km van Luckhoff gery om 30 bale voer in Glen te kom haal. “My kontantvloei raak ‘n probleem en my wens is dat die regering vir ons geld sal gee om voer vir ons diere te koop. Van my ou ooie het al gevrek,” het hy gesê.

Piet Pieterse van die plaas Leeuwkop by Tierpoort buite Bloemfontein het ook Saterdagoggend by die Sandstone Sleeper Estate in Glen vir hulp opgedaag.

Hy boer al 17 jaar met beeste en moes vanjaar reeds die helfte verkoop. Hy hoop om vandag van die res ontslae te raak.

“Ons het nie geld om veevoer te koop nie. Ek het ‘n tyd gelede vyf bale veevoer van Joggie Ackerman van die Krugersdriftdam gekry, maar dit is min as jy 70 beeste moet voer.”

Oor die 20 bale wat hy Saterdag by Graham Wansbury van Sandstone Sleeper Estate op Glen gekry het, is hy baie bly. “Ná die droogte wil ek speenkalwers koop en hoop om só weer op die been te kom.”

Faith Catterick van Waterbron het ook veevoer gaan haal. “Ons is dankbaar oor Vrydag se 34 mm reën, asook vir die voer. Ek kan nou ook ‘n buurman, Kurt Wimmer, gaan help. Hy het geen water nie.”

Frik Calitz van die plase Leeurant en Boskop by Hagesdam, suid van Bloemfontein, het gesê die droogte is die ergste nóg. “Ons skape, beeste en wild is maer. Sake is kritiek. Ons het darem 15 mm reën gehad.”

Neser Fourie van Vlakfontein in die Jagersfontein-distrik het gesê hy is nie net dankbaar vir die 20 bale voer nie, maar ook vir Senwes wat veelekke teen kosprys verkoop.

Doreen du Plessis het veevoer vir haar dogter, Carin Hoffman, se perde kom haal. “Die perde is maer. Die een merrie wat altyd ‘n boepmagie het, se heupbene steek nou uit.”

Gary Simons, van die Tierpoort-De Brug-omgewing, het gesê hy het reeds tien skape verloor en sal weens ‘n tekort aan voer binnekort 100 moet slag.

Boere in Nood het al veevoer gegee vir boere van Fauresmith, Olifantshoek in die Noord-Kaap, Hertzogville en Bapsfontein in Gauteng, en Saterdag is boere van Tweespruit, Luckhoff, Winburg, Jagersfontein, Tierpoort, Petrusburg, Wepener, Vanstadensrus, Bainsvlei en Bloemfontein gehelp, het Venter gesê.

 

Back to top

 

16 Kind se ‘Hallo!’ soos matrieksertifikaat

Anika Marais

(Die Burger, 23 November 2015)

Paarl. – Twee jaar lank het sy elke oggend, middag en nét voor huistoegaantyd voor een van haar sewejarige leerders gaan sit om hom te leer om te groet.

“Op sesjarige ouderdom kon hy nie met my oogkontak maak nie. Hy kon my nie groet nie. Hy het nie eens op sy naam gereageer nie.”

Conlynn Claasen (27) se oë skiet vol trane terwyl sy in die personeelkamer van die Ligstraal-skool in die Paarl praat oor die uitdagings wat sy daagliks in haar klas van agt outistiese leerders ervaar.

“Elke dag, drie keer ‘n dag, het ek voor hom gaan sit met ‘n prentjie van ‘n mannetjie wat vir hom waai.”

Aanvanklik het die leerder nie eens vir haar gekyk nie en Claasen se assistent, Alice Izaks (52), moes sy gesiggie vashou om hom op sy juffrou of die prentjie te fokus.

“Dan het ek gesê: ‘Hallo!’ en my hande in die lug gewaai. ‘Hallo! Hallo! Hallo!’ Oor en oor en oor.”

Twee jaar lank het die leerder se gesiggie niks verklap nie. Sy oë het in die rondte gerol en dan het hy eenvoudig weer anderpad gekyk.

En toe daardie één dag … Ek het niks anders gedoen nie … Ek sê nog: ‘Hallo!’ En toe kyk hy skielik op en sê: ‘Hallo!’ terug.”

Claasen gooi haar hande in die lug op. “Hallo! Hallo! Hy het ‘Hallo!’ gesê!”

Claasen, wat opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het, is onlangs deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement vereer vir die besonderse werk wat sy met leerders met spesiale behoeftes doen.

“’n Ander onderwyser sal die koerant kan oopmaak en kan spog met al haar A-simbole. Maar dáárdie ‘Hallo!’ was vir my so goed soos ‘n matrieksertiflkaat.”

Sy vou haar hande oor haar bors, asof sy vir haarself ‘n drukkie gee. “Die geheime resep is net geduld. My geduld het hom van homself bevry.”

 

Back to top

 

17 OEFEN jou VROLIKER

Deur ANET SCHOEMAN

(Rooi Rose, Desember 2015)

Almal weet oefening is goed vir jou. Maar dit het baie meer voordele as net gesondheid en ‘n slanke figuur. Verskeie studies het bevind dat oefening jou ook baie gelukkiger laat voel en verskeie sosiale voordele het

Lyk jonger. Verbeterde bloedsomloop bring meer suurstof en nutriënte na jou vel en raak doeltreffend van gifstowwe ontslae, sê dr. Christopher Roland Payne van die London Clinic. Hy sê oefening skep die ideale omgewing in die liggaam om kollageenproduksie te bevorder en fyn plooitjies te voorkom. En dis gratis!

Jy hoef jou ook nie oor ‘n mik te oefen nie. Gretchen Reynolds sê in haar boek The First 20 Minutes dat die meeste voordele uit oefening binne die eerste 20 minute gebeur. Dit wissel van verbeterde breinkrag tot verlaagde mortaliteit. En as jy nie 20 minute het nie? Verdeel dit in twee sessies van 10 minute elk.

Sukkel jy om te slaap? Navorsers het ‘n groep onaktiewe mense wat aan slaaploosheid ly, gevra om elke dag 20 tot 30 minute te draf. Hulle het daarna báie gouer aan die slaap geraak en almal het minstens ‘n uur langer geslaap. Heelwat studies toon dat ‘n chroniese gebrek aan slaap verband hou met gewigstoename en dit lei weer tot vetsug en chroniese siektes soos tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes en depressie.

Oefening maak jou van binne en buite sterker. Jou selfvertroue kry ‘n hupstoot as jy fikser is en hang saam met verbeterde vaardighede, spierdefinisie wat jy kan sien, vetverbranding en omdat jy meer energiek voel. Dit verbeter selfvertroue binne en buite die gim.

Is jy altyd te moeg vir alles? Gereelde oefening maak jou fikser en meer energiek – nie net om te oefen nie, maar ook vir die ander lekker dinge wat jou gelukkig maak, maar waarvoor jy te moeg is.

Oefening verhoog vlakke van dopamien en serotonien wat jou teen depressie beskerm. Sommige studies het bevind dat oefening net so doeltreffend soos medikasie kan wees.

Sukkel jy om te fokus? Volgens navorsers kan ‘n toename van net 5% in jou kardio-respiratoriese fiksheid ‘n 15% verbetering in verstandelike toetse tot gevolg hê.

Kinders wat fiks is, leer makliker. Professor Charles Hillman skryf in die joernaal Brain and Cognition dat die breinfunksies van fiks kinders van dié van hul onfikse maatjies verskil. Uit sy studie het geblyk dat fikser kinders flinker van begrip is en dat hulle inligting vinniger verwerk. Die verskil in breinaktiwiteit kan meebring dat fikser kinders makliker leer lees en beter begrip van taal het.

Oefening verminder angstigheid en is veral doeltreffend as jy wil ophou rook, minder drink of ‘n verslawing wil oorwin, maar sukkel omdat jy angstig raak sodra jy die middel verminder. William Glasser, skrywer van Positive Addiction, sê die oefengewoonte kan help om ander slegte gewoontes te verdryf. Flinke oefening vir 75 minute per week het mense gehelp om ‘n verslawing te oorwin.

Leef langer! Matige oefening maak immuunselle meer aktief en reg om infeksies te beveg. ‘n Studie aan die Universiteit van North Carolina het bevind dat mense wat 15 minute per dag, vyf dae per week gedraf het, die helfte minder siekteverlof as hul onaktiewe kollegas geneem het.

Matige oefening gedurende swangerskap verbeter jou kanse op ‘n makliker geboorte met minder komplikasies. Boonop herstel jy vinniger, is fikser vir die uitdagings van moederskap, en sukkel minder met neerslagtigheid.

Halsstarrige selluliet? Dr. James Flemming, skrywer van Beat Cellulite Forever, sê hardloop is die heel beste oefening vir selluliet op jou dye en sitvlak en kan hierdie hardnekkige vetstore verwyder.

Oefening verhoog die vlak van ‘n proteïen (BDNF) in jou brein. Die proteïen bevorder die groei en oorlewing van neurone en kan help om neurologiese siektes soos Parkinson- en Alzheimer se siekte te vertraag.

Oefening help jou om jou liggaam te aanvaar. Dit wil lyk asof die feit dat jou liggaam in staat is om te oefen jou uitkyk verander, al bereik jy nie voorkoms-doelwitte soos om gewig te verloor of spiere te bou nie. Ontevredenheid met jou liggaamsvoorkoms lei tot ander euwels soos gebrek aan selfvertroue en depressie.

 

Back to top

 

18 Waar een pad eindig.

(E-pos, 2 Desember 2015)

Stilte weergalm deur die Silver Bullet. Die Toyota Yaris hardloop amper van self op die nou al bekende pad na Lutzville. Haar besoek aan die klein dorpie is nie vir ‘n kuier-afpak-naweek soos gewoonlik nie. Naomi Viljoen gaan om haar dogter te begrawe.

Toe sy ‘n halfuur gelede van haar huis in Bitterfontein wegtrek, het sy dadelik die radio afgesit. Vandag gun sy haar ore ‘n ruskans. Sy het nodig om na te dínk en perspektief te kry. Die beste plek daarvoor is hier, op die oop stuk pad in Namakwaland met God as haar enigste passasier. Die afgelope week het sy gedweë toegelaat dat ander praat. Haar selfoon was bedrywig met al die boodskappe en oproepe. Haar bure en ook kolegas het die welkom matjie voor haar deur warm getrap. Almal wou troos en bemoedig. Naomi het nie woorde gehad om terug te gee nie. Net “dankie” en “dit beteken baie vir my”. Vir die eerste keer sedert die tyding van Bianca se dood, is sy op haar eie. Het sy ruimte vir dink en woorde bymekaar maak wat die hele gedoente in haar binneste kan beskryf.

Die bordjie langs die pad sê Vanrhynsdorp lê nog twintig kilometer voor haar. Gedroogde bossies staan die vlaktes vol tot teen die Maskamberg. Die veld lyk dood. Dit is asof iemand alles afgebrand het sodat daar net geraamtes en as oorbly. Dit is moeilik om te glo dat dit dié Namakwaland is wat ‘n paar maande terug ‘n skouspel van kleure was. Nou is dit net die blou oop lug, die asvaal veld en hier en daar ‘n verdwaalde Maartblom. Naomi voel asof sy in ‘n spieël na haarself kyk en sy wonder, of daar vir haar ook troos sal wees, soos die eerste winterreëns troos is vir die dorre vlaktes? Hoekom moet sy in hierdie jare van haar lewe soveel, hartseer, verlange, vrae en teleurstellings beleef ? Sy voel dom, want dit is moeilik om te verstaan dat dieselfde God wat so mildelik uitdeel, net so vinnig weer kan wegvat. Naomi weet wat dit beteken as God kom wegvat. Agt jaar gelede het sy ook hierdie pad saam met Hom geioop toe haar man aan ‘n hartaanval oorlede is en nou bêre sy die jongste van hulle drie kinders. Hoe doen mens dit? Hoe gaan die lewe aan na jou kind se dood? Sy kan nie, wíl nie haar indink hoe die lewe sonder Bianca gaan wees níe, maar sy moet, want die kind is weg. lemand sal haar naam roep en sy sal nooit weer antwoord nie. Dit brand ‘n gat in haar hart as Naomi besef sy sal haar kind nooit weer teen haar kan vasdruk nie.

‘n Uur later beweeg die Silver Bullet in die rigting van Vredendal. Op Vanrhynsdorp het sy gestop om brandstof in te gooi en ‘n soetding vir die kleinkinders te kry. Sy is dankbaar vir die tydjie wat sy saam met haar twee seuns en hulle gesinne kan deurbring. Sonder hulle ondersteuning en liefde is sy verlore. Die afgelope week het sy besef hoe geseënd sy is met al die dierbares in haar lewe en sy voel meteens so selfsugtig, omdat elkeen wat vir Bianca geken het ook seer het en sy kon nog vir geen een vertroosting terug gee nie. ‘n Verlore Maartblom swiep verby en die stukkie rooi vang Naomi se oog.

Die ruiker vir Bianca se troue sou rooi wees. Die gastelys is reeds gefinaliseer en die honeymoon geboek, maar nou sal die 31ste Januarie verby gaan nes enige ander dag. Sy wonder hoeveel van die name op Bianca se gastelys sal môre by haar begrafnis wees. Op die sitplek langs haar soek Naomi na haar selfoon. Dis kwart oor ses. Die son is besig om in die see te val Strandfontein se kant toe.

Met die foon in die een hand en verdeelde konsentrasie op die pad, stuur sy ‘n sms om die kinders laat weet waar sy trek. Sy loer ook of Berto al op haar boodskap geantwoord het. Niks. Wat gaan deur die arme kind se kop? Hoe hanteer die jongman die pyn van sy verloofde se dood? Naomi weet Berto se stryd is op ‘n ander vlak van diep as hare. Hy het Bianca sien sterf. Hy was in die kar toe sy skielik net uitgeval het en hy het die geluid gehoor toe haar lyf die teerpad tref. As hy net wou praat. As hy net met háár wil praat, want sy het soveel vrae. Hoe val mens net by ‘n deur uit? Het hulle baklei? Wat was haar laaste woorde? Wat het rêgtig gebeur?

Naomi ry stadiger om by die treinspoor te stop. Sy is in Vredendal. Haar binnekant voel meteens swaarder en die seer stoot op verby ‘n knop in haar keel en breek los in ‘n stortvloed trane wat met rukkeríge snikke uit haar lyf ontsnap. Dit is in hierdie dorp waar die ongeluk gebeur het, dis hier waar haar liefling kind haar laaste asem uitgeblaas het. Deur die traanwaas ry sy tot by die bord wat sê Lutzville via Holrivier. Sy draai links en gee vet op die petrol. Vredendal verdwyn vinnig agter haar.

Minute later sien Naomi die eerste huisies van Lutzville se bo dorp. Sy het intussen die ruit oopgedraai vir vars lug en die twee soutriviere op haar wange weggevee. Dank die Here sy is veilig hier. Met dié besef gaan ‘n stukkie lig vir Naomí op. Hy was nou met haar op hierdie pad van Bitterfontein tot Lutzville. Hy was saam met haar nog haar lewe lank op elke pad wat sy moes stap, Hy sal dan ook hierdie nuwe onbekende pad saam met haar loop. Elke tree wat sy ná môre gee, sal op hierdie nuwe roete wees, sonder haar dogter, maar sy reis nie alleen nie. Dít is haar troos en die feit dat daar liefling dogter tóg ‘n bruid sal wees. Die Bruidegom het haar afterall self kom haal.

 

Back to top

 

19 ‘Talle skole word dalk gou parallelmedium’

Kaydene Davids

(Die Burger, 23 November 2015)

Bloemfontein. – Talle enkelmediumskole kan moontlik in die nabye toekoms in parallelmediumskole omgeskakel word omdat daar te min leerlinge is wat onderrig in hul moedertaal verlang.

So het regter Eberhard Bertelsmann Saterdag op die jaarvergadering van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) in Bloemfontein gesê.

Bertelsmann het gesê hoewel die voorkeur altyd skole met net een onderrigtaal sal wees, is dit moeilik, aangesien die vraag na onderrig in die land se minderheidstale kwyn.

Hy het gesê in parallelmediumskole kan minderheidstale nie net gered word nie, maar ook versterk word.

Bertelsmann het gesê hy het voor sy praatjie met senior bestuurslui van die Noordwes-Universiteit oor die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal gepraat. Volgens hom het die bestuur gesê hulle sal voortgaan om lesings in Afrikaans aan te bied as daar ‘n behoefte daaraan is.

“Die onus vir Afrikaans as onderrigtaal hier rus op die ouers en hul kinders.”

Hy het gesê hoewel almal mense ken wat sê hulle gaan hul kinders na ‘n Engelse skool stuur omdat dit hulle ‘n beter kans in die lewe sal gee, is dit glad nie die geval nie.

“Dit is die grootste onreg wat ons ons kinders kan aandoen.”

Hy het ‘n beroep op Fedsas gedoen om voort te gaan om mense te oortuig dat moedertaal die beste onderrigtaal in die vroeë jare van enige kind se opvoeding is. “Só word die beste grondslag gelê. Daarna kan hulle enige ander taal van onderrig kies, maar die kind moet in sy moedertaal gebek wees.”

Hy het gesê die minderheidsgroepe se tale is sterk. “Die toekoms van Afrikaans lê in die hande van Afrikaans­sprekendes.”

 

Back to top

 

20 ‘Eienaars het reg om hul te beskerm’

VUURWAPENWET

Llewellyn Prince

(Die Burger, 23 November 2015)

Wat word in misdaad gebruik, wil groep weet

Kaapstad. – Vuurwapeneienaars het ‘n onvervreembare reg om hulle teen ernstige geweldmisdaad te verdedig.

Weens die polisie se stadige reaksie en die feit dat die regering, soos ook ander regerings, nie altyd sy burgers teen geweldmisdaad kan beskerm nie, bied gelisensieerde vuurwapens gepaste beskerming mits dit verantwoordelik gebruik word, het John Welch, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Vuurwapeneienaarsvereniging (Saga), gesê.

Vrydag het Nathi Nhleko, minister van polisie, gesê vuurwapenwetgewing kan binnekort baie strenger gemaak word om geweldmisdaad te bekamp. Die algemene opvatting dat iemand wat ‘n vuurwapen besit veiliger is, moet verander word, het hy gesê.

Welch het gesê Saga stem glad nie saam met die stelling dat vuurwapens in burgerlike hande misdaad aanvuur nie, maar gee toe dat vuurwapens in wettige besit soms gesteel word.

Volgens hom is die groot vraag eerder waar misdadigers die vuurwapens in die hande kry wat hulle in ernstige misdade soos transito- of winkelsentrumrooftogte gebruik.

“In sulke rooftogte word meestal AK-47’s, R4- of R5- outomatiese gewere gebruik. Die enigste burgerlikes wat dit kan besit, is private versamelaars, en dan op baie streng voorwaardes.”

Volgens hom toon syfers dat geen private versamelaar in die afgelope 12 jaar ‘n outomatiese geweer verloor het.

Dit is oor die algemeen net die polisie en die weermag wat sulke wapens mag besit.

Welch het gesê vuurwapens word ook van staatsinstansies gesteel.

Baie semi-outomatiese en outomatiese gewere word ook die land ingesmokkel. As misdadigers AK-47’s kan gebruik om renosters dood te skiet, wat verhinder hulle om dit die land in te bring?

“Ons het nie ‘n benul hoeveel onwettige vuurwapens daar in Suid-Afrika is nie.”

Adéle Kirsten, woordvoerder van Gun Free South Africa, het gister gesê daar is bewyse dat strenger wetgewing om toegang tot vuurwapens te verminder wêreldwyd tot minder vuurwapenverwante sterftes lei.

“Ons verwelkom enige poging tot strenger vuurwapenwet­gewing.

“Om wetgewing strenger te maak, is egter net ‘n tydelike oplossing. Ons benodig langtermynoplossings om onder meer die gedragspatrone van veral jong mans, wat dikwels oortreders in en slagoffers van vuurwapengeweld is, te verander.

“Ons wil ook weet watter soort vuurwapens die meeste in gewelds-misdade gebruik word. Data van 10 jaar gelede wys dit is handwapens soos pistole en rewolwers.”

 

Back to top

 

21 Verwonderd

deur JACQUELINE LEUVENNINK

(Leef, Desember, 2015)

Die koning Dawid in hierdie weergawe van Psalm 8 klink asof hy hom iewers in die misterie van ‘n ster-belaaide Karoo-nag bevind het: “As ek, o Heer, U magtelike hemel daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel; hoe, deur U toeberei, die skugter maan met stille gang oor sterrevelde gaan.” En dan vervolg hy, oorweldig deur wat hy sien, met: “Wat is die mens dan dat U hom gedenk het, die mensekind wat U so ryk beskenk het!”

Soms wonder ‘n mens of dit nie dalk makliker was vir ‘n herder as vir ons vandag om te sien “orals blink U Naam en majesteit” nie. Dis of alles om ons meeding om ons verwondering oor die Skepping en die Skepper daaragter verdwerg. Die Engelse digter Wordsworth het destyds al gesê: “The world is too much with us.” Verdwaal tussen die menslike prestasies en kompleksiteite van ons lewe sukkel ons om die wind se veraf liedjies deur die suikerbosse te hoor, en sien ons nie altyd meer heuwels wat in ‘n blou oneindigheid wegrol nie.

Vyf jaar gelede is die wêreld se hoogste gebou – die Burj Khalifa in Doebai – met ‘n reusagtige vuurwerkvertoning ingewy. Met sy 160 verdiepings wat van sy basis tot aan die punt van sy toring 830 m uit die grond verrys, is dit amper dubbel die hoogte van die beroemde Empire State-gebou wat mense toentertyd al in New York na hulle asem laat snak het. Die Burj lok tot 1,5 miljoen mense per jaar wat bereid is om 54 Amerikaanse dollar (meer as R700) te betaal om dinge te betrag vanaf ‘n hoogte hoër as wat ‘n voël kan vlieg.

Maar nog is het einde niet. ‘n Kingdom Tower word in Jedda, Saoedi-Arabië, beplan – die eerste gebou ooit wat meer as 1 km hoog gaan wees. En volgens ‘n koerantberig kan ‘n “gesofistikeerde” skemerkelkie genaamd Original Sazerac jou deesdae ook (per glas) sowat R97 000 uit die sak jaag in die American Bar van die Savoy Hotel in Londen.

Die wedywering om die grootste en magtigste te wees woed ook op ander terreine voort. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ongeveer honderd duisend mense omgekom toe die eerste atoombom op 6 Augustus 1945 om presies 08:16 op Hirosjima geval het. Ondanks die onberekenbare skade aan menselewens het dit nie die VSA of die Sowjet-Unie daarvan weerhou om slegs sewe jaar later die eerste waterstofbomme te toets in die magwedloop tussen dié supermoondhede nie.

In teenstelling hiermee skryf sendelingvriende wat betrokke is by vergete kinderhuiskinders in Bulgarye verlede jaar: “Op die oomblik is dit baie koud hier, die gemiddelde temperatuur so −15 °C. Daar is die afgelope week mense dood weens blootstelling. Ons is bevoorreg om sentrale verhitting in ons woonstel te hê.

“En tog het die Here in die Kerstyd op ‘n besonderse manier voorsien in die kinders se behoeftes. Ons het nie genoeg warm jassies gehad vir die nuwe kindertjies wat inkom as dit so koud is nie. Maar een aand laat lui ons voordeurklokkie. Dis ‘n vrou wat vra dat ons na iets in haar woonstel moet kom kyk. Haar vriendekring het warm klere geskenk.

“Die eerste wat ons raaksien, is die jasse. Warm en van ‘n goeie gehalte. Sonder dat die vrou van die spesifieke behoefte geweet het! Dit was die begin van ‘n pragtige Kersfees saam met die kinders.”

Here, U is in eenvoudige omstandighede in hierdie wêreld gebore. Ons bely dat U wêreld al dowwer en yler vertoon waar ons klein, alledaagse wonders miskyk. Vul ons harte in hierdie Kerstyd opnuut met verwondering soos dié van ‘n kind.

 

Back to top

 

22 Wat lê anderkant ras?

Skuinskyk, Max du Preez

(Die Burger, 7 November 2015)

Bla bla bla, is my reaksie elke keer wanneer ‘n ANC-politikus die ou rympie begin van die “demokratiese, nie-rassige, nie-seksistiese” gemeenskap waarvoor hulle kwansuis stry.

Oor die “demokratiese” en “nie-seksistiese” kan ‘n mens maar net snork en jou oë rol.

Dit bring ons by nie-rassigheid, neergelê as ‘n basiese waarde van ons demokrasie in Artikel 1 van ons Grondwet.

Kom ons besin eers oor wat nie-rassigheid nié is nie.

Dit beteken nie dat ons nou die sosiale werklikheid van rasgebaseerde identiteite kan ontken nie. Dit is al te lank met ons om dit nou te probeer ignoreer.

Dit beteken nie dat apartheid en die impak daarvan nou net ‘n slegte herinnering is en dat ons almal nou kan inhaak en al “Kumbaya” – singend die toekoms saam inloop nie. Daar lê nog skerp en onaangename gesprekke vir ons voor.

Nie-rassigheid beteken nie ons moet ophou besin oor wit bevoorregting, paternalisme en die bewuste of onbewuste houding van soveel wit mense dat wit en Westers die norm is nie.

Nie-rassigheid is nie per se in botsing met die beginsel (let wel, ek sê die beginsel) van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging nie. Dit ondermyn ook nie multi-kulturalisme nie.

So wat is dit dan en hoe manifesteer dit?

Ek dink die essensie van nie-rassigheid is ‘n erkenning dat ras ‘n sosiale konstruksie en nie ‘n geldige biologiese entiteit is nie.

Mense het nie sekere houdings of gedagtepatrone of gedra hulself op sekere wyses omdat hulle van ‘n sekere “rassegroep” is nie – as daar sulke patrone is, dan is dit ‘n gevolg van sosialisering, kultuur en geskiedenis. Nie-rassigheid is die strewe na ‘n Suid-Afrika waar ons eendag met oortuiging sal kan sê dit is betekenisloos om etikette soos swart, wit, kleurling of Indiër te gebruik om mense te identifiseer. ‘n Ideaal, dus, ‘n droom wat sekerlik nie in my leeftyd volledig gaan realiseer nie. Dalk nooit nie, maar ons kan, ons móét, naby daaraan kom.

Dit alles beteken jy kan nie twee dekades ná 1994 rondom ras mobiliseer of ‘n ras-chauvinis wees en jou terselfdertyd op nie-rassigheid beroep nie.

Julius Malema se Economic Freedom Fighters is die duidelikste voorbeeld van ‘n party wat die beginsel van nie-rassigheid in die praktyk geheel en al verwerp.

Solidariteit, AfriForum en die Vryheidsfront Plus sal waarskynlik redeneer dat hulle kultuur en taal, eerder as ras, as grondslag vir hul mobilisering gebruik, maar enige aanspraak op nie-rassigheid uit dié oord gaan met groot agterdog bejeën word.

Die Demokratiese Alliansie het dalk die sterkste aanspraak om homself ‘n nie-rassige party te noem, maar baie Suid-Afrikaners vermoed steeds dat dit ‘n jakkalsdraai is om swart steun te werf sonder om van wit bevoorregting afstand te doen.

En die ANC? Oudpres. Kgalema Motlanthe, ‘n Robbeneiland-graduandus, het dié week in ‘n onderhoud gesê nie-rassigheid is inderdaad ANC-beleid, maar die party het dit nie “geïnternaliseer” nie en dit word nie meer in die ANC se houdings en uitsprake gereflekteer nie.

Hy het die manier waarop parlementslede van die ANC die swart lede van die DA as uitverkopers en handlangers van wit mense uitkryt, as voorbeeld genoem.

Motlanthe kon maar verder gegaan en erken het dat die ANC nou terug by sy vroeë wortels as ‘n swart nasionalistiese party is.

Die EFF en ander radikale politieke drukgroepe beroep hulle deesdae op Steve Biko  om hul skerp anti-wit retoriek te regverdig en nie-rassigheid te verwerp. Maar Biko het nie-rassigheid gepredik lank vóór die ANC dit gedoen het.

“Daar is net een ras, en dit is die menslike ras,” het hy al vier dekades gelede gesê. “Ons voorsien ‘n heeltemal nie-rassige samelewing, met geen meerderheid en geen minderheid nie.”

Is dit ‘n teenstrydigheid – Biko was immers die hoofprofeet van die Swart Bewussyn? Nee, nie as jy hom reg verstaan nie. Hy wou hê swart Suid-Afrikaners moes hulself eers volledig emansipeer – geestelik en polities – sodat hulle dan, in sy woorde, die wit man kan nooi om saam as gelykes om die tafel te sit. Dán kan ras begin verdwyn. Sy “verheerliking” van swart-wees was net in reaksie op wit meerderwaardigheid en onderdrukking. (En onthou, hy het sewentien jaar voor die val van apartheid gesterf.)

So, die stryd om nie-rassigheid kan net vorder as rasmobilisering afneem, wit rassisme en afsondering verdwyn, en pasgeborenes se toekoms nie meer deur hul ras bepaal word nie.

  • Luister hier na Biko oor nie-rassigheid: http://m.polity.org.za/article/steve-biko-talks-on-non-racialism-archive-2015-06-18.

 

Back to top

 

23 Presbiteriane kla predikante aan wat huwelike vir gays voltrek

News24Wire

(Die Burger, 16 November 2015)

Johannesburg. – Twee predikante van die Presbiteriaanse Kerk het verlede week voor ‘n tribunaal in dié stad verskyn op aanklagte van wangedrag nadat hulle vier gay-huwelike voltrek het, het die Sunday Times gister berig.

“Sover dit my aangaan, word die verkeerde mense aangekla,” het Hansie Wolmarans, ‘n professor in teologie aan die Universiteit van Johannesburg, aan dié koerant gesê.

Wolmarans het verlede Maandag saam met ds. Martin (Chunky) Young in die kerk se kantore in Parktown voor die provinsiale regsliggaam, die eGoli-ringskommissie, verskyn.

‘n Klagte is deur ‘n dominee in Kaapstad teen Wolmarans en Young ingedien nadat hulle die vier gay-huwelike voltrek het.

Predikante van die Presbiteriaanse Kerk mag nie registreer om ‘n lisensie vir die voltrekking van siviele verbintenisse te bekom nie.

Maar Wolmarans, wat wel só ‘n lisensie het, het die wetlike vereistes van die huwelik voltrek, terwyl Young die seën oor die huwelike uitgespreek het.

Die twee mans voer aan dat die kerk se huidige reëls die Suid-Afrikaanse wet oortree wat huwelike tussen dieselfde geslag toelaat.

Die Presbiteriaanse Kerk se streeks- en nasionale liggame wou nie aan die koerant kommentaar lewer nie omdat ‘n beslissing in die twee se verhoor nog nie gefinaliseer is nie.

  • Intussen het Rapport gister berig die NG Kerk se besluit om gays toe te laat om in die kerk te trou en gay predikante te legitimeer sonder dat hulle selibaat hoef te wees, is op appêl uitgestel.

Volgens die koerant het sommige van die kerkleiers wat oorspronklik ten gunste van die veranderinge gestem het, nou van besluit verander.

Die kerk se leiers sal weer volgende week bymekaarkom om die saak te bespreek.

Ds. Nelis van Rensburg, die NG Kerk se moderator, het gesê hy hoop die gesprek oor die saak sal in ‘n “gees van liefde” geskied.

Hy het verlede week aan Die Burger gesê die NG Kerk is ‘n “beweging vir alle mense. Ons verskuif ons mure uit om plek te maak vir nóg mense.”

 

Back to top

 

24 ‘Dis vrou se skuld as sy verkrag word’

News24Wire

(Die Burger, 23 November 2015)

Harare. – Vroueregtegroepe is woedend nadat Grace Mugabe, Zimbabwe se presidentsvrou, gesê het dit is vroue se skuld as hulle verkrag word weens die klere wat hulle aantrek.

“As jy verkrag word, is dit jou skuld,” het Mugabe (50) luidens die aanlyn nuusdiens Newsday die afgelope naweek op ‘n massasaamtrek in Mberengwa in die suide van Zimbabwe gesê.

Dié ma van vier het glo in Shona te velde getrek teen minirokke.

Die presidentsvrou se afkeer van minirokke is welbekend – sy het verlede jaar ook skerp kritiek gelewer op adj.pres. Joice Mujuru, wat ‘n kort rok gedra het.

Verskeie mense het Mugabe op Twitter die kop gewas oor haar omstrede uitsprake oor vroue se kleredrag.

“Deur die slagoffer te blameer, vererger ons die probleem,” het @mtchikawa getwiet. “Ek wonder waar kry sy die empiriese bewyse om dié aanname te regverdig,” het ‘n ander geskryf.

Ironies genoeg het pres. Robert Mugabe (91) verlede maand gesê sy regering skenk ernstige oorweging aan die idee om verkragters te kastreer.

“Moenie sê mnr. Mugabe word nou wreed omdat ons ons vroue wil beskerm nie. So manne, wees versigtig,” het pres. Mugabe vroeër vanjaar oor middagete aan parlementslede gesê.

Sy vrou het op die pas afgelope massasaamtrek ook gesê sy respekteer adj.pres. Emmerson Mnangagwa, die man wie se pos sy dalk sal oorneem. Sy het egter weer ontken dat sy enige politieke ambisie koester sou haar man die dag uittree.

 

Back to top

 

25 W-Kaap spog met 8 voorste restaurante

Jana Breytenbach

(Die Burger, 16 November 2015)

Kaapstad. – Die jaarlikse kulinêre hoogtepunt het gister in die Moederstad plaasgevind toe die land se beste sjef en tien beste restaurante op die Eat Out-restauranttoekennings­geleentheid aangekondig is.

Agt van die beste tien restaurante is in die Wes-Kaap.

Dié jaarlikse toekennings is waar die sterre van die land se restaurantbedryf vereer word. Die geleentheid word jaarliks in November aangebied en bekroon die land se tien beste restaurante, wys die sjef van die jaar aan asook ander bedryfswenners.

Gister is Scot Kirton, hoofsjef van La Colombe in Constantia, met die S. Pellegrinosjef van die jaar-toekenning vereer.

Kirton het in 2001 sonder ervaring by Haute Cabriere in Franschhoek begin werk.

In 2006 het hy by een van Gordon Ramsay se restaurante, Savoy Grill in Londen, gaan werk. Einde 2007 was hy terug in Suid-Afrika en het saam met Luke Dale Roberts van die Test Kitchen gewerk. In 2009 het hy by die River Cafe gewerk en in 2010 is hy by La Colombe aangestel.

Roberts se restaurant in Woodstock, The Test Kitchen, is die vierde agtereenvolgende jaar as die beste restaurant aangewys.

Die Franschhoekse restaurant The Tasting Room by Le Quartier Français is die tweede agtereenvolgende jaar vereer vir sy handhawing van uitstekende standaarde en is die wenner van die toekenning vir voortreflike diens.

Die wenner van die Lannice Snyman-toekenning vir lewenslange prestasie, wat saam met die medeborg Novus Holdings aangebied is, is die bekende Liz McGrath van die gasvryheidsbedryf.

Die Nederburg-toekenning vir ‘n opkomende ster is verower deur Carmen Muller van The Tasting Centre by Rupert & Rothschild in Franschhoek.

Lloyd Jusa van die Johannesburgse restaurant Five Hundred by die Saxon het die wyndienstoekenning ontvang as top-sommelier.

Greenhouse by The Cellars-Hohenort het die Boschendal-styltoekenning ontvang.

 

Back to top

 

26 Die Italianer

(E-pos, 2 Desember 2015)

‘n 80 jarige Italianer gaan besoek sy huisdokter vir sy jaarlikse ondersoek.

Dokter: “Sjoe, hoe kry jy dit reg om in so ‘n goeie kondisie te bly?”

Italianer: “Gholf en twee glase rooi wyn per dag. Ek staan elke oggend vyf-uur op en speel dan 9 putjies gholf voor ontbyt en drink dan twee glase rooi wyn.”

Dokter: “Hoe oud was jou Pa toe hy oorlede is?”

Italianer: “Wie sê hy is oorlede. Hy is springlewendig op 98 en het vanoggend op die nudiste strand gaan stap en drink ook twee glase rooi wyn per dag.”

Dokter: “En op watter ouderdom is jou Oupa oorlede?”

Italianer: “Wie sê hy is oorlede. Hy is nog sterk op 118 jaar en gaan vanmiddag trou met ‘n 18 jarige meisie!”

Dokter: “Mensig! Wie wil nog op 118 jaar trou?”

Italianer: “Wie sê hy wou trou.”

 

Back to top

 

27 Skroewe stywer vir gee van krediet

LEWENSVERSEKERING

Nuwe perke kom vir omstrede gebruik

Nellie Brand-Jonker

(Die Burger, 16 November 2015)

Kaapstad. – Met die voorgestelde perke op kredietlewens­versekering wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is, word ‘n geldkraantjie, wat sekere banke en kredietverskaffers die afgelope jare gebruik het, toegedraai.

Kredietlewensversekering word uitgeneem om skuld te delg as iemand sterf, ongeskik raak om te werk of afgedank word.

Sommige kredietverskaffers het egter dié versekering misbruik deur oormatige premies te hef en sodoende meer geld uit kredietverskaffing te maak.

Die voorgestelde perke op kredietlewensversekering kom kort nadat die nuwe maksium rentekoerse wat op krediet gehef mag word, die vorige Vrydag gepubliseer.

Neil Grobbelaar, uitvoerende hoof van die mikrolenings­onderneming Real People, sê die gekombineerde uitwerking gaan wees dat die beskikbaarheid van krediet wesenlik gaan verminder.

“Kredietverskaffers sal hul aanbiedinge ingrypend moet beperk om seker te maak dat hulle winsgewend kan bly te midde van die verlaagde koerse en perke op kredietlewenspremies.

“Die opbrengs wat hulle kan verdien uit lenings, gaan daal.”

Hennie Ferreira, uitvoerende hoof van die Mikrolenings­vereniging van Suid-Afrika (MFSA), sê dit gaan kleiner kredietverskaffers onder druk plaas, veral dié wat baie afhanklik van kredietversekering was.

Veral die maksimum koers wat op ongesekureerde krediet gehef kan word, daal heelwat.

Die nuwe rentekoerse tree in Mei 2016 in werking.

Belanghebbendes het nou 30 dae om kommentaar te lewer op die voorgestelde perke op kredietlewensversekering.

Ferreira sê die “hersiening sit niemand in ‘n beter posisie nie en dit het nie met inflasie tred gehou nie”.

Hy meen banke gaan voortaan versigtiger wees met die toestaan van krediet.

“Die ondergrondse mark gaan absoluut floreer omdat verbruikers weggewys gaan word van die geregistreerde kredietverskaffers.”

Grobbelaar meen ook kredietverskaffers gaan hul kredietverskaffing aan hoërisikoverbruikers verminder.

“Die gevolge in die mark gaan eenvoudig wees dat kredietbeskikbaarheid gaan verminder.”

Dit gaan weer ‘n impak op kleinhandelaars hê omdat dit likiditeit aan die verbruikersekonomie gaan onttrek. Dit kan ook op kort termyn tot ‘n toename in skuldwanbetalings lei.

Ferreira sê dit is interessant dat die departement van handel en nywerheid die twee regulasies gepubliseer het ondanks waarskuwings deur die Reserwebank dat dit negatiewe gevolge kan hê

Die Reserwebank het in sy Finansiëlestabiliteitsverslag vir die derde kwartaal, wat einde Oktober uitgereik is, daarna verwys. Ferreira meen die feit dat die Reserwebank teen die impak daarvan gewaarsku het, beklemtoon hoe ernstig die impak kan wees.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het die perke op rentekoerse verwelkom as ‘n oorwinning vir alle Suid-Afrikaners, veral vir lae-inkomsteverbruikers.

Die formule wat voorheen gebruik is om maksimum rentekoerse te bepaal, het teen armes gediskrimineer, meen hy.

“Dit het bygedra tot die skuldlas van verbruikers en het banke toegelaat om skeefgetrekte winste te skep in tye wat rentekoerse gestyg het.

“Die ou perke het verbruikers dieper in ‘n skuldstrik laat verval, terwyl banke en kredietverskaffers hoër marges en winste kon kry.”

 

Back to top

 

28 Siel van ‘n vrou

Deur MILANIE VOSLOO

(Leef, Desember 2015)

Vroue is soos lowerryke bome wat met hulle besonderse siel skadu gee aan die wêreld… terwyl hulle soms self stoei om regop te staan.

Vroue géé. Hulle gee hulle tyd, energie, goedheid en liefde aan elkeen wat dit nodig het. Hulle nooi ander om in hulle takke nes te maak en bied soos ‘n sterk stam ondersteuning aan almal wat broos is. Hulle deel hulle diepste menswees onselfsugtig uit… totdat hulle op ‘n dag besef hulle eie wortels kry nie meer genoeg water nie.

Desember is ‘n rusmaand. ‘n Gee-maand. Volmaak-tyd. Ontvang-tyd. Ja, ook vir jóú, die vrou waarop ander leun, is dit ‘n tyd om terug te sit en te ontvang. Want jy mág jouself met mý-tyd bederf. Jy mág maar die goeie wat ander wil gee sonder skuldgevoelens geniet. Jy kan jouself veral toestemming gee om in die Kersboomtyd sommer net weer die toegedraaide pakkies genade onder jou Vader se boom van liefde te ontvang. Hy wil mos juis in hierdie dae hê dat jy die gee-van-Homself met dankbaarheid omhels.

As jy half leeggetap voel, kan jy maar weet die Vader sien dit raak. Dat Hy jou graag weer op Sy skoot wil tel, wil vashou en van Sy liefde wil verseker.

Word in die Feestyd stil genoeg om Sy hartklop vir jou te voel en ontvanklik genoeg om te neem wat Hy gee. Ja, wees ‘n Kersboom van liefde omdat jy opnuut rus vind by die Kripkind wat Sy alles vir jou gegee het, en altyd sal blý gee.

 

Op U skoot

Here Jesus,

vandag wil ek sommer net

my pligskoene uitskop

en soos ‘n klein dogtertjie

kaalvoet op U skoot sit.

U hart se klop hóór.

U arms se toevou belééf.

U fluistering van liefde indrink.

Dan wil ek U U-wees

in doeke toedraai

en dit stil-stil

onder die Kersboom

van ander se harte pak.

 

Eindelose genade

Ten spyte van haar gee is sy weggejaag die woestyn in. Verlate en verwese besef sy dat sy en haar kind aan die einde van hulle pad gekom het. Terwyl sy broos sit en staar na die dorre aarde, verwag sy niks nie: nie van mense nie, en ook nie van God nie.

Dan verras Hy haar met Sy sagte roep: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees dat jou kind sal sterf nie…” Op die regte tyd gee God aan haar dít wat sy die nodigste het: moed vir die sandpad van die lewe, beloftes van hoop.

God se uurglas van genade loop nooit leeg nie, want Hy is God: die God van oneindige liefde. Van goedheid sonder ophou. Van verwagting, vertroosting, verwondering… Van ‘n ewigheid. Ook vir jou! Mag jy beleef dat die God van vrede en vreugde in hierdie dae bý jou is.

Boodskap

God is baie bly omdat jy Sy Woord geniet.

Daarom is jy soos ‘n boom wat stewig langs die water staan. Daarom gaan dit baie goed met jou”

(Psalm 1:2-3, Die Boodskap)

 

Back to top

 

29 Leef gesond

(Rooi Rose, Desember 2015)

DIT IS ‘N BLINDEDERM AS…

Dit is verbasend moeilik om ‘n ontsteekte blindederm diagnoseer. Dit word baie maklik misgekyk, terwyl ánder toestande ewe maklik verkeerd as blindedermontsteking te gediagnoseer word terwyl mense iets heel anders makeer.

Oxford het op die betroubaarste diagnose tot nog toe afgekom: jy moet net redelik vinnig oor ‘n spoedwal ry. As jy ‘n baie skerp pyn oor jou buik ervaar, is dit waarskynlik ‘n blindederm, eerder as ‘n kramp of winderigheid.

Dié bevinding het ‘n Ig Noble-prys ontvang. Harvard ken elke jaar die Ig Noble-pryse toe vir navorsing wat jou eers laat lag … en dan laat dink.

KIES SÓ JOU MEDIESE PLAN EN SPAAR BAIE

Hier is nuttige riglyne van Fedhealth:

  • Watter uitgawes verwag jy? Raairaam hoeveel jy volgende jaar sal moet opdok. Gaan jou eisgeskiedenis na vir ‘n realistiese bedrag. Vir hoeveel uitgawes beplan julle, soos draadjies vir ‘n kind, ‘n knievervanging of ‘n nuwe baba? Het iemand ‘n chroniese siekte? Hoeveel kos dit? Is die kans op ‘n onverwagte uitgawe groot, soos as jy ouer is en ernstige, duur kwale kan verwag? Hoeveel kos dit ongeveer?
  • Wat bied die planne – of nie? Elke fonds het ‘n hele aantal planne met verskillende kenmerke: Wat is die voordele van elke plan? Dit moet by jou behoeftes pas. Jou eisegeskiedenis en jul beplande uitgawes saam wys watter soorte dienste julle gaan nodig kry, soos dokters of eerder ‘n tandarts, medikasie, sorg vir bestaande toestande, voorsiening vir ‘n groot uitgawe of die onvoorsiene.
  • Het die plan ‘n mediese spaarrekening – moet jy een hê? As julle gesond is, kan julle jul uitgawes self dra. As julle dikwels en/of onverwags dokter toe te gaan, buffer ‘n spaarrekening jou teen te veel uitgawes in een maand. Wenk: As jy baie onvoorsiene uitgawes verwag, kies ‘n fonds wat doktersafsprake uit jou voordele eerder as uit jou spaarrekening dek.
  • Wat is die jaarlikse perke en drempelvoordele? Party diensplanne beperk voordele vir byvoorbeeld ortodonsie; ander betaal eers as jy ‘n sekere bedrag self bygedra het, of verwag ‘n groot bybetaling vir operasies.
  • Teen watter koers dek die plan julle? Party dek net 100% van die mediese voordeleskaal. Jy moet self hoër bedrae inbetaal.
  • Watter uitsluitsels geld? Goedkoper fondse stel beperkings soos dat jy net in sekere hospitale behandel kan word, of sal nie die eerste jaar vir ‘n bevalling betaal nie, en so aan.
  • Doen jou somme Jou raairaming wys wat uit jou sak sal móét gaan. Werk uit vir jou topkeuses hoeveel die premies en die voordele wat jy verwag om te gebruik beloop. Trek dit af van jou raairamingsbedrag, wat jou wys hoeveel jy sal moet inbetaal. Die beste plan is die een waar jy die minste moet inbetaal.

 

Back to top

 

30 ‘n Treffende kitsbestekopname

Loftus Marais

(Die Burger, 7 November 2015)

We have now Begun Our Descent

Justice Malala

JONATHAN BALL, R240

Kom ons wees eerlik. Dinge gaan sleg. Ons het eers net diep gesug om etenstafels en vleisbraaivure, koppe geskud oor ons slapgat staat en die voortploeterende ANC. Maar dinge begin nader aan paniek beweeg.

Mens sien dit in boekwinkels se nie-fiksie-rakke. Daar is, so te sê, ‘n nuw genre wat in omslagontwerp en titelkeuse die middelklas se politieke angs teiken. Boeke wat die moontlikheid van wat speels die “apolietikalips” genoem kan word, ondersoek. Maar dalk is speelsheid verkeerde reaksie. Die serieuse R.W. Johnson sou saamstem. Sy topverkoper How Long Will South Africa Survive? Staan ook tussen al dié aktuele rillers.

Die jongste toevoeging tot die genre is die TV-persoonlikheid en politieke kommentator Justice Malala We Have Now Begun Our Descent. Ek was eers skepties. Die subtitle (How to Stop South Africa lose its Way.) doen maar min om die hooftitel se melodrama te temper. Is die boek saamgeflans, so voor die Kersmark, om die golf van die nuwe onrus al die pad bank toe te ry?

Die antwoord: Nee. Glad nie. Hierdie is ‘n leesbare, deurdagte, gevoelvolle en ek sou selfs sê noodsaaklike blik op waar ons jong demokrasie tans staan.

Malala het ‘n skaars talent. Min mense kan klinkklaar skryf oor die intrige-ryke warboel van die Suid-Afrikaanse politieke landskap. En nóg minder skrywers kan kort hoofstukke verder laai met emosie en verpak met persoonlike mededelings die dikwels abstrakte landsake konkreet maak.

Malala is kwaad. Hy voel verraai. En hy huiwer nie om direk en hard te praat nie. “Too many keep quiet while Zuma and his cronies a chauvinistic, anti-intellectual, triablist, xenophobic rhetoric to mask their looting of the fiscus”, skryf hy. Van die sterkste passasies in die boek gaan oor die Moët et Chandon-dekadensie van die ANC.

Maar We Have Now Begun Our Descent is veel meer as net ‘n blote slegsêery van díe regerende party. Marikana word bekyk as die noodwendige uitvloeisel van die militarisering van leierskap onder Zuma. Ons swak opvoedingstelsel word as die gevaarlikste mislukking van die post-1994-era uitgelê. Die manier waarop korporatiewe en partypolitieke belange die vrye media in ons land begin smoor word eerlik bespreek – Malala neem homself kwalik omdat hy destyds stilgebly het tydens die “aanval” op Marcel Golding, uitvoerende hoof van Sabido, die eienaars van e.tv.

Die boek bestaan uit twee dele, “The Way We Are Now” en “The Road Ahead”. Al die skokkende feite oor regeringsverval en partypolitieke spanninge wat ‘n mens gereeld in die koerante teëkom,. maar uit selfbehoud gou vergeet, bind Malala op ‘n gladde drafstap saam tot ‘n eenheid, ‘n beeld van die land wat mens wérklik bekommerd maak.

Dit is dus amper ‘n nuttige kitsbestekopname. Iets wat die gewone man op straat bemagtig om elke aand se nuus en elke oggend se webartikels binne ‘n wyer konteks te lees. Maar dit is ook ‘n boek wat by mens bly spook in die vorm van die belangrike vrae wat dit stel. Hoekom praat ons altyd oor korrupsie as iets wat net “die politici doen”, maar ons self koop byvoorbeeld gereeld verkeerspolisie om? Kan die burgerlike oorwinning oor Mbeki se MlV-ontkenning as bloudruk gebruik word vir hoe om die Zuma-probleme te pak? Kan die ANC se huidige optrede verklaar word deur die diep paranoia wat die organisasie tydens hulle ballingskap ontwikkel het?

Dit is in veral die laaste hoofstukke waarin die boek meer bemoedigend raak en waarin moontlike uitwegte uit ons krisisse bespreek word. Dié besprekings is kort en ongelukkig soms effe naïef, maar, toegegee, in die atmosfeer van sinisme wat tans in ons land heers, is dit dalk vir ‘n resensent moeilik om tussen gesonde optimisme en blinde naïwiteit te onderskei…

Hier en daar pla ander dinge ligweg. Amerkanismes glip die teks in (“drinking the Kool-Aid,” “it’s the economy, stupid”, ens.) en dit voel onvanpas in so’n intens Suid-Afrikaanse werk. Verder karring van die aanhalings aan die begin van hoofstukke, byvoorbeeld Paulo Coelho en Rodriguez se woorde kom ligsinnig oor. Op een plek word Wikipedia as gesaghebbende bron aangehaal…

Ondanks hiervan is die boek merkwaardig. Dis ‘n wekroep en ‘n gruwelverhaal. Dis ‘n tirade en ook plek-plek ‘n loflied. Mens hou aan lees, want Malala weet hoe om jou as Suid-Afrikaner aan te spreek. Ons is gefrustreerd, ons is bang, maar ons weet ook ons is ‘n land wat al in die verlede die ontmoontlike reggekry het.

Eenvoudig gestel: hoe meer mense hierdie treffende opsomming en interpretasie van ons huidige politieke krisisse lees, hoe beter.

 

Back to top

 

31 ‘Ons kan Bybel nie soos Huisgenoot lees’ oor gays

Malherbe Nienaber

(Die Burger, 7 November 2015)

KAAPSTAD – NG gemeentes het meer tyd nodig om hul standpunt oor die onlangse kerkbesluit oor gay-verhoudings te oorweeg en dit aan die hand van die Bybel te verstaan.

Dít was die beroep wat ds. Pieter van Santen, ringvoorsitter van George, gedoen het na aanleiding van sommige gemeentes in George en elders in die Suid-Kaap wat hulle teen die algemene sinode uitgespreek het.

“Dit gaan oor hoe ons die Bybel sien. Ons kan dit nie soos die Huisgenoot lees nie, maar moet na sy konteks as ‘n historiese dokument kyk.”

Die NG Kerk se algemene sinode het verlede maand ‘n voorstel dat gay mense dieselfde behandeling en regte as hetero­seksuele lidmate geniet, aanvaar.

Intussen het sommige gemeentes in die Wes-Kaap en elders in die land aangedui dat hulle die voorstel nie aanvaar nie.

Die kerk se moderatuur het Woensdag een van sy streekkonferensies in George gehou waar lidmate ook hul ontevredenheid met die besluit uitgespreek het.

“Mense het met baie emosie gepraat en die kans gekry om hul standpunt te stel,” het Van Santen gister gesê. Dit was eintlik ‘n bevrydende vergadering waar mense kon praat en die moderatuur geluister het.

Die geleentheid is gehou by die gemeente George-Bergsig, wat kort na die besluit oor gay-verhoudings sy eie beleid bekend gemaak het.

Luidens ‘n verklaring kan die kerk nie homoseksuele huwelike en burgerlike verbintenisse goedkeur nie, hoewel hy nie teen gays kan diskrimineer nie. ‘n Huwelik tussen ‘n man en vrou of ‘n lewe van selibaatheid “is die enige twee opsies”.

“As homoseksuele mense nie heteroseksueel kan word nie, dan moet hulle soos enkellopende heteroseksuele persone selibaat bly.”

Gay mense “in ‘n gehoorsame verhouding met God”  kan egter as predikante of amptenare in die gemeente bevestig word.

Die NG Moedergemeente George het ook verlede maand gesê hy steun nie die besluit oor gay-verhoudings nie.

Hy wil egter nie sy bande met die NG Kerk verbreek nie en eerder die sinode se “verkeerdhede” intern regstel.

Van Santen het gister gesê gemeentes ontvang egter nog leiding oor hoe om die besluit te interpreteer  en die nodige tekste aan lidmate te verduidelik sodat hulle dit kan “verteer”.

“As Kerkrade nou standpunte bekend maak, is dit eintlik vroegtydig en onnodig. Die ontevrendenheid in sekere kerkgeledere is nie rede tot kommer nie en kan as ‘n suiwering van die kerk gesien word.”

 

Back to top

 

32 Vind Rus

Sally Breedlove

(Leef, Desember 2015)

Wanneer ons as gelowiges oor die onderwerp van rus begin praat, wonder ons dikwels oor wat rus nou eintlik is. Is dit dieselfde as die Sabbat? Gaan rus net om ‘n sekere dag van die week?

In ‘n wêreld waar alles nóú moet gebeur, behoort ons hoofdoel te wees om in ons gees rustiger te raak sodat ons God se stem kan hoor. Ons kan ook die verskil tussen Sy ware rus en ons idee van rus onderskei wanneer ons let op die verskil in betekenis tussen “ontspanning” en “vermaak”.

Ontspanning gaan onder meer daaroor om iets nuuts te maak. Dit versterk ons en maak ons heel. Vermaak, daarenteen, beteken om nie te dink nie. Wanneer ons vermaak kies, ontkoppel ons van die werklikheid en skakel ons letterlik af. Selfs meer waardevol is die antieke betekenis van die woord “vermaak”. Dit beteken om te mislei. Kan dit wees dat ons mislei word om te dink die antwoord op ons moegheid is vermaak en nie ontspanning nie?

Die lewe moet mos nie ‘n afwisseling wees tussen ‘n frenetiese geskarrel van werk en skedules en ‘n breinlose staat wat ons sonder energie vir enigiets anders laat nie. Ons moet probeer om ruimte te skep vir ware ontspanning. Net jy het die vermoë om keuses maak oor wat jou siel en verhoudings gaan herskep en voed.

 

Back to top

 

33 ‘n Kosbare geskenk

(Leef, Desember 2015)

Gehaltetyd is ‘n kind se geboortereg. Om iets saam met ‘n ouer te doen is vir kinders spesiaal, juis omdat daar meestal ander gesinslede of volwassenes om die ouer se aandag meeding.

Gehaltetyd beteken jy as ouer fokus gedurende spesiale tyd saam met jou kind jou volle aandag op wat hy/sy doen en sê. Jou liggaamstaal weerspiëel dit ook en jy reageer emosioneel op die betrokke situasie.

Dit is ook nie net die verantwoordelikheid van een ouer nie – elke kind het gehaltetyd saam met albei ouers nodig. Een ouer se poging kan nooit vergoed vir die verwaarlosing van die ander ouer nie. Tyd wat die gesin saam deurbring, is net so belangrik.

Onthou, aandag moet nooit op aandrang van die kind gegee word nie. Gee dit sonder dat jou kind daarvoor moet vra. En, baie belangrik: Gehaltetyd is net doeltreffend as dit gereeld gegee word.

 

Back to top

 

34 Hartswoorde

(Leef, Desember 2015)

“Jy sal koffiewinkels nodig hê en sonsondergange,ook paspoorte, padreise, nuwe musiek en ou musiek, maar wat jy meer as enigiets anders sal nodig hê, is mense. Jy sal ander mense nodig hê en jy sal ook daardie persoon vir iemand anders moet wees: ‘n Lewende, hoorbare uitnodiging om in beter dinge te glo.”

Jamie Tworskowski

 

‘Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy Skeppingswerk gerus het’

Hebreërs 4:10

 

Back to top

 

35 Beste gr. R-onderwyser ‘lief vir leerders’

Anika Marais

(Die Burger, 23 November 2015)

Worcester. – “Tannie Bettie” hou die papierleeu in die lug vir haar nege leerders om te sien.

Wat is dit?” vra sy, waarna assistent, Jannel van der Merwe (30), die vraag in gebaretaal herhaal.

Die gr. R-klas antwoord sonder ‘n woord deur net hul hande in ‘n sirkel om hul kop te beweeg om die maanhare van ‘n leeu na te maak.

“Ja, dis ‘n leeu!” sê Bettie Roelofse (61) en haar hande vlieg ook om haar gesig om die gebaar vir ‘n leeu te maak.

In die kleuterskool van die De la Bat-skool vir dowe leerders word alles twee keer gedoen.

Roelofse sit op die blou stoel wat “Afrikaans” gemerk is en sê eers ‘n sin hardop in die hoop dat sommige leerders se gehoorapparate haar stem sal opvang of dat van die leerders haar lippe kan lees.

Dan, net om seker te maak niemand is in die duister nie, herhaal Van der Merwe, wat op die rooi stoel sit, die sin in gebaretaal.

“Dis vir ons belangrik om hul stemme ook te ontwikkel, om seker te maak hulle kan lippe lees én gebaretaal praat. Enigiets om kommunikasie met die wêreld daar buite makliker te maak,” vertel Roelofse.

Sy is onlangs deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement as die beste gr. R-onderwyser in die provinsie aangewys. Sy is in 2003 ook in dié kategorie vereer toe sy die tweede plek in die nasionale kompetisie verwerf het.

“Jannel het vir die klas gevra hoekom hulle dink tannie Bettie die prys gewen het. Toe antwoord hulle: ‘Want sy het ons lief!’” vertel Roelofse en vryf aan die silwerhangertjie om haar nek waarop die woorde “Liefde” gegraveer is.

“Dis al wat ek vir die Here in die oggend vra: Vul my gees met liefde vir hierdie kinders.”

Roelofse wy al die afgelope 33 jaar daaraan om vir haar dowe leerders “taal te gee”.

Sy was nog ‘n tiener toe haar pa, Hannes Joubert, by die De la Bat-skool begin skool hou het. Roelofse is later onderwys­kollege toe in Wellington, waar sy haar man, Natale, ontmoet het.

Vandag is Natale adjunkhoof van die Nasionale Instituut vir Dowes in Worcester.

 

Back to top

 

36 ‘My tyd om te blom sal ook kom’

LEERDER GESELS

Wil prokureur word

Anika Marais

(Die Burger, 24 November 2015)

Kraaifontein. – Wanneer “dinge binne en rondom die huis verkeerd geloop het”, het hy sy bababoetie opgetel en hulle saam in die badkamer toegesluit.

“Ek het aan hom gesê: ‘Come, baby brother. Ek weet die tiles is koud en dit reën so ‘n bietjie in, maar jy kan op my maag aan die slaap raak’.”

Keanu Fortuin (18), ‘n matriekleerder van die Sekondêre Skool Scottsdene in Kraaifontein, het gister na die hoek van die klaskamer gestaar terwyl hy die één voorval na die ander gelys het wat kon voorkom het dat hy matriek haal.

Soos dat hy as kind ‘n matras van ‘n hoop klere probeer maak het om op te slaap, want daar was nie geld vir beddegoed nie.

Dat hy tans te bang is om sy identiteitsdokument in Bellville te gaan afhaal omdat sy broer se bende-vyande dit moontlik gaan afneem.

En dat sy eie broer en dié se meisie sy kamerdeur gereeld afbreek, die bed omgooi en hom rot en kaal besteel om dwelms te koop.

“Daar was ook nie geld vir my matriekafskeid nie. Ek en my ma het daardie aand sit en kerk luister op die radio. Hulle sê jou matriekafskeid is jou tyd om te blom, maar ek glo daar sal ‘n ander tyd kom vir my om te blom,” het Keanu vertel en ‘n paar keer diep asemgehaal.

“Ek het later in my kamer gesit en ek kon hoor hoe skel my broers op my ma onder in die huis. Buite het die bure mekaar gevloek en rondgejaag. As dit rof gaan binne én buite jou huis, is dit moeilik om positief te bly.”

Maar stelselmatig het Keanu homself emosioneel teen sy familie en sy omgewing gepantser.

“Ek het besluit ek wil nie in hierdie omstandighede bly nie. Ek droom daarvan om eendag vir my ma ‘n huis in ‘n stil gebied te koop waar al ses haar kinders om een tafel kan pas. Die tafel moet dan só vol kos wees dat niemand vra vir ‘n ekstra stukkie brood nie.”

Keanu sal vandeesweek die eerste een in sy gesin wees wat matriek klaarmaak. Hy skryf nog môre die derde vraestel van Engels en Donderdag die tweede vraestel van geskiedenis.

Al vier sy broers en sy suster het op ‘n jong ouderdom skool verlaat en sy ma het ook nie matriek nie.

“Ek het vanjaar ook besef dat my broers probeer om my van my drome te weerhou. Ek sit nagte lank regop om te studeer. Dan roep hulle my en sê ek moet by hulle kom sit of ek moet ‘n grappie kom vertel.

“Maar ek het dit agtergekom en aan hulle gesê: ‘Julle planne gaan nie succeed nie. As ek my drome bereik, is dit nie net vir my nie. Dis vir julle óók’.”

Keanu droom om ‘n prokureur te word, want “ek verloor nie sommer ‘n argument nie”.

Daar is egter nie geld vir studeer nie en daarom beoog hy om volgende jaar by Shoprite te gaan werk om geld vir sy studies bymekaar te maak.

“Ek weet nie of ek dit gaan regkry nie, maar ek wil nie eendag sê ek het nie probeer nie.”

 

Back to top

 

37 Harde werk word wel beloon – Alex

Plaaswerker van die Jaar 2015

(Die Burger, 27 November 2015)

Alex Shoko, ‘n assistentbestuurder van die plaas Mouton’s Valley in Piket-Bo-Berg, is onlangs as die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar aangewys. Die Wes-Kaap is ál provinsie wat so ‘n toekenning het, en dit is ‘n kroon wat hier rond met groot trots gedra word. Marco Botha het by Alex aangeklop.

Alex, in ‘n neutedop, wie, wat en van waar is jy?

Ek is in die Gutu-streek van die provinsie Masvingo in Zimbabwe gebore en getoë. Ek was metteryd in die Middellande in die Dadaya High School. My vrou se naam is Tabita, en ons het kinders: Margreth (23), Nyasha (21), Tsungirirai (14), Precious (11), Misheal (14) Makanaka (8) Tinerimbo (6) en Anotida (2). Ek het my in September 2008 by Mouton’s Valley aangesluit.

Hoe ver terug strek jou verbintenis met die landboubedryf?

Albei my ouers het in die Gutu-streek vir die departement van landbou gewerk, en dit het ‘n liefde vir die landbou by my aangewakker. Ek het in 1989 ‘n tweejaarsertifikaat aan die Kushinga Phikelela-landboukollege verwerf.

Daarna was ek as ‘n wetenskap- en landbou-onderwyser aan die Chatikobo Secondary School en toe aan die Makumbe Secondary School voordat ek vir twee jaar na Harare Polytechnic is en ‘n diploma in tuinbou verwerf het. Dit was in 1992.

Ek het toe as ‘n plaasbestuurder gewerk, later by die departement van binnelandse sake en mettertyd ook vir die departement van landbou in Zimbabwe.

Wat behels jou take en funksies tans by Mouton’s Valley?

Ek is ‘n assistent- senior opsigter in die produksie-afdeling. Ek is hoofsaaklik gemoeid met die werwing en opleiding van algemene werkers en junior opsigters.

Voorts ken ek werk toe aan opsigters, wys ek hulle wat in die boorde gedoen moet word en volg ek op om te sien dat die werk op peil is. Dis ook deel van my take om om te sien na die gesondheid en welstand van die werkers wat op die plaas woon. Dit sluit weeklikse huisinspeksies in.

Hoe het jy van die Plaaswerker van dle Jaar-kompetisie te hore gekom?

My bestuurder, Rickus Jooste, het my daarvoor gekies, en ek het die uitdaging aanvaar. Ek was aanvanklik huiwerig, maar Rickus het die potensiaal in my gesien en my oorgehaal om deel te neem.

Gee ons ‘n kykie agter die skerms van die kompetisie. Hoe het jy dit ervaar?

Dit was uitdagend. Die kompetisie begin op plase en word dan na streekvlak uitgebrei waar die departement van landbou, Shoprite en ander assessors betrokke raak. ‘n Streekwenner word gekies.

In hierdie ronde word jy onderwerp aan vrae oor jou agtergrond, ervaring en betrokkenheid by die landbou­gemeenskap. Ook jou algemene kennis en insig in politieke en aktuele kwessies word getoets.

Ek was oorbluf toe ek die streekkompetisie wen, en ek kon nie eintlik praat toe ek as wenner aangewys is nie. Die verbasing was selfs groter toe ek die algehele kompetisie wen, maar dit was werklik ‘n besonderse belewenis. Ek het om die waarheid sê hoop verloor nadat al die kategorieë se wenners aangekondig is – ek het gedink een van hulle gaan ook as algehele wenner aangewys word.

Die verrassing was dus groot!

Watter waarde kan jy put uit hierdie ondervinding en die kompetisie in sy geheel?

Ek het ontsettend baie geleer en baie mense ontmoet. Ek het geleer dat my mening en perspektiewe op die lewe gewig dra en dat ek daarom my sê kan en mag sê.

Twee van my seniors, Jan van Wyk en Johan Arries, het my deur die hele kompetisie gemotiveer en ondersteun. Eric en Michele Starke van Mouton’s Valley het my ook raad gegee en aangespoor om my volle potensiaal te verwesenlik. Omdat al hierdie mense in my glo, het ek ook in myself begin glo.

Gevolglik het ek ná hierdie ondervinding baie meer selfvertroue. ‘n Groot rede is ook die ondersteuning wat ek van my vrou ontvang.

Watter waarde voeg hierdie ervaring toe tot jou persoonlike en beroepslewe, en hoe beoog jy om hierdie titel in en vir die landbou aan te wend?

Die toekenning is ‘n soort erkenning van my bydrae tot die landbou, en dis lekker.

Voordat ek vorentoe kyk, moet ek ‘n paar mense en instansies bedank vir hierdie eerbewys: die Wes-Kaapse departement van landbou, Shoprite, Daleen Turner Konsultante, die gemeenskap van Piket-Bo-Berg, Eric en Michele Starke (plaaseienaars), Rickus Jooste, Gus Pirchard (koördineerder), asook Tabita en my kinders. Ek het nou selfs groter waardering vir gesins- en werkverhoudinge as tevore. Terselfdertyd het hierdie toekenning my ook die agting van my groter gemeenskap gegee.

Sedertien het ek al verskeie samekomste van studente en werkers toegespreek, en ek gaan hierdie geleentheid gebruik om agri-werkers, gemeenskappe en landbou in sy geheel van te bedien. Ek wil ook vir Mouton’s Valley ‘n waardige ambassadeur wees.

Ek wil graag die lewe van ander plaaswerkers verbeter as ‘n motiveringspreker en met skoolopleiding vir volwassenes. Ek wil toesien dat ontwikkelingsprogramme vir plaaswerkers oor die hele Suid-Afrika beskikbaar is.

Hierdie toekenning is belangrik, want dit motiveer en bevorder die lewe van plaaswerkers. Dit erken hul rol in die landbou. Daarom sal produktiwiteit en effektiewe op plase toeneem. Ook bevorder dit werkverhoudinge tussen werkers, boere hul gemeenskappe. Dit vestig by plaaswerkers die behoefte om deurgaans te leer en nuwe  kennis op te doen. Ek sal enigiemand aanmoedig om hierdie reis te onderneem, en my boodskap is eenvoudig: Wees jouself, harde werk lewer dividend, en bowenal: Glo in God.

 

Back to top

 

38 ‘Miners Shot Down’ wen gesogte Emmy

Jodi Nel

(Die Burger, 25 November 2015)

Die Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent Miners Shot Down is met ‘n internasionale Emmy-prys vir beste dokumentêre rolprent vereer.

Die rolprent handel oor die gebeure in 2012 by die Lonmin-platinummyn in Noordwes waar 34 mynwerkers deur polisielede doodgeskiet is. Die prysuitdeling was Maandagaand in New York (gisteroggend in Suid-Afrika).

Luidens ‘n verklaring deur die akademie het 40 benoemdes van 19 lande om slegs 10 Emmy-beeldjies meegeding.

Rehad Desai, die regisseur, sê hulle is nederig oor hoe gehore wêreldwyd die rolprent waardeer, berig Channel24. “Dit wys net hoe diep ontsteld mense is oor wat op 16 Augustus 2012 by Marikana gebeur het.

“Dit is nou drie jaar later en die kommissie van ondersoek het ‘n jaar gelede geëindig. Ons wag op ‘n billike en regverdige uitkoms vir die slagoffers,” sê Desai.

Miners Shot Down het in Februarie die Cinema for Peace-prys in Berlyn, Duitsland, ontvang.

Die prys is deur die Internasionale Strafhof se hoof-aanklaer oorhandig.

Dié prys dien om vrede en versoening wêreldwyd te bevorder deur rolprentprojekte te steun wat handel oor geweld, oorlog, armoede, omgewingskwessies, die voorkoming van MlV/vigs en menseregteskendings.

Frankryk was die groot wenner by die internasionale Emmy-toekennings. Die land het drie toekennings gekry. Die pryse is vir beste dramareeks, beste TV-rolprent of -minireeks en beste kunsteprogrammering.

 

Back to top

 

39 Tande trek nie vir sussies

(E-pos, 2 Desember 2015)

JAN van Brakpan bel die tandarts

“More Dokter, wat kos dit om ‘n tande te trek?”

“Die totale koste sal R285 wees”

“Blinde bliksem! Hoekom so duur?”

“Ons moet eers konsulteer, dan ‘n x-straal neem en dan kan ons eers trek”

“Wat sal die prys wees as ons die konsultasie en die x-ray skip”

“Jong, dit bring ‘n bietjie risiko mee maar sal die prys afbring na R157”

“En as ons dit sonder verdowing doen?”

“Dit is nie gewone praktyk nie en gaan bitter seer wees maar sal ‘n verdere R20 goedkoper wees”

“Wat van as een van jou trainees die tand trek?”

“Ek kan dan nie professionaliteit waarborg nie maar dit sal die koste verminder na R75”

“Nog beter, hoekom laal ons nie een van jou studente die tand trek nie terwyl die ander studente toekyk as deel van hulle opleiding?”

“Dit sal goed wees vir die studente maar dit kan baie traumaties raak vir die pasient. Sou ons hierdie roete gaan sal ek jou slegs R10 vra”

“Nou praat jy my taal my tjomma!! Kan ons dan ‘n afspraak bevestig vir my skoonma vir Dinsdag 9-uur?”

 

Back to top

 

40 Dieper water

deur JIMI LE ROUX

(Leef, Desember 2015)

“Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is” (Lukas 2:10).

Verbeel ek my of word Kersfees nie meer behoorlik gevier nie? Is daar minder Kerssangdienste met brandende kerse in doilies (en voorvalle van vlamvattery)? Is daar minder Kersspele met herders in kamerjasse en vadoeke op die kop? Gaan sing die “jeug” nog Kersaand by ouetehuise? Kersfees het gladder – meer geolie – geword, maar armer, mensloser en Christusloser: ‘n TV-Kersfees.

Daar is ook Christene wat nie Kersfees vier nie omdat dit dalk ‘n heidense oorsprong het. Dié standpunt is deesdae gewild, maar die wetenskaplike bewyse is maar skraal. In vroeë kerkgeskrifte oor die regte datum is daar geen verwysing na die “oorname” van enige heidense fees nie. 25 Desember is onder meer gekies omdat dit nege maande ná 25 Maart is, die tradisionele datum van die “Aankondiging” (Annunciation) dat Maria swanger is.

Was 25 Desember te koud vir die skape? Beteken dit Jesus is op ‘n ander datum gebore? Wetenskaplikes sê ons weet te min om werklik te kan beslis.

Eintlik maak die datum nie soveel saak nie – ons vier tog die gebeure, nie die dag nie. Ons vier Christus, en Kersfees verkondig Christus immers aan die hele wêreld. Laat ons Kersfees weer met oorgawe vier. ‘n Opregte, wonderlike, Geesvervulde Christusfees, ja – maar laat ons vier!

Om te bid: Here, ek wil U vier!

 

‘Kersfees is nie ‘n datum nie.

Dit is ‘n ingesteldheid’

Mary Ellen Chase

 

Back to top

 

41 Die Seuntjie

Deur MARZANNE LEROUX-VAN DER BOON

(Leef, Desember 2015)

Die wêreld staan in vlamme wanneer ek vir Lééf se Kersuitgawe moet skryf. Televisiekanale ding mee met aangrypende beeldmateriaal van vlugtelinge wat burgeroorlog en ISIS wil ontkom en in hulle tien duisende Europa binnestroom. Dis asof dié rampspoed saamgevat word in die foto van n driejarige Siriese seuntjie se liggaam wat op die seesand uitgespoel het. Op sy knieëtjies lê hy daar, gesiggie in die sand, donker kleefnat hare, handjies weerloos oop. Dit ruk my sodat ek voor die TV opstaan en deur die balkonraam die sagte naglug buite inasem.

“Abba,” prewel ek, “wat skryf ek vir mense wat daagliks met hierdie ondraaglike beelde gevoer word?”

Dit neem ’n rukkie voordat ek die verlang in my identifiseer. Dis geen onbekende versugting nie – dit betrek my dikwels met Advent, dié verlang na Hij was een van ons, ’n geliefde bundel met Rien Poortvliet se ontroerende sketse vergesel van die aangrypende teks wat Hans Bouma geskryf het oor die lewe van Yeshua.

“Wys hulle ’n ander Seuntjie…” Ek word bewus van die Ewige wat in my binneste praat. My vingers bewe wanneer ek die groot boek uit die rak trek. Ek lees weer wat Poortvliet ter inleiding geskryf het: “…ik heb geprobeerd het leven van Jezus al schilderend te vertellen door gezichten en handen te laten spreken. Want deze hebben hun eigen taal en zo komt duidelijker tot uitdrukking dat de mensen in de tijd toen Jezus op aarde was doodgewone mensen waren. Er zit niks heiligs aan. Zij waren niet anders dan wij…”

Ek kyk weer na ’n bejaarde swanger Elisheva wat die jong meisie uit Natzeret met uitgestrekte arms verwelkom. En later in Beit-Lechem, die nou vermoeide hoogswanger Miryam, ongemaklik op ’n donkie se rug, terwyl Yosef ylings blyplek vir die nag van die bevalling soek. ’n Herbergier, so tipies Joods, met hande dramaties omhoog gegooi. Bouma se teks daarnaas: “Het spijt hem. Waren ze iets eerder – mischien bij een ander…?”

Dan die sepiabruin skets van die twee verlate mense onder ’n afdak tussen die diere. Vir die eerste keer dink ek oor die geboorte self. Was Yosef alleen by haar? Hoeveel ervaring kon hy hê? So onbeskerm, so onprivaat. Hoe véél sou hulle daardie nag met mekaar gedeel het! En die Kindjie… Hoe higiënies volgens ons standaarde kon dit alles gebeur het? My hart raak benoud soos by die sien van die Siriese kindjie.

Daar volg ’n volbladskets van ’n verskrikte peutertjie met warrige krulhare en donker Joodse oë en daarlang Bouma: “Elk kind kan Jezus zijn. Herodus neemt geen risico. Betlehem verdrinkt in bloed…”

Maar dan tog ook weer die hartverwarmende sketse van baba Yeshua, laggend, huilend, kruipend, slapend. ’n Mens soos ons geword…

Vader laat dit egter nie daarby nie. Hy bring my in Openbaring 1 by Johannes se Patmos-ervaring. Die 1933-vertaling sê “…en toe ek omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars in Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en Sy oë soos vuurvlam, en Sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en Sy stem soos die van baie waters…”

“Vader,” sug ek “gee dat ek en die verslae, beangste mense van hierdie aarde sal verstaan die seuntjie van Beit-Lechem kom spoedig terug. Nóú al as Een voor wie se voete Yochanan soos ’n dooie neergeval het. Dat ons asseblief nie onvoorbereid sal staan op alles wat Sy weerkoms voorafgaan nie!”

 

Back to top

 

42 Bly GESOND

(Rooi Roos, Desember 2015)

VRAAG Kan ek pterygium kry?

SALOMÉ ANTWOORD

Ja, as jy buite werk en baie buite is, soos wat boere, branderplankryers, fietsryers, gholfspelers en tuinliefhebbers is. Ek het Andre Horn, senior oogkundige en besturende direkteur van Mellins i-Style, gevra wat elke buitelugmens daarvan moet weet:

Hoe lyk dit? Pterygium is ‘n pienk, vleserige vlies wat op die wit deel van die oog groei. Dit begin gewoonlik aan die neuskant van die oog en groei na die middel van die oog.

Is dit skadelik? Al is dit nie ‘n kanker nie, bly dit jou lewe lank stadig groei. Mettertyd kan dit die pupil bedek sodat jy nie met daardie oog kan sien nie.

Wat veroorsaak dit? Die son se UV-strale, ná jare se blootstelling.

Wie kry dit? Veral boere, buite-werkers, branderplankryers en sportlui wat hoofsaaklik buite is en nie goeie sonbrille dra wat UV-strale kan afkeer nie. Ook mense soos vragmotorbestuurders wat heeldag op die pad is.

Hoe keer jy? Hoe meer jy buite is, hoe belangriker is dit dat jy al die moontlike doen om pterygium te keer. Maak so:

  • Gaan elke jaar vir ‘n oogondersoek, want dit spoor tekens van skade op nog lank voor jy dit kan sien.
  • Kies ‘n sonbril wat sê dat dit 99%-100% van UVA- en UVB-lig blokkeer. En dra jou bril konsekwent as jy buite is – ook op bewolkte dae.
  • Kies ‘n sonbril met omvoulense wat jou oë van die kant af ook beskerm.
  • Laat jou motorvoorruit met ‘n UV-film bedek vir ekstra beskerming.

 

Back to top

 

43 ‘n Blou Krismisroos

deur WENDY MAARTENS

(Leef, Desember 2015)

Met Kersfees om die draai trek my hart ‘n tuit na krismisrose. Diepblou krismisrose wat hulle kleur nes die outydse botteltjies op my studeerkamervensterbank reg in die verste hoekie van ‘n mens se heel agterste hartkamer kaats.

Terwyl ek afsit kwekery toe, val die herinneringe aan ‘n Noord-Kaapse kuier onverwags saam met my in die pad: Dis al sterk skemer toe ek en die seeman in die hoofstraat opdraai. Ons is moeg en honger en stowwerig. Ek probeer my hoër-skoolherinneringe aan die piepklein plekkie opdiep. Al wat ek heelonder in die sak kry, is ‘n begraafplaas, ‘n motorhawe en ‘n sprinkaanplaag wat in dié ligstreep van ‘n geel Cortina se kopligte verbytrek. Ouma se eierbroodjies en frikkadelle op ‘n enjinkap. En Ma se hekelkombers wat altyd iewers opduik… selfs hier aan die rand van ‘n dorpie wat so lank en so geduldig op ‘n weersiens kan wag.

“Ja, daar is slaapplek op die dorp,” beduie ‘n vrou by die einste motorhawekafee tussen die perlemoenskulpe vol vetplantjies en die prentjies van vorige jare se almanakke. Ons kan tussen die hotel en gastehuis kies. Die twee geboue is reg oorkant mekaar in die hoofstraat.

Die hoteleienaar leun met ‘n sigaret teen die deurkosyn. “Dis mos julle wat vanoggend langs die pad, kort anderkant die langheuwel, gebrêkfis het,” groet hy en kyk tussen ons twee deur in die rigting van die Pondjie Botter.

“Hoeveel perde is onder daardie enjinkappie?” wil hy weet.

“Ons is nie haastig nie,” antwoord die seeman terwyl hy die stof uit sy swart vilthoed skud.

Met min of meer ‘n idee van die ontbyt- en oomagtariewe stap ons oor die straat na die gastehuis. Die bejaarde eienares wys ons die yslike huis met vyf slaapkamers, sit- en eetkamer en ‘n kombuis met ‘n formicablad-tafel soos die een waarlangs ek grootgeword het. Langs die yskas hang ‘n tros handgebreide groente en vrugte. Bokant elke bed waak ‘n kerspit-borduur- prentjie van twee spierwit duiwe. Ek voel onverklaarbaar tuis, al is ons byna ‘n duisend kilometer weg van die huis. My Iaaste gedagte voor ek aan die slaap raak, is aan Ma wat alleen met haar gedagtes borduur.

Die volgende oggend is dit net ons en Miekie, die huishulp, in die kombuis. Miekie is in haar dertigs. Sy het eens op ‘n tyd ‘n jaar en ‘n half lank as ontvangsdame vir ‘n dokter in die Kaap gewerk. So tussen die eiers bak en roosterbrood maak, vertel sy ons van die dorp en sy mense. Dat die gastehuis en slaghuis die enigste twee plekke is waar ‘n mens nog werk kan kry. En nee, sy verlang nie Kaap toe nie. Sy hou van die rustigheid.

Later, toe die Pondjie Botter klaar gepak is, spoor ek Miekie in die waskamer op. Ons glip nog vir oulaas ‘n geselsie in voordat ek groet.

Met die wegstap roep sy my terug. “Mevrou, ek verlang net een keer ‘n jaar Kaap toe,” bieg sy. “Dis Kersfees as die krismisrose blou blom…”

By die kwekery koop ek ‘n blou krismisroos – vir Miekie en vir my en vir elkeen wat hierdie Kersfees bereid is om vir ‘n vreemdeling ver van die huis af ‘n tuiste te gee.

 

Back to top

 

44 Sportman van die jaar!

(Die Burger, 23 November 2015)

Die Suid-Afrikaanse blits Wayde van Niekerk is 22 November 2015 as die Suid-Afrikaanse sportman van die jaar aangewys by ‘n glansgeleentheid in Bloemfontein. Dié Vrystaatse atleet wen R1 miljoen en ‘n luukse motor. Van Niekerk se hoogtepunt vanjaar was sy sege in Augustus in die 400 m op die Wêreldbyeenkoms in Beijing in ‘n tyd van 43.48 sekondes. Dit word beskou as die beste 400 m-wedloop in die geskiedenis. Hy het vanjaar die vierde atleet ooit geword wat die 400 m in vinniger as 44 sekondes kon hardloop én die 200 m in vinniger as 20 sekondes (19.94). Ander wenners van gisteraand sluit in Ashleigh Moolman-Pasio (sportvrou van die jaar; fietsry), Kagiso Rabada (nuweling van die jaar; krieket), Graham Hill (afrigter van die jaar; swem) en die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan (span van die jaar).

 

Back to top

 

45 Wayde van Niekerk wen twee Mercedes-Benze; skenk een daarvan aan sy stiefpa

Elsje Waldeck

(Die Burger, 24 November 2015)

Bloemfontein. – Wayde van Niekerk is nie net Sondagaand as Suid-Afrika se sportman van die jaar, sportster van die jaar en die mense se keuse van die jaar aangewys nie; hy is op die koop toe twee Mercedes-Benz C-klasmotors ryker – waarvan hy een aan sy stiefpa geskenk het.

“Ek is regtig baie geseënd. Ek is vereer vir iets waarvoor ek baie lief is,” het dié wêreldkampioen in die 400 m gister gesê net voordat hy en sy stiefpa, Steven Swarts, vir sy verpligtinge as Adidas-ambassadeur Londen toe vertrek het.

Odessa Swarts, Wayde se ma, het gesê hulle is sprakeloos omdat hy al drie die eerbewyse gewen het. “Hy het so hard gewerk en het ‘n ongelooflike jaar agter die rug. Ons het dit glad nie verwag nie.”

Sy het ook gesê die feit dat gewone mense sowel as lede van die media vir Wayde gestem het, beteken vir hom baie. “Dit wys vir hom Suid-Afrikaners is trots op hom.”

Oor die twee motors wat hy gewen het, het Odessa gesê: “Nou kan hy én Steven in styl rondry. Wanneer hulle van Londen af terugkom, sal hulle seker heeldag net wil rondry.”

Die atleet het gesê dit gee hom daardie ekstra bietjie selfvertroue en inspirasie om net nog harder te werk.

 

Back to top

 

46 ‘Hoe gaan dit nog met Frikkie?’

Michael Green se onlangse tong-in-die-kies-artikel oor die All Black-legende Colin Meads, het ‘n Suid-Kaapse leser van Die Burger, Koos Cronjé, na sy pen laat gryp.

Verlede jaar in September het ek en my vriend Paul Theron ‘n toer na Nieu-Seeland onderneem en deur Paul se toedoen en reëlings ‘n paar van die beroemde All Blacks van weleer ontmoet.

Colin Meads, oftewel “old Pinetree”, het natuurlik uitgestaan. Wat kan ‘n mens nog byvoeg oor hierdie merkwaardige Nieu-Seelandse Speler van die Eeu.

Hy het ons ontvang in die rugby-klubhuis van sy tuisdorp, Te Kuiti, op die Noord-eiland waar ons saam koffie gedrink het.

Sommer so met die wegtrek, het hy ons gevra. “And how is my friend Frikkie?” Dit gaan goed met sy vriend en Suid-Afrika se Speler van die Eeu, Frik du Preez, het ons hom verseker.

Daarna het hy ons vir ‘n geruime tyd met interessante staaltjies van die rugbytoere tussen die Bokke en die All Blacks van sy tyd vermaak. “I can keep you fellas busy all day with rugby stories,” het die ou grote belowe.

Daar was tog ‘n speler behalwe “Frikkie” vir wie Pinetree respek gehad het: Martin Pelser, ‘n Springbok-flank en speler van die destydse Transvaal. Hy vertel dat die All Blacks daardie dag teen Transvaal gespeel het.

Hy verseker my en Paul dat hulle nie geweet het dat Pelser ‘n kunsoog gehad het nie. Kel Tremain, Pinetree se slotmaat, het Pelser vroeg in die wedstryd blykbaar op die gesonde oog getref. Daarna het Pelser weerwraak geneem.

By die volgende lynstaan het ‘n onthutste Tremain vir Pinetree gesê dat hy vir die res van die wedstryd op nommer ses in sy plek sal moet gaan staan. Dit was ook nie lank nie of ook Pinetree kom Pelser by waarna hyself vinnig agter sy spanmaats in ‘n losskrum betrokke raak. Pinetree het gemeen dat hy daar veilig sou wees, maar watwou.

Die volgende oomblik het Pelser soos ‘n briesende leeu om die losskrum gestorm en hom daar uitgepluk en bygekom. Sy span is gestraf vir onkantspel en Don Clarke het 3 punte bygevoeg.

“Jy moet dit elke keer doen, dan wen ons met strafskoppe,” het hy leedvermakerig aan Pelser by ‘n volgende lynstaan gesê.

Maar wanneer dit kom by manne van durf en buitengewone krag, is dit die stut Andy MacDonald wat vir die Bokke in 1965 gespeel het.

Jare ná sy uittrede uit rugby het McDonald een aand oorgeslaap op ‘n wildplaas in die destydse Rhodesië vir wie hy ook rugby gespeel het. ‘n Leeu het deur sy kamervenster gespring en hom op sy bed aangeval. Hy het in die hospitaal beland, maar nie voordat hy die leeu met sy kaal hande doodgewurg het nie.

Dit was ‘n fees om die mens agter Pinetree te leer ken op die kort besoek. Ja, daar was vele rugbygrotes en daar sal seker nog ander hul verskyning maak, maar vir die oomblik is dit die ou grote se beurt.

Sy vriend Frikkie, Martin Pelser en Andy McDonald se vreeslose teenstanders het sekerlik ook hul aandeel aan die slyp van Pinetree gehad.

Springbok-groete ou grote en geluk aan jou span.

2019 is dit die Bokke se beurt.

 

Back to top

 

47 Koningskoek

Mini-Kerskoekies

Maak 10

750 g glansvrugte

250 g ontpitte dadels

300 g suiker

250 g botter

500 ml water

5 ml koeksoda

25 ml asyn

10 ml gemengde speserye

125 g glanskersies, gekap

4 eiers, geklits

425 g koekmeel

15 ml bakpoeier

125 ml goeie brandewyn, plus ongeveer 750 ml vir later

100 g marsepein

100 g Pettinice (wit plastiekversiersel)

60 ml appelkooskonfyt

 

1 Verhit die vrugte, dadels, suiker, botter en water in ’n groot kastrol oor matige hitte. Laat kook vir 10 minute, roer af en toe, en laat oornag afkoel. 2 Los die koeksoda in die asyn op. Wag tot dit ophou borrel en meng dit dan saam met die speserye, kersies, eiers, meel en bakpoeier by die vrugtemengsel.

3 Voorverhit die oond tot 140 °C. Gebruik ’n oondvaste swaarboomkastrol met ’n deksel om koek in te bak. Smeer die kante en bodem van die kastrol en voer dit soos volg uit met bruin– en bakpapier: Trek die bodem van die kastrol 4 keer op bruinpapier en 4 keer op bakpapier af en knip 8 sirkels uit. Voer die kastrol eers met 2 lae bruin– en dan 2 lae bakpapier. Meet die omtrek van die kastrol en sny 2 reghoeke uit bakpapier om die kante te bedek. Skep die beslag in die kastrol en maak gelyk bo-op. 4 Plaas nog 2 lae bruin– en 2 lae bakpapier op die beslag voordat jy die deksel opsit. Draai die hele kastrol met 3 lae bruinpapier toe en bind stewig vas met kombuistou. Bak die koek vir 4 uur. 5 Haal die koek uit die oond, haal die deksel af en gooi 125 ml brandewyn bo-oor die lae papier. Sit die deksel terug en laat staan vir 8 uur. Haal die koek uit die pot en gooi die papiere weg. 6 Draai die koek in skoon bakpapier toe, seël dig met foelie en bêre op ’n koel plek. Sprinkel elke week 125 ml brandewyn oor tot jy die koek voorsit. Dit kan tot 6 maande hou en vir jare gevries word. 7 Bediening Rol marsepein op ’n dun lagie versiersuiker uit tot omtrent 5 mm dik. Sny 10 sirkels van 5-8 cm. Rol die Pettinice op mielieblom uit tot omtrent 5 mm dik en sny 10 sirkels uit. 8 Verwyder die bakpapier en gebruik dieselfde koekdrukker om 10 koeksilinders uit te druk. Verhit die konfyt vir 20 sek. in die mikrogolfoond. Sny elke silinder horisontaal in helfte, smeer konfyt oor een helfte en sit ’n marsepeinsirkel tussen die twee koeklae. Smeer konfyt bo-oor elke koek, sit die Pettinice bo-op en versier soos verkies.

 

Back to top

 

48 Liplekker

E-pos

Maklike yskas tert.

1 blikkie crushed pineapple, 1 blikkie kondensmelk, 1 pakkie pynapple jellie, 1 pakkie tennis beskuitjies. Pak tennis beskuitjies onder in bodem van tert bak. Sit die sap van die pynappel in pot, saam met pakkie jellie en blikkie kondensmelk en roer saam oor medium hitte tot die jellie heeltemal gesmelt is. Voeg die pynappel by en skep versigtig bo-op koekies. Sit in yskas tot gestol. Jy kan vars styf geklopte room bo oor smeer voor jy dit bedien as jy wil. (Variasies: vervang pynapple met blik guavas en die pynapple jellie met cherry jellie, druk net guavas met vurk fyn – gebruik pitte en al. Jy kan di pynappel ook vervang met geblikte cherries en dan cherry jelly).

 

Back to top

 

49 Kerspoedingsouse

(Blog:Huiskok, Desember 2015)

2 Sout toffiesous – Pavlova

125 ml koue water

330 g strooisuiker

250 ml vars klitsroom (nie lae vet nie)

Goeie seesout

 

Sit suiker en water in medium kastrol. Laat stadig warm word tot die suiker gesmelt het. Verhoog die hitte na medium tot dit opkook, sonder om te roer. Nou en dan trek jy net so ‘n haal deur die mengsel sonder om te roer. Laat dit sowat 15-20 kook tot amber-bruin. Te bruin en dit raak bitter.

Hou ‘n kwassie byderhand. Doop dit in water en verf die wande van die kastrol om te keer dat die suiker kristalliseer. Sodra die karamel die regte bruin skakering het, haal van die plaat af en klits die room in. Wees versigtig want die gesmelte suiker kan jou lelik seermaak. Moet beslis nie die rand met jou vinger aflek nie!

Laat afkoel, voeg sout na smaak by en sit in flessie tot benodig.

Bediening:

Plaas die pavlova versigtig op jou mooiste, deftigste skinkbord (ek gebruik die silwer-skinkbord wat ‘n erfstuk is – my ma kry die horries). Klits die room tot stywe punte en smeer oor die pavlova, bedrup met die toffiesous, skep die vrugte bo-op: en – soos my ma wat glo jy sit nog ‘n borsspeld aan en nog ‘n ring – sprinkel ek pienk peperkorrels oor en sif dan bietjie versiersuiker oor.

Ek bedien dit met vanieljeroomys – dit is mos Kersfees.

Die orige toffiesous kan tot ‘n week in die yskas hou, maar dit sal lank voor dit reeds opgeeët wees.

 

Back to top

 

50 Krip en kruis: Peter Veldsman se brandewynbotter en portsous

Vir Peter Veldsman is Kersfees nie jollifikasie nie, maar ‘n krip en kruis-ervaring wat in sy kinderdae op ‘n plaas in die Klein-Karoo gevorm is.

“Ek onthou die stilte. Alles kom tot rus. In die somerhitte hou die sonbesies aan met sing, saam met die kitaar-klanke van die plaaswerkers wat van huis tot huis trek om kersliedere te sing. Die uitdeel van die geskenke het kind tot ou mens in verwondering gehad. Tot vandag toe het ‘n doringboom-kersboom met outydse vetkerse vir my ‘n diep simboliese betekenis.”

Hoe lyk jou Kersfees: “Oggenddiens in die Groote Kerk, dan Kersete by my huis vir ‘n handjievol vriende. Die kuiermense loop net na ete sodat daar ‘n middagslapie ingepas kan word. Dan staan ek op, bad, trek aan, sit op die stoep, voel weemoedig, bely my sondes, drink ‘n glas gemmerbier, en gaan slaap!”

Waarsonder kan jou Kerstafel nie? “Gestoomde Kerspoeding met brandewynvla, maak nie saak hoe hitsig dit is nie. Die beste Krismis-poeding ooit is een van die resepte van my lewe. ‘n Deeltjie kom uit Skotland en Engeland; uit die Boland, die Klein Karoo en ook uit myself. Die trippens van ouds is nou R5 munstukke. Ek skep so dat elke gas een kry.”

PETER VELDSMAN SE BRANDEWYNBOTTER EN PORTSOUS VIR KERSPOEDING

Bedien die brandewynbotter of portsous saam met jou gunsteling Kerspoeding. Dit kan voor die tyd gemaak word.

 

Brandewynbotter:

125 ongesoute botter

130 g versiersuiker, gesif

25 g/ 65 ml fyn amandels

50 ml dik room

50 ml brandewyn

 

Klop botter tot sag en roer versiersuiker geleidelik by. Roer amandels en daarna room bietjie vir bietjie by. Klop brandewyn teelepel vir teelepel by.

Skep brandewyn botter in ‘n spuitsak met ‘n gewone tuit en spuit rosette op ‘n vel waspapier op ‘n bakplaat. Vries. Die botterrosette word rondom Kerspoeding gerangskik.

 

Portsous (lewer 250 ml)

120 g/ 150 ml suiker

125 ml water

75 g botter

15 ml mielieblom, deur ‘n sif gevryf

Gerasperde skil en sap van 2 suurlemoene

Gerasperde skil en sap van 1 lemoen

150 ml port

Gerasperde neutmuskaat

 

Maak so:

Skep die suiker in ‘n kastrol en roer water daarby in. Verhit oor lae hitte en roer tot suiker opgelos is. Verhoog hitte en kook vir 15 minute. Meng die botter en mielieblom. Verwyder stroop van hitte en klop mielieblommengsel daarby in. Plaas terug op hitte en kook vir 3 minute. Roer deurentyd.

Verwyder van hitte en roer skil, sap en port by. Geur met neutmuskaat. Verhit tot net onder kookpunt. Verwyder van hitte en laat 1 uur staan. Giet deur ‘n sif wat oor ‘n tregter geplaas is in ‘n skoon bottel en bewaar in koelkas. Verhit oor lae hitte voor gebruik.

 

Back to top

 

51 Tyd vir bak Kersfees!

Anel Potgieter

(Rapport Beleef, 29 November 2015)

Gemmerkoekies met witsjokoladesplinters

Kersfees is nie Kersfees sonder gemmerkoekies nie. Dié koekiedeeg wat ek by Donna Hay afgeloer het, hoef nie uitgerol te word nie. Jy vorm net balletjies, plaas dit op ‘n bakplaat en druk dit effens plat met jou vingers. Lekker kortpad!

Wees gewaarsku: Die witsjokoladesplinters maak dit verslawend lekker (as dit bak, word dit ‘n karamel), maar die koekies is ook kliphard. So onthou om ‘n glas melk of ‘n koppie tee byderhand te hou as jy die koekblik oopmaak – anders sal jy oor Kerstyd ‘n draai by jou tandarts moet maak.

 

Maak 30 koekies

Bestanddele

125 g botter, sag

90 g bruinsuiker’

230 g gouestroop

375 g koekmeel

5 ml koeksoda

10 ml fyn gemmer

Knypie sout

100 g witsjokolade, gesny in blokkies

 

Só maak ‘n mens

Voorverhit die oond tot 170°C en sit die oondrak op die middelste rak. Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Meng die stroop, meel, koeksoda, gemmer en sout goed by die bottermengsel in. Voeg laastens die sjokolade by en meng deur. Smeer ‘n bakplaat en voer dit met bakpapier uit. Vorm klein balletjies en plaas die balletjies ‘n entjie uit mekaar en druk effens plat met met jou vingers. Bak vir so 12 tot 15 minute of tot goudbruin. Haal uit die oond en maak die koekies los van die bakplaat. Laat op die bakplaat afkoel.

 

Back to top

 

52 Drie-bestanddeel-grondboontjiebotterkoekies

Die wêreld het verlede jaar verskriklik op loop gegaan oor dié drie-bestanddeel-koekies, so ek het anderdag besluit om dit te bak. Kyk, makliker kan jy nie kry nie: Jy meng net ‘n koppie grondboontjiebotter, ‘n koppie suiker en ‘n eier saam en bak dit vir nege minute. Dit is regtig al!

Ek het ‘n bietjie gedroogde bosbessies (cranberries) oorgestrooi vir ‘n Kersgevoel. Die koekies is heerlik, maklik en meer stresvry kan jy nie kry nie!

 

Maak 30 koekies

Bestanddele

1 koppie grondboontjiebotter (grof of glad)

1 koppie strooisuiker of gewone suiker

1 eier

 

Só maak ‘n mens

Voorverhit die oond tot 170 °C en sit die oondrak op die middelste rak. Meng al die bestanddele goed saam. Smeer ‘n bakplaat en voer dit met bakpapier uit. Vorm klein balletjies, plaas die balletjies ‘n entjie uit mekaar en druk effens plat met ‘n vurk. Bak 9 minute of tot goudbruin. Laat op die bakplaat afkoel. Die koekies is baie lig en bros, so wag totdat dit afgekoel het voordat jy dit losmaak.

 

Back to top

 

53 Maklike sjokolade- hawermoutkoekies

Ek het dié maklike niebak-sjokolade-hawermoutkoekies in Bak en brou raakgelees. Hier meng jy net al die bestanddele saam, sit teelepelsvol op ‘n bakplaat, laat afkoel en siedaar – ‘n sjokoladekoekie-paradys!

Hierdie koekies is lekker veselryk. En watter kind hou nie van sjokolade nie?

 

Bestanddele

60 g botter of margarien

250 ml suiker

60 ml kakaopoeier

60 ml melk

3 ml vanieljegeursel

375 ml hawermout

125 ml droë klapper

 

Só maak ‘n mens

Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Meng die botter, suiker, kakaopoeier en melk in ‘n medium swaarboomkastrol. Verhit tot kookpunt en laat prut sowat 5 minute terwyl jy roer totdat die mengsel gesmelt het en glad is. Verwyder van hitte en voeg geursel, hawermout en klapper by. Meng goed. Skep teelepelsvol van die mengsel op die voorbereide bakplaat. Laat staan sowat een uur of totdat dit begin hard word.

 

Back to top

 

54 Swierige buitelugete

Louise Ferreira

(Rapport Beleef, 29 November 2015)

Witsjokoladekaaskoek met meringue en bloubessies

Jy kan enige bessies of vars vrugte hiervoor gebruik. Bloubessies werk goed en lyk mooi. Hierdie nagereg is gegrond op die resep vir sjokoladekaaskoek in die kookboek The French Kitchen deur Joanne Harris en Fran Warde.

 

Jy benodig

20 klein meringuenessies (skuimpies)

250 g (1 houer) crême fraíche

250 ml dubbelroom

75 g onverfynde bruinsuiker

1 vanieljepeul

100 g witsjokolade, gerasper sap van ‘n halwe suurlemoen

200 g vars bloubessies (of vars vrugte van jou keuse)

 

Maak só

  1. Klop die crême fraíche en bruinsuiker saam tot deeglik gemeng. Voeg die dubbelroom by en klop tot glad.
  2. Sny die vanieljepeul lengtegewys in die helfte en skraap die saadjies uit. Voeg die vanieljesaadjies, witsjokolade en suurlemoensap by die roommengsel en meng deeglik.
  3. Voeg die bessies by en meng versigtig sodat die bessies nie breek nie.
  4. Breek tien van die skuimpies in groot stukke en pak in ‘n laag onder in die bak. Skep die helfte van die sjokolademengsel bo-op en maak gelyk. Herhaal met die res van die skuimpies en sjokolade.
  5. Plaas in die yskas vir minstens drie uur.

 

Back to top

 

55 Couscousslaai met kekerertjies en fetakaas

Jy benodig

250 ml droë couscolus sout en olyfolie

375 ml kookwater

2,5 ml botter

2 blikke (400 g elk) kekerertjies, gedreineer

1 houer (400 g) fetakaas 6 tot 8 jong preie, in dun skyfies gesny

2 vet knoffelhuisies, fyngekap ‘n handvol kruisementblare, fyngekap

die gerasperde skil van 1 suurlemoen

125 ml olyfolie

60 ml balsamiese asyn

‘n skeutjie suurlemoensap

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

 

Maak só

  1. Meng die droë couscous met ‘n knypie met ‘n knypie sout en ‘n bietjie olyfolie, en voeg die kookwater by.
  2. Wanneer die couscous begin swel, voeg die botter en roer deur met ‘n vurk.
  3. Laat staan die couscous vir 5 tot 10 minute tot sag. Roer af en toe met ‘n vurk deur om te keer dat dit klonte maak.
  4. Voeg die ander bestandele by en meng deeglik. Bedek die bak met kleefplastiek en plaas dit vir minstens twee uur in die yskas – verkieslik oornag. Sit koud voor.

 

Back to top

 

56 SNOEK-EN-AARTAPPELSLAAI-BAKKIES

(Huisgenoot, 5 Maart 2015)

GENOEG VIR 4 MENSE

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 20-25 min.

4 groot aartappels, gaar gekook

 snoek gaar

1 rooi-ui gekap

1 kop slaaiblare

SLAAISOUS

80 ml (  k) mayonnaise

80 ml (  k) Griekse jogurt

sap van  suurlemoen

5 ml (1t) gedroogde tiemie

sout en vars gemaalde peper

 

  1. Sny die aartappels in kleinblokkies.
  2. Haal die grate uit die snoek en vlok rofweg. Meng die aartappels, snoek en ui liggies in ’n mengbak.
  3. Breek die blare versigtig van mekaar af (probeer die blare heel hou) en spoel af.
  4. Slaaisous Kiits al die bestanddele goed saam en geur met die sout en peper.Meng liggies deur die slaai.
  5. Skep lepels vol van die slaai in die siaatblare en sit voor saam met ekstra uieringetjies* en slaaisous.

WENK

Gerookte snoek of pepermakriel werk net so lekker vir hierdie resep.